Monday, March 19, 2018

Resensie | Laurent Binet – The 7th function of language (2017)


Laurent Binet – The 7th function of language. Harvill Secker, 2017. ISBN 1357 9108642

In 1980 sterf die bekende teoretikus Roland Barthes toe 'n wasgoedlorrie hom omry. Barthes se bekende essay "The death of the author" (1967) is een van die belangrikste strukturalistiese tekste wat vra vir 'n fokus op die teks.

Die dood van die skrywer bedui immers die geboorte van die leser.

In 2017 verskyn 'n roman The seventh function of language van Laurent Binet waarin die dood van Barthes ondersoek word in 'n aweregse speurverhaal. Die roman is so geskryf dat sowel gewone lesers as teoreties-geskooldes dit sal geniet. Dit lees soos 'n hop on/hop off op 'n teoretiese bus met oogknippe na Umberto Eco se The role of the reader en Julia Kristeva se Desire in language. En Barthes se sieninge oor die skryflike en leesbare teks. Die roman lees soos 'n who's who van literatuurteoretici: Derrida, Jonathan Culler, Sollers, Searle, Judith Butler ...

Roman Jakobson se bekende sieninge oor die funksies van taal word hier verder gevoer: die sewende een behoort tot die domein van die okkulte. En waarom skeur Kristeva daardie nota op? Weet sy meer as wat sy te kenne gee?

Daar is 'n kongres by Cornell te Ithaca en die literêr-teoretiese dosent sal die roman kan voorskryf om al die strominge binne die filosofie en teorie te verduidelik.

Veral Barthes se vraisemblance (vrai = waar) is tersaaklik vir die lees van hierdie roman. Hoe sal die geskryfdes voel oor die stekies wat na hul uitgedeel word? Daar word soms intens persoonlike inligting openbaar en die venyn loop dik. Camille Paglia en Judith Butler loop erg deur. Soms wonder die speurder se adjunk of ons maar net karakters in 'n roman is. Maar dis die hele punt van die roman: as die postmodernisme alles tot teks verklaar is hierdie oorskrydings mos fyn?

'n Mens moet bepaald die skrywer bewonder vir sy enorme kennis en juistement het wyle Barbara Johnson 'n studie geskryf oor groot teoretici se lewens: Jakobson was 'n rokjagter; Barthes het saams in vroueklere die strate van Parys bewandel. Foucault was lief vir stoombaddens en drugs, glo.

Satires van die akademie is volop: David Lodge se Changing Places, o.a. en Malcolm Bradbury se tekste, soos Mensonge (Arena, 1987). Patricia Duncker se Hallucinating Foucault (Cox & Wyman, 1996) is eerder akademies-onthullend as satiries.

"All this must be considered as if spoken by a character in a novel”, skryf Barthes in sy outobiografiese -biografie Roland Barthes deur Roland Barthes, daardie baken uit 1977.

Bekende politici (en hulle gekonkel) vorm deel van die plot: Giscard d'Estaing en Mitterrand. En selfs tennis, o.a. Lendl versus Borg ...

Jacques Bayard en sy assistent Simon Herzog (wat resoneer met Saul Bellow se karakter Moses Herzog) is op 'n soektog na die verlore dokument. Indien Barthes wel so 'n belangrike dokument by hom gehad het, wat dan?

Die roman resoneer met die moderne wêreld se beheptheid met samesweringskomplotte. En dit vra belangrike vrae oor wat as alles maar net 'n floating signifier is.

Hoekom word daar 'n hand afgekap? Is dit dalk 'n verwysing na Barthes se beheptheid met die skrywershand? Of is die motto van Jacques Derrida dalk die wenk? Dat ons almal interpreteer vanuit ons eie ruses – dalk met die idee om te kroek? En hoe gemaak as jy 'n karakter in 'n roman is en die wrede verteller knou jou af?

Dit is 'n paper chase van formaat. Teen die einde raak dit 'n bietjie iets van af-show-ery. Apokaliptiese einde (selfs distopies) wanneer dit afspeel in Napoli.

Die vertaling van Sam Taylor lees vlot.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)