Wednesday, November 25, 2020

Resensie | Deon Meyer – Donkerdrif | Human & Rousseau, 2020

Deon Meyer: Donkerdrif. H&R, 2020. ISBN: 9780798181662 

 

Resensent: Joan Hambidge 

 

Deon Meyer hét dit. Hy kan 'n pakkende speur-/misdaadverhaal skryf wat jou meesleur. So is dit gesteld met die jongste roman. Met die usual suspects: Bennie Griessel en Vaughn Cupido, en ander bekende randfigure. 

 

Die verhaallyne – soos in spanningsverhale – wissel vinnig van een toneel na 'n volgende. En uiteindelik hou dit alles verband met gierigheid, een van die doodsondes.  

 

Dit is duidelik dat die skrywer Steinhoff en Markus Jooste as vertrekpunt gebruik om die verhaal van nouveau riche en inkommers op Stellenbosch naatloos te vertel.  

 

Boonstra is duidelik op Markus Jooste gebaseer, ofskoon die skrywer beweer alles is verbeeldingsake. Hierdie ontkenningsklousule is egter nie waterdig nie. Die beskrywings van Boonstra is vraisemblance-materiaal. 

 

Herkenbare plekke waar Boonstra se vrou woon word wel verplaas, maar die leser wat hierdie eindelose sage in die media volg, weet presies wat hier gebeur. Boonstra is die baas van Schneider-König ('n uiters ironiese naam). 'n Man wat intimideer met vuige stories oor ander wat hy misbruik soos dit hom pas. 

 

Tussen kenbaar en herkenbaar woed die verhaal voort. Met arme Bennie Griessel wat dissiplinêr verhoor word weens insubordinansie. En verplaas word. 'n Paar maande lank platsak. 

 

En 'n sakevrou, ene Sandra Steenberg – 33, en aantreklik én in diep skuld – word  ingesluk in 'n verkooptransaksie met Boonstra se landgoed Donkerdrif. Boonstra se wettige vrou is onaansienlik en wraakgierig. Sy ruk 'n "kuberhaas" uit die hoed en ontmoet Sandra in die Decameron, die bekende Stellenbosse restaurant waar vele van die rykes en gesienes van hierdie dorp uithang. 

 

Die leser weet alles gaan nie goed afloop vir Sandra Steenberg nie. Boonop is haar man, Josef, 'n kenner van Ivan Vladislavic. 'n Mens verwag dat hy gaan vuil speel. 

 

En 'n jong student wat "wegraak" en deel is van kuberongerymdhede. Nog 'n spanningslyn wat die leser laat asemophou saam met sy moeder. 

 

Op die koop toe word die bedrog van die polisie ook ontmasker. Wie presies is verantwoordelik vir Milo April se dood? 

 

So alles is local en lekker. Ons dagblaaie onthul daagliks skandelike bedrog en onheil. En Deon Meyer as flinke storieverteller put uit hierdie diep put van ongeregtig- & ongerymdhede. 

 

Die roman begin met 'n tipiese woeste aanslag: 'n geweldige polisiejaagtog en skietery. Met 'n baba wat net-net betyds gered word en 'n jong kind wat alles aanskou. Dit eindig sonder closure ... 

 

'n Lyk in 'n vrieskas.  Hier breek die outeur die konvensie van die speurverhaal deur die slot oop te hou vir bespiegeling. (En dalk vir 'n opvolgroman?) 

 

Meyer verwys met voetnote na vorige tekste soos Ikarus (2015) en Prooi (2018) wat 'n ander speurtog tot gevolg het vir die literator. Ook dit maak alles komplekser. 

 

Meyer se resep is: deeglike navorsing, die skep van spanning, afwagting, vinnige dialoog. Met 'n skeut humor. Werklike mense – kyk wie speel kitaar! – genderwaarnemings en kritiek op 'n samelewing wat al hoe meer plofbaar en gierig geraak het, maak hiervan 'n eersteklas spanningsroman. Die verskillende verhaallyne word saamgesnoer en afgewissel bykans soos in 'n opera. Daar is cliff hangers en hierdie leser het die roman een nag tot drieuur uitgelees. Jy wil weet hoe alles gaan eindig ... 

 

Dis 'n roman soos die film LA Confidential waar die verrotting van binne af gebeur. Curtis Hanson se film van 1997 het hierdie kyker onlangs tweekeer na mekaar gekyk. Gebaseer op James Elroy se roman word 'n uitgebreide spel met die kyker gespeel. Guy Pearce, Russel Crowe, Kevin Spacey, Kim Basinger en Danny DeVito lewer besondere spel. Hollywood en polisiemag. Geldgierigheid. Magswaansin. En met 'n tweede kyk, sien jy al die leidrade. 

 

Dis onnodig om Meyer te resenseer. Sy romans verkoop en hy het 'n getroue aanhang by nie-literêre lesers en letterkundiges. Hy laat alles so maklik lyk, maar soos by Agatha Christie steek hy sy navorsing weg agter 'n storie wat vorentoe beweeg. 

 

Tereg is hy alreeds nommer 1 in die boekwinkels.