Wednesday, July 17, 2024

Resensie | Ingrid Winterbach – On rus op Steynshoop | Human & Rousseau, 2024

Ingrid Winterbach - Onrus op SteynshoopHuman & Rousseau, 2024. Sagteband, R 350, 296 bladsye. ISBN 9780798184724

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

So word Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach roman bemark:

Die teenwoordigheid van die Chinese in Steynshoop het die dorp die afgelope paar jaar ingrypend verander.
Benna Potgieter, wonderkind in sy prille jeug, is sedert sy pa se dood 'n haarkapper in sy ma se salon. Sy lewe neem 'n drastiese wending wanneer die skilder Fonny, sy groot verlore liefde, onverwags na die dorp terugkeer. Ook Jonah Voorsanger, met sy af-toon en sy intellectual poster boy-voorkoms, maak weer uit die bloute sy raaiselagtige opwagting.
Benna se kuier by sy vriend Sarel in Ladybrand sorg vir nog 'n onaangename verrassing, en die onverwagse besoek van sy broer, Petie - vol spyt en bitter verwyte - is genoeg om Benna lelik van stryk te bring.
Sy vriendskap met Chaoxing Yang bring Benna weer terug tot sy ander groot liefde, comics.

Snaaks, droewig, wrang en oneerbiedig - 'n opwindende nuwe roman in ware Winterbach-trant.

 

II

 

Winterbach se aweregse humor en die samesnoering van oënskynlik teenstrydige elemente is haar kenteken. Disparate elemente soos ‘n Afrikaanse dorpie waar Chinese die oorhand het, boerename, die gebruik van ou woorde met ‘n vertellerstem, wat tussen parenteses die ironie van alles beklemtoon, is hier van die belangrikste temas én tegnieke van die roman.


Die leser lag en word terselfdertyd bewus van ‘n kil blik op ‘n vreemde en terselfdertyd bekende samelewing. Die ouer garde wat rassistiese, oftewel pejoratiewe terme gebruik, teenoor die jongeres wat wil wegvlug uit verdrukkende ellendes.


Die werklike skrywer gee vir die leser sleutels na bekende skilderye en selfs na Jacques Lacan. Jonah was te jonk om by Lacan te kon aanklop as vertroueling en doodsbegeleier (99). Was hy ‘n doodsdoulah of nie?


Uiteraard tersaaklik: hoe leuens en verdigsels die onderbou is van die teks. 


Hierdie komplekse en aangrypende roman beweeg in ‘n sirkelgang. ‘n Mens kan die roman “oopmaak” op verskillende plekke soos vir hierdie leser. ‘n Soort story board skryf. (Onder die invloed van Hitchcock en Francis Ford Coppola wat verduidelik hoe hy die Godfather-reeks gemaak het na aanleiding van Mario Puzo se roman. Met asteriske waar hy wil verfilm.)


1 ‘n Toon wat verloor is in die dismemberment-ritueel aktiveer die objet petit a ('n konsep wat volgens Lacan onvertaalbaar is) kan as volg geïnterpreteer word: die verwys na die Autre (Ander); die petit a (klein a) differensieer die objek van die groot A. Dit is vir Lacan 'n algebraïese teken.


Le semblable ("counterpart") verwys na die ego se soeke na identiteit buite sigself. In die sogenaamde spieëlfase word hierdie aspek geartikuleer. Désir (begeerte) verwys na méér as begeerte of wensvervulling. Dit is vir Lacan eerder die krag wat alles beheer en reguleer. Oor Jacques Lacan het ek uitgebreid geskryf in my studie oor gender.

(Hambidge, 2000: 214 – 217).

 

‘n Lacaniaanse lesing sou ‘n leser ver neem in hierdie roman: die wet van die Vader (375) en gedurigdeur die kwessie van die patriargie (262). (Vaders wat vermoor is, soos Fonny se pa.)


Benna lees eweneens ‘n biografie oor Lacan.


Benna werk in sy ma se salon. Daardie ruimte van bavardier (tjettereer) en empty speech in Lacan se terme.

Hier is dan parlêtres (pratende objekte) wat telkemale op ‘n eie missie is. Alles word tussen karakters netjies verbind.


2 die hele kwessie van hemel, hel en verlossing loop regdeur die roman. Met ‘n kruid (dwelm) wat bliss teweegbring.  Lacan se jouissance wat sowel pyn as plesier aktiveer.


