Tuesday, November 16, 2021

Onderhoud | met Amanda Gouws | 2021

1. As gerekende feminis het jy onlangs ‘n boek saam met Olivia Ezeobi uitgebring: Covid Diaries: Women's Experiences of the Pandemic (Imbali uitgewers). In hierdie studie gee jy en jou mede-redakteur verskillende vroue kans om te kyk na die impak van Covid-19 op jul lewens. Hoe het jy die vroue gekies?

 

Ons het besluit dat vroue hul eie stories oor hul ervaring van die pandemie, en spesifiek die staat van inperking, moes vertel.  Ons het ‘n aanlyn roep gedoen wat ons wyd op ons netwerke versprei het en 50 vroue het aangedui dat hulle wil skryf.  Op die ou end het 35 vroue hulle stories gelewer.

 

2. Die boek val in verskillende afdelings uiteen: “The Political is Personal", “The Personal is Political", “A Woman's Work is Never Done", “Of Motherhood and Care" en “The Body on the Front Line". In hierdie vyf afdelings word die hele politiek van die feminisme sedert die 60’s opgesom. Kommentaar.

 

Die sestiger en sewentiger jare was die hooggety van die tweede golf feminisme of radikale feminisme, wat bekendstaan vir hul slagspreuk – “the personal is political”.  Dit beteken dat wat ook al in die private sfeer van die huis of tuiste gebeur ook ‘n politieke dimensie het en dat oplossings vir diskriminasie en onderdrukking in hierdie ruimte wel polities van aard is, soos byvoorbeeld deur wetgewing om gesinsgeweld te stuit, te maak.  In die geval van die pandemie was die politieke ook persoonlik in die sin dat die politiek van die pandemie ons in ons huise toegesluit het.  Die tweede golf feministe het ook die onderdrukking van vroue aan die onbetaalde versorgingswerk wat vroue in die huis doen, toegeskryf. Versorgingswerk word vanselfsprekend as die vrou se werk aanvaar en die pandemie het ons gewys dat dit wel vandag nog die geval is, soos dit spreek uit die stories.  Feministe besin ook oor die liggaamlike, veral hoe die vroueliggaam uitgebuit word, geobjektifeer word of die slagveld van geweld en verminking word.  In die boek spreek die stories tot die ongelooflike liggaamlike uitputting wat die pandemie tot gevolg gehad het.

 

3. Vroue het agentskap. Tog voel dit vir my asof feminismes tans huiwer om dwase politiek-korrekte uitsprake aan te vat. Het dit dalk te make met die geweldige sterk posisionering van transgender-persone? Ek dink hier aan die onlangse debakel in Sussex. Daar is immers verskillende posisies: woman-identified-woman, straight, lesbies, bi …

 

Ons leef in die tyd van “cancel culture” wat beteken dat as feministe en veral radikale feministe (die radikaal verwys na die oplossings wat hierdie feministe voorstaan – wat die radikale idee van die beeïndiging van patriargie insluit) hulle uitspreek oor kontroversiële sake, soos die Sussex-debakel, waar ‘n filosofie professor in haar boek van die standpunt uitgaan dat sosiale gender belangriker is as biologiese gender.  Sy is as transfobies uitgekryt tot so ‘n mate so dat sy bedank het.  Sy het aangevoer dat sy genoeg van die boelietaktieke gehad het. Hierdie onverdraagsaamheid róndom seksualiteit en verskillende begrippe van wat seksuele begeerte en seksuele identifikasie is, lei tot selfsensorskap onder feministe wat vrees dat hulle op dieselfde manier behandel sal word. Dit sluit akademiese debat hieroor af en universiteite word plekke waar oop gesprekke met groot moeite gevoer kan word – iets wat teen die aard van die universiteit indruis. 

 

4. Die geboorte van feminisme was waarskynlik die wasmasjien eerder as die pil. Tog vergeet gay en transgender-persone van die geweldige werk van feministe wat ‘n bydrae gelewer het tydens Stonewall. Kommentaar.

