Tuesday, May 9, 2023

Film | Beau is Afraid | 2023

Beau is Afraid | Jaquin Phoenix, Parker Posey, Amy Ryan, Nathan Lane | Regisseur Ari Aster, VSA 2023

Resensent: Joan Hambidge


Die eerste doodsonde van die filmkuns is ‘n film wat te lank is (179 min), behalwe as jy Federico Fellini of Orson Welles is. Of dalk Béla Tarr.

 

Die tweede doodsonde is om vir jou kyker te interpreteer. In geval jy nie die simboliek verstaan nie, hier is dit nog ‘n keer.

 

Die derde doodsonde is om ‘n mélange van style saam te gooi soos geweld, hallusinasies en ‘n verwysing na primordialiteit soos die lewe-as-‘n-reis deur verskillende jaargetye (“O laat alles val wat prul en voorgee was”).

 

Die vierde doodsonde is om sommer dadelik ‘n film as kultusfilm te tipeer. Altyd gedag die tyd moet hieroor oordeel.

 

Die vyfde doodsonde is om hierdie film as ‘n soort Odusseia te sien.

 

Die sesde doodsonde is om verwysings aan die hare by te sleep. Soos oor die Joodse geloof. En die letterlike verloor van ‘n kop. 

 

Die sewende doodsonde is om ‘n fliek op ‘n Saterdagmiddag te gaan kyk, in plaas van om te wonder oor hoogmoed, gierigheid, gramskap, afguns, wellus, gulsigheid en luiheid, terwyl twee rugbyspanne in ‘n Titaniese stryd gewikkel is. Wat jy misgeloop het …

 

Genoeg genoeg. 

 

Daar is wel knap vinjette soos die ondersoek na paranoia aan die begin van die film waar Joaquin Phoenix sy hart uitspeel as Beau Wassermann tussen verlooptes en ‘n waansinnige messteker.

 

Wat verbeel hy en wat is werklik?

 

Ook die hilariese verblyf by die Amerikaanse gesin waar ons die impak van die Viëtnam-oorlog sien op hul lewe. Almal is aangetas en daar is self ‘n legkaart wat gebou word, gebaseer op die foto van die seun. ‘n Flinke analise van die “greening of America” vind ‘n mens hier.

 

Die jeugervarings met Elaine wat later terugkeer in sy lewe. Word goed uitgebeeld. Ewige liefdestrou word hier ‘n doodskoot. Die twee jonge maagde wat mekaar as volwassenes ontmoet en dan uitloop op die dood. 

 

Joaquin Phoenix

Die begin van die rolprent met ‘n manipulerende sielkundige en die impak van depressie-medikasie is vol in die kol. Hy lewer kommentaar op hoe ambivalent die moeder-seun-verhouding is.

 

Die welvarende moeder as ‘n soort superego wat die seun verminder en kritiseer neem ons na Oedipus Rex.

 

Hoe die hoofkarakter verwek is, is komies en belangrik vir die oedipale stryd met die afwesige vader, letterlik ‘n monster. Wat natuurlik weer inspeel op Sofokles.

 

Die oorgang van realistiese film na tekenprent (soos in Japannese filmkuns) is goed gedoen. Die ontmoeting met The Orphans of the Forest met teater as self-herkenning oortuig.

 

Die grimeerkunstenaars het hul werk gedoen.

 

Die gehoor in die Labia (jonger as die uwe) het soms gespanne gelag.

 

Nathan Lane

Ari Aster, die regisseur, het glo ‘n voorliefde vir riller-rolprente. Terwyl hierdie kyker die film meemaak, dink ‘n mens onvermydelik aan Alfred Hitchcock se analise van die moeder-seun-verhouding in Psycho (1960) waar die die dooie moeder die kind se gedrag bepaal.

 

Die legkaart is uiteraard ‘n belangrike kode vir die verstaan van die film. As geheel, helaas, oortuig dit nie. 

 

Te veel temas. Te lank.



 (Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)