3 Daar is raspejoratiewe in karakters se mond wat die teks outentiek maak: dis hoe mense in daardie wêreld praat (en dink). 


4 Die landskap wissel tussen Steynshoop (ironies want hier is geen hoop nie), met die loci wat verskuif na Stellenbosch, Bethuli, Ladybrand, Musina, Ficksburg, Clocolan …


5 Dostojefski teenoor Amy Winehouse. Yolandi Visser teenoor die Generaal Piet Joubert-gastehuis.


Behalwe Lacan, lees Benna ook Foucault, Baudrillard, Nietzsche, Levinas …


Soekie verwys o.a. ook na Žižek …


Die skrywer Bolaňo wat te ingewikkeld is vir sy comic strips.


Benna en Sarel kyk na Béla Tarr, die meester van die stadige en werklike verbeelding in films,  se The Turin Horse.


Vlermuise versus bloeiende neuse. Regste en verbeelde reise.


Die mandorla of lig wat om die heiliges hang soos in Christusbeelde maar ook in Boeddhistiese kuns.


6 Die verhaal vertel veral die stryd tussen broers (een dood, een dolend) met Benna wat in sy ma se haarkapper werk. Die skilder Fonny, wat vir verskillende wendinge sorg, is die een aan wie hy sy hart ophang. Sy verhouding met sy moeder en sy wederstrewige broer Petie, word uitstekend beskryf nes die verlies aan die vader en die jong gestorwe broertjie. (En Hantie wat Sarel probeer normaliseer.)


Is dit waar dat trauma ‘n mens se genetiese samestelling verander?


Maar dit is veral die verhouding met Jonah Voorsanger, met sy af toon, wat vir ‘n verdere motoriese moment in die roman sorg. (Insiggewend is sy totemdier!)


En Marietjie se toetredes. Belangrike swart rolspelers soos Tebatso wat verduidelik hoe die Chinese “inkom”. Mevrou Gigaba ‘n trofeevrou. Of die arme Odelia.


Die man met die bioniese hand en uiteindelik in ‘n sampioenbegrafnispak (in die saprofitiese onderwêreld) en sy impak op sowel Fonny as Benna (294). 


Hoe versuurde vriendskappe nooit hul impak verloor nie, word hier ondersoek. Net soos die dooies weens ons skuld of aandadigheid aan hul besluite, steeds ‘n impak het op besluite.


7 Naamgewing is belangrik in hierdie roman: Benna (Benjamin), Petie (Petrus) wat o.a. die Bybel aktiveer (Die boek Elia is hier, 256) teenoor die tarot en verskeie Oosterse sisteme (soos die I Ching) wat die leser weer na ‘n Jungiaanse lesing van die teks kon neem. Ook Jonah wat ons ken as Jona in die walvis, die seun uit Amittai.


Harold Bloom het hierdie Bybelboek as sy gunsteling uitgesonder:

 https://www.nybooks.com/online/2011/07/28/harold-bloom-jonah-my-favorite-book-bible/

Besoek 17 Julie 2024


Jung se alchemistiese studies is hier tersaaklik. (Met die markplein hier as ‘n soort mandala?)


In die hoofstuk "The Philosopher's Stone In Alchemy: The Androgyne Imprisoned in Matter" verwys June Singer veral na Jung se alchemistiese studies. Die alchemisme bring 'n versoening tussen die spirituele en die materiële, dit wil sê, 'n versoening van die moontlike en onmoontlike. Gnostisisme is die mater alchimica

Die nous (spirituele) het afgekom in die vorm van 'n duif of slang en word opgevang in die physis (Singer, 1977: 136).


Want die lewe is net ‘n illusie, ‘n Boeddhistiese siening is ‘n helder ontdekking (265).


Die tarot word eweneens goed ingebed. Daar is ‘n casino in die dorp (die dobbelwiel in die tarot) en in die minor arcana swaarde.


Die sogenaamde minor arcana behels: Swaarde (of die ekwivalent van die sogenaamde Skoppensboer in 'n speelpak); Munte(Diamante); Stokke (klawers) en Koppies (Harte).


8 Humor en ‘n sin vir die absurde vier hoogty. Chakalaka denDie Mielieblaar, en wait for it: Boerebonders. Die stadsruimte heet die Skwêr! Prullaria …


Wat oor vroue wat hulle hare kleur opgemerk word, is eweneens skreeusnaaks.


