Op
my vele reise neem ek altyd foto’s van jong kinders. Kinders sien jou presies
vir wie of wat jy is. Hulle kyk regdeur jou en kan leuens of bedrog aanvoel.
Nes diere.
Op
my rekenaar is daar lieflike foto’s van jong kinders.
Of haar ernstige broertjie wat op die gras staan met ‘n pen voor in sy hemp. Gaan hy dalk eendag ‘n skrywer word? By wie het hy so ‘n pen gesien? By die kelner wat ons bedien?
Of die klein mannetjie wat met sy bandana en sonbril op die kop staan in Hong Kong. En heel selfversekerd en astrant glimlag hy vir die fotograaf.
Of die twee mooi kleintjies in Phuket. Met sandaaltjies en ‘n teddiebeer op die T-hemp. Die seuntjie het ook twee plastiekarmbande aan. Ek onthou hoe ek en my suster as kinders vir ons armbande gemaak het met plastiekkrale wat my ma vir ons gekoop het.
Die
seuntjie was kennelik iewers in ‘n bakleiery betrokke; daar is ‘n letsel op sy
kop. Dalk ‘n skermutseling met ‘n sibbe?
Of
het hy geval teen iets skerps?
Wanneer
‘n mens die foto verder ontleed, sien jy die vleis in die moeder se hand. Sy
moet dus kook en vir hierdie kinders kosgee. Dit is nie ‘n duur snit nie, maar
goedkoop vleis. Kookvleis. Vir ‘n bredie. Op daardie mark het ons rondgedwaal
om bestanddele te koop vir ‘n kookkursus in die hotel. Wat ek suksesvol voltooi
het!
Groente
en hoendervleis. Om ‘n Thaise groenkerrie te maak.
Roland
Barthes maak in sy bekende studie Camera Lucida (1980) – geskryf na die
dood van sy moeder – die onderskeiding tussen die punctum en studium van ‘n
foto. Die punt wat die foto maak en die komposisie of studium.
So
ons interpreteer ‘n foto om juis die punt of stelling wat dit maak, te begryp.
Susan
Sontag in On Photograpy (1977) het weer beweer dat foto’s soos ‘n
teregstelling is. En sy sou weet. Gelukkig is sý die verraad gespaar van
naakfoto’s wat na haar dood op die internet rondsweef. Waarskynlik geneem deur
haar voormalige lewensmaat, Annie Leibovitz.
II
Daar
is twee kinderpsigoanaliste na wie ek by herhaling terugkeer; Melanie Klein en
Alice Miller. Hoe pynlik dat Melanie Klein se dogter haar in die openbaar
verwerp het. En Alice Miller se analise van Picasso se Guernica is
absoluut briljant. Kyk, verduidelik sy: dit gaan nie net om die Spaanse
Burgeroorlog nie. In wese is hierdie skildery ‘n primordiale interpretasie van
iets wat die jonge Pablo gesien het. Driejaar oud in Málaga. Daar was ‘n
aardbewing die nag toe sy sussie gebore is en hy het die perde sien gly in die
strate. In die grot waar hulle weggekruip het, aanskou hy die geboorte van sy
sussie.
Of
Buster Keaton, die komediant wat uitdrukkingloos bly in al sy films, meen
Miller, is so aangerand deur sy ouers dat hy moes leer om nooit emosie te wys
nie! Hierom die uitdrukkinglose gesig waarvoor ons so lag…
The
drama of being a child.
En
‘n mens moet terugkeer na jou jeug en alles weer diepgrondig ervaar, sodat jy
kan herstel.
III
Eybers
se klassieke vers “Twee kleuters in die Vondelpark” kom sterk in die
herinnering.
Die
seuntjie behoort tot die orde van die wiel, terwyl die meisie tot die orde van
die instink, die verbeelding én die digkuns behoort.
Twee kleuters in die Vondelpark
Twee
kleuters in die Vondelpark bly staan
’n
klein oneindigheid lank hand-in-hand.
Smetloos
geteken dryf die dubbelswaan:
gesplete
hart van hals en dubbelhals,
geskulpte
vlerk met dubbelvlerk teenaan,
geslote
snawel dynserig vervals
met
eenkant lug en water anderkant.
Versadig
van die roerlose gesig
pluk
hy – die seuntjie – plotseling aan haar hand
vir
verdergaan, sleep haar tot ewewig
as
sy nog strompelend omkyk na die swaan.
Verby
die bome druis die straatrumoer.
Van
skopfiets tot trapfiets gepromoveer,
bromfiets
tot motor, sal hy konstateer
–
die wiel sy ordeteken – dat hy lid
is
van die kollektiewe Lilliput.
Maar
sý sien webbe onderwater roer.
Miskien
is dit die laaste dag van staar
en
grondelose verwondering. Wat sou
hý,
weerloos wordend, wees oor dertig jaar?
’n
Saaklike barbaar, ’n fyn sadis,
’n
doktrinêre Hollandse meneer?
En
sý ’n druk slagvaardige mevrou
met
’n allure van dít-is-soos-dit-is?
Die
swaan bly oor sy dubbelbeeld gekeer.