Andries Bezuidenhout - Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle. Protea Boekhuis, 2014. R150. ISBN 978 1 4853 0072 4.
Resensent: Joan Hambidge
Perhaps, because one spirit animates the whole, the past was not lost but transformed.
Frank Kermode in An appetite for poetry (115).
Vooraf
Met die bestudering van hierdie bundel word die leser bewus van ‘n dubbel-blik op die geskiedenis. Die klein, intieme lewe van die gewone mens, maar ook die groter gang van die geskiedenis wat die sensitiewe mens registreer en probeer begryp, word onder die loep geneem. Hierdie leser het die idee van die camera obscura ‘n handige leesstrategie gevind. Die dubbel-blik – die spel tussen hier en nou – word in etlike sentrale gedigte uitgewerk. Dit is ‘n bundel wat bepaalde vrae stel oor die posisie van Afrikaans en die Afrikaanse digkuns.
Tydens die skryf van hierdie resensie het ek weer die essay oor Walter Benjamin gelees, opgeneem in J.M. Coetzee se Inner workings (Vintage, 2008), oor Benjamin se posisie as skrywer. Die politiek van sy tyd – met Stalin in die agtergrond – word ‘n subtiele troop vir die kodes in Bezuidenhout se bundel wat kommentaar lewer op die veranderinge in ons samelewing. Veral sy landskapverse en gedigte oor die platteland lewer aweregse politieke kommentaar. Die titel van hierdie digbundel speel dus in op die 1936-teks: “The work of art in the age of its technological reproducibility”.
Die tegnologie van reproduksie dus.
Walter Benjamin (1892 – 1940) was ‘n Duitse filosoof, kritikus, essayis, uitsaaier, aforis, vertaler. Andries Bezuidenhout vertolk ook verskillende rolle en ook sy werk as vertaler (herdigter) moet in ag geneem word.
In die endnote word die invloed van musiektekste erken – soos die onoortroffe Tom Waits en ander. Dit is eweneens belangrik vir die leser om die gesprek tussen liriektekste en digkuns na te speur: Danie Marais en Hunter Kennedy is onder andere voorlopers hier. Die gedigte is praatverse, maar sonder om oor te tuimel in bloot verkapte prosa.
In die gedig “Die die kleur van woorde” (10) is daar ‘n motto, en motto’s rig ons lesings:
R]hetoric is the art of saying well that which may or may not be true, and it is the duty of poets to invent beautiful falsehoods.
– Otto in Baudolino (Umberto Eco)
Die naam Umberto Eco aktiveer semiotiek en die naspeur van tekens. En hier het ons dus “die waarheid gelieg” (T.T. Cloete). In The role of the reader (Hutchinson, Londen, 1981) verduidelik die semiotikus hoe die dialektiese spanning tussen ideologie en letterkunde funksioneer: al is daar ‘n sosiologiese (of politieke dimensie) wat die teks aktiveer, moet ons steeds die teks as tekensisteem benader of oopmaak. Die “corroboration” tussen ons kennis van wat buite die teks lê en dit wat die teks-as-teks aanbied, met ander woorde, die narratiewe strategieë, is ons fokus (125 – 127).
In die woorde van die digter: ons moet fokus op die “stip brandwagte in flesalbaster” (10).
Nou kyk ons na die “beautiful falsehoods”…
Moet ons die gedig benader soos wat ons die aanwysings lees oor hoe om ‘n Bosch-wasmasjien aan te skakel? Of is hierdie kennis onderliggend wanneer ons ‘n bundel lees oor “huishoudelike toestelle”? Narkotiseer ons dit of blaas ons dit op?, in Eco se terme.
