Sunday, June 19, 2022

Resensie | Celesté Fritz – Verdeelde stand / Divided Stance | Hemel & See Boeke, 2022

Celesté Fritz – Verdeelde stand / Divided Stance. Hemel & See Boeke, 2022. ISBN 9781 998 958856 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Hierdie digbundel sit die noot hoog in op die agterblad. Daar word beweer die digter neem verskillende stemme aan en die gedigte is nie vertalings of herwerkings van mekaar nie. ‘n Hibriede bundel saamgestel uit verskillende tale, kulture, seksualiteite, uit die diverse Suid-Afrikaanse werklikheid.

 

Nou skep hierdie parateks ‘n leesverwagting by die leser. En ons word nie teleurgestel of gefnuik nie.

 

En laat ons dit onomwonde stel: in hierdie dae van ‘n tsoenami van bedenklike bundels en eendagvliegies is hierdie ‘n belowende debuut. Die digter het gelees (Auden, Eliot, Frost, Louise Glück, MacLeish, Neruda, Szymborska …) en sy beskou liefdesverhoudings, vriendskappe, haar relasie met haar ouers, die dood van ‘n dier, landskappe van buite en binne.

 

Twee belangrike vrouedigters begelei die verse: Glück wat pakkende verse oor die einde van ‘n huwelik geskryf het en liggaamlikheid, en Wisława Szymborska wat taal in ‘n gedig so goed navigeer. Ja daardie vrou met die lornjet.

 

II

 

Op ‘n koue wintersaand begin ek dit lees. Die reën suis op ‘n deurskynende glasdak. Die intensiteit hiervan word opgetel in die verse in sowel Engels as Afrikaans.

 

“A Silverfish Swallowed my Mother” (29) gee die spreker se weergawe van die moeder in ‘n herinneringsreis. Die moeder as tuisteskepper en wat die dogter van raad bedien:

 

I have tried to trace your stitches

analyse the thread leading to

a diminishing dialogue …

 

Helaas is die herinneringe opgevreet deur motte.

 

Daar is humor en politieke besinnings. Landskapverse. Daar is afskeide (van vriende en geliefdes) en ‘n lykdig oor ‘n Maltese hond, “Vy” (51).:

 

ek gee vir haar ‘n manjifieke

bruidskat uit die tuin

gepoleer en kortstondig soos glas

hang dit om haar vertrekkende hals.

 

Hierdie digter lewer verse waarin die emosie teruggehou word (soos sy leer via T.S. Eliot) en in die slotvers “Selfisolaat” (96), ‘n behendige ars poetica, tref sy die leser met die verskillende vlakke wat sy saamdig: ouderdom en oudword en wat dit alles behels.

 

In “vergelding” (80) blaai sy deur ‘n digbundel in ‘n boekwinkel en ontdek ‘n ooghaar. Wie was dit? Die geliefde dalk? ‘n Heerlike stuk ironie oor aan wie behoort ‘n gedig nou eintlik en hierdie vers moet saamgelees word met “Once, in Love” (81).  Implikasies en ironie. En subteks.

 

Die verdeelde stand aktiveer eindes, vertrek (“Afskeidsdroom”, 75), maar ook verskillende tale soos ons lees in “Divided stance” (68) oor die taal van die vader verpak met die verskille tussen Engels en Afrikaans. En die geskiedenis van “donkie-ore” wat jy moes dra in ‘n Engelse skool in die 1940’s.

 

Die liefdesverorbering word ‘n opeet van die gedig deur die geliefde in “Onskuld” (73) wat die tegelykertydsaspek van die geslaagde gedig illustreer: daar gebeur meer as wat jy dink jy sê …

 

In die aangrypende “Refleksie”(72) word die hande van die geliefde beskryf en hoe die spreker uitgelewer is aan die geliefde.

 

Covid en die liefde in hierdie tyd word direk aangespreek (54, 55, 84). 

 

III

 

In “Delusion” (42) word die klassieke herdig: Cocytus, Acheron, Charon en Styx. Tussen die lewendes en die dooies word dan ‘n ander “verdeelde stand”. “In ‘n ry na die wederkoms” (41) neem  die spreker afskeid van Ouma Dina wat “klein pikkewyn in haar kis” lê op Avbob se stoep.

 

Daar is vele stemme in hierdie bundel met die wete wysheid ‘n vroulike vorm het vir hierdie digter (37). Daar is mooi beelde soos ‘n kaktus se vredesteken (25), “In oom Paul se bebronsde baard stol / duiwemis soos psigedeliese insekte” (16) om ‘n paar uit te sonder.

 

IV

 

Daar is endnote om gedigte te kontekstualiseer. Die bundel beslaan 102 bladsye.

 

The Perks of Being a Wallflower van Lien Botha op die omslag gee die kodes weer: die weerlose kind versier met blomme agter doringtakke. ‘n Ander leser meen dis nie doringtakkies nie. Besluit  maar self.

 

‘n Bundel met ‘n handvol sterk verse wat ons laat uitsien na ‘n opvolg.

 

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad waar sy ook ‘n Genoot is. Haar digbundel Sanctum verskyn in Augustus by Protea.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)