Saturday, July 5, 2014

Joan Hambidge - ‘n Klein nota by 'n ongepubliseerde vers van Johann de Lange



Die digter as ronkedoor

Borde, bekers & eetgerei stapel op
in die wasbak, wasgoedmandjie volgestop.

Vervaldatums kom en gaan in die yskas,
die sitkamer sien nooit ’n kuiergas.

Dra van klere opsioneel, onoopgemaak
hoop briewe & vensterkoeverte op. Gestaak

kontak met medemens, selfs die natuur,
vervang met hoë definisie uur na uur.

Elke boekrak is tjok & blok & ongelese vol
& onpaar kouse teel aan in 'n bol.

Wasdag breek aan met die laaste skoon
hemp & onderbroek, ongestopte kouse vertoon

kleiner & groter gate. Met die ys- & koskas leeg
word hy uitgedryf om tussen rakke te beweeg,

maar die inkoop loop sonder plan of lys
& die trollie vul met kitskos & kouevleis.

Macbook, iPad & iPhone versadig elke lus.
Met webcam & Grindr wat alles opdis,

voel hy selde die gemis wat omgestook
moet word, of die stank van offerrook.

Maar behoed die siel wat ontydig bel
as hy verdiep is in sy sepies, of op sy sel

sy jongste vers intik na middernag.
’n Slaaf van sy aptyte beteken: Níks kan wag.

© Johann de Lange

I

In 1988 verskyn daar 'n digbundel van Betsie van Niekerk wat Ronkedoor het. Dit is indertyd deur Tafelberg uitgewers gepubliseer. So is die bundel indertyd bemark:

’n Besonderse digdebuut geïnspireer deur Afrika. Die ronkedoor is die groot olifant - ’n stem uit die hart van Afrika waar die digteres se pa, ’n dierkundige, jare lank navorsing oor die tsetsevlieg gedoen het voor hy in 1982 aan malaria dood is.

In ‘n bloginskrywing op Mooie woorden word “ronkedoor” as volg gedefinieer:

Ronkedoor
Een ronkedoor is een op zichzelf levende, uit de kudde verstoten olifant.

Het woord komt van het Portugese woord roncador wat druktemaker betekent.

Een man of vrouw ronkedoor noemen lijkt me een mooi alternatief voor het woord eenzaat en/of verstoteling.

In ieder geval een mooi ronkend woord.

Uit hierdie gegewe van die "verstote olifant" maak Johann de Lange 'n gedig oor eensaamheid en isolasie, maar terselfdertyd word dit 'n ars poetica. 'n Mens hoor ook Elisabeth Eybers se beroemde gedig hier saampraat en Antjie Krog se antwoord op "Digteres as huisvrou" wat heet "weer eens".


Die Eybers-vers is as volg vertaal, wat eweneens 'n interessante gesprek open:

Poet as housewife
Elisabeth Eybers

Always a broom leaned against a wall,
meals never on time, if they come at all.

Days without dates through which she moves
empty and stubborn, slightly confused.

Ironing hung dejectedly over a chair,
gestures that come from who-knows-where.

Old letters unanswered, piled together,
papers and pills stuffed deep in a drawer.

Thankful to be part of your heart’s great whole
yet devoted to the limits of her own small skull.

O orderly biped, take heed,
leave her alone—let her read.

(Vertaal in Engels deur Jacquelyn Pope)

(Elisabeth Eybers, "Poet as housewife". Poetry Foundation, Poetry MagazineBesoek 5 Junie 2014)

Die ordende teëvoeter word nou "orderly biped"...

'n Tweevoetige dier in 'n distigon met sy koeplette!


Op Eybers reageer ek as volg:

Digteres as huisvrou
Joan Hambidge

vir Elisabeth Eybers

Altyd 'n Mr Delivery-boks teen die muur, 
nooit 'n optelslet op die onvanpaste uur. 

Agenda/memoranda-dae waardeer sy gatvol, 
moerig van vergadering na vergadering tol. 

Wasgoed wat deur haar Bosch-masjien swaai, 
sewe stelle klere plus gymbroeke aan die draai. 

Eksamenskrifte, e-posse, verslae op haar lessenaar 
('n Toring van Babel), neffens kritieke wat stof vergaar. 

Tussendeur skryf sy gedigte stiekem wyl sy verwoed werk, 
haastig beweeg van spertyd tot dit wat haar binneste versterk. 

