T.T. Cloete, Karnaval en Lent. Tafelberg, 2014. ISBN 978 0 624 06774 0. 160 bladsye
Resensent: Joan Hambidge
Tussen soma en pleroma
Om op die vooraand van jou negentigste
jaar ‘n bundel te skryf met die omvang van Karnaval
en lent – gepubliseer deur Tafelberg – dwing bewondering af. Ons het hier
die bekende aanslag van Cloete: die mens as komplekse wese. Enersyds banaal,
andersyds gelowig. Hierdie tematiek van die karnaval, die oordrewe
uitspattigheid versus die besinning, loop regdeur die digter se oeuvre. Die digter
se erotiese verse oor Marilyn Monroe (onder andere begelei met Dante) en sy aangrypende
lykdigte is alreeds ’n aanduiding hiervan. Die karnavaleske aktiveer ook
Bakhtin se teorieë. Cloete is
teen wil en dank ’n intellektuele digter, ofskoon sy gedigte uiters gewild is
by gewone lesers.
Cloete was nog altyd die digter van die
jukstaposisie, die saamplaas van die oënskynlik teenstrydige, alles gemaak
deur God, “die geniale Onbemande Krag” (“hutspot”, 64).
Die bundeltitel speel in op Pieter
Brueghel de Oude se skildery, Die geveg
tussen Karnaval en Lent (1569):
Die gesprek met Job, die breek van die
potte (wat Harold Bloom se The breaking
of the vessels uit 1982
aktiveer), die San Andreasfout, kwinkwang (“die baksel”, 65) word teenoor die
wetenskaplike ontdekkings geplaas soos “96% donkerte” (68).
Die digter lewer ook sy kritiek op die
mens se verafgoding van die onsublieme subliemes soos Lady Di, Elvis, Michael
Jackson en die “bieberkoors” van ons tyd (“ploeg”, 76). In wese ploeg ons met
die “Gans Andere” se kalwers.
Lesers bekend met Cloete se digkuns sal
ook die selfgesprek kan sien.
Een van die bekendste aspekte van
Cloete se digkuns is die satire. In die bundel Jukstaposisie (1982) is daar ‘n satiriese vers oor Peter Sellers.
In hierdie bundel is daar ‘n gedig wat heet:”god lees koerant nadenkend” (81),
‘n lang, uitgesponne vers waarin die mens se selfbedrog aan die kaak gestel
word:
foto van Dawkins voor rooi Londense bus
in swart geverf
“there is no god so enjoy life”
(85)
Die vermetele Dawkins is al op sy plek
deur Terry Eagleton gesit oor sy meerderwaardige en verkeerde aannames oor die
geskiedenis van die kerk (“Lunging, Flailing, Mispunching”).
In die afdeling “Antroposeen” – wat
verduidelik word as die informele geologies chronologiese term vir die bewyse
en impak van menslike aktiwiteit op die aarde se ekosisteem – handel oor die
digter se belangstelling in die wetenskap. Hier sien ‘n mens die vermoë van die digter om tegelykertyd te dink
en dig soos in die gedig “modern times
suurbekom” (96) waar Charlie Chaplin simbool word van die modern mens se
uitgelewerdheid aan die staalwêreld wat hy geskep het. Dieselfde geld
“straffelose leunstoel-meedoeners” (107) waarin die digter skerp, satiries kyk
na mense se vraatsug:
en voor hulle aan die slaap raak
smaaklik en gretig lees
aan die sondagverkragter se
outobiografie
Trouens, die
hele bundel kan gelees word rondom die gebruik van mond/anus/kos-metafore wat
terugspeel op die skildery van Brueghel. Die menslike oordaad word in hierdie
bundel aan die kaak(!) gestel. Ons is immers besig om post-post modern riskant
te wees (“nieu-karnaval: sitstaking in londen of washington”, 110).
Die gedig “mi gruwelt” (119) speel uiteraard in op Hadewijch se ervaring van die lewe as
grillig. Daar is gedigte vir Adam Small
en Mandela wat tipeer word in sy “gegote Afwesigheid”.
