Tuesday, April 2, 2019

Gedig | Joan Hambidge - My Tante Ettie



my ma se suster
was die laaste tak
aan hul familieboom.
Nou's die boom gesnoei
deur die groot Tuinier en
vanoggend met sonsopkoms hoor
ek twee duiwe in 'n boom roep na my ...
My Tante Ettie, 
met haar lang, lang grys hare
was ook 'n ma vir ons
en smiddae wanneer sy en ma
praat oor hul kinders - vol knoetse en knikkels -
met my ouma in die Altena-outehuis in die Strand,
luister ek hulle af in daardie huis op Sarel Cilliersstraat.
In hul breiwerk word die name van kinders en kleinkinders 
en agterkleinkinders kruis-en-dwars ingeweef.
En op 'n keer vra sy my openlik - soos sy was -
na my aard sonder oordeel of verwyt,
omdat ek nie kon brei of dubbelweef nie.
Nou roep ek terug na hulle, na ons moeders;
veral na my Tante Ettie-van-die-Strand.
Vanoggend bots weefwerk nog met snoeiwerk:
'n oorgang van die lewe na daardie donkerboom.

© Joan Hambidge