Die funksie van kuns word gedekonstrueer in waarskynlik een van die snaaksste passasies nog gelees in ‘n Afrikaanse roman wanneer ekskrement in can-fruit-bottels omgebliksem word. En die reuk, nie die polisie nie, veroorsaak dat alles tot stilstand kom tussen die Hells Angels en kunstenaars (221 - 220). Ek wil nie die leeservaring vir die leser bederf nie, maar dit is waarskynlik een van die sterkste oomblik in die roman wat 

kunspretensie uitmekaar uit bliksem.


9 Alles natuurlik gekomplementeer deur die die obsessie met komiekstrips. Manga. En Bitterkomix.


En komiekstrips word hier weergegee van die kind wat eers “onskuldige” komieks soos Archie en Popeye lees en dan tekste met sterk sosiale kommentaar. Te veel om hier op te noem, o.a. Pat Aulisio se Survive 30 Million:

https://retrofit.storenvy.com/collections/29642-all-products/products/24567888-survive-300-million-1-by-pat-aulisio  17 Julie 2024


Ai Weiwei is ook hier.


In 2009 het Shathley Abrahams ‘n doktorale studie voltooi oor komiekstrips by UCT: Older than language.

Met verdere toespelings op die Baiyue en hul betekenis. Etniese groepe in die Suide van China en Noordelike Viëtnam.  Een eeu voor Christus en een Eeu na Christus. Veral hul tattoes en swaarde is relevant vir hierdie teks.

https://en.wikipedia.org/wiki/Baiyue  17 Julie 2024 

 

Benna is immers bevriend met Chaoxing (‘n naam wat Expecting Fortune beteken) en sy verhouding met sy vader word ‘n navrante spieël van afwesige vaders in alle kulture. En daar is Sarel, die wiskunde whizz-kid, Benna se skoolmaat in Ficksburg (en sy latere waansin) teenoor ene Gertruida, die kenner van die I-Ching. En navorsing oor die Brakpan Strangler. 


Die Spirituele reis van Katerina de Sanguin na Tibet …


Heiliges en hoere. Dieresimbole soos in Suid-Amerika word eweneens geaktiveer. In Peru, byvoorbeeld is slange en voëls heilige simbole in antieke tye. Ook die Vicuňa aldaar as simbool.


Totemdiere. Sjamane. Ayahuasca-seremonies. 


Die betekenis van kos. Soos die sojaboonwrongel.


‘n Insigryke beskrywing van Mao.


En die betekenis van Chinese kuns( 283): o.a. met die landskap van emosie en die veelvuldigheid van die wêreld.


10 Die roman lewer sterk sosiale en politieke kommentaar met die inkommers, die Chinese wat ‘n hele dorp se infrastruktuur verander. Dit veroorsaak uiteraard spanning tussen die Chinese en swart inwoners. Die konflik tussen Oosterse en Westerse kulture word verder gekompliseer met verwysings na swart kulture.

Die sogenaamde “baasskap” van ‘n dorp word op sy kop gekeer met ‘n duidelike aansluiting by die ervaring van hoe alles tans in beweging of flux is, hier en elders.


Ons siele is dalk ingeplug in die media? (77)


Dieselfde geld die leesstrategie vir en tot hierdie roman. Nes jy dink jy het die sleutel gevind, dan word die mat onder jou uitgeruk.


11 Dalk alles te make met die vertellende instansie wat tussen parenteses kommentaar lewer op karakters se denke en optredes.


In Drie-en-vyftig word die ouktoriale verteller Jy.


Is dit die verteller wat intree en beheer erken van alles wat gebeur?


Soos in ‘n droom wat beskryf word. (Een-en-vyftig).


12 En dan die verskillende taalregisters verdien eweneens vermelding. Van Standaard-Afrikaans tot komiektaal wat spaars is. Selfs intermittante kekkels (35) in ‘n filosofiese bydrae: Die kritikale snieker”.

Van blote storievertel tot lesings o.a. oor Lucian Freud en Francis Bacon. Die ekologie van magsverhoudings, lees ons.  


13 En die fungus as metafoor? O.a. Ophio-cordyceps-fungus wat ‘n hele mierkolonie kan laat intuimel, is hier uiters relevant: die sogenaamde zombiemierfungus (288). 


Hierdie insekte wat met hierdie fungi besmet is, word as begraafplase tipeer.


Wat ons dan terugneem na  die teoretikus J. Hillis Miller se seminale teks “The Critic as Host” in Deconstruction & Criticism.