Bekende literêre figure
word vereer – soos Johann de Lange en Heilna du Plooy:
soveel
dekades nadat sy hier met ons is blý
daar iets wat jeugdig is
beminlik onvoltooi
in heilna du plooy (137)
en De Lange word beskryf as die
“meester van die geometrie” (138).
Die digter se obsessie met die digkuns
is uiteraard sigbaar:
ons skryf nie gedigte nie
hulle is ons
(“ons gewete”, 150)
En in die slotvers bely die digter hoe
die woord, naamlik die gedig, die geveg tussen karnaval en lent in taal wil
besweer (160).
In ‘n woord vooraf verduidelik die
digter ook die simboliek van die bekende skildery.
Dit is ‘n bundel wat op meer as een
vlak bewondering afdwing: laatwerk inderdaad, maar steeds geskryf met soveel
beheer!
*
Die bundel opper verskeie
leesmoontlikhede vir die leser. Mikhail Bakhktin se heteroglossia en die
ondersoek na die Rabelaisiaanse moet betrek word en die opposisie tussen die
groteske en karnivaleske. Ook Julia Kristeva se studie oor die abjekte is ‘n
verdere leesmoontlikheid. Dit heet Powers
of horror wat die Engelse denke in 1982 verander het oor die siening van
die “abjekte”.
Cloete se kennis van letterkundige
teorie is nie onbekend nie. Hy was (is) immers die redakteur van die Glossarium vir literêre terme.
Die simboliek van Vis (ichtus) en die
gebruik van simbole in die bundel via Cirlot en De Vries is eweneens
tersaaklik.
Verder is daar die gesprek met Dante
(“Die onsigbare sprong”); “Kyk net, en stap aan.” Dante se bekende woorde toe
hy in die Hel was en die digter wat in gesprek tree met Dante op verskeie
maniere.
Marlies Taljard se insigryke onderhoud
op die Versindaba verskaf eweneens insigryke kodes oor die siening van die
religieuse en hoe die digter etikette wil vermy: Onderhoud met TT Cloete, Versindaba. Besoek 7 Maart 2014.
*
hierdie sigbare gedig
But if I write what my soul thinks,
then it will be visible,
and the words will be its body. – Helen
Keller
hierdie gedig is geskryf
met die bloed van my are wat vinnige
riviere
loop deur my ganse lyf tot in my
oorlelle
(vlesige afkoellappies soos die olifant
se ore)
– is geskryf met my worsige ingewande
se wurmkrulle
waar my maaltye van vandag wat kom uit
die aarde
nog verwerk word en magies omgetoor
word
tot harsings
– is geskryf met hormone en
elektrochemiese polsings
in my kop waar woorde van gemaak word
en van woorde word raaiselagtige
vleeslose
oordragte gemaak
met my kiestande en lippe
my vingernaels en hare
my snorbaard my tong
my adamsappel skryf ek
hierdie gedig is geskryf met die
kilometers
vertakkings van my senustelsel
met my vel groot soos my vloermat
van koedoevel
die meer as 70% water van my liggaam
my hormone en testosteroon
geel gebeente vol grys murg
my ribbekas en kniekoppe
is vol mossiemusiek
om met die hart te skryf is sulke
goedkoop
sulke smakelose cliché so ’n mistasting
dat ek dit kieskeurig soos my
blindederm verswyg
hierdie gedig is geskryf met die
vingerpunte
van my linkerhand
eintlik skryf mens met jou pols
maar myne is vol artritis aan my
regterhand
– van my skedel af tot by my groottone
en voetsole is hierdie gedig
geheimsinnig
geskryf in die mees ongryplike sublieme
efemeros
van ’n pynlik gebakkelde lyf
(146)
Terry Eagleton. “Lunging, Flailing, Mispunching”. London Review of Books. Besoek: 7 Maart 2014
Marlies Taljard. 2014. “Onderhoud met TT Cloete”. Versindaba. Besoek 7 Maart 2014.