Saturday, November 27, 2021

Resensie | Jaco Alant – Is mos oos | Protea, 2021

Jaco Alant - Is mos oos. Protea. 2021. ISBN: 978-1-4853-1279-6 (gedrukte boek) ISBN: 978-1-4853-1280-2 (e-boek)

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie roman word trefseker as volg bemark:

 

’n Afgelegde professor in Durban, KwaZulu-Natal, dink terug en probeer sin maak van sy verlede. Hy leef met ’n vrou in sy herinnering – Mied. Deur die oënskynlike diefstal van sy geel Volkswagen Kewer met sy hond Os-Moses agterin, ontmoet hy ’n Afrikaanssprekende Zoeloe-meisie, Mandie. Hy word Mandie, haar ma, Nxasana, en ’n gestremde kind na wie Ma Nxasana omsien, Gumanam, se vertroueling. Intussen word hy lastig geval met oproepe van ene John wat ’n MA wil doen oor ekoliteratuur en mineurskrywers. Is mos oos is ’n surrealistiese, byna absurde roman; ’n verhaal van verandering wat ontvou in die spel van name en die vervloeiing van uiterstes: hede/verlede, man/vrou, leuen/waarheid, lewe/dood.

 

‘n Roman wat grense verskuif in Gilles Deleuze en Felix Guattari se terme van sogenaamde mineurletterkunde: “Dis waar die mineurskrywer so belangrik is,” sê John ongestoord. Onsigbare skrywer. Sigbaarste geskrif. Sonderlingste taal.  (229)

 

In hierdie pakkende roman word die moderne Universiteit via ‘n onbetroubare vertellende akademikus vir ons onthul. Is die motor met die hond werklik gesteel of beweeg ons in hierdie roman dalk in ‘n teks wat geskryf word deur ‘n skrywende instansie? Wat is waar? Wat is wolhaar?

 

Ons word immers gewaarsku:

“Nee,” sê die kolonel, “niks se ge-miskien nie.” Daar’s ’n wonderlike Afrikaanse woord, sê hy, net so goed soos kammakastig. En dis die woord “onbenullig”. Dis nie net nul nie, dis nullig. Maar nee, dis nie net nullig nie, dis benullig. Maar nee, dis meer as – minder as – benullig, dis verdomp fokken – jammer – onbenullig! On-be-nul-lig! Dis soos nul kwadraat, nul tot die mag wat ook al! Hy sê: “Ek het nog nooit só daaraan gedink nie.”

En later:

Wat is ’n geskrif, dan – soos jy sê – maar ’n geskrif sonder ’n leser, sonder selfs ’n bedoelde leser? Dis ’n non-teks, my liewe John,” beantwoord hy sy eie vraag, “’n ongeskrewe geskrif. Soos Breyten Breytenbach sou sê: ’n ongedanste dans. Niks! Nee, minder as niks, dis soos niks uitgehol, uitgehol van binne! Des te minder kan dit literêr wees.” Sê hy sou dit sterker kon stel, dié “niks”, maar hy weet John verafsku vulgariteit en sou dit allermins van hom verwag. (192)

Ook die abjekte vind hier ‘n plek. Ontoepaslike beskrywings van ‘n hond se anatomie, besoeke aan ‘n lykshuis en ‘n meedoënlose oopskryf van die seksdaad, maak die teks een wat uitwaaier na Loslyf en belangrike tekste oor die seksuele. Toilette en “splatter reduction” word slim beskryf (106). Lykshuise en reuke waaier oop voor die leser (soos op bladsy 117). Reuke, geure, die abjekte en stank doem voor die leser op.

 

Osmose word opgevang in die hond se naam en die titel. ‘n Osmose tussen fantasie en werklikheid; droom en skryf. 

 

Die roman is soos ‘n heksagonale postmoderne rooibaksteengebou (om die verteller aan te haal) met analises van politiek-korrekthede (Mied / Meid) en ‘n teks op ‘n rekenaar wat dit alles verklap.

 

Gumanam is Hindi vir naamloos.

 

Hierdie skrywer speel ‘n spel met name, konvensies, ‘n stad (Durban) se liminaliteite en die leser word ingeboender in ‘n teks wat dalk (?) ‘n kreatiewe reaksie is van ‘n man wat sukkel met ‘n moeilike student wat wil skryf oor ekoliteratuur en mineurskrywers, die polisie, ‘n kolonel en ‘n hond in ‘n Volkswagen. En met Mandie en Nxasana, swart mense saam met die brak is dit ‘n bonte spul.

 

Is die Volla werklik gesteel? Wil die teks ‘n parodiese reaksie wees op tydgenootlike Franse skrywers? Houellebecq se flirtasie met die abjekte en die politiek?

 

Onderlangs is die verwysings na Jean Genet, Deleuze & Guattari, ekotone, liminaliteite opvallend. Veral Luis Buňuel se Belle de Jour, daardie film uit 1967 met Catherine Deneuve, word in die herinnering geroep. Fantasie en werklikheid word só slim verweef dat jy as kyker nie altyd seker is wat het werklik gebeur nie. Nes by die meester Luis Buňuel.

 

‘n Resensent het die slot in die roman as vreemd ervaar; tog nie, as jy moderne Franse tekste ken of Dan Roodt se Sonneskyn en Chevrolet (Taurus, 1980) gelees het nie ('n Lyflike roman met vreemde droomlogika. Besoek 27 November 2021).


Hierdie roman wil ont-masker, onrustig maak, politieke kommentaar lewer (kenmerkend van mineurletterkunde). Die ingebedde kodes en verwysings na Franse tekste, wil ‘n antwoord wees (dalk?) op die Afrikaanse letterkunde waar alles alte dikwels te helder vorentoe beweeg.

 

Alant is immers ‘n professor in Franse letterkunde, nie waar nie, wat ‘n roman in Afrikaans publiseer? Sy Afrikaans is soepel en vlot.

 

Inderdaad: onsigbare skrywer (verteller); sigbaarste geskrif.

 

So begin hy:

Hy het baie aande wakker geword en dan kon hy nie weer slaap nie. Dan het hy aan idees gelê en dink, briljante idees, maar hy het hulle nie neergeskryf nie. Daar was nooit ’n notaboekie op sy bedkassie nie en sy selfoon was af. Hy het gedink wat die moeite werd is om te skryf, sal mens tog onthou. Geen aantekeninge nodig nie. Of miskien was hy net te lui. Toe ontdek hy, eendag, dat hy niks het om te skryf nie, behalwe dit wat iemand anders gedink het. Die man wat hy was maar nie wou wees nie, en ’n vrou, van wie hy hom net-net kon onthou, maar nie genoeg nie. En ’n hond. Is mos so. Hy het nooit geskryf nie …

Lees hierdie roman. Ek het dit in twee dae met vreugde gelees. Hier gaan jy Oos, nie Wes nie, soos in die bekende popliedjie.

 

Is-mos-so? Is-mos-Oos? Osmose?

 

Bibliografie

 

Deleuze, Gilles & Guattari, Féllix. 1986. (1975 Fr.) Kafka: Toward a Minor Literature. Vertaal deur Dana Polan. Minneapolis: University of Minnesota Press. 

Deleuze, Gilles & Guattari, Féllix. 2003. (1987 Fr.) A Thousand Plateaus. Capitalism and Schizophrenia. Vertaal deur Brian Massumi. Minneapolis: University of Minnesota Press.