Cate Blanchett
is bekroon met 'n Oscar en Bafta vir haar uitstaande spel in Blue Jasmine. Haar voortreflike vertolking van die verloopte Jasmine French, vernoem na die
blom wat na middernag blom, is een van Woody Allen se allerbeste films. Dit
vertel die verhaal van Jasmine wat na die dood (en bankrotskap) van haar man,
San Francisco toe vertrek om by haar suster Ginger (vertolk deur Sally Hawkins)
tydelik oor te staan. Hier ontvou haar grimmige verlede: haar man, Hal (vertolk
deur Alec Baldwin) is weens bedrog tronk toe en die bestaan in Park Avenue, New
York word verruil vir 'n troostelose bestaan in San Francisco. Sy is verslaaf
aan pille, alkohol en praat met haarself. Dit blyk dat sy 'n senu-ineenstorting
beleef het na die tuimeling van haar man, wat in die tronk selfmoord pleeg. In
'n briljante toneel verduidelik sy hoe hy dood is: en dat hy homself opgehang
het in die tronk en dat sy nek gebreek het. Sy ken die grusame besonderhede van
sy selfdood.
Met Woody Allen
se bekende satiriese aanslag is daar baie snaakse momente: 'n toneel waar die
tandarts haar teister (en vertel dat 'n mens se tande jou persoonlikheid
verraai) en Ginger se nuwe "loser boyfriend", soos sy hom beskryf,
vertel vir Jasmine presies wie sy is. Sy ontmoet op 'n party 'n nuwe man, 'n
diplomaat (Peter Sarsgaard), wie se vrou oorlede is en in sy nuutgevonde liefling
'n toekoms sien. Alles sou uitgewerk het vir Jasmine, wat nie eintlik heeltemal
lieg nie, maar net halwe waarhede vertel. Sy word ontmasker deur Ginger se
eksman, Augie (Andrew Dice Clay) wat haar voor die diplomaat beskuldig dat sy
hom en sy eksvrou beroof het van die geld wat hulle met 'n lotery gewen het.
Jasmine se toekoms is daarmee heen en die kyker beleef 'n pynlike toneel met
haar stiefseun (eens trots op sy vader en aan Harvard studeer) wat haar kwalik
neem vir sy vader se dood. Inderdaad so. Sy het in jaloerse woede die FBI
gekontak en van sy bedrogskemas ingelig. Hy word dan op straat in hegtenis
geneem en die hele kaartehuis tuimel inmekaar.
Die verlede word
in terugflitse vertel en die "down and out" Jasmine werk by 'n
tandarts, maar wil graag 'n "interior decorator" word. Die film lewer
skerp kommentaar op die leegheid van 'n rykmansbestaan.
Haar
selfverloëning duur egter voort. Sy erken nie aan Ginger dat die verhouding met
die diplomaat verby is nie. Sy vertel dat sy op pad Wenen toe is en dat haar
tasse gehaal sal word, terwyl Ginger (dronk en giggelend) met die "grease
monkey" op die rusbank sit en vry.
Jonathan Rhys Meyers in Match Point. Die film se eksplorasie van die noodlot word hier suggereer deur Dostojwski.
In 'n navrante
slot sien ons 'n troostelose Jasmine -
sonder grimering - wat met haarself eers met 'n vrou praat, wat wegstap en dan
met haarself. Uiteindelik spreek sy ons, die kykers toe. Ons is die getuies van
hierdie drama soos in Matchpoint waar
Allen selfs Sofokles byhaal oor die menslike lot, om die moord te verduidelik.
Die film se
briljantheid is egter geleë in ander intertekste of dan buite-tekste, te wete
Blanchett se vertolking van Blance DuBois uit A streetcar named desire in Sydney (in 2008) en die toespelings op
Tennessee Williams se gelyknamige voortreflike drama. Baldwin het in 1992 die
rol van Stanley Kowalski op Broadway vertolk. Sy rol in hierdie film word
eweneens gelaai met sy slopende egskeidingsdrama met Kim Bassinger en 'n
vreemde insident van teistering deur 'n Kanadese aktrise, Genevieve Sabourin.
Vivien Leigh (Blanche DuBois) en Marlon Brandon (Stanley Kowalski)
In die Elia
Kazan-film, met Marlon Brandon as Blanche se anatagonis, word die kyker
meegesleur in die stadige ontknoping en verwoesting van Blanche, vertolk deur
Vivien Leigh. Hierdie film was vir 12 Oscars benoem indertyd en bly steeds 'n
uitstaande film, 'n film wat Williams as uitmuntende dramaturg gevestig het.
