Alfred Schaffer – Wie was ik. Strafregels. De Bezige Bij Amsterdam, 2020. ISBN 978403 183 107
Resensent: Joan Hambidge
Alfred Schaffer is bekroon met die gesogte PC Hooft-prys. Sedert sy debuut Zijn opkomst in de voorstad (2000) het daar agt ander bundels gevolg. Mens dier ding (2014) het besondere uitdagings aan die leser gestel en dit is ook uitstekend vertaal deur Zandra Bezuidenhout vir Afrikaanse lesers. Hiervoor ontvang hy drie pryse: die Awater-, die Paul Snoek- en Charlotte Köhler-pryse. Die digter Daniel Hugo het eweneens 'n gerf van sy verse vertaal. Verder is sy gedigte beskikbaar in Engels en Frans.
Die verhoudings tussen ouers en kinders het al tot fassinerende gedigte aanleiding gegee. In Afrikaans is daar Breytenbach se "'n brief van hul vakansie" waar die ouer en kind in 'n ewige inkarnasie-verhouding tot mekaar staan, soos Henning Snyman uitwys in Mirakel en muse (1983).
In Schaffer se jongste bundel gee hy stem aan die moeder wat die Karibiese eiland (en haar familie verlaat) en in Nederland trou met 'n Nederlander. Die swart vrou en wit man het 'n dogter en seun; die dogter sterf vroeg en die seun gee nou 'n stem aan hierdie geskiedenis wat migrasie, kulturele verskille, rassisme en al die komplekse kwessies aanraak. In die verantwoording word daar erkenning gegee aan Frantz Omar Fanon, die psigiater en politieke filosoof van Martinique, se Peau noire, masque blanc (1952), Black Skin, White Masks, en die werk van Susie King Taylor, o.a.
Postkolonialisme, "the empire writes back", agentskap en dekolonisasie het belangrike konsepte geword in ons tyd. Die stemlose het stemhebbend geword. In hierdie bundel word die digtende spreker 'n buikspreker vir die geskiedenis van sy ouers en sosiale onreg. Fanon is bekend vir die term "double consciousness". In Les damnés de la terre, 1961 (The wretched of the earth) verdedig hy geweld teen verdrukking. Hierdie boek is in Frankryk verbied en Schaffer speel hierop in:
Tijd dag plaats - mensen wat een drama
Ik weet wel wat de bromvlieg drijft
Die continu tegen mijn vensterraam blijft vliegen.
––
Zijn geblokte bewegingen.
Een kleine zwarte held die lak heeft aan censuur.
–
Het is zo lang geleden allemaal.
–
Ik hoop dat hij snel vrijkomt. (34)
Die digter buikspreek vir die ouer (41) en die stem van die vertellende digter word onderbreek deur prosa-insette of selfs deur 'n dreigende e-pos. Die lewe van die migrant word beskryf as 'n bestaan van 'n muisval met 'n blokkie kaas.
Taal en vervreemding word ook aangespreek: die eerste taal is in bruikleen; die tweede een word vir noodgevalle agter die hand bewaar.
In die gedig "Wie was ik" (84) vind ons 'n enumerasie van onreg en pyn. Hierdie gedig resoneer met Johann de Lange se gedig "Ek is my" in Die meeste sterre is lankal dood (2020).
Dit is 'n melancholiese bundel met verskillende stylsoorte wat die werklike en emosionele grense tussen lig en duisternis ondersoek. Die bundel bestaan uit fragmente, gedigte in kursief, opgebreekte reëls, afwaartse reëls, e-posse, chiasmus en prolepsis, oftewel die vraagstelling en beantwoording van daardie dikwels retoriese vrae. Dit is 'n metamodernistiese bundel wat implisiete vrae vra oor die boomstruktuktuur van ontelbare werklikhede (97)
"tegen de patrijspoort / van my isolement" (105) lees ons. Is kleur (huid) 'n seën of vloek? Die bundel sit vol ironieë soos 'n e-pos wat aanbeveel dat 'n mens iets uit 'n krisis moet leer (78).
Schaffer is woonagtig in Suid-Afrika en doseer in die Afrikaans en Neerlandistiek departement aan die Universiteit van Stellenbosch. So bekyk (en versoen) hy dus drie wêrelddele as buitestaander én kritiese waarnemer. Waar Elisabeth Eybers na Suid-Afrika in 'n tussentaal terugbeweeg het, reik Schaffer uit na Nederland en haar kolonies in sy eie taal.
Dis 'n uitdagende en ontroerende bundel. Een waarin die kind stem gee aan die moeder wat anders net sou verdwyn het. Aruba en Curaçao word geplaas teenoor die Lae Lande: en mense mag grondwetlik gelyk wees, maar die realiteit wys iets anders op. Alles staan hier in tweevoud: die "double consciousness" van Fanon word poëties ondersoek. Schaffer begryp die "ultrasoniese vibrasies" van sy tyd soos hy dit klinkend stel soos opgestel in die programvers "Mira Akí!".
Daar is reëls wat my altyd sal bybly:
ik ben als de liefde een veeg uit de pan
een harde emotie (56)
blijt ineengezakt achter op de bodem van mijn geest
als een marionet zonder touwtjes (57)
'n Bundel van afskeid en vertrek; vertrek en aankoms. Die bundel stel besondere eise aan haar leser, maar aanhouer wen!