Bosch het immers ‘n “Service world-wide” vir “Hausgeräte” en die nommer en e-pos-adres bestaan. Hulle spreek jou ook aan as “Sehr geehrter Kunde” en nou Liewe leser, begin my resensie eers:
I
Andries Bezuidenhout bely in die nawoord (“Bestanddele”) dat ‘n gedeelte van hierdie bundel voltooi is aan die Universiteit van Stellenbosch onder leiding van Marlene van Niekerk en Willem Anker. Hierdie bundel is ‘n besondere vooruitgang op die digter se debuut Retoer (2007) en dit is met groot plesier wat ‘n mens hierdie digbundel lees oor “huishoudelike toestelle” – uiteindelik ekstensies van ons self – wat al in die verlede veral die domein van die vrouedigter in Afrikaans was. Die endnote verduidelik dan ook hoe hy homself as digter posisioneer:
Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle
Vertaling van die aanhaling van Walter Benjamin, uit Über den Begriff der Geschichte, gewoonlik in Engels vertaal as Theses on dialectical materialism:
“Daar is ’n skildery van Klee, getiteld Angelus Novus. ’n Engel in die afbeelding lyk of hy stip oor iets nadink, maar op die punt is om daarvandaan weg te beweeg. Sy oë is gesper, sy mond oop, sy vlerke gespan. Dít is hoe die engel van die geskiedenis moet lyk. Sy aangesig is na die verlede toe gedraai. Waar iets vir ons soos ’n ketting van opeenvolgende gebeure lyk, sien hy ’n enkele katastrofe wat onophoudelik soos wrakstukke voor sy voete neergesmyt word. Die engel sou graag wou verpoos, die dooies opwek en dit wat gebreek is, weer heelmaak. Maar ’n storm woed vanuit die Paradys, het hom aan die vlerke beet en waai so onstuimig dat die engel hulle nie weer kan sluit nie. Die storm dryf hom genadeloos die toekoms in, waarop sy rug gekeer is, terwyl die rommelhoop voor hom ten hemele aangroei. Hierdie storm is dit wat ons vooruitgang noem.” (p. 15)
Die digter is ‘n bekende sosioloog en die leser vind telkens slim toespelings op die “sosiologie-van-die-gewone-mens”. Die digkuns moet natuurlik altyd in die eerste (en laaste instansie) ten spyte van filosofiese of metafisiese inhoude of temas as gedigte oortuig. En dit presteer hierdie bundel volledig.
KOMBUISKOMPLOT
Years later he’d stood in the charred ruins of a library where blackened
books lay in a pool of water. Shelves tipped over. Some rage at
the lies arranged in their thousands row on row. He picked up one
of the books and thumbed through the heavy bloated pages. He’d
not have thought the value of the smallest thing predicated on a
world to come.
– Cormac McCarthy, The Road
elektroniese harte, meganiese parte
blink gewaarborg, in elk se plek
’n bataljon gesneuwelde modelle
mikrogolf menger skottelgoedwasser
grassnyer stofsuier vrieskas versapper
waarteen waarsku ons huismaats so?
huisraad is deesdae skugterder,
deur klep, prop, draad en pyp
saamgebind tot ’n stomheidseed
wasmasjien tuimeldroër yskas stoof
strykyster broodrooster wekker waaier
waaroor fluister ons huismaats so?
kan tentakels wat toestelle konnekteer
dalk iets in die lug bespeur, ’n ramp,
armageddon, die atmosfeer wat verdamp?
[ 9 ]
Die programvers kondig dit goed aan: “elektroniese harte, meganiese parte” en die leser staan stil by gedigte met afdrukke en sketse. ‘n Mens kan nie help om die kinderfilm Toy story op te roep nie en ‘n kollega in die filosofie wat oor hierdie film ‘n analise gemaak het via Descartes se “cogito ergo sum”.
Daardie tentakels mag dalk iets bespeur?
Bekend aan ons tydsgees word daar erkenning gegee aan ander digters (Elisabeth Eybers in “Welverdiend”, 43; Leonard Cohen in “Dagdroom”, 61; gert vlok nel in “Johannesburg, Someraand”, 67)) soos hierdie gesprek met ‘n tydgenoot Johann Lodewyk Marais duidelik illustreer:
VRAE OOR VERE
Hoe ’n piet-my-vrou daar uitsien moes ek teen dié tyd wis,
maar ek weet nie eers vir welke kleur om uit te kyk
teen doringkoppie of staatsdienswolk nie.
“Liefling, ek stuur vir jou ’n piet-my-vrou”? Klink nie reg nie.
Van ek kan onthou, hoor ek: piet-my-vrou,
maar kon nog nooit een op heterdaad betrap nie –
nie langs vervlugtende goudvisdam of swembad nie.
’n Verskil in veer of predisposisie
tussen mannetjie- en vroutjie-piet-my-vroue?
Of piete-my-vrou? Twee piete vir ’n stuiwer.