 

Die Stonewall-opstand was die begin van ‘n sigbare gay-gemeenskap in die VSA.  Gay mans en vroue het polisieteistering teengestaan in sigbare protes wat later oor die hele land versprei het.  Talle feministe was bondgenote in hierdie protes en het hulle geskaar by die gaygemeenskap.  Meeste feministe verwerp die binêre identifikasie man/vrou en glo dat seksuele identiteit vloeibaar is en dat seksuele begeerte kompleks is. Maar wat meeste feministe voorstaan is keuse – dat elke persoon die reg sal hê om te kies met wie hy/sy/hulle (transgender) in ‘n verhouding wil wees.  Enige vorm van dwang is onaanvaarbaar.

 

Gender is ‘n konstruksie wat deur gemeenskapsopvattings en rolverwysings gevorm word en is dus wyer as die bloot biologiese.  Vroue word van geboorte af in die simboliese orde van patriargie ingelei sodat wat ons as normaal aanvaar diep in ons psiges ingebed word oor ‘n lang tydperk.  Dit is slegs deur bewusmaking en bevraagtekening (wat feministe by uitstek doen) dat hierdie begrippe van wat “normaal” is ontwrig word.  Transgender-vrouw (wat eers mans was) het nie dieselfde ervaring van die simboliese orde of die sosialisering van vroue gehad, terwyl hulle mans was nie.  Dit is ‘n tipe manlike bevoorregting wat nie noodwendig met transisie verdwyn nie.

 

5. Virginia Woolf se A room of one’s own is ‘n belangrike dokument. Net soos die werk van Doris Lessing. Of die tekste van Cixous en Kristeva. Gaan vroue en vroue-teorie altyd ‘n supplement bly?

 

Ek dink dit is reeds besig om te verander en het reeds baie verander. Mense soos ek en jy dra daartoe by dat genderteorie baie meer “mainstream” word.  Ons werk is subversief,  omdat ons nie bloot ivoortoring-teoretici is nie.  Ons leef ons feminisme en ons is rolmodelle vir ons studente.  Daar word nou baie geskryf oor die distopiese wêreld waarin ons tans leef met die pandemie en so baie van die oplossings wat voorgestel word (veral deur mans) verwys na die belang van gemeenskap, versorgingsetiek en interafhanklikheid.  Dit is goed waaroor feministe al reeds vir jare skryf.  Die belang van ons werk word nou sentraal gestel.

 

6. Vrouedigters in Afrikaans skryf dikwels oor die vaderfiguur wat beslis broos en vol foute is. Waarom word die Vader dan nog steeds nagestreef as ‘n simbool van Sterkheid. Ek dink o.a. aan Fellini wat dit ondermyn in City of women. Kommentaar.


Afrikanerkultuur is diep partriargaal, soos jy weet, so die vaderfiguur is altyd aanwesig, al is hy ook afwesig.  Met die bevryding van vroue en die toekenning van regte word patriargie die hele tyd bedreig en op die oomblik voel dit vir my of patriargie vroue slegs deur geweld kan beheer.  Dit is een rede hoekom ons die skokkende statistiek vir geweld teen vroue het wêreldwyd.  Dit is dikwels moeilik om oor die moeder te skryf sonder om moederblaam te pleeg.  So, om oor die vader of die moeder te skryf  is om tussen die duiwel en die diep blou see te wees.  Maar dit is juis wanneer mans die patriargale orde ondermyn omdat hulle hul eie aandeel aan patriargie erken dat hulle die bondgenote van vroue word.

 

7. Jy skryf rubrieke waarin jy moeilike konsepte oopmaak vir gewone lesers. Tog kry hierdie leser dikwels die gevoel dat mense nie werklik lees wat jy skryf nie en jou aanval omdat jy feministies skryf. Kommentaar.

 

Ja, ek dink dat veral mans hulle blindstaar teen my naam.  Ek is soms verbysterd oor die onnoselheid van die haatspraak wat ek kry. Dit wys daarop dat hulle nie gelees het of nie verstaan het wat hulle gelees het nie.  Ek het baie respek vir deurdagte argumente, maar dit kry ek selde.  Die sterk reaksie op my werk laat my glo dat ek tog my vinger op sensitiewe plekke plaas en dat dit mense iets gee om oor te dink.  (Ek wonder of sommiges dink voordat hulle ‘n meltdown het!).

 

© Joan Hambidge