Saturday, February 24, 2024

Rubriek | Joan Hambidge - Wilgenhof en rituele | 2024

I

Waarom die bohaai oor Wilgenhof? Waarom sulke uiteenlopende stemme en stryd? 

Oud-Wilgenhoffers wat alles kontekstualiseer en briefskrywers wat eweneens terugkyk en onthou. Positief teenoor negatief.

 

II

In 1975 is ek ‘n eerstejaarstudent aan die Universiteit van Stellenbosch, meer spesifiek: Huis Erika. Die ontgroening staan my nie aan nie (‘n stoel bo die bed met ‘n glas water bo-op) en simpel uitstappies gereël deur seniors. Van studie is daar maar min sprake. Verpligte uitstappies met ‘n manskoshuis langs die Laan.

 

Sondae die Carpenters se geteem oor ‘n luidspreker in die eetkamer.

 

Ek verlang huis toe. Na my enkelkamer en my vryheid. Aant huise had ek meer vryhede en agentskap as in my eerstejaar waarna ek so uitgesien het.

 

In die koshuis (Blok B) is ons vasgekeer: twee in ‘n kamer in ‘n kubikel met ‘n beterweterige senior (L.O.) uit die domste hoogte. Daar is ‘n koffieruimte waarheen ek ontglip om te studeer. Soggens douvoordag probeer ek studeer; helaas, dit werk nie. Teleurgestel oor die afwesigheid van dit waarna ek uitgesien het.

 

Ek voel vervreemd. Word godesydank geskuif na ‘n enkelkamer om die hoek, omdat ek nie “inpas” nie. 

 

Hierna beleef ek die dubbelspraak van ‘n dameskoshuis en oortree die reëls.

 

Slaap selfs ‘n keer of wat oor in Helshoogte (heel veilig), omdat ek nie betyds my koshuis kon binnegaan nie. Iemand anders teken vir my in. Ek help by twee, drie geleenthede ‘n vriendin (ook laat) om oor die balkon te kom. 

 

Klippies teen die venster.

 

Met ‘n boyfriend wat van onder por en ek wat haar optrek. Een aand kry ons dit nie reg nie en ek (en sy) maak die louvres van die onderste blok oop. Sy klim deur. En die volgende oggend (ten spyte van my nougesette poging om alles te herstel), bliksem die glasstawe uit.

Onmiddellik word ek verdink. Wéér in die koshuismoeder se sitkamer met die primaria en die huiskom.

 

Ek kan nie my straf onthou nie. Ek onthou net die koshuismoeder (‘n oud predikantsvrou) se tirade en geskel.

 

En haar persoonlike, grensoorskrydende opmerkings.

 

Dit was in die dae van tiekiebokse. Ek bel my oudste suster, ‘n onderwyseres in Oos-Londen, wat in Harmonie was en sy troos my.

 

Hierna leef ek buite die koshuis. Kry ‘n kamertjie van ‘n vriend waarin ek tuisgaan, terwyl hy weg is op reis. My ouers dink ek is “gelukkig” in die koshuis. Ek lees en studeer in die kamertjie. Eet steeds in die koshuis. Moes hier bly weens beursverpligtinge.

 

Hier beleef geweldig baie: meisies met bulimi, anoreksia en oënskynlike straight meisies wat op ‘n bed lê en vry. ‘n Koshuismaat wat halfpad deur die jaar verdwyn en weer die volgende jaar stilswyend haar opwagting maak.

 

En my ouers woon ver in die ou-Transvaal. Ek is alleen en worstel met my gay-identiteit. Voel displaced as ‘n vreemdeling uit ‘n ander bestaan. En is boonop nie een van die hoofstroom nie.

 

III

Ek onthou Wilgenhof ook. Anders as die slegte beeld wat nou uitgedra word, het ek studentemaats in hierdie koshuis geken. Hulle was slim en intellektuele gespreksgenote. 

Meesal regstudente en ‘n paar tokkelokke saam met my in die filosofieklas.

 

Beskaafd en beleefd. Edwin Cameron, primarius van Wilgenhof en op die studenteraad. Uitmuntende student. Puik Latyn-dosent.

 

Wilgenhof was nie deel van die hoofstroom nie, as ek reg onthou.

 

IV

In hierdie dae is Arnold van Gennep se beroemde studie oor rites telkemale aangehaal. Van Gennep (1873 – 1957) wys op die oorgange van een toestand na ‘n ander in Les Rites de Passages (1909).

 

Van Gennep is in Duitsland gebore en het in Frankryk studeer.

 

Separasie, oorgang én samesmelting. En Van Gennep sou kon uitwys dat ek nie deel geword het van my koshuiskultuur nie. Ek het buite die ruimte gaan soek na my heil.