En hier is ‘n toepassing op J.M. Coetzee vanuit hierdie hoek:

https://manifold.umn.edu/read/cc-frame-007-essay-01/section/e724b462-90a8-42cd-9195-0d6cf26131cd  Besoek 14 Julie 2024

 

Ten slotte:

Vir my is die blik (die oog) in hierdie teks relevant. 


Die Lacanian 'gaze', die blik, die oog, kan verder as uitgangspunt geneem word, omdat dit meesterskap / beheersing / oorwinning insluit met verskillende karakters wat buikspreek vir die verteller  wat juis hierdie oorheersing dekonstrueer of bevraagteken.


Dis ‘n fassinerende roman wat verskillende disparate modi saamplaas en telkemale die leser verbyster met ‘n nuwe aanslag. Die vrae oor die verteller word “opgelos” in die slot: Benna werk aan ‘n roman in sy swart A-4 hardebandboek.


‘n Roman wat soveel wêrelde saamsnoer en oopbreek. Veral die landskap van die psige word besonder kompleks verbeeld.


Joan Hambidge

Julie 2024

 

Bronne:

 

Abrahams, Shatley. 2009. Older than language: comics as philosophical praxis and heuristic for philosophical canon. UCT, PhD. (Studieleier Joan Hambidge).

Hambidge, Joan. 2000. Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde: ‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk. UCT, PhD. (Studieleier H.J. Snyman).

Hillis, Miller J. 1980.  Deconstruction & Criticism. Londen: Routledge.

Lacan, Jacques1966/1977. ÉcritsLonden: Tavistock. Vertaal deur Alan Sheridan.

                                     1973/1977. The four fundamental concepts of psycho-analysis. Londen: Penguin. Vertaal deur Alan Sheridan.

Leader, Darian. 1996. Why do women write more letters than they post? Londen: Faber and Faber.

Singer, June. 1977. Androgyny - towards a new theory of sexuality. Londen: Routledge & Kegan Paul.

 


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FMR)


 

 

 

Tuesday, July 16, 2024

Resensie | Henda Olivier - Onder water. Human & Rousseau, 2024

Henda Olivier - Onder waterHuman & Rousseau, 2024. ISBN: 9780798184571, Sagteband, 272 bladsye, R 340,00.

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Onder water is die tweede roman geskryf deur Henda Olivier. Die hele problematiek van seksuele identiteit en agentskap word onder die loep geneem. Die slim gekose titel werk met die onbewuste as ‘n bergplek (Freud) wat deur koerantberigte, gesprekke of films ontsluit kan word. Dit vertel die verhaal van Rebekkah Keller wat haar pa aan die dood afstaan as tiener. Dit is eerste die motoriese moment vir die verhaal.

 

Swem word ‘n ontvlugting uit hierdie ellende. Boonop is haar moeder emosioneel onstabiel en ‘n opgaarder. 

 

Die hele kwessie van die plaas en ‘n veiling word ook bekyk. En aanvalle soos op Hannes. Daniël (God is my regter in die Hebreeus) en Rebekkah (om te bind in die Hebreeus) is die twee hoofspelers in ‘n pynlike geding van hoe daar vergeet en verberg word. Ten einde te oorleef.

 

‘n Onderwyser ontferm hom oor Rebekkah en is haar swemafrigter. Twintig jaar later, as geskeide vrou, is sy werksaam by ‘n prokureursfirma. ‘n Vriendin stuur ‘n boodskap aan haar en haar hele verlede “spoel soos ‘n fratsgolf oor haar”. Dit is die tweede motoriese moment.

 

Nou wil hierdie leser nie die leeservaring bederf vir die voornemende leser nie. Dit is pakkend geskryf en jy word ingetrek in die stroom van herinneringe, bedrog, voorgee en jaloesie. ‘n Toe versus ‘n nou. Die huwelik en familieskap as ‘n benoude en gereguleerde ruimte waaruit die hoofkarakter nie kan ontsnap nie. 

 

Op bladsy 49 word die baboesjkapoppies as simbool gebruik. En dis hoe ‘n mens hierdie boek moet ontsluit: die reëls van jag geleer by die vader teenoor die man en seuns wat op Rebekkah jag maak. Briewe teenoor sosiale media en die impak van Facebook. Die liefdeswoord “bokkie” teenoor die natuur waar bokke gejag en geskiet word. Bon Jovi versus boere-idiome. Die invloed van drank op laataandboodskappe.

