Saturday, August 10, 2019

Resensie | Ruan Kemp – Gedeeltelik bewolk (2019)

Ruan Kemp – Gedeeltelik bewolk. Tafelberg, 2019. ISBN 9780624088578

Resensent: Joan Hambidge

Gedeeltelik bewolk? Elders mooi weer en warm?

Wat ’n asemsnakkende roman is dit nie!  ’n Debuut van ene Ruan Kemp, glo ’n mynbou-analis. En hierdie roman is inderdaad besig om in die skagte van die Afrikaanse letterkunde af te beweeg teen ’n spoed wat die kop laat duisel.

Dit aktiveer die problematiek van die binne-leser versus die buiteleser. Laasgenoemde sal dit as ’n storie lees. Indien jy egter weet wié die D.B. is aan wie die roman opgedra word met die sub-titel “’n Lewensbeskrywing van ’n mal man”, lees jy die boek ánders en as binne-leser. (Ek het hom ontmoet een aand, hierdie briljante man.)

Die regte wêreld impliseer ’n referent, aldus Umberto Eco in The Role of the Reader (Hutchinson, Londen: 222). En hierom narkotiseer of vergroot ons sekere aspekte van ’n roman se wêreld.

Die roman word aangebied in vier afdelings: Restant, Anamnese, Katabasis en Remissie. Met tydsaspekte: 2008 - 2009, 1960 - 1974, 1975 - 1990, 1991 - 2008. En ’n obsessie met tyd is iets wat die verhaal vorentoe dryf.

En hier word diep afgedaal in die hel van ’n man wat in inrigtings beland. Wat veroorsaak sy tuimeling? Die verteller skep ene George Moore, ’n “woordenaar”, wat uit ’n oënskynlik stabiele plaasagtergrond kom en dan huweliksprobleme ervaar. Hy is gebore toe Jan Smuts dood is.

Hy is joernalis, saboteur, skaapsmokkelaar, boemelaar, vader en sosiale kommentator.

Die traumatiese dood van ’n kind is een van die redes vir sy ineenstorting. Maar dis net een merker. Die roman analiseer die impak van apartheid, magstrukture, oorlog en hoe ’n sensitiewe persoon nie opgewasse is vir die ellendes van ’n troebel bestaan nie.

Daar word weggespring met ’n motto uit H.F. Verwoerd en Gray Barker se They Knew Too Much About Flying Saucers ...  

Die hoofkarakter lees Albert Camus se The Fall flenters. Wat die verwysing na eksistensialisme aktiveer. Jy skep jou eie wêreld. En hier is daar ook ’n toespeling verder op Sartre se siening dat die hel ander mense is.

Die intertekste is welig en verwikkeld en snaaks. Raka is eweneens hier.

Die roman herinner aan Saul Bellow se Humboldt's Gift en sy siening van Delmore Schwartz. Hier word Herzoggeaktiveer: daardie pratende karakter wat in gesprek tree met filosowe en met hulle saamstem of verskil.

Met Moses Herzog is dit piekfyn as hy besig is om mal te word; George Moore word verniel deur kopdokters en ontdek hy moet doek dra in die inrigting en hy het probleme met sy toestand. Is die Baader-Meinhof besoek in Duitsland waar, of is dit net deel van sy fantasie? Belangrike gedeeltes kan waar of gelieg wees.

Anna M. Louw se lewensvreemde karakter uit Op die rug van die tier praat iewers saam.

“Niemand weet hy is aan boord nie, want hy lê lepel met ’n torpedo, skryf ’n kortverhaal oor sy wedervaringe met die onsigbare subtitel In the realm of the Fourth Person Narrator. Gerugte van sy dood doen die ronde” (244).

Hy lees woordeboeke en ontdek wat sjok beteken. Hy tel ’n taaipou op in ’n woordeboek. Hy ken verskillende woorde vir wol soos wat ’n Eskimo verskillende woorde vir sneeu kan weergee. Hy het immers op ’n plaas in die Noord-Kaap groot geword. 

Hy is Camus se Sisifus. Hy is ’n Zulu Warrior wat I zicka zimba, zimba.

Ontgroening en wreedhede word ontmasker. En die impak van selfmoord op die agtergeblewenes.

Sy seun Simon is normaal. 

Sy vriend Jan se algemene kennis word getoets. Hy word kwaad oor leuens en besef hy gaan nooit sy boek klaarmaak nie. Sý storie word wél klaargeskryf deur die vertellende instansie.  

Charity boeke wat verkwansel word, maak hom woedend: “Dis soos om handel te dryf in tweedehandse grafstene” (190).

Hy weet die opwipbal van die lewe het hom getref. Hy voel hierom magteloos soos ’n karakter in ’n onbetroubare vertelling of ’n marionet in ’n poppekas (184). En tyd staan stil op die grens (122).

Die gedeelte oor ’n lekeprediker wat in tale praat, is ’n hoogtepunt. Koos Kombuis en Gert Vlok Nel is ook hier. En Koos het deur die jare herkenbares gesteel vir sy stories.
Die uwe is self ’n karakter in een van sy romans.

Gaatjies en kolletjies. 

Die voorblad is alreeds ’n kode vir die binne-leser. ’n Geel omslag met ’n man, sigaret in die hand, en ’n hemp vol tekens. Dit verwys na Marita van der Vyver se geel omslag van Griet skryf ’n sprokie uit 1992 en daardie banale antwoord Mot op Griet.

En George voel sy lewe is gekaap deur Griet wat weer ’n karakter word in ’n roman. Dis nie fiksie nie, maar eerder nader aan “asfiksie” (262).

Die letterkunde sit vol van figure wat as herkenbares deur tekste dwaal. Negatief en positief. Philip Roth se eksvrou Claire Bloom het ’n antwoord geskryf op sy weergawe van hul huwelik in Leaving A Doll's House (1996). Koos Prinsloo het eweneens mense “gekaap” en die posisie van die geskryfde is kompleks.

Johann de Lange het in Vreemder as fiksie gewys hoe skrywers verskillend reageer op ’n insident. Daarom die voorblad waar drie gesigte (Prinsloo, Aucamp, De Lange) oormekaar skuif.

Die lys hier te lande en buitelands is lank. Laurent Binet se The Seventh Function of Language het opslae gemaak in Frankryk en elders in die analise van herkenbare teoretici soos Julia Kristeva en Judith Butler (Woorde Wat Weeg/ Resensie | Laurent Binet – The 7th function of language (2017). Besoek 10 Augustus 2019).

Ruan Kemp gaan egter verby die herkenbare. Hy skryf ’n roman wat snaaks, pynlik, verdrietig en veral uitstekend is. Hy blaas lewe in dit wat ons dink ons ken.

Die lys van erkennings is relevant.

Toast Coetzer is reg in sy shout. Hierdie boek het nie ’n bang haar op sy kop nie.
Kemp was immers op sy dag ook ’n hempsmous. En hy is ’n Zulu warrior van ’n skrywer.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)