Resensent: Joan
Hambidge
Nou onlangs is daar
by die Tuin van digters in Wellington gepraat oor Opperman se letterkundige
laboratorium en die invloed wat hy op digters gehad het as mentor.
Vir elke bydraer
was die inwerking van Opperman uniek en bepalend. Oor sy omstrede siening (wat
dikwels buite konteks aangehaal word) dat digters nie filosofie moet bestudeer
nie, terwyl hy sélf filosofiese vraagstukke aangeroer het (soos in die gedig
“Vuurbees” uit Dolosse, 1963), is
weer eens bespreek.
Vir Opperman is die
sintuie “werktuie” en die soeke na die konkrete beeld dit wat die (jong) digter
eerder moet nastreef as ’n vae, filosofiese beeld. Met ander woorde, dit is ’n
tegniese uitspraak eerder as tematiese voorskrif.
Sy digkuns resoneer
steeds in vele gemoedere en jong studente vind sy werk interessant.
Die pas verskene Versamelde poësie – met ’n foto van ’n
jong Opperman op die buiteblad – en met ’n 1987-inleiding van A.P. Grové is ’n
belangrike publikasie. Opperman, NP van Wyk Louw, Sheila Cussons en Elisabeth
Eybers bly belangrike klassieke bakens in ons digkuns.
Die enorme invloed
van Opperman as kanoniseerder met sy verseboeke en die groot getal studies oor
sy werk – waarvan die mees beduidende A.P. Grové, T.T. Cloete, Merwe Scholtz,
J.C. Kannemeyer, H.J. Snyman, Lina Spies, Helize van Vuuren en Daniel Hugo is
– bevestig sy posisie binne die kanon. Die vele gesprekke en antwoorde op sy
digkuns deur ’n jonger generasie is ’n verdere bewys van sy groot aanwesigheid
vanaf sy debuut Heilige beeste (1945)
tot en met Komas uit ’n bamboesstok
(1979).
’n Gemeenskap van
lesers (soos Stanley Fish dit tereg noem) het Opperman se werk deur die jare
deeglik en besinnend deurskou. Hierom is daar tereg ’n Opperman-gedenklesing
aan die Universiteit Stellenbosch met stewige lesings oor sy werk.
Hoe hy in sy laaste
bundel homself herskryf in ’n “woord en wederwoord”, bly een van die kragtigste
selfbeskouings in enige digkuns. Met sy verstommende vermoë om ’n gedig uit ’n
koerantberig te skep (“Klara Majola” uit Engel
uit die klip, 1950) of skerp metafories te dig, is sy kenteken. Sy heerlike
parodieë van ander digters se stylhebbelikhede waar die Weduwee Viljee al
stappend met haar kolliehonde tart en terg, bly ’n postmodernistiese baken.
Antwoorde hierop, soos Ernst van Heerden en Johann Johl se pastiches, bewys net
hoe goed Opperman s’n was. Daniel Hugo roep ’n bundel Takelwerk, met erkenning aan DJO. Johann de Lange herskryf ’n ars
poetica in gay terme.
Trouens, Opperman
was die eerste postmodernis in Afrikaans met Kuns-mis (1964) en in sy Komas
werk hy met intertekste soos Marco Polo en Italo Calvino op oortuigende wyse.
Sy streng
selfkritiek kom duidelik oor in hierdie bloemlesing waar die leser onder die
indruk kom van sy digterlike tug. Hy het die landskap van die digkuns verander
met sy debuut en elke bundel daarna gee sy ontwikkeling weer.
Kannemeyer karteer
ook sy lewe in ’n biografie (Kroniek van klip
en ster) waar die leser onder die indruk kom van sy enorme werkvermoë en
belesenheid. Dit word geregistreer in sy ryk oeuvre, in “ ’n duisend
spikkelvlinders”.
Die ars poetica,
die gebruik van die raaisel, die speurverhaal, lykdigte, transfigurasies (soos
in “Kroniek van Kristien”), ingebedde Middeleeuse tekste, die teodoliet,
satires, parodieë, optelverse, speelse verse, beeldverse en so meer, bly alles
deel van ’n indrukwekkende Edms. Bpk.
Hy was ’n Dirk der
Duisende.
Hy hou van heilige
herhalings,
hy wat van drie
mense tril,
hy raak begoël,
bedryf die
hiperbool,
alliterasies,
enumerasies,
’n wisseling van
lywe,
van deugde en van
euwels . . . (p. 384)
Inderdaad voed sy
woord duisende lesers, soos dit hoort.
“By die dood van
Roy Campbell” , “Dennebol”, waaroor Henning Snyman die mees oortuigende analise
geskryf het, “Vuurbees”, “Klara Majola”, “Sondag van ’n kind”,
“Gereedskapgesels lei tot omhels”, “Te klip om te boom” is gedigte wat ek in my
psige saamdra. Oor “Blom van die baaierd” kan ’n mens lank en besinnend nadink.
In hierdie tyd van
digterlike angstigheid en onsekerheid – soos Harold Bloom dit tipeer in The Western Canon van 1994 – is dit goed
om daaraan herinner te word dat ons ’n digter van hierdie formaat kon beleef.
Sy opstelle oor die digkuns moet eweneens weer gebundel word.
Die klip of
“disseldons” van die vorige weergawe word vervang met ’n foto van ’n jong
Opperman. Agterop is daar ’n ouer, beleë man. Hierdie twee foto’s praat weer op
hul beurt met die foto van die vernielde man op Komas uit ’n bamboesstok.
’n Bloemlesing wat
hoort op almal se rakke.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)