Waar om sout te strooi vir vere-inspeksie –
op varsgekapte grasperk of in plumbagoheining?
Piet-my-vrou, Johann Lodewyk Marais het jou
sekerlik van snawel tot vlerkpunt beskryf.
Het jy ’n kuif, dalk die frok van ’n wulpse transvestiet?
Is daar subspesies aan jou stamboom,
vertakkings wat anders gebek-en-klou is –
die gewone-grou-piet-my-vrou,
die rare-blou-gespikkelde-piet-my-vrou,
die gestol-in-verwikkelde-vaart-piet-my-vrou,
die teen-die-skemer-gespykerde-piet-my-vrou,
die oostelike-voorstede-met-bakkie-piet-my-vrou?
Meld aan, Piet-my-vrou, as voorbeeld van jou spesie –
hoekom jou geheimsinnig agter koorsbome hou?
As jy nie oppas nie, Google ek jou.
Hierdie gesprek (en vraagstelling) gaan natuurlik verder terug: ons hoor hier Leipoldt 2., maar nou met die moderne tegnologie waar die digter die retoriese vrae verruim deur selfs na google te gaan vir verdere inligting. In ‘n besondere slim vers word ‘n gesprek met Jan Lion-Cachet gevoer.
GEREFORMEERDE HEILDRONK
OP JAN LION-CACHET
(ná ’n besoek aan Burgersdorp)
as die oggend oopbreek is selfs die winter helder
vlas fladder bo en hier onder is jou beker al koud
die moer en die papbord se vet gestol
maak die boek toe trek die gordyn toe
sê hulle moet die stoof stook hulle moet water kook
en as warrelwinde stofwolke opklits dink jy soms terug
onthou jy winters polders meulens wat knars
en beur en pomp teen vog wat in mure muf
onthou jy hoe pa hout in die herd pak die huis kil
en klam lig skuifel flou oor die vloer stil
lê gragte onder gerwe rook teen die lae lug
dit was lank gelede vir jou ’n skeepsreis ver
na ’n ander vaster land jou mense altyd op vlug
hoe reis jy van die laeland avondland waterland
na hierdie land waar alles bars en los is
waar dorings deur die sole steek
die son die vel se bolwerk breek?
(…)
[46]
Op Litnet verskyn ‘n profiel van hierdie skrywer wat ‘n slim toespelings verhelder. (ATKV-Skrywersalbum: Jan Lion Cachet (1838–1912) - Erika Terblanche | LitNet. Besoek 1 Maart 2014)
op hiérdie vlaktes het jy stuurs jou stoere kerk kom bou
het jy pen en toga opgeneem gedig en betoog
met totius pannevis en hoogenhout sodat ons moedertaal
gehoor kan word in raad kantoor en skoollokaal
[47]
Hierdie vers aktiveer ook die bekende “Di Afrikaanse taal”:
Di Afrikaanse taal
Ek is ’n arm boerenôi,
By fele min geag:
Mar tog is ek fan edel bloed,
En fan ’n hoog geslag.
Uit Holland het my pa gekom,
Na sonnig Afrika;
Uit Frankryk waar di druiftros swel,
Myn liwe mooie ma.
Hul skel my uit fer Hotnots myd;
Mar ek gé daar ni om;
Want an myn lipiis kan jy siin,
Fan wat geslag ek kom.
Soet floei di woordjiis uit myn mond;
Dit het ek fan myn ma;
Mar as ek bid dan hoor je wel,
Ek is ’n kind van pa.
Myn sussi, wat uit Holland kom,
Di hou ferniit haar groot:
Di lug is al te skerp fer haar;
Sy is al amper dood.
Di dokters kom nou bymakaar,
Hul maak tesaam ’n “Bond”;
Mar tog met al die doktery
Word sy nooit weer gesond.
My niggi met haar stywe nek,
Di loop in rooi satyn;
En baing jonkmans loop haar na;
Sy denk hiir baas te syn.
Maar as die awentuurtji kom,
Dan is di klomp by my.
Dis “hartji” voor en “hartji” na:
“Laat ons ’n bitji fry.”
As ek maar eers myn fryer het,
’n Digter fol fan moed;
Een wat my om myself bemin,
En nie mar om myn goed;
Wanneer die fryer tot my kom
Fat ek hom by di hand,
En maak ek hom, hoe swak ek skyn,
Nog koning in di land.
Want ek het onder in my kis
’n Ware towerstaf,
Wat ek nog fan myn ouma het,
En nimand weet daar af.
Hef ek di staf op, “Moedertaal”,
Dan volg di land my na:
En ek is net nou koningin
Fan heel Suid-Afrika.
Erika Terblanche wys daarop dat die bekende Sewe duiwels ook deur J.D. du Toit vergelyk is met Hildebrand se Camera obscura. En die digter Bezuidenhout skryf dan ook ‘n vers waarin die camera obscura-idee ‘n belangrike metafoor is vir die begryp van die geskiedenis. (Ek kom later hierop terug.)
Eco word aangekondig oor die retoriese strategieë : “[R]hetoric is the art of saying well that which may or may not betrue, and it is the duty of poets to invent beautiful falsehoods.” – Otto in Baudolino en die spel tussen beeldende kuns en digkuns is ‘n verdere belangrike kode in hierdie bundel. Die digter is immers ook skilder en vir die liefhebber van die ekfrastiese gedig is hier veel te vinde.
“Digitaliseer” (11) praat eweneens met ander digters (“hoe het dit skielik stil geword”) en ‘n mens hoor ook Boerneef en Olga Kirsch in hierdie gedig verder, wat gelaai word met moderne tegnologie en woede. “Hoe kokerbome breek” (12) is ‘n soort saluut aan Wilma Stockenström se Monsterverse en uitmuntende klip-gedigte. In “Aansoek om betrekking” (14) is die arbeidsosioloog aan die woord in ‘n satiriese vers wat die ou spanninge tussen wit en swart uitwerk, met ‘n ironies-treffende slot:
Net dít, Mevroutjie, as u een ding sal doen –
as Mevrou my tog maar Tannie sal noem.
Hierdie sosiale gewete vind ons ook in die volgende vers:
MEV. BREIVIK SE KONFYT
(aan die slagoffers by Utøya)
Resep nog helder, maar die pen onseker
as sy die fles etiketteer: Rabarber, Jordbær.
Die datum, 22/7.2011, ná sy die dagblad konsulteer.
Dan die treinrooster, vir ’n besoek aan haar seun
en drie flessies konfyt om saam te neem.
Sal hy oplet hoe die letters bewe?
Die maan is suiker op die stasie se glasdak,
houtbalke ribbe uit tye toe timmermans
nog suiwer kon saag en die lampe konfytflesse
wat steenmure weerkaats, die kleur van aarbei en rabarber.
Dalk nie so donker nie, hierdie treine sonder roet.
Aarbei en rabarber, soveel ligter as bloed.
Die afwisseling tussen rym en halfryme word goed in beheer gehou. Die sentrale vers is die titelvers – met ‘n motto van Walter Benjamin – en begin so:
1
hierdie droom wat ek droom begin in die kombuis
waar ek hebbelikheid en kookboek eenkant los
om strydige elemente deur ’n worsmasjien te wurg
bestanddele verkeerdom te klop en te karring
die brousel arbitrêr die oond in te stamp.
[17]
Die droom verwys hier dan ook na Sheila Cussons se Die swart kombuis, maar nou is daar sprake van “strydige elemente” en begrippe soos wurg / karring / stamp benadruk die moeisaamheid van die proses. Ook die woord “membraan” moet gelees word as ‘n duidelike kode dat die digter hier in gesprek tree met Cussons. Die herhaling van “in hierdie droom wat ek droom” is bykans ‘n soort inkantasie waarin die spreker sy huishoudelike toestelle op die tafel plaas. Dit is ‘n opname van sy ontwikkeling as mens: van ‘n religieuse opvoeding tot sy werk as arbeidsosioloog waarin hy ongeregtighede en ongelykhede opteken en analiseer. Die digter se foto’s oor kerkgeboue op die Versindaba vind beslag in ‘n vers soos “Church going” (23) met ‘n kopknik aan Philip Larkin. Die dreunsang van die dominee word in opposisie geplaas met die meer intellektuele blik (via Frank Lloyd Wright) en die “blye galme” van die ou bestel is duidelik verby. In ‘n gesprek met Marx word daar ten slotte besluit:
Die geskiedenis, liewe vriende,
word selde in fabrieke vervaardig,
soos enige digter wat haar sous werd is weet:
In kombuise word dit opgekook
(“Wat in die kombuis gebeur”, 27).
‘n Mens hoor eweneens Antjie Krog in die agtergrond en hierdie leser is van mening dat Otters in bronslaai ‘n duidelike interteks is vir die huishoudelike gesprekke en dat Lady Anne die politieke tematiek versterk. Alle digters praat deur ander digters, buikspreek namens hulle, of gebruik ‘n camera obscura 2. om ‘n eie punt te maak:
BESOEK AAN GALPIN SE CAMERA OBSCURA,
GRAHAMSTAD, JULIE 1992
“How are we to read the African landscape? Is it readable at all? Is it readable
only through African eyes, writable only in an African language?”
– J.M. Coetzee, White Writing
Spiraal boontoe, tot in hierdie koepel, waar lig en lens
die horison soos ’n insek op ’n tafelblad laat spartel.
Jy hoef jou kop nie te draai nie. Jy’s ’n krap, ’n trapsuutjies,
dalk ’n hottentotsgot, die periskoop ’n spriet vir jou ronde oog.
Katedraaltorings en ’n stadsaal proklameer: Hiér het Victoria
se beskaafde oog lank gelede ongehinderd geknip.
Straatblok en plein hoekig uitgelê om die landskap te tem
tussen koppies met aalwyne wat die hemel lem.
Galpin, horlosiemaker met ’n sin vir orde, hou alles dop.
Ooglopende wendings, selfs subtiele skuiwe, registreer op die film
van ’n koloniale pupil: ’n dorpskaart vol kleur en tekstuur,
maar met elke simmetriese vorm van hier bo af obskuur.
[28]
Die digterlike oog word hier op verskillende maniere aan bod gebring: wie kyk? waarna word gekyk? En is “ooglopende wendings” ooit neutraal? Selfs ‘n foto – weet ons uit Roland Barthes en Susan Sontag – is gelaai met die subjek se waarneming.
Een van die mees navrante gedigte in hierdie bundel is “Die jaar toe pa die skottelgoedwasser gewen het” (30, 31) waarin die digter se ervaring van sy jeug (en enige nostalgiese herinnering daaraan) helder, dwingend en pynlik beskryf word:
DIE JAAR TOE PA DIE SKOTTELGOEDWASSER
GEWEN HET
Broer, watter jaar was dit nou weer,
voor of ná Pa die skottelgoedwasser gewen het?
Toe ons woonbuurt nog ’n wêreldkaart was –
platgestryk en uitgerol iewers op die afdraandpad
tussen Hoëveld en Bosveld, ’n tussenin plek.
Toe die kerk se klepel nog soos ’n anker kon lui,
al stamp die eggo’s reeds teen ’n winkelsentrummuur.
Ouboet, watter jaar was dit nou weer, voor of ná Pa
die skottelgoedwasser by die bierfees gewen het?
Toe Ma nog uit boeke onthaal het, riviere
grondboontjies en rosyntjies op tinfoelie uitgepak het.
Toe Mamelodi donker Afrika anderkant die buffersone was,
Eersterust ingewig tussen township en fabriek.
Toe Watermeyerstraat die rooster van straatblokke breek
en jy dit onderdorp toe kon oorsteek.
Jy, die een wat die slimste skuif,
wat Pa met skaak kon wen.
Oudste broer, watter jaar was dit nou weer,
voor of ná Pa soveel bier gedrink het
dat hy ’n skottelgoedwasser kon wen?
Die jare gepak soos borde in rakkies,
die masjien spoel sy mond met skuim uit –
linkerkies, regterkies, gorrel en sluk.
Elke nou en dan het ’n koppie gebreek,
soos die dooie mense by Volkskas in Silverton,
– wat was die tannie se naam nou weer?
Oom André wat kla oor die meide by die werk
wat so in die hysbakke poep.
Toe die kafferboom besluit om sy naam te verander
en die tipuana die wind omhels en omdonder, wortels in die lug.
*
Jare later, Broer, moet jy Potchefstroom toe
vir ’n vinnige datum op die egskeidingsrol,
luister na die redes voor jou in die ry:
“Ons het mekaar nie meer lief nie.”
“Ons woon reeds twee jaar nie meer saam nie.”
“Hy het my uitgeskop.”
Oor jóú redes vra ek nie uit nie,
maar soms wonder ek of jy tóé reeds ontsnap het,
voor of ná Pa die skottelgoedwasser gewen het.
’n Bosch, dink ek, toepaslik vir ’n Duitse fees.
Ma was so bly, moes later eers verneem
sy teiken was eintlik die enkelreis oorsee.
[31]
In die gesprek met die broer word die jeug in oënskou geneem. Die broer se egskeiding is net ‘n voorspel vir die pynlike wete dat ook die pa nie meer hart in siel by sy vrou betrokke is nie. Op hierdie indirekte wyse word die trefkrag van die vers verhoog: bykans soos Al Pacino (Michael Corleone) se oomblik van ontboeseming voor die Monsignor in Francis Ford Coppola se The Godfather (Deel II) : “Father, I killed my father’s son, father I killed my mother’s son…”.
Daar is ook aangrypende liefdesverse – “Die handpalmleser van Swakopmund”, 34; veral die volgende een is treffend:
KOELKAS
volgens die tweede wet van termodinamika
is verkoeling die meganika
van hitte verwyder, eerder as koue byvoeg:
ook bekend as kriogenie.
koue, my lief, is dus niks anders
as die afwesigheid van hitte nie
en ek wat op die klipvloer bewe
vandat jy nie meer hier is nie.
[42]
Daar is ‘n besonderse blik op landskap:
op morgenzon aangekom
is daar ’n prokureur ’n makelaar
’n ng kerk ’n monument
en ’n kragstasie op die horison
toe ry ek maar verder na standerton
[33]
‘n Mens sou ook kan naspeur hoe die speurende oog, die oog wat kyk in hierdie bundel deurgaans ontgin word. Die digter verwys ook in ‘n vers na homself as ‘n “oopoogkind” (45).
Die hele bundel lewer kommentaar, dikwels implisiet, op die veranderende politieke landskap.
‘n Sentrale vers in die bundel is “Wasmasjien” (57) met sy speelse verwysing na Gertrude Stein se “a rose is a rose is a rose…”. Die wasmasjien was witter as sneeu (die religieuse toespeling), maar is ook ‘n moderne tempel van reiniging met verwysing na die sakramente waarvan die digter praat:
’n wasmasjien is ’n wasmasjien is ’n wasmasjien
maak oop die deur kom binne ek stryk net gou die potplant
voer die gordyne los jou klere by die deur jou obsessie
om wittes van gekleurdes te skei word verskoon hier
jy kan jou bondel inlaai pype koppel knoppies draai
hier werk ons anders met ons monumente
’n wasmasjien is ’n wasmasjien is ’n wasmasjien
moenie rondstaan nie dis oestyd tree aan dat ons die tros
tussen jou wingerdstokke pluk en pars sodat ons die saad
in jou buik uitpeul en wring laat dit tol laat dit wentel
spin in silinders bind in buise ontkiem en nuut laat spruit
hier werk ons anders met ons testamente
’n wasmasjien is ’n wasmasjien is ’n wasmasjien
hoekom huiwer bring jou skimme en spreuke jou hekse fantome
bring jou gode en totems jou bakens en lakens met vlekke
stop alles in die bek klap toe meng seep en versagter
witter as sneeu witter as sneeu ja ons was jou witter as sneeu
hier werk ons anders met ons sakramente
ja bring jou vaders jou kroos jou woorde
al wat ons vra is gelatenheid en natuurlik ’n muurprop ’n kraan
en ’n muntstuk ons wurm jou deur ’n bus draai jou droog
hang jou in neon skrif op jou kraag drif in jou maag
ja hier werk ons anders hier werk ons anders
hier in die skoot van jou wedergeboorte
[57]
Die digter spreek die wasmasjien as ‘n geliefde aan wat selfs “twist” en die film Her (Her (film) - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 27 Februarie 2014) word hier ook (as onbedoelde interteks?) geaktiveer:
my liefste, liefste wasoutomaat
wat kan ek weet van jou skoonheid en jou aard?
is die maan en môrester slegs punte op ’n kaart?
hulle tol kosmies met vellings aan ’n middelpunt vas
hul wentelbane laat skadu’s deur die ruimte tas
o laat jou trommel pirouette tiekiedraai hiervandaan uitkring
laat jou pole en jou motor reinheid bring
as ek naak voor jou staan wyl jy my klere spin
[60]
Die speelse aanbod van die volgende vers amuseer beslis:
RENT-A-HUSBAND
’n Yskas het ’n kompressor
en ’n oond ’n element.
