Friday, November 16, 2018

Resensie | Pieter-Dirk Uys – Weerklink van ‘n wanklank (2018)

Pieter-Dirk Uys - Weerklink van ‘n wanklank. Tafelberg uitgewers, 2018. ISBN 978 0 6240 8694 9
Resensent: Joan Hambidge
Die subtitel van hierdie hoogs leesbare boek lui: Memoires van toe en nou. Die bekende dramaturg en satirikus, Pieter-Dirk Uys, neem ons deur sy lewensloop. Sy onverbiddelike, musikale vader, sy depressiewe moeder, sy briljante suster, Tessa en die huishulp Sannie Abader is mede-spelers. Ons sien die ontwikkeling van ‘n briljante toneelspeler en die skepper van die weergalose, onvolprese Mevrou Evita Bezuidenhout wat deur die jare ‘n voortreflike buikspreker was vir die politieke gemorse in hierdie land.
Met Pik Botha se begrafnis het Uys blomme gestuur. Pik was immers altyd ‘n bok vir sports. Net soos Piet Koornhof.
Jare gelede het wyle André P. Brink in ‘n resensie Mevrou Bezuidenhout as onsnaaks afgemaak. Fout. Daar was ‘n lieflike reaksie van Mevrou Evita uit Bapetikoshweti waarin sy vir die skrywer genooi het om ‘n roman te kom skryf in haar tuisland; eerder as om Frankryk toe te reis …
Hoe heerlik was dít nie. En Brink het saamgespeel.
Die Engelse weergawe van Uys se memoires heet Echo of a Noise en die memoire illustreer opnuut dat ‘n beroemde persoon dikwels swaar groot geword het. “Sonskyn”, 10 Homestead Weg in Pinelands is ‘n komplekse huis. Die vader vind die seun problematies.  Die moeder, Helga Bassel vlug uit ‘n verdrukkende Europa. ‘n Geskenk van die seun, Unser Berlin in Bilder, bring vir die moeder pynlike herinneringe terug van haar geliefde Berlyn: uitgebrand, plat gebormbardeer, weg … (93).
Sy vader is in 1940 met die Jodin getroud, ’n feit wat eers later aan Uys onthul word. Haar broer, Gerhardt was getroud met een van ons grootste romansiers, Anna M. Louw.
Die Berlynsgebore moeder van Pieter-Dirk Uys laat hom ook vra: is ek Joods-Afrikaans of ‘n Afrikaner-Jood. Die beskrywings oor die moeder se ervaring van die oorlog (en wat dit alles behels het) is waarskynlik van die sterkste vinjette in hierdie memoire. 
En Two Women– met Sophia Loren – is dan ‘n ervaring van wat oorlog aan mense doen. En hierdie film aktiveer uiteraard die jarelange vriendskap met haar van ‘n poster-girl tot die werklike mense wat mekaar leer ken en ondersteun.
Op die agterblad staan daar: Dit is Pieter-Dirk Uys sonder die grimering! Sonder rekwisiete, vals wimpers of hoëhakke …
En dis presies hoe dit is. Sy verwerking van sy moeder se selfdood; die geskiedenis van die Ruimte-teater en ervaring met die nooit volprese Yvonne Bryceland, Brian Astbury en Athol Fugard …
Sy teaterervarings in die buiteland word opgeteken. Die skermutselinge met die Publikasieraad (ons vind ‘n heerlike telegram vol spelfoute afgedruk in die boek) en sy pa wat neul wanneer sy hele donnerse huis op die verhoog staan; weens geldtekort by die Ruimte.
Hy beskou die Publikasieraad as die “groot liefde” van sy lewe en wys op die absurditeite van daardie tyd: Selle ou storie kon jy sien, maar nie lees nie. Karnaval kon jy lees, maar nie sien nie (134).
Hierdie humor word heerlik verder gevoer. Die vader is woedend oor die “vieslike politiek” waarmee hy hom ophou. Tog word die spanning met die vader opgehef en die beskrywing van sy agteruitgang en uiteindelike dood is aangrypend.

Daar is baie foto's en 'n mens wil nie al die juwele uithaal nie. Lees dit self. Dit is man wat vreesloos die "Immorality Act", dubbelspraak, viktimisering en leuens aan die kaak stel. Sedert 2000 gee hy gratis MIV/vigs-opleiding. Sy siening van Mandela is eweneens belangrik, nes die dokumentêr Nobody's Died Laughing waarin Loren optree en Charlize Theron, Dame Janet Suzman, FW de Klerk en Biskop Tutu, o.a.

Hierdie outobiografie is sonder maskers of grimering. Of sonder die alter ego, Evita Bezuidenhout. Dit is pynlik, eerlik, snaaks - en anders as Ton Vosloo se outobiografie, Oor Grense: 'n lewe in die media in 'n tyd van verandering (Jonathan Ball) stroop hy homself af voor sy leser. Albei hierdie boeke lewer 'n politieke verslag van ons troebel tye.

Pieter-Dirk Uys is 'n bekroonde figuur, 'n ikoon en veral 'n verkleurmannetjie wat in sy lewe moes leer: adapt or die.