 

Daar is verwysings na Orkney snork nie en Riaan Cruywagen, onder andere, wat ‘n spesifieke tydvak aandui teenoor name van bekende eet- en drinkplekke in Klaarfontein/Bloemfontein. Vraisemblance dus.

 

Die adder wat kan kamoefleer, is ‘n belangrike simbool. Hy hoef nie te jag nie; sy prooi kon na hom toe (59). Die jagmetafoor is deurgaans aanwesig soos die spitsmuis wat sy prooi vergiftig en aan hom bly vreet, selfs vir vyftien dae lank (159).

 

Die #MeToo-beweging, waar veral vroue opgestaan het teen sosiale misbruik, word hier ingebed. Rebekkah se ellende word word geplaas teenoor Evert, waar sy ouers namens hom by die prokureur ‘n klag wil aanhangig maak. Oor ‘n ouer vrou se ontoepaslike gedrag. Grooming en drowning. (En mag die oppasser kinders kaal bad?, is een van die vrae in die boek.)

 

Die roman ondersoek alles tussen toe en nou en hoe die landskap van die seksuele spel verander het. Camille Paglia het in Vamps & Tramps (1994) haar sterk uitgespreek teen vroue as slagoffers versus moderne feministiese kritici, wat daarop wys hoe Alfred Hitchcock, byvoorbeeld ‘n obsessie gehad het met vroue soos Grace Kelly (Rear Window) en Tippie Hedren (Marnie / The Birds). Tog is dit juis hierdie manlike blik wat sy films so fassinerend maak, aldus Paglia. (Melanie Griffith, Hedren se dogter, het hierdie aspek bevestig.)

 

Groot kuns is helaas selde polities korrek of vind closure of heling. Of maklike oplossings. 

 

Ons dink hier aan Lolita van Vladimir Nabokov in 1955 en aan die verfilming deur Stanley Kubrick in 1962, met die onvolprese James Mason, as Humbert Humbert in sy allesoorheersende verhouding met Dolores Haze, die manipulerende Lolita. Hier is die kind-as-nimfet die een wat beheer. Met Peter Sellers as Quilty. En Shirley Winters as die flirterende ma. 

 

Nou plaas hierdie spannetjie teenoor die karakters in Onder water, dan praat ons weer.

“Sy is gekwes, maar sy lewe” (270) lees ons in Onder water. Goeie letterkunde systap eenvoudige oplossings en is beslis nié sosiale of politieke traktate nie. Hannes in sy Stormerstrui teen die slot en haar huis toe neem. ‘n Goeie slot?

 

Dis werklik jammer om só te skryf oor hierdie roman, want Henda Olivier kán vertel en simbole inryg en met verwysings werk. Tussen toe en nou. Uiteindelik word dit ‘n roman vir lekkerlees. Die verwysing na ‘n kinderboek Otjan Otter is wel tersaaklik.

 

Miskien moes sy klasse gebunk het en eerder by ‘n letterkunde-onderwyser gaan leer het. Of dalk net Francoise Sagan se Bonjour Tristesse (1954) gelees het in die biblioteek saam met Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan (1937) waar vroue ook uitgelewer is aan mans. En begeerte. (In Onder Water is daar ook tydsaanduidings soos by Smit.)

 

Die implisiete verteller moes die sleutel in die metaforiese oseaan gegooi het (97) en die Pandorakis vérder oopgemaak het. Of dalk nie na Lena geluister het nie.

 

Inderdaad: Ain’t no thang but a chicken wang … (124). Die roman word bemark as ‘n nuwe stem wat dit bepaald is binne die romanza-kultus. Binne ‘n letterkunde waar krimi’s ernstig geresenseer word, is ‘n belofteryke debuut of ‘n nuwe stem ‘n swaar verdiende etiket. ‘n Nuwe “gloeiende stem” reserveer hierdie leser vir name soos o.a. Lettie Viljoen (Klaaglied vir Koos), Rachelle Greeff (Die rugkant van die bruid) of Koos Prinsloo (Jonkmanskas). Of Alexander Strachan en later: S.J. Naudé …

 

En wag maar eers met die heiningkwas en laat die boek haar lê kry.

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot en Senior Navorser aan die Universiteit van Kaapstad. Sy is digter en romanskrywer.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)


Sunday, June 23, 2024

Resensie | Justin Fox – The Wolf Hunt. Jonathan Ball, 2024

Justin Fox – The Wolf HuntJonathan Ball, 2024. ISBN: 9781776194025

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Oorlog en die impak daarvan,  verdwyn nooit nie. Justin Fox, digter, fotograaf, reisiger, nie-fiksie skrywer van formaat, karteer in The Wolf Hunt al die kompleksiteite van oorlogvoering ter see. 

 

‘n Roman wat belangrik is, veral in die lig van die voort-durende, slopende oorloë wat tans die nuus oorheers: Rusland en die Oekraïne versus die Midde-Oosterse konflik. All Quiet on the Western Front (2022) is ‘n meesleurende film van Edward Berger oor WO I, gebaseer op Erich Maria Remarque se klassieke roman uit 1928. Met die verskrikkinge wat die 17-jarige Paul Bäumer alles moet trotseer. Daar is ‘n verwysing na hierdie roman en Murder on the Orient Express van Agatha Christie (29). Ook die Reader’s Digest en Moby Dick is hier (228).

 

Vérder terug in die tyd is daar die Serwiese filmmaker Emir Kustirica se Life is a miracle (2004) wat op satiriese en sardoniese manier met oorlog omgaan.  En hierdie films word met opset betrek, omdat Fox filmies en beeldend vertel. 

 

Die voorblad het ‘n sub-titel: Nazi terror in South African waves. Boonop lyk die voorblad soos ‘n berig wat uitgeskeur is uit ‘n koerant. ‘n Belangrike kode wat die leser help om die spel tussen waarheid en fiksie te navigeer.

 

Dit is Julie 1941. Engeland teenoor Simonstad. Luitenant Jack Pembroke wat sy manne moet reg kry vir die oorlog en die tyd loop uit. Admiral Dönitz wat uit Frankryk U-bote stuur. Rommel. Jan Smuts. Die Geallieerdes in Egipte. ‘n Suid-Afrikaanse, Nazi-gesinde spioen en pogings om Jannie Smuts se pro-Britse regering te ondermyn.

 

Dis ‘n hoogs leesbare verhaal en die McGuffin word hier ingespan. Die outeur gee vir ons (baie slim) ‘n glossarium voorin (en agterin nie), soos lordships (sleng vir U-boat seamen) en pongo, sleng vir Bitse soldate: where the wind blows, the pong goes”). Of Snoekie (Snoektown) naam vir Simonstad. So word die leser dus vooraf gerig om begrippe en woorde reg te vertolk.

 

II

Die werklike outeur (Fox) gee eweneens interessante gender-perspektiewe op oorlog. ‘n Romantiese liefdesverbintenis tussen Jack en Clara. Clara wat mans se aandag geniet en Jack se hart laat pyn (158). Oorlog wat belangriker is as die liefde en die vrou wat moet wag.

 

In dieselfde tyd kyk ek weer Notorious die klassieke Hitchcock-film uit 1946 met die rol van die vrou (Ingrid Bergman) wat mans eweneens oorrompel met haar skoonheid. ‘n Spioenasiefilm van hoogstaande gehalte met Cary Grant as die een teenspeler.

 

‘n Jong offisier wat sifilis opdoen en veral die beskrywing van Mevrou Smuts en die SAWAS. Die “glory bags” wat vir die soldate gemaak word, wys hoe diep die oorlog almal geraak het.

 

Na Agatha Christie word verwys as “an old English duck”, maar in die gedagtegang van ‘n man in daardie tyd.

 

Die gebruik van Afrikaanse woorde (soos vaderland, moer, ouma, soasties, boerewors, ensomeer) gee ‘n outentieke blik op die interne belewenisse van karakters. Die navorsing is oortuigend: Die Burger word gelees en ons sien Isie en Jan Smuts. Die Universiteit van Kaapstad is hier en die wandelpaaie korrek.

 

Radio Zeesen, die SDF uniforms, Hitler se mag word deeglik beskryf. (Kyk na die ikoon tussen afdelings.)

 

En verwysings na die Bybel (Jona, o.a) en gebede is aanwesig. Wat geëet en hoe ‘n man se oë oopgesper is soos litchies bly mens by (109). Hande wat so rooi soos lobsters is. Die konkrete aspekte (die beskrywings van die see en aanvalle) word uitstekend weergegee. En jy kan die stank van kots en bevuiling ruik. En Wagner se musiek is ‘n interteks. En wanneer die verhaal ligter raak, is daar die musiek van Vivaldi.

 

Hierdie leser moes weer oplees oor die Ossewabrandwag en hul rol in die oorlog. En die verraad ontdek in ‘n dagboek. Wat alles gedoen word om almal besig te hou, word deeglik beskryf:”With Seebohms help, he penned a weekly newsletter which was pinned up in the the control room for all to read and featured on-board gossip, poems by the crew, cartoons, a crossword with specific relevance to their boat and reports from home”(108). Dis vanuit Brand se perspektief. 

 

Danse weer beleef aan die anderkant van die gevegsfront.

 

III

Die hele kwessie van wie vertel, wie kyk, die ouktoriale verteller, die geskiedenis as ‘n makro-teks teenoor persoonlike perspektiewe, word behendig hanteer en sal vir jong navorsers in die narratologie belangrike navorsing bied. Hierdie verteller gee eweneens sleutels na die mitologie en die “Lili Marleen”.

 

Om tekste te suiwer of skoonmaak, omdat dit ‘n nuwe generasie mag aanstoot gee, is verkeerd. Die integriteit van sowel die teks as tydsgees word hierdeur aangetas.

 

Die periskoop is hier ‘n belangrike kode, omdat die outoriale verteller weet wat die uiteinde sal wees. Brand se logboek en persoonlike dagboek gee ‘n blik vanuit ‘n ek-perspektief op die ellendes wat beleef word (211).

 

IV

Die skrywer speel ‘n spel met die leser. Wat dink jy weet jy van hierdie oorlog en wat word gefabriseer, byvertel?

 

Die boek word aangeprys deur die gesiene historikus Bill Nasson (kenner van die Suid-Afrikaanse oorlog) en John Maytham wat dit ‘n yarn noem. Dus ‘n storie met oordrywing en wat die verbeedling aangryp.

 

Die roman vorm deel van die gewilde Jack Pembroke-reeks. Lees hierdie roman. Dit het my oneindige leesgenot verskaf en my kennis van die oorlog en woorde verryk. En ou Engelse gewoontes en hoflikhede weer verskerp: soos daardie preprandial glasie voor die ete.

 

Die titel is meervlakkig. Die leser word deel van die soektog. 

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste roman heet Stasies (Protea).

Monday, June 10, 2024

Resensie | Corlia Fourie en Annelize van Rooyen (Samestellers) - Draaie, swaaie en afdwaalpaaie: reisstories | Queillerie, 2024

Corlia Fourie en Annelize van Rooyen (Samestellers) - Draaie, swaaie en afdwaalpaaie: reisstories. Queillerie, 2024. ISBN: 9780795802751 | R320, 00 Sagteband

Resensent: Joan Hambidge

 

Van die grootste skrywers het al hul hand gewaag aan reisbeskrywings. Paul Theroux se The Great Railway Bazaar(1975) bly ‘n baken in die ontdekking van vreemde, eksotiese landskappe. Ons is bekend met Graham Greene se Travels with my Aunt, met ene Henry Pulling, ‘n afgetrede bankbestuurder se ervarings saam met sy onkonvensionele Aunt Augusta op die Orient Express. Hy kry ‘n nuwe blik op die lewe (en sy ou self) danksy reis met sy amorele tante.

 

Hier te lande het Elsa Joubert Afrika in haar reisverhale ontgin. Haar soloreise deur Afrika in 1948 deur Uganda, Egipte en Mosambiek is uitstekend. En in 1997 verskyn Gordel van Smarag na Indonesië.

 

Die verskillende skrywers in Draaie, swaaie en afdwaalpaaie: reisstories  vertel van onverwagse én ongewone gebeure. Snaaks, bittersoet of met “heuglike” gevolge, maar immer verrykend. Reis is op alle vlakke verre-gaande. Mary Louise Pratt verwys na die "kunste van die kontaksone" in Imperial Eyes: Travel Writing and Transculturation (1992).

 

Hier is 46 skrywers opgeneem, maar belangrike reisskrywers in Afrikaans staan nie hier nie. Die voorwoord is maar skrams en dit is vir die leser onduidelik hoekom daar op sekere skrywers besluit is. Maar dit bly immer altyd samestellers se prerogatief om te kies.

 

Die verhale word in verskillende afdelings geplaas soos  ‘n Bus vol plesier, Hoe sag wieg ons bootjie, So ry die trein, Laat die wiele rol, Vlieg hoog, vlieg ver, Verblyf, Bagasie, Ontmoetings, Onvoorspelbare weer, Bestemmings, Die tale wat ons praat.