 

En die oorgange is prosesse van liminaliteite. (Dalk hierom dat ek so baie van ‘n hotelverblyf hou?) 

 

V

 

Hierdie debakel neem my terug na die film Dead Poets Society waarin Robin Williams (John Keating) klasgee aan die Welton Academy in 1959. Dit is vervaardig deur Peter Weir (1989).

Wat binne ‘n bepaalde ruimte gebeur en dan na buite oorvertel word, lei altyd tot misverstand. In hierdie film word die onderwyser geskors wat die jong seuns die betekenis van Carpe Diem leer én om die digkuns (en lewe) anders te benader. En die selfdood van Neil (omdat hy wil toneelspeel en sy pa dit nie verstaan nie), is ook die onderwyser se “skuld”. Die onderwyser word skuldig bevind (die sondebok), die kinders draai teen hom, todat een kind (Todd vertolk deur Ethan Hawke) die onderwyser verdedig met “O Captain! My Captain”.

 

(Uit Walt Whitman se gedig by die dood van Abraham Lincoln). Dit is tersaaklik dat die toneelstuk hier A Midsummer’s Night Dream is.

 

‘n Komplekse film wat ek hier inkort om te wys op die kodes van die groep (tot stilte gemaan) en die een wat sal uitpraat en verdedig. Die geskorste onderwyser wat wél geraak is deur die ondersteuning; al is dit te laat.

 

VI

Stellenbosch was ‘n ander tyd, ‘n ander plek, in ‘n ander land.

 

Vir sommige mense is ‘n tradisie belangrik. Dit laat hulle geborge voel en deel van ‘n groep. Terwyl ek hierdie stuk skryf, word ek genooi na my skool-reunie (1974).

 

Ek sal nie gaan nie. Ek beweeg altyd buite die groep, maar respekteer ander se sieninge oor samehorigheid en saamtrekke.

 

Hierom begryp ons waarom sekere oud-Wilgenhoffers voel hul herinneringe is aangetas deur hierdie onthullings. En as daar iets buite orde was, moes dit by tog die polisiekantoor aangemeld word?

 

Deesdae word boelies blitsig kortgevat. En gender-neutrale koshuise gaan gewoon nie werk nie. Mans het ‘n ander siening van liggaamlikheid as vroue. (Boonop sal daar verkragting en seksuele gedoentes wees.) 

 

En dit sal beslis nie ‘n oplossing wees vir rituele en rites nie. Kyk maar hoe spook Yale ook om alles uit te wis. Hazingdurf nie; maar kyk na rituele o.a. in sport, wat deel is van maskuliniteite.

 

En (vir die rekord): as alles gesaniteer en gesuiwer en skoon gemaak word, wonder ‘n mens wat is volgende? 

 

Daar word alreeds beswaar gemaak teen transgressiewe boeke. Een van die dae sal daar ‘n simboliese stofsuier alle ontoepaslike gedagtes uitsuig soos in ‘n SciFi-film.

 

Die temenos (heilige sirkel) verskil van waar jy staan. Kom ons respekteer eerder verskillende sieninge en onthoue.

 

Joan Hambidge is tans ‘n Senior Navorser en Genoot aan die Universiteit van Kaapstad.

Monday, January 22, 2024

Resensie | JM Coetzee - The Pole and other stories | Penguin, 2023

JM Coetzee - The Pole and other stories. Penguin: 2023. ISBN:9781787304062, Sagteband, R350.00, 250pp.

Resensent: Joan Hambidge

 

In Lucy Daniel, die redakteur van Defining Moments in Books (Cassell Books, 2007), word ‘n foto opgeneem van J.M. Coetzee: voor ‘n spieël. En dis hoe ‘n mens hierdie skrywer moet benader:  As dubbelganger. Agter én voor die spieël. (En ons weet watter simbole alles aan die spieël gekoppel word.)

 

Coetzee is ‘n fiksieskrywer, maar terselfdertyd ‘n besinnende, denkende, filosofiese outeur soos in The lives of animals (1999) wat ‘n hibriede teks is. Iets tussen essay, literêre teorie en fiksie. Daar is eweneens outobiografiese romans soos Boyhood (1997) en Youth (2002). En The Master of Petersburg (1994) op die spoor van Dostojefksi, maar ook ‘n terugkaatsing op sy eie bestaan as skrywer en mens.

 

Veral David Attwell het uitstekende essays geskryf oor hierdie spel in JM Coetzee and the Life of Writing (2015).

 

Die jongste heet The Pole and other stories. Dit het oorspronklik in Spaans verskyn as El Polaco. (Coetzee is Spaans magtig.)

