Sunday, October 11, 2015

Joan Hambidge - Die ekstase tot kriptiek [Gedig]


Die ekstase tot kriptiek

HJS

Dirk-der-Duisende maan
sy jong digters:
sintuie
is werktuie.

Op 'n gewone aand
in New Haven
op die verre spoor
van Wallace Stevens.

In hierdie tyd
reeds besinnend oor die
"boulevard of broken dreams"
snuiwend aan die Ooskus-see

se digters van rym
en wit vlokkies
vir spasies.

Dit was DJO wat WS
voorgeskryf het soos 'n dokter
medikasie vir 'n slaapwandelaar
wandelend op die pad

van "borrelende botteltjies",
kriptonomesia en digterlike
atopia. Inderdaad ontslaan
my rym ook 'n hele lewe.

Digterlike iteratief-duratief:
uit ekstase volg kriptiek.