Sunday, March 6, 2022

Resensie | De Waal Venter – Vrugbeginsel | Naledi, 2021

De Waal Venter – VrugbeginselNaledi, 2021. ISBN: 9781928530855 

De Waal Venter se werk as vertaler van Pablo Neruda, Octavio Paz en Tomas Tranströmer het die Afrikaanse letterkunde verryk. Hy is tereg bekroon met ‘n Akademie-prys vir sy vertalings van Neruda in 2020 wat heet Vandag is boordensvol (2017).

 

Vrugbeginsel is die titel van sy jongste bundel. Ovarium is die geleerde, wetenskaplike naam. Die leser hoor ook die beginsel van vrug. Die soeke na essensie. In die hart van die blom wat ryp word en saad voortbring. 

 

Iets wat dus groei en uitwaaier in meervoudigheid. Die leser, soos die agterplat beduie, se leesproses is só ‘n komplekse een.

 

Die vorige bundel se titel Oop sirkel (2017) vra vir ‘n voltooiing deur die leser.

 

In Vrugbeginsel kan veral die invloed van Paz gesien word. Die stilte, die sagte prosesse wat ongestoord voortgaan, word hier ondersoek. Hierdie dialektiese proses tussen Venter se vertalings van Paz en Neruda én die jongste bundel is vir hierdie leser besonder relevant.

 

So open die bundel se programvers:

 

Verwagting

 

Vroeër vanoggend
het die lewe oopgeplooi,
kroonblare wat wegvou
van die vrugbeginsel,
oop vir die son.

 

*

 

Ongesien in die donker

het selle meioties van mekaar geskei;

een van hulle gaan ’n mens help maak.

 

*

 

Vroeër vanoggend 

het dit alles gebeur,

en dit is nog aan die gang.

Gebeure drom saam

voor die toe deure

van die komende sekondes. (9)

 

“Haikoe” (11) som dan ook die skryfproses op van hierdie digter:

 

Oop hand kelkblare

hou die vrug se beginsel –

vrug met blom in hom.

 

“Die druiwekorrel wat regtig bestaan” (17) aktiveer die gesprek met Zeno. Hierdie bundel sit vol paradokse, soos ons lees in die gedig oor Galileo Galilei en die “eppur si muove” (19) wat eindig met die akkedis wat haar pensie skuif oor die warm klip:

 

Dalk praat sy gesellig

met die swanger aarde

en eet die planeet se wiskunde

soos muggies.

 

Wiskunde en filosofie; dialektiek en paradokse. “’n Onbevredigende romanse” bekyk die rekenkunde van verwerping én die ingeboude pyn van verhoudings (20).

 

In “Haarfyn uitgelê” (25) besin die digter oor fyn onsigbare drade tussen mense sedert die Grieke in die agora en die hede waar die heelal erge vergifting en ekologiese probleme moet trotseer.


Dit word dan uiteindelik alles rommel deur die eeue (27).

 

Dante, Fernando Pessoa en Tranströmer is in die tweede afdeling beduidende gespreksgenote. “Bure in die antroposeen” (48) speel in op Toon van den Heever, Marais en Van Wyk Louw en hoe hierdie digters verwonderd sou wees oor hoe die wêreld verander het. Die Internet, is nou ‘n elektroniese koningin.

 

“Toepaslike soekwoord” (50) wys op die spreker se soeke na vervulling. Maar die soekwoord bly helaas uit. Die digter sal ‘n woord vir sy melancholie moet vind.

 

Geur is dan in ‘n volgende gedig die verganklikste van alles, maar word die langste onthou. In die derde afdeling vind ons aweregse humor soos “Ons weet nie”:

 

Niemand weet

presies wat die sintaksis is

wat bome gebruik wanneer hulle gesels

net voor ‘n storm … (59).

 

Die digter met al die slim verwysings verwys na sy welverdiende graad in onkunde (60).

 

Jammer dat Krige se naam ‘n kleinletter het op bladsy 70.

 

In die slotafdeling spreek die digter sy muse aan en dit word dan ‘n toespeling op Pessoa wat verskillende personas geskep het. Hier is daar ene Yanni Euterpe. “Weemoed is delikaat soos die begin van ‘n droom”, lees ons op bladsy 91. Die verwysings na die tamatie en ui speel in op Neruda se bekende verse oor groentes.

 

Dit is veral die invloed van Octavio Paz, die Meksikaanse digter, wat sterk inspeel op hierdie digter se besinnings. Die oënskynlike, die onbenullige, die toevallige word saamgesnoer in gedigte. Paz word beskryf as surrealisties en eksistensialisties. “Die labirint van eensaamheid” is immers een van Paz se bekendste verse.

 

So vertaal hy Paz:

 

Twee lywe (Dos cuerpos)

Octavio Paz 

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer twee golwe

en die nag is ’n oseaan.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer twee klippe

en die nag is ’n woestyn.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer wortels

vervleg in die nag.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer messe

en die nag is weerlig.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is twee sterre wat val

in ’n leë hemelruim.

 

Uit: Libertad bajo palabra, 1949

(Octavio Paz | Drie gedigte in-Afrikaans vertaal deur De Waal Venter. Besoek 22 Februarie 2022)

 

Die stylgrepe vind die leser terug by Venter: die hier-en-nou en ‘n aweregse blik op die werklikheid met ‘n besinning oor die wiskunde, wetenskap, biologie.

 

Die verwysing na Uys Krige, daardie manjifieke vertaler, gee baie sleutels vir die leser. Soos Lorca se oënskynlik eenvoudige verse …

 

Daar is baie dinkwerk in hierdie gedigte en die leser wat al die verwysings opvolg, word ryklik beloon. Net soos met die lees van sy Neruda-vertalings.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)