Blue Jasmine begin met 'n jazz-deuntjie wat al
klaar 'n duidelike kode is dat Allen inspeel op 'n klassieke teks. A streetcar
named desire se musiek aan die begin is bykans bedreigend. Jasmine (eintlik Jeanette) is vernoem na 'n
blom en in San Francisco is daar kleurryke blomme in die diplomaat, Dwight, se
huis. (Blanche noem haarself ‘n lenteboord…) So word haar troostelose bestaan
by haar suster in opposisie geplaas met die lewe waarvoor hy staan. Hy beloof
haar 'n nuwe lewe in Wenen met sjokoladekoek en weelde. Blanche hou van
operettes. In Allen se film is die mans
van Jasmine se suster "losers": sowel Augie as Chili vertel Jasmine
haar fortuin. Augie vervul die funksie van Kowalski wanneer hy haar ontmasker voor
'n juwelierswinkel waar sy 'n verloofring uitsoek met haar nuutgevonde
geliefde. In beide films is die
verhouding tussen die susters van sentrale belang: Stella verlaat Kowalski
nadat hy Blanche ontmasker en vernietig het en Jasmine se suster vergeef haar
vir die ellendes wat hulle deurgemaak het ná die verlies aan geld. Boonop
vertel sy nie haar suster van haar man se ontrouheid nie; 'n vriendin is die
een wat dit doen en sy eie nalatigheid laat hom in die pekel beland. Hy vergeet
sy Rolex in 'n hotelkamer in Parys en die hotel bel terug en so vind sy vrou
uit van sy ontrouheid.
Sy is Jasmine
French: hoe ironies dat haar man haar in Frankryk verneuk het met 'n au père en
tipies in Allen se dekonstruktiewe aard is daar 'n liedjie waarin besondere
vrot Frans gesing word. A good man is hard to find.
In 'n stadium
bely sy teen die einde van die rolprent het sy die woorde van Blue moon
geken, die liedjie waarmee Hal haar oorrompel het. Haar lot sal uiteindelik
dieselfde wees as Blanche DuBois s'n: "I've always depended on the kindness
of strangers".
Allen se film
lewer skerp kommentaar op materialisme, maar veral op selfbedrog. Dalk dat gierigheid lei tot selfbedrog?
Stanley Kowalski se aftakeling van Blanche het juis te make met sy woedebui,
omdat hy vermoed Blanche het haar suster uit die familie-erfporsie verneuk, en
die helfte volgens hom as haar eggenoot in New Orleans, kom hóm toe.
Die tragedie in
Matchpoint het ook te make met gierigheid: Chris wil nie die nuutgevonde
rykmanslewe versaak nie en hierom vermoor hy sy swanger geliefde wat in sy pad
na sukses staan. Streetcar en Blue Jasmine lewer felle sosiale kommentaar op
mense se posisies in 'n samelewing.
Beide films werk
met Franse pretensie. Die verlore huis in Streetcar heet Belle Reve en met elke
herkyk doen vele intertekste op soos die Dame van die Kamelias. Albei vrouens
se lewens ontaard in nagmerries. Allen gebruik musiek wat inspeel op Kazan se
film.
*
Blue Jasmine het
eweneens kritiek ontlok, om 'n verdere buite-teks aan te stip, van Mia Farrow se dogter wat akteurs die
verwyt gemaak het dat hulle in 'n rolprent van Allen optree, 'n persoon wat
transgressief is en van molestering aangekla is. Blanchett het haarself goed verdedig. Sy het
die hoop uitgespreek dat die familie, wat al soveel ellende beleef het, hul
verskille sal uitsorteer.
Woody Allen se
film is gelaai met sub-tekste: Baldwin se komplekse geskiedenis met sy eksvrou
en natuurlik sy eie troebel verhouding met Mia Farrow speel 'n rol in ons
vertolking van hierdie film wat ek al vier keer gekyk het. (Matchpoint al ses
keer. Dit bly waarskynlik se Allen allerbeste in jare.) Van 1947 (toe dit as
teaterstuk opgevoer is) tot nou beleef ons ‘n boeiende gesprek tussen die
tekste. Eweneens is daar Pedro Almodóvar se All about my mother (1999) wat ook
praat met Blanche, die verloopte Southern Belle, wat verlief was op ‘n jong
seun en haar waansin en alkoholisme probeer besweer in die Elisian Avenue in
New Orleans.
Daar is geen
buite-teks, het Derrida opgemerk. Daar is nét buite-tekste, illustreer Woody
Allen.