O muses, wees haar genadig: 
laat haar maar parodies dig! 

(Joan Hambidge, “Digteres as huisvrou”. Litnet. Besoek 5 Junie 2014)

II

Die gedig van De Lange gee ars poëties lewe aan die vergete Van Niekerk wat na haar debuut "verdwyn" het en aktiveer met hierdie distigon ook Eybers, Krog en al die ander nakomelinge. Dit is 'n besonder slim gedig waarin die digter sy leefruimte-as-verstoteling tot gedig verhef. Jacques Lacan se "aleteia" of "unveiling" vind hier plaas met die spel tussen orde en chaos. Die chaotiese bestaan word deeglik beskryf in die eerste en tweede strofes:

Borde, bekers & eetgerei stapel op
in die wasbak, wasgoedmandjie volgestop.

Vervaldatums kom en gaan in die yskas,
die sitkamer sien nooit ’n kuiergas.

En hierdie chaotiese bestaan het dalk te make met die feit daar nie 'n Ander is nie. Daar is geen kuiergas nie en die "ordende teëvoeter" van die Eybers-gedig is inderdaad die digkuns:

O ordende teëvoeter, wees
gewaarsku, stuur haar liewer na haar lees.

Eybers se vers het in Einder verskyn in 1977, en die leser in 2014, ervaar met De Lange se gedig dieselfde spanninge, behalwe die moderne bestaan is een van kitskos, selfone, iPads en die internet. By Eybers is daar “ou briewe onbeantwoord”.

Macbook, iPad & iPhone versadig elke lus.
Met webcam & Grindr wat alles opdis,

voel hy selde die gemis wat omgestook
moet word, of die stank van offerrook.


Lees ons ook J.C. Bloem se uitspraak oor poësie en jenever? En soekend na die korrekte aanhaling kom ek af op 'n lesing van Jacques van der Elst oor N.P. van Wyk Louw wat hierdie twee gedigte aanhaal:

Twee gediggies in die manuskripboek van Klipwerk (Die Burger, 7 Junie 1986) spreek van hierdie verlange in Nederland. Die een is getitel "Stillewe" en lui so:

 Hy lê daar op die kasrak die geel lemoen
 maar in die fles skyn die jenever groen.
 Verlateberg en Tuinplaas, Boesmanshoek.
 Wat, wat moes ek in hierdie land kom doen?

En in "Ná ek die koerant gelees het" skryf hy:

 Die glas is deurskyn in my hand
 6000 myl lê Sutterland
 ‘n silwer herberg in die sneeu
 en niemand weet hoe beef dié hand
 die Here weet.

Van der Elst se lesing (200- NP van Wyk Louw-lesing) sien ek toevallig op die internet en heet "N.P. van Wyk Louw en sy Nederlandse bande". Hierdie lesing handel oor invloede in die letterkunde! 

(Jacques van der Elst. 2000. "N.P.van Wyk Louw en sy Nederlandse Bande", N.P. van Wyk Louw-gedenklesing.  Universiteit van Johannesburg. Besoek 5 Junie 2014)

Die offerrook dui op die braaivleisvure, maar dalk ook op ander offers of opofferinge wat gemaak moet word wanneer 'n mens nie alleen is nie, maar jou lewe met ander deel?

Die wending van die vers lui soos volg:

Maar behoed die siel wat ontydig bel
as hy verdiep is in sy sepies, of op sy sel

sy jongste vers intik na middernag.
’n Slaaf van sy aptyte beteken: Níks kan wag.

Die skryfproses mag nie onderbreek word nie, maar dit word ironies genoeg gelykgestel aan die kyk van sepies wat eweneens 'n belangrike tydverdryf is. Die gedig word ingetik – na middernag – op 'n sel en die navrante slot bely die spreker hoe hy ‘n die onmiddellikheid najaag; hy is immers ‘n slaaf van sy aptyte soos kitskos en vinnige kommunikasie reeds aandui. Hiermee lewer die digter dan ars poëties slim kommentaar: hy aktiveer vele verwysings en verswygings oor die aard van die digkuns en hy vertel ons dat die moderne digter vinniger skryf as sy voorgangers weens die invloed van tegnologie.

Sy gedig staan egter nie in die skaduwee van die behendige beoefenaar van die distigon, Eybers nie. Inteendeel. Hy heraktiveer vergete gedigte en 'n mens wonder wat het van die digter van die bundel Ronkedoor geword?