Thursday, April 2, 2020

Reisrubriek | April-gek (2020)


Woensdag 1 April 2020 | Dag 6

April-gekkedag?

Die eerste grap van die dag land op my selfoon: drank sal volgens die minister by sekere punte beskikbaar wees tussen 9 - 11. Kliek jy op die link om uit te vind waar,  kom 'n middelvinger van 'n gorilla op!

Ek begin die dag stadig. Paulus se briewe aan die Galásiërs en dan lees ek weer die briewe aan die Korinthiërs.

 Redetwisters.

“Dood, waar is jou angel?”, daardie beroemde uitspraak vind ek in I Korinthiërs 15.

En die vleestafels van die hart ... dit moenie kliptafels wees nie.

II Korinthiërs waarsku ook dat diegene wat spaarsaamlik saai, so sal maai!

*

Ene Jeremy Cohen en Tori Cignarella is 'n moderne liefdespaar. Hulle bly oorkant mekaar in Brooklyn, New York. Hy maak haar die hof per hommeltuig (met sy selnommer) en hulle het al hul eerste ete-afspraak gehad: hy in sy woonstel en sy in hare ...

Hy het haar sien dans op die dak en toe begin daar 'n “liefdesdans”.

Liefde sal daar altyd wees ...


*

Die Italiaanse skrywer Francesca Melandri vertel van haar gewaarwordinge en botsende emosies tydens die afsonderingstyd.  Dit is 'n brief aan almal wat in dieselfde boot is in Europa. Dis 'n baie relevante brief en ek reageer net op 'n paar punte (A letter to the UK from Italy/ this is what we know about your future | World news | The GuardianBesoek 1 April 2020).

Sy skryf uit Italië en dus uit die toekoms en sy wys op die verskillende emosies wat 'n mens gaan ervaar.

Die beeld van 'n parallelle dans som vir haar die proses op wat ons nou ervaar.

Jy sal eet en daar sal sosiale netwerk wees. Hier dink ek aan die geweldige hoeveelheid kontak met vriende, kennisse, verlore en afvallige mense die afgelope tyd. Grappe sketter deur die lugruim. Sy waarsku dat ook dit sal verbygaan.

Jy tel al die apokaliptiese literatuur op, maar na 'n tyd wil jy dit gewoon nie meer lees nie, waarsku sy. Dit is bepaald so. Koors neergesit en Harry Kalmer se laaste roman kan ek nie nou weer lees nie.

Jy sal sleg slaap. (Hoe reg is sy nie weer eens nie!)

Ou rusies gaan verby en lyk skielik belaglik.

Sy meen ook dat baie vroue in hulle huise geslaan sal word. (Hier dink ek sy is reg. Gisternag 'n rusie gehoor buite toe 'n hawelose vrou op straat, waar sy in 'n hokkie woon, geslaan is. Die polisie is gebel.)

Jy sal gewig optel. Sy seg 'n mens sal na “online fitness” begin kyk. Ek mis my gym- en swemsessies geweldig. 

Jy sal baie lag en die absurditeit van die lewe intens ervaar. Bepaald so!

Jy sal alles tel wat jy nie nodig het nie. Ook dit is so waar. Skielik kan 'n mens met soveel minder klaarkom.

Mense wys hul ware kleure - met verrassings. Ook dit is so. 'n Navraag oor luise op 'n plant op 'n whatsapp-groep in ons blok word onmiddellik met raad bedien. Selfs ek doen mee!

Literati, meen sy, sal verdwyn. Hmm?

Mense wat dit as die planeet se hergeboorte ervaar, sal jy as irriterend ervaar. Nie vir my so nie. Ek vind sulke gesprekke belangrik. Die aarde móés tot stilstand kom.

Jy sal sing van jou balkon. Nie so nie. Ons maak almal stil wat die lawaai-grense hier in my blok ignoreer!

Tuisonderrig en online-teaching sal ons voorland wees ... As dosent klink dit na 'n nagmerrie, omdat ons tydens die #Rhodesmustfall-tydperk gesien het dat studente sukkel met afstandsonderrig. Hulle benodig 'n dosent se insigte in lewende lywe.

En klasverskille sal bepaald 'n verskil maak. Inderdaad so. Ons is reeds bewus hiervan wanneer haweloses snags verby ons blok loop en in die asblikke krap.

En hoe reg het sy nie: wanneer dit alles verby is sal die wêreld nie dieselfde plek wees nie.

*

Vandag huis georden, gestofsuig, kos gaan koop, sigarette aangevul. Nou gaan ek verder kyk na Mr. Robot. Met die intrapslag dié opmerking: ”Mense gaan na ander wanneer hulle alleen is; ek neem morfien.”

'n Pakkende reeks, gewis. Die goed uitgewerkte plot en die onderliggende sinisme oor die mensdom word goed uitgebeeld.

Om 8 bulder daar 'n Vuvuzela met handegeklap.

Ek keer terug na die Boek van Wysheid.

Lees Romeine en begin met Handelinge.

Die pragtige woord trotsaards val my op en die waarskuwing om nooit wraak te neem nie.

En dié beeld bly draal: “Hulle keel is 'n oop graf, met hul tonge pleeg hul bedrog ...” (Romeine3:13).

© Joan Hambidge