Een verdamp en kondenseer,
die ander bied weerstand.
Vleis kan ek vries
en dit dan weer braai
deur meters te lees
en knoppies te draai.
Hoe om af te koel en op te warm
weet ek dus goed,
maar helaas, my lief,
as hiérdie onderdele breek
moet jy elders hulp loop soek.
[66]
Daar is al groot gewag gemaak van praat-poësie in Afrikaans; hier het ons dit. Oortuigend en mooi. Strofe-indeling val dikwels uiteen in drie-reëls; ander kere in vier. Is die triade dalk ‘n Lacaniaanse kopknik na die fyn balans tussen verbeelde-simboliese-Rëele-dimensies? Met die digter as musiekmaker, arbeidsosioloog, skilder/fotograaf immer besig om die verskillende dimensies in beheer te hou? Die sketse by gedigte behoef ook naspeuring en bestudering. Soos die gedig op bladsy 69 wat oor die bladspieël spoel? Dalk ‘n ikoniese “bewys” dat ‘n gedig nie werklik die menslike ellendes en ontsteltenisse kan opvang nie? Dat dit ‘n illusie dat ‘n gedig iets kan “goedmaak” of “heelmaak”? Maar die geliefde maak dit alles wel die moeite werd vir die digter:
dít alles skeel my nie as ek jou by die hek sien inry nie
hoor hoe jy die deur oopsluit nie
alles wat die lug indamp stol en word solied
alles wat profaan is word heilig
en kyk ek met my dronk oë na dit wat werklik saak maak
Daar is vele kodes wat die akademiese leser nog verder kan opvolg: Walter Benjamin, J.M. Coetzee se “white writing” en of wit mense werklik die landskap van Afrika kan weergee, die (Suid)-Afrikaanse platteland se verval (hieroor het die digter lieflike foto’s geneem en op sy blog op Versindaba geplaas), rotsgravures en Lucy Lloyd sodat die leser die nou teenoor die toentertyd kan plaas:
Eintlik niks besonders nie – huishoudelike toestelle
uit ’n ander land, skraapsels van ’n vroeër verblyf.
Eendag sal lawa nogmaals boontoe beur
en alles wéér metamorfeer.
[72]
*
Dit is ‘n besondere tweede bundel wat tegnies goed afgewerk het en intellektuele vrae vra oor die mens se posisie binne sy (haar) samelewing, maar sonder om die krag van die digkuns te verloën.
My resensie het ek van die PDF geskryf. (Joan Hambidge)
Endnote:
1. Frank Kermode. 1989. An appetite for poetry. Essays in literary interpretation. Londen: Fontana Press.
2. Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou penne agter die ore styf,
Met jou stadige stappies, wat maak jy hier?
Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf,
Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?
Oom Gert vertel en ander gedigte/Slampamperliedjies - Wikisource
3. Camera obscura - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 27 Februarie 2014:
The camera obscura (Latin; camera for “vaulted chamber/room”, obscura for “dark”, together “darkened chamber/room”; plural: camera obscuras or camerae obscurae) is an optical device that projects an image of its surroundings on a screen. It is used in drawing and for entertainment, and was one of the inventions that led to photography and the camera. The device consists of a box or room with a hole in one side. Light from an external scene passes through the hole and strikes a surface inside, where it is reproduced, rotated 180 degrees (thus upside-down), but with color and perspective preserved. The image can be projected onto paper, and can then be traced to produce a highly accurate representation. The largest camera obscura in the world is on Constitution Hill in Aberystwyth, Wales.
Using mirrors, as in the 18th-century overhead version [...] it is possible to project a right-side-up image. Another more portable type is a box with an angled mirror projecting onto tracing paper placed on the glass top, the image being upright as viewed from the back.
As the pinhole is made smaller, the image gets sharper, but the projected image becomes dimmer. With too small a pinhole, however, the sharpness worsens, due to diffraction. Some practical camera obscuras use a lens rather than a pinhole because it allows a larger aperture, giving a usable brightness while maintaining focus.
Camera obscura