Saturday, March 18, 2017

Marita van der Vyver - Misverstand (2017)


Marita van der Vyver - Misverstand. Penguin Random House, 2017. ISBN: 9781485903505

Resensent: Joan Hambidge

Misverstand is die jongste toevoeging tot Marita van der Vyver se oeuvre. Dit word terselfdertyd uitgegee in Engels as You lost me.

Die verhaal ondersoek etlike kwessies wat die middeljarige en werklike outeur Van der Vyver besig hou. Die rol van ‘n suksesverhaal (Griet skryf ‘n sprokie) waarna kritici altyd terugkeer, terwyl sy ook ander werke gelewer het soos uitstekende kinderboeke en kosboeke.

Hierdie leser het die teks as ‘n tong-in-die-kies-antwoord gesien van die werklike Van der Vyver se “antwoord” op hoe Afrikaanse lesers haar sien as ‘n buitelandse skrywer wat in die “eksotiese” Franse landskap leef.

Frankryk is helaas nie meer ‘n veilige hawe nie. Dis ook nie meer die eksotiese ruimte van toe ons sestigers soos André P. Brink daar vertoef het nie en tekste soos Die ambassadeur en reisverhale geskryf het nie. Ja, daar was studente-opstande – nou is dit terreur post-Charlie Hebdo, bomme op lughawens, aanhoudings in teaters, en migrante wat die hele struktuur van die Stad van Lig en Liefde verander het. ‘n Mens sien hierdie verandering duidelik in die rolprent met sy verskillende filmmakers agter die kamera in die film Paris, je t’aime, 2006. (Besoek 16 Maart 2017). (Haar roman Dis koue kos, skat is verfilm).

Die werklike outeur dekonstrueer in hierdie roman die rol van die skrywer. Haar hoofkarakter is – yes, wait for it – Willem Prins met sy uitgewer Martine Hulot wat sterk voorskrifte het oor ‘poesboekies’ wat goed verkoop. Is dit beter om ‘n vroueskrywer se naam op die buiteblad te plaas eerder as ‘n man s’n? Hier speel Story of O ook in en die nom de plume Lolita Meyer word ‘n ander kode.

Behalwe vir die spottery met hygromans en sukses, word daar ook verwys na die Groot Roman-wedstryd (dit heet die Johanna de Groot-prys!), wat die Afrikaanse letterkunde voortdryf. Groot geld word uitgeloof en die mededinging tussen ons “groot skrywers” pleit al lankal vir ‘n satire. Veral as pryswenners se romans nie verskyn nie of gewoon ‘n flauwe kul blyk te wees. Hoe het sake nie verander nie.

Die hoofkarakter is vrouloos, webwerfloos, agentloos, drankloos (18). Hy het drie eksvroue en die voorblad van Misverstand resoneer met Brink se ‘n Vurk in die pad!

So beskou, word die erotiese skryfwerk van Brink ook opgestuur.

En die skryfproses word verder gesatiriseer:  Szymborska word aangehaal:

Die helfte het ingekom omdat dit reën, die res is familie. O Muse.

Die boek het vele kodes oor skryf en lees. Daar is wonderlike verwysings (vir die liefhebber van Parys). Selfs Sartre en De Beauvoir se kafee gooi ‘n draai hier.

Die fokalisasie wissel snel: van Willem, na ‘n eksvrou tot sy kind. Lana kom ook aan die woord. En Zoë het ook ‘n spreekbeurt soos Sophia.

Daar is ‘n joernalis (ene Jackie van der Merwe van Pniel),  daar is ‘n Proust-vraelys, daar is al die clichés oor skryf (en Parys), spottery met genderkwessies, distopie, die Bad Sex Award (waarvoor Brink al benoem was), Georges Simenon, die “metafisika van seks” (119), die duidelikste knipoog na Die ambassadeur (via Lawrence Durrell).

Presies halfpad in die roman word die grap onderbreek met die “ironie van die noodlot” (137).

Terreur dus,  en hier buig die roman sterk op die werklikheid in. (Om oor ander werklike kodes te skryf, word aan die leser oorgelaat, soos o.a. oor die impak van die dood van ‘n kind op 'n huwelik, oudword, die soeke na erkenning en die brose self.)

Franse woorde word toeganklik en vlot in Afrikaans oorgedra.

Die analise van die temas van kandidate vir die Groot roman-wedstryd is vol in die kol.
Wanneer ons lees van “haar stem breek, soos ‘n tak wat knak” (259) val die roman in die slaggat van die hygroman of populistiese roman en dekonstrueer dit nie genoegsaam die ellende wat beleef word nie. Die eerste helfte werk bepaald. Dis uitstekend!

Dis ‘n goed geskrewe roman wat vlot lees. Vir my gevoel moes die tweede helfte dalk net somberder en sterker gewees het?

Om middelmatigheid en die vrees daarvoor te beskryf, moet jy die “bloody horse” weergee.
Steeds ‘n roman vir Van der Vyfer-aanhangers. Dis nommer 13.

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.)