 

The Pole vertel die verhaal van ene Witold Walczykiewicz, ‘n pianis en Beatriz, wat help om sy konsert in Barcelona te organiseer. Sy is getroud en aanvanklik nie geïmponeer met sy toenadering nie. Maar dan gebeur dit wél, maar op haar terme. (Of só dink sy verkeerdelik.) 

 

Die verhaal roep uiteraard Jorge Luis Borges se private mitologie op rondom Dante en Beatrice. Borges het sy eie moeilike liefdesverbintenisse afgekaats teen Dante. Ons dink hier aan die Vita nuova. Witold is 72 jaar oud en herinner aan Max von Sydow, die Sweedse akteur. Dit roep die verbintenis op met die filmmaker Ingmar Bergman en sy vertolking van Knut Hamsun in die film Hamsun (1996) deur Jan Troell. ‘n Politiek-gelade film oor verraad tydens die Nazi-tydperk. Hamsun het in 1920 die Nobelprys verower; Coetzee in 2003.

 

Hiermee word die sosiale gewete van die skrywer subtiel ingebed in hierdie vertelling. Ons onthou die ANC se kritiek op Disgrace (1999) en hoe die ingeboude ironieë in die teks misgelees is.

 

Die verhouding tussen man en vrou in The Pole aktiveer eweneens George Sand (1804 – 1876) en Frédéric Chopin (1810 – 1849) se verhouding. Sand, ‘n feminis en ouer as Chopin, speel eweneens ‘n rol in die leeservaring van hierdie teks. Die vrou as versorger en ewige moeder? 

 

Die novelle se paragrawe word genommer. Ons het hier ‘n besinnende ouktoriale verteller teenoor ‘n personale (hy/sy) verteller wat moontlikhede ondersoek saam met die leser. Die novelle word ‘n soort dramateks en die leser wag op die klimaks (29). Die konvensies van musiek teenoor storie word netjies teenoor mekaar geplaas. Die hande van pianiste wat groot is en grotesk sou lyk op ‘n vrou. Hoe ou mense lyk en ruik, word raak beskryf.


En die verskille tussen tale en wat alles in ‘n vertaling verlore raak, kom aan bod. Die onbeholpe gedigte van Witold verklap sy wond en haar briewe bewys watter houvas die kortstondige verbintenis op haar steeds het. Geheime in huwelike teenoor die soeke na vervulling en romantiese liefde, maak die novelle nog sterker. Begeerte geplaas teenoor onvervulde liefde.

 

Coetzee is bekend vir “doubling the point” met subtiele verwysings in sy tekste na ander skrywers. Met prosa wat tot op die been gesny is. Waarom ‘n boek wat in Pole afspeel? Sy moeder se grootvader was ‘n Pool en in sy werk sien ons belangrike besinnings oor Poolse en Russiese letterkunde.

 

“Where would the art of fiction be if there were no double meanings? What would life itself be if there were only heads or tails, with nothing in between?” lees ons in “As a woman grows older”. En dit kan op hierdie komplekse tekste van toepassing gemaak.

 

Telkens die “irony of fate”, soos Cleanth Brooks & Robert Penn Warren dit perfek tipeer in ‘n analise van O’Henry se “The furnished room” in The scope of fiction (1960). Coetzee neem jou terug na Frank O’Connor se “The drunkard” waarin Chopin ook voorkom. Larry Delaney is ‘n karakter wat herinner aan O’Connor se lewe. O’Connor het ‘n studie oor Toergenjef geskryf.

 

Ons keer ook terug na Coetzee se stories waarin hy dikwels oor transgressiewe begeerte skryf.

 

‘n Novelle en vyf kortverhale. Meerduidig én terugwerkend na Elizabeth Costello (‘n buikspreker vir Coetzee) en die skrywer se besinnings oor diereregte. ‘n Storie oor ‘n woedende hond laat jou sidder in “The dog”. Die vrees van die besoekende vrou laat jou wonder oor die hond se base. 

 

Het katte gesigte of nie?, word in “The old woman and the cats” gevra. Skokkende ervarings van ‘n ouerwordende moeder in “Hope”. En hoe die seun haar vertel van die hond, Demeter, wat aanhou veg het om sy lewe, pyn ten spyt. Ambivalensie dra die verhaal “As a woman grows older” in haar konfrontasie met haar kinders. “The glass abattoir” analiseer mense se ongevoeligheid oor diere rondom ‘n ingebedde vinjet in Djibouti. ‘n Bok wat geslag word, beskryf in grafiese besonderheid met ‘n analise oor die betekenis van pyn. ‘n Simboliese judasbok?

