Wednesday, April 22, 2020

Reisrubriek | Nou spreek ons weer geliefdes aan | 2020


Maandag 20 April 2020 | Dag 25

Deesdae trek ek my vlugkouse aan wanneer ek deur my vesting stap. Immers op vlug SAA 000.

Vir hierdie gesuspendeerde solo-reis waar die aankoms – en die vertrekpunt dieselfde sal wees.

My drome is helder en alle sielkundiges waarsku dat die trauma van inperking inwerk op die onbewuste.

In 'n droom – iewers in Bangkok? – sit ek saam met 'n groep op 'n oop trein. Die gids wys ek moet afklim. Hy is aaklig met my.

Uiteindelik gooi hy my af – teen my sin – op 'n klein dorpie. Hier is dit so mooi met 'n pragtige strand en rustigheid omgeef alles. Hoe dankbaar is ek nie dat hy my afgegooi het nie en wanneer ek hom later in die droom raakloop, vermy ek hom.

Emosies het gedurende hierdie tyd Elizabeth Kübler-Ross se patrone gevolg van ontkenning, woede, depressie, aanvaarding en dalk onderhandeling as 'n mens kyk na al die grappe oor drank. Selfs een met 6 Lions wat verruil kan word vir 'n jagplaas in Limpopo – met die waarskuwing: geen kansvatters (Five Stages Of Grief - Understanding the Kubler-Ross ModelBesoek 20 April 2020).

*

Seinfeld is absoluut wonderlik. Opbeurend. Slim. Hilaries. Die verwysings is briljant. In 'n laundromat word die eienaar beskuldig van diefstal. Daar word gevra of hy 'n James Bond is, of 'n laundry with a licence to steal?

George eet met 'n pretensieuse dame met Japannese stokkies in haar hare. Hulle verhouding is op 'n einde.

“Wat pla jou?”, vra sy.

“Dat jy pretensieus is en stokkies in jou hare draai. Ek sou 'n vurk verkies het.”

Die verskille tussen manlike en vroulike kultuur word deur Elaine mooi opgesom oor boeliegedrag:”We just tease girls and they develop an eating disorder!”

Intertekstualiteit maak ook van hierdie program iets waardevols. Jerry is verontrus wanneer hy besef die nuwe meisie - 'n swak skilder - steel uit 'n drama van Neil Simon. En in 'n ander voortreflike vinjet (in dieselfde een oor 'n skilder met Catherine Keener as die skilder) is daar twee “kunskenners” en postmodernisme word heerlik afgeskil. Dit speel af in The letter (Seisoen 3).

En Keener wat 'n sterk aktrise is – sy was o.a. in Being John Malkovich, Synecdoche, New York, en Capote as Harper Lee – laai hierdie episode met besondere gravitas. Die kyker herken haar en maak dus assosiasies met haar ander vertolkings.

Die ander aspek is die metakommentaar wat Seinfeld lewer op komediante as neuroties en selfbehep. En, nota bene, hier word heerlik die spot gedryf met Jode en Joodse kultuur. Hulle kom weg daarmee, want die vervaardigers is Joods.

In The Limo (Seisoen 3) speel Jerry en George op die lughawe asof hulle die O'Brien’s is vir wie daar 'n naambordjie flikker. Min wetende word hulle slagoffers van 'n neo-Nazi gedoente sou word. Die einste O'Brien moet die aand 'n lesing gee en die grappe rondom Joods en Aries is só over the top.

En die verskille tussen Skotte en Iere word ontmasker en ons leer weer eens hoe mense se kulturele vooroordele funksioneer.

Die Amerikaanse eetgewoontes word eweneens gedekonstrueer – en vaderland: George se maniere som dit alles op: 'n gepraat met 'n mond vol kos.

Swart humor is hier dikwels. Wanneer die ou tante op die boonste vloer sterf, word die aakligheid so opgesom: sy was sonder haar pruik.

*

Die letterkundige bedryf gaan aan. The Boys of Bird Island word tereg onttrek; die Book Lounge vra vir finansiële ondersteuning deur net 'n voucher aan te skaf; ons neem kennis van aanlyn-bemarkings van boeke; 'n resensent resenseer 'n boek twee keer: een keer vir Media24, die ander keer in Die Vrye Weekblad.

Niks verkeerd met twee resensies uit verskillende blikhoeke deur dieselfde resensent nie; net problematies as 'n mens gespreksgenote is op 'n internet-forum. Resensies is nooit objektief nie, maar só 'n oorbeligting laat die leser wat buite die letterkunde staan (en net lees vir die plesier) frons ...

Selfs Crito het gevra of dit wys is?

'n Resensie wat uitasem-van-bewondering is eerder as neutraal of gedistansieerd, berokken dikwels meer skade as daardie gevreesde negatiewe een. Wat die tyd wel uitsif.

*

Vanaand lees ons die Psalms en al die berusting wat dit oordra. Die poëtiese taal is vir my aangrypend en wanneer ek die nuwe vertaling optel, is al die poësie weg.

Soos biltong sonder vet, koffie sonder kafeïne.

Gee maar vir my soos 'n hert in dorre streke, dankie.

Ons lees van die kaf wat die wind verstrooi en die bome wat in waterstrome staan.

Ons dink aan die digter Hans du Plessis se hartgrypende Griekwa-Psalms. Hier praat hy met Psalm 23.

Dinsdag 21 April 2020 | Dag 26

Vandag is dit opruim-dag. Matte stofsuig. Oefeninge. Die verlange na die gym en swembad is oorweldigend.

Maar nou ja. Mat-oefeninge en stofsuig glo goed vir die rug. Vee glo soos 'n strekoefening.

Perec se LifeA user's manual staan op die rak, daardie imposante roman oor lewe in 'n woonstelblok wat wag vir 'n herbesoek.

*

Die Psalms is lieflik in hul gedronge, poëtiese taal. Suiwerheid. In die Grieks Psalmoi; in Hebreeus Tehelim תהילים. Letterlik: lied.

Hierdie liedere het oor 'n lang tyd ontstaan en is gebruik tydens in Israel tydens godsdiensbeoefening en later in kerke regoor die wêreld.

Daar is dankpsalms, klaagliedere, lofliedere én leerdigte.

Hierdie boek is in vyf liedversamelings ingedeel: Psalm: 1-41, 42-72, 73-89, 90-106, 107-150.

Daar is dus 150 psalms en dit is deur verskillende digters (met Dawid as een) geskryf en Psalms 119  is die langste een, 'n alfabetsgedig of akrostikon.

Hierdie boek heet die psalterium of psalter. (Hoe jammer my studies oor hierdie boek staan op kantoor.)

Ons dink aan een van die mooistes: “Selfs vind die mossie 'n huis en die swaweltjie 'n nes vir haar, waar sy haar kleintjies kan neerlê ... “ (Psalm: 84:4).

Uit dieptes gans verlore my aller-gunsteling. Ek onthou hoe ek en die digter I.L. de Villiers, 'n vriend en fantastiese digter, dit een aand vir mekaar oor die foon gesing het.

Hier is Totius dan:

Uit dieptes, gans verlore,
van redding ver vandaan,
waar hoop se laaste spore
in wanhoop my vergaan;
uit diep van donker nagte
roep ek, o Here, hoor,
en laat my jammerklagte
tog opklim in u oor.


En hierdie een vir is Pater Sakkie saam met Elisabeth Eybers, 'n voorste beoefenaar van die distigon:

Wederom

Vir I.L de Villiers

Die eerste keer leer ek jou ken
in ‘n geskifte blou verseboek:
die dominee op huisbesoek.

Toe, later, sien ek jou tersluiks
op ‘n loom namiddag in ‘n hotel
waar jy sonder eerbied die hof hou.

Die derde keer beleef ek jou
by die erediens van Sheila Cussons –
in ‘n ryk geëmbosseerde toga.

Gister sien ek jou, met ‘n pers hemp
en swierig bypassende das, waarop
jy, per abuis, ‘n druppeltjie mors.

Un coup de chapeau, roep die Franse dit.
En ek haal my groen verbeelde hoed af
vir ‘n manjifieke digter en vriend,

wat van hierdie gegewe ‘n volmaakte,
rymende tersine of distigon sou maak!

Vervreemdeling en Van Jerusalem tot Johannesburg was bundeltitels van hom.

*

Totius se gedigte staan steeds in ons kanon soos die werk van Eugène N. Marais en Leipoldt saam met ander ouer digters wat ons taal gevestig het.

Totius se lykdigte oor die dood van sy kinders is klassieke lykdigte, nes sy ars poeticas. “'n Koue gril deurhuiwer my”, dig hy. Onder die religieuse verse is daar opstand oor God wat sy kinders van hom weggeneem het. Jare terug 'n besinning oor hom geskryf:

Totius (1877 - 1953)

Iets soos opstand, soos woede
vlymskerp verwoord. Die breek-
baarheid van 'n kind se lyf
('n weerligstraal deurpriem)
in verse brandend heelgemaak.
Die skril sanik van 'n tarentaal
word die twyfel aan daardie God, aan daardie God
so ver, so ver en woes geleë.

Wat is verdriet? Hoe voel verlies?
Maak die donker grein die hout?
Is daar lewe na die dood?
Ontstaan 'n metafoor ooit sonder pyn?

Daar is geen land, so ver en woes geleë...
O goedheids God hier nooit volprese...

O Heer, U oneindigheid, U majesteit
bring nooit weer terug my lieflingkind.
Was daar geen dood, was daar geen vers.
Was daar geen vers, was daar geen dood.

O Heer, vergeef my wrewelige verse!
Weet net, U het nie só 'n kind verloor:
'n deurskynende vlinder
met net één deurboorde vlerk.

(Uit: Lykdigte, 2000)

Hy word waarskynlik aan min gedigte onthou; inderdaad 'n tintinkietaal, maar sy werk as Bybelvertaler was enorm.

*

Life: A User's Manual (La Vie mode d'emploi) speel af op 11 rue Simon-Crubellier, 'n fiktiewe straat in Parys in die XVIIe arondissement. 'n Roman soos 'n legkaart in gevriesde tyd op die 23e Junie 1975 na die dood van Bartlebooth. 'n Legkaart en skilderye en karakters wat op mekaar se lewens inspeel. Wag, wag, ek vertel later verder oor hierdie moderne Duisend-en-Een-Nagte.

*

Eers terugkeer na Seinfeld en die analises van humor. En nou speel Bizet.

© Joan Hambidge