 

Reis werk altyd met dít wat jy dink jy weet van ‘n land, sy mense en kulture en die ontdekking van ‘n wrede werklikheid. Hierom kan ‘n nuwe land jou lie maak of fop.

 

Reis is immers om te navigeer tussen dit wat jy dink jy weet en die ervaring. Dikwels verstaan jy eers die impak van ‘n land en sy mense lank nadat jy teruggekeer het. Fly now, cry later.

 

Elke skets is hoogs onthoubaar en hierdie leser fokus net op ‘n paar kwessies.

 

Sophia Kapp vertel van ‘n verlore rugsak en ‘n stryd met koerierdienste geplaas teen die argetipiese verlore silwerstuk.

 

Of die besef dat die reis belangriker is as die aankoms. Of dat die natuur altyd groter is as die mens: uitmuntend vertolk deur Michèle Meyer oor die Grand Canyon.

 

Reis het met altyd taalmisverstande te make. Of met die afwesigheid van taal. In die afdeling Die tale wat ons praat, is daar ‘n subtiele faux pas, hilaries weergegee deur Renée Rautenbach Conradie met ‘n slim slot. Kort en kragtig met ‘n blomnaam met funeste gevolge: spyker-my-by-die-tuinhekkie. Stywerug en tweezerlip Franse in ‘n diplomatieke wêreld word heerlik opgestuur in hierdie snelfiksie.

 

“Gaan julle, of bly julle?” van Louis Jansen van Vuuren herinner ons aan die waansin van Covid-inperkings en reisbeperkinge. Hier vind ons die blik van buite (Frankryk) teenoor binne (die bekende).

 

‘n Skitterende skets is die een van Gerrit Rautenbach se “Uitkamp in die Fraserburg Hotel”: nostalgies, navrant en hoé die verdwyning van ‘n afgebrande hotel nooit uit die geheue gewis kan word nie.

 

Of as jy dink dat binne ‘n vreemde omgewing word Afrikaanse geskinder nie verstaan nie, soos Anzil Kulsen tereg uitwys, is jy toetentaal verkeerd. Ons ken almal die storie van die twee studente wat ‘n mooi meisie se bates op ‘n bus in Londen in kleur en geur bespreek en haar later die aand by die Suid-Afrikaanse Ambassade raakloop.

 

En hoe mense sonder taal kan kommunikeer, met welwillendheid en liefde, bewys Erika Murray-Theron: daardie gemeenskaplike taal wat mense saamsnoer in die vreemde. Hier speel dit af in Slowakye.

 

Marita van der Vyver beskryf die greyhound-reis en die mense van die VSA perfek. Saam met Jacques Pauw reis jy deur Siberië met vodka. Annemarié van Niekerk gee ‘n raak beskrywing van hoe mens soms toevallig onder die indruk kom van menslikheid, oor aanraking:” … oor die wete dat een mens ‘n ander se weggoibekertjie kan vul met veel meer as munte”(187).

 

Of reis met ‘n ou moeder wat ‘n vriendin uit Pofadder herken wat sy jare laas gesien het, groet in vreugde, maar mekaar nooit weer sien nie. Joan Kruger in “Kakamas>*<Parys> *<Pofadder” wat dit hier raak opsom:”Ons reis in ons eie taalkokon voort” (204).

 

En Kerneels Breytenbach se skitter bydrae waar hy sy storie baseer op ander se verslae en herverpak. Oor Mamma Jane se staning en verskillende kulturele tradisies. Die stem van rede teenoor bacchantiese wellustelinge (32).

 

Humor en misverstand (Martie Retief Meiring). Stinkende reisgenote (Frederik de Jager). Bedrog (Skreeusnaaks beskryf deur Nadia de Kock). Diefstal (Annelize van Rooyen). Verkeerde stasies of treine (Erika Murray-Theron). Of aanwysings wat verlore geraak het in ‘n wonderlike smokkelstorie (Elma Potgieter geplaas teenoor Kas van den Bergh). Of ‘n paspoort wat tuis in ‘n laai vergeet is (Bettie Lambrecht).

 

Of ‘n skets wat ‘n bekende verhaal oproep soos Japie Gouws dit doen in sý weergawe van Positano. Reis dan ook deur boeke. ‘n Goeie reisbeskrywing laat jou daardie plek in al sy fasette voel en ruik.

 

Daar is uiteenlopende en hoogs onthoubare reissketse saamgesnoer in hierdie versameling: Saam na die Noorde, saam met die wa!

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste roman heet Stasies.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)