Monday, October 19, 2020

Resensie | Johann Lodewyk Marais – Ondertussen | Naledi, 2020

Johann Lodewyk Marais - Ondertussen. Naledi, 2020. ISBN: 978 1928518556

Resensent: Joan Hambidge

 

Johann Lodewyk Marais is 'n produktiewe en bekroonde digter wat terugbeweeg in Ondertussen na jeugherinneringe van die Oos-Vrystaatse landskap. Daar is reisverse deur Afrika en Europa. Liefdesverse en lykdigte. Ekologiese besinnings. Fragmente en langer verse. En politieke verse van langer terug en resente opstootjies.

 

Marais is eweneens samesteller van bundels oor die ekologie: Groen: Gedigte oor die omgewing (1990) en Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, saam met die Amsterdamse digter en letterkundige Ad Zuiderent) en 'n bloemlesing róndom die gedig Winternag 100 wat in 2006 verskyn het. 

 

Die somer is ’n dag oud (1983), sy debuut, is bekroon met die Ingrid Jonker-prys en vir Diorama (2010) ontvang hy 'n SALA-toekenning. Daar is reeds elf digbundels op sy kerfstok en die leser bly bewus van 'n digter wat kennelik besig is om te bou aan 'n oeuvre waarin elke digbundel 'n onderdeel vorm.

 

Marais se verse is bekend om hul subtiliteit en suggestie. Die klein tersyde wat 'n mens altyd bybly: grootouers wat beskryf word róndom 'n skildery wat hulle nooit kon bekostig nie; 'n plaas in Harrismith waar die jeugherinneringe ópgevang word in 'n murasie; gesprekke met Pablo Neruda wat in die jongste bundel sluit met 'n vers wat Lorca en Neruda aktiveer. 'n Gedig oor Diego Maradona.

 

Landskapgedigte, so weet ons, handel dikwels oor 'n spanning tussen die buitelandskap en die binnelandskap. Die reisvers aktiveer 'n opposisie tussen bekend en onbekend. Die liefdesvers registreer (dikwels) 'n spel tussen verlange oor wat was en nou nie meer is nie.

 

Hierom die “ondertussen” van die digbundel se titel wat liminaliteite en oorgange aktiveer soos uitgespel in COVID-19: 

 

op die drumpel tussen lewe 

en nielewe het 'n organisme getalm 

 

Die bemoeienis met ekologiese kwessies (soos in AvesIn die bloute en Insektarium en ander gedigte) is opvallend en hy hou hom besig met “dinge”. Hierom dan die verwysing na J.H.H. van den Berg, die metabletikus se siening dat virusse en pandemies verband hou met ander sake. Toe Freud die onbewuste “ontdek” het, was Robert Louis Stevenson besig om Strange Case of  Dr Jekyll and Mr Hyde te skryf. Marais is fenomenologies aan die werk. Hy karteer jeugherinneringe en daar is 'n opvallende sirkelgang. 'n Soort mandala dus.

 

'n Mens sou hierdie bundel Jungiaans kon benader en nagaan hoe die digter hier tot heling en klaarheid kom.Van die oopsluit van herinneringe met die vader se bos sleutels (soos die programgedig “Sleutels” waarsku) tot die slotgedig “Ode” wat inspeel op Neruda en natuurlik, die vertaler, Uys Krige in Spaanse dans.

 

Harrismith, Afrika, Europa en die Ooste word in reisverse opgeteken. Dit word geplaas teenoor lykdigte en liefdesverse. In die lykdig oor die nooit volprese sinoniem-optekenaar en rymsamesteller, Louis Eksteen (wat hy waardig en hoflik as u aanspreek), skryf hy:

 

Die dood het baie/min sinonieme.

 

In Johann de Lange se jongste bundel Die meeste sterre is lankal dood, 'n tydgenoot, is daar soos by Marais 'n vers vir Elsa Joubert. Hier is daar 'n identifikasie met haar as reisiger, 'n tema wat regdeur Marais se digkuns loop. “Vroue van Bakavu” gee blyke van die digter se uitmuntende vormbeheer van die villanelle, 'n moeilike digvorm met 5 tersette wat sluit met 'n kwatryn.

 

Alles word in terme van die digkuns bepaal. In “Mate” word dit meer as mates neem vir klere; dit word 'n vers waar “presisie geld”. Hiermee bewys die digter sy vernuf om die tegelykertydsaspek van 'n gedig weer te gee: oënskynlik oor iets buite die waarnemer, maar ook implisiete ars poetica.

 

Die gesprek met Van Wyk Louw is eweneens hier aanwesig. Die debuut het dit reeds aangekondig en in die vers “Herinnering” is hierdie digter eweneens besig om in “sterre-en-helderte” na te skryf. “Versugting” is 'n palinode van Louw se bekende 

gedig “H. Petrus” in Tristia:

 

My land, my dor, verlate land:

iets wens olywe groei in jou:

dat alles klein, Latyns, gaan word

en kalk-wit kerkies bou.

 

So klink Marais se “Versugting”:

 

My geil, versaakte kontinent:

Iets wens olienhout groei in jou

dat alles Afrikaans sal bly

en kerk, tempel en moskee hou.

 

“Die lig boots die metrum van 'n vers na”, artikuleer hy verder sy bemoeienis met die digkuns in “Vuurtoringrit”.  

 

Waarom net W.S. by 'n gedig? Of wil die digter juis die leser uitdaag om die interteks reg in te skat?

 

Waar die laaste twee bundels dikwels te gestroop en spaars was, is hierdie bundel oorvloedig en aangrypend vir al in die jeugherinneringe. Die gedigte oor Afrika veral is besonders. As historikus gee hy dan 'n besonder interessante perspektief op Afrika wat 'n gesprek met Opperman aktiveer.

 

Daar is 'n handvol uitstaande verse in hierdie ryp, beleë digbundel.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)