Tuesday, April 7, 2020

Resensie | fanie olivier – ou laaie (2020)

fanie olivier – ou laaie. Naledi, 2020. ISBN 978 192 951 8341

Resensent: Joan Hambidge

Daar is sekere digter wat hártdigters is. Hulle is digters wie se werk jy van buite ken en jy dra hulle saam as 'n visum op jou digterlike paspoort. So 'n digter is Fanie Olivier vir hierdie leser. gom uit die sipres (1971), om alleen te reis (1973), paradysrigting van die wind (1976), skimmellig (1978), verklarings 1967 - 1978 (1988) en apostroof (2010) heet sy vorige bundels. As bloemleser het hy vier antologieë op sy kerfstok en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte staan op alle digkunsliefhebbers se rakke. Hy het Disgrace van J.M. Coetzee vertaal en 'n tesis oor mistieke en religieuse digkuns voltooi.

ou laaie is 'n bundel veral met liefdesverse, meer nog, dit is 'n besinning oor die impak van die liefde as 'n soort woordtestament. Terselfdertyd ondersoek die digter die aard van die liefdesgedig: hoe skryf jy 'n gedig oor die liefde, daardie "gedragene extase"? In die Engelse digkuns is Carol Ann Duffy se Rapture 'n baken en wat ou laaie so 'n wonderbaarlike leeservaring maak, is hoe die digter vernuftig sy leggers oopmaak. Hierom heet 'n gedig "redding - variasies".

Ons sien op die agterblad 'n tikmasjien en rekenaar. Daar is verwysings na hoe hy skype; met die hand skryf ( hy bedank selfs die Egiptenare vir papier) en groet.

Die digter het lank in die buiteland vertoef waar in hy Pole klasgegee het. Verskillende landskappe of ruimtes kom aan bod: Natal, die Karoo,  Venda, die noorde van ons land, die buiteland.

Hy skryf landskapverse, stemmingsverse, politieke verse en die apostrofiese vers (die sametrekking van klanke of woorde), maar apostroof ook as retoriese strategie waar daar 'n afwesige aangesprokene is. In ou laaie is dit die geliefde, of dalk geliefdes, wat vertrek het en die gedig staan in die plek van afwesigheid / vertrek / teleurstelling. Die vorige bundel handel dan oor die dood van sy vrou, Rike Vaughn, 'n literator.

In ou laaie word 'n liefdesgeskiedenis weergegee en die gedig is altyd méér as 'n getuigskrif of 'n representasie van die werklike ervarings. Rapture (2005) van Duffy gee die ontwikkeling van een liefdesverhouding weer met kritiese lesers wat sommer besluit het wie die geliefde is. Die fokus moet dus altyd eerder op die gedigte wees en die prosesse wat dit weergee, herhaal of verander. Met apostroof beperk 'n mens dalk ook die leeservaring as jy net Rike en haar geheueprobleme inlees.

Olivier is bewus van lesers se nuuskierigheid:

die digter hét geen verbeelding nie dis die troos: elke lies
elke wang elke jy elke dy is outobiografies ( "ingebed", 69)

Duffy praat o.a. met Shakespeare se liefdessonnette en 'n hele skare van Engelse digters. Olivier gesels met Jan Hendrik Leopold en sy beroemde gedig "O nachten van gedragene extase":

O nachten van gedragene extase
en diep gedronkene verzadiging,
als elk met zijn geluk te rade ging
en van alleenzijn langzaam wij genazen.
(...)
En innerlijker naar de drift te horen
van de verborgen donkre hartenklop ...

Daar is ook verwysings na Van Wyk Louw en Cussons soos in "ingebed" (69),

Hierdie digter het 'n eie liefdes-idiolek geskep. In sy debuut is daar die klein villanelle "eerste aand" waar die die geliefde op 'n fiets ry met 'n karba wyn, 'n blaar en 'n duifie; dus beelde gelaai met seksuele innuendo.

In hierdie bundel is daar 'n wegsteekproses aan die gang asof die digter nie die gedigte wou deel met die geliefde of leser nie. Dis gebêre in laaie. 'n Laai is immers 'n private bergplek. In die kamer was 'n kas, in die kas was 'n laai, in hierdie laai is daar gedigte. 'n Gepubliseerde gedig kry ander betekenisse. Die leser neem die plek in van die geliefde of aangesprokene, soos Olivier dan waarsku in "aanhef 3":

geagte leser: hier is geen ander ordening geen dieper sin
nie as bloot die letter - net dit - waarmee die eerste reël begin (3)

En dis hierdie ambivalensie oor die liefdesgedig - wegsteek, dog ook oopmaak - wat die bundel so opwindend maak. Die vers (as objek) kry ook agentskap en hoef haar nie aan die digter te steur nie! (55). Poësie is niks meer as virtuele werklikheid nie en moderne tegnologie (fone, skype, facebook) word metafories ingespan met 'n voetnoot wat 'n stelling dekonstrueer (43). Die digter is immers met die papier toe gewapen (27). Daar is nugterheid in die distigon wat heet "objective correlative" (13) waar die digter telkens die liefde buite hom plaas. 

In "aankoms 2" (97) skryf hy oor 'n kapingsproses, maar die vers word meer as 'n letterlike kaping; dis ook 'n gedig oor hoe die koördinate eens gerym het in 'n liefdesverhouding. Die portretvers oor en vir Andrew Verster ("uit: die kunstenaar kyk na sy model", 101) is volgens die onderskrif geskryf tussen 1980 - 2010 en is nou na die afsterwe van hierdie digter ook 'n lykdig.

En dis juis die punt van hierdie bundel: die dubbel-praat, die dubbel-segging ...

Die lewe seisoenaal met kommas en met 
kommapunte aan mekaar geslaan

lees ons in "by 'n foto" (72).

In die gevlegte fuike van die digkuns het hy pragtige gedigte gevang, om een van sy beelde aan te haal.