Friday, October 12, 2018

Rubriek | Magnolia (1999)

I
Paul Thomas Anderson se Magnolia (1999) is om verskillende redes ‘n verbluffende film. Soos Robert Altman se Short Cuts (1993) vertel dit verskillende verhale en ondersoek die rol van toeval op mense se lewens. Tom Cruise, Philip Seymour Hoffman, Julianne Moore, Jason Robards, William H. Macy, en Philip Baker Hall o.a. lewer kragtige toneelspel.

Boonop heraktiveer dit weer vir hierdie kyker Supertramp se musiek en Goodbye stranger word in ‘n kroeg gespeel:

Sweet devotion (Goodbye, Mary)
It's not for me (Goodbye, Jane)
Just give me motion (Will we ever)
To set me free (Meet again?)
In the land and the ocean (Feel no sorrow)
Far away (Feel no shame)
It's the life I've chosen (Come tomorrow)
Every day (Feel no pain)
So goodbye, Mary (Goodbye, Mary)
Goodbye, Jane (Goodbye, Jane)
Will we ever (Will we ever)
Meet again? (Meet again?)
Now some they do and some they don't
And some you just can't tell


Die verhaal begin met die impak van toeval, onder andere hoe ‘n man wat selfmoord wil deur uit ‘n venster te spring, toevallig voor sy ma se venster verby val die oomblik toe sy ‘ʼn skoot afvuur, en noodlottig deur haar getref word. (Sy word dan van moord aangekla.)

Die verhaal sluit af met paddas wat uit die hemel val, ‘n verwysing na Exodus 8:2. (Hiermee bewys God sy almagtigheid volgens die Bybel.)

Burt Ramsey is die verteller (Ricky Jay) en syvoice overraam die verhaal.

Dit is ‘n baie komplekse film (3 ure lank) en ‘n mens kan dit vanuit verskillende perpektiewe beskou.

II
Die verhaalgang beweeg tussen verskillende insidente wat ten slotte saamgenoer word en ek wil dit nie bederf vir die voornemende kyker nie.

Daar word eerder gefokus op enkele temas in hierdie film.

Die verhouding tussen ouer en kind is ‘n deurlopende tema: die sterwende vader wat wag op sy seun en versoening behoef.  Die seun – vertolk deur Tom Cruise – heet Frank T.J. Mackey. Hy het sy naam verander en is ‘n motiveringspreker om mans seksueel op te rui. Die man moet oorheers en Cruise se werklike verbintenis met Scientology word ook hier geaktiveer: jy is die heerser van jou gedagtes en begeertes. In 'n onderhoud weet ons dat hy ook sy verlede gefabriseer het.

In die toneel waar hy sy sterwende vader besoek, is versoening helaas nie moontlik nie. Hy verag sy vader, omdat hy hom en sy moeder verlaat het. Hy moes ook omsien na sy moeder, sterwend aan kanker. Die vader Earl Partridge word vertolk deur Jason Robards. Die bekende siening dat die sterwende net kan vertrek indien daar vrede gemaak word met agtergeblewenes word in ‘n sterk toneel uitgespeel. Met Cruise wat die vader vloek en skel.

Kinders speel ‘n belangrike rol in die film. Die wonderkind wat ‘n speelding is vir sy pa en aan vasvra-wedstryde moet deelneem om die vader se eie ongeleefde én onsuksesvolle lewe uit te leef. Die kind wil egter nie verder saamspeel nie. Grootmense wou hom nie tydens die wedstryd badkamer toe laat gaan het nie, en hy is verneder hierdeur. Hy konfronteer sy vader en versoek hom om mooier met hom om te gaan. Met die vader wat hom steeds verminder.

Die swart rappertjie red Earl se vrou Linda wat probeer selfmoord pleeg. Hy bel 911 nadat hy geld uit haar beursie steel.

Sy pendant is die ouer, patetiese William H. Macy as "Quiz Kid" Donnie Smith wat graag ortodontiese operasies wil ondergaan, maar afgedank word by Solomon & Solomon. Hierna steel hy geld uit die kluis, kom tot sy sinne, maar kan helaas nie terugaan nie weens die paddas wat neerdaal uit die hemele. Hy word deur die “good cop” Jim Kurring “ (John C. Reilly) gered en die geld word teruggesit.

In ‘n pynlike kroegtoneel (waar Supertramp speel) bely hy sy liefde vir die kroegman.

Lina (Julianna Moore) is ‘n verslaafde en skel op ‘n apteker wat haar ellende raaksien en haar “lady” noem. Jim raak betrokke by Claudia Wilson, die aanbieder van die quiz showse kind. Jimmy Gator (vertolk deur Philip Baker Hall) stort in duie voor die kameras, is eweneens sterwend aan kanker en bely aan sy vrou dat hy ontrou was aan haar. Maar die grootste ontrouheid is dat sy weet dat hy hul dogter Claudia gemolesteer het en hierom is sy waarskynlik ‘n verslaafde. Hy skiet homself dood in ‘n apokaliptiese toneel met die ambulans (met Linda in) en “good cop” Jim oor die paddas kaats. (Jim wat sy pistool verloor het, vind dit terug wanneer die paddas neerdaal.)

In ‘n klein vinjet sien ons ‘n sterwende hond; hy het immers per ongeluk van Earl se pille ingekry en die siektetrooster, Philip Seymour Hofmann, is uiters emosioneel na die konfrontasie tussen vader en seun. Hy is eweneens diep geraak deur die dood van Earl, wat vir hom ‘n soort vaderfiguur geword het.

In ‘n onthutsend-eerlike toneel bestel hy porno-tydskrifte oor die foon en die kyker is intens bewus van sy isolasie.

III
“Desire is a wound of reality,” waarsku Žiżek. Elke karakter in hierdie film se begeertes word gefnuik.

Die film lewer kommentaar op die dood van die Amerikaanse droom lank voor Trump se koms.

Verslawing, siekte, selfmoord, disfunksionaliteit.

© Joan Hambidge