 

Coetzee is ‘n meester van sub-teks én implikasie. Hy het hierdie leser nogmaals verbyster met sy onverdrote kapasiteit om télkens nuwe moontlikhede in die skryfambag te ontgin. Van die vleiland tot die billabong. Politiek-bewuste tekste tot metafiksie soos in Summertime (2009). Kortverhale tot lang, uitgebreide stories soos die Jesus-trilogie. Essays oor ander skrywers is altyd leersaam wanneer ‘n mens Coetzee lees. Ons onthou hoe hy ‘n Engelse vertaling van ‘n Harry Mulisch roman stip uitmekaar gehaal het soos ‘n sjirurg met sy kennis van Nederlands. 

 

Musiek, films, geskiedenis, politiek, sosiale kwessies (o.a. die verlange na die telegram), die rol van private dokumente, maak alles deel van hierdie pakkende boek.

 

Hierdie leser het onlangs weer In the heart of the country (1977) gelees. ‘n Boek met 266 genommerde paragrawe eerder as hoofstukke. En sy 1974 debuut Dusklands, twee verhale, maar ook ‘n roman. O.a. ‘n reisverhaal in die 18e eeu. Die kritikus Jason Cowley wys op Coetzee se voorliefde vir die allegorie en simbool in Lucy Daniel se kompendium. En die isolasie van die meeste van sy stemlose karakters.

 

As Borges werk met die labirint, sien ons die spieël by Coetzee. Beide outeurs is sterk beïnvloed deur Franz Kafka. Al waarvoor ons nou wag, is ‘n roman in Afrikaans. Die prosa in hierdie puik boek is soos lug wat afgekaats word in ‘n poel water soos by MC Escher.


Met hierdie boek het hy sy tweemalige bekroning as Bookerprys- en Nobelpryswenner nogmaals en absoluut bevestig. Om op 80 plus so te kan skryf, is ‘n absolute segetog.

 

Joan Hambidge is ‘n Senior Navorsingsgenoot aan die UK. Haar jongste roman heet Stasies.

Friday, January 19, 2024

Resensie | Duncan Brown, Kobus Moolman, Nkosinathi Sithole (Reds.) - Notes from the Body: Health, Illness, Trauma | University of Kwazulu-Natal Press, 2023

Duncan Brown, Kobus Moolman, Nkosinathi Sithole (Reds.) - Notes from the Body: Health, Illness, Trauma. University of Kwazulu-Natal Press, 2023. ISBN: 978 1 86914 532 3 


Resensent: Joan Hambidge

 

 

I. Grievable lives: Mournable bodies

 

Hierdie boek bevat uitsonderlike bydraes oor liggaamlikheid. Notas (d.w.s kanttekeninge) oor die liggaam met die sub-titel wat gesondheid, siekte en trauma oproep. Ons dink onmiddellik aan Susan Sontag se Illness as metaphor. En Annie Leibovitz se fotogalery van haar siekte en hospitalisering. En haar dood. Hierdie foto’s het wye polemiek ontlok rondom die etiek van die plasing van die foto’s. Veral Sontag se seun, David Rieff het dit as betredend en grensoorskrydend beskou.

 

https://tembusu3.nus.edu.sg/treehouse/2015/04/mortality-in-photography-examining-the-death-of-susan-sontag/ Besoek 14 Januarie 2024

 

By die ontvangs van Notes from the body lees ek drie bydraes Hélène Smit se “Architeutis”, “Survivor” van Stephen Devereux en Bronwyn Law-Viljoen se “Notes from an Archive of the Body in Movement”. 

 

En dadelik is hierdie leser meegesleur oor verskillende vertelperspektiewe: oor kindermolestering en hoe die liggaam ‘n museum word waarin pyn geberg word of waar siekte metafories ‘n betredende huisgas word of waar die liggaam in oefensessies ‘n indeks of argief word van die potensiële adaptasies wat die liggaam kan maak.

 

I wrote a review on Notes on falling in 2022.

http://joanhambidge.blogspot.com/2022/09/resensie-bronwyn-law-viljoen-notes-on.html Besoek 18 Januarie 2024

 

 

II Written on the body

 

Post Covid. Illness as metaphor. Masks. Uncertainty. People dying. Debates on Vaccination. 

 

On my Covid-19 Vaccination Record Card:18.9.2021 and 30.10.2021: Phizer. A black and couloured nurse assist me in the City hall close to NG Kerk and police station in Durbanville. Two kind ladies. We laugh and joke.

 

“Moenie bang wees, nie Antie.” Ek speel saam. Rol my oë. Maak of ek omtiep. Hulle lag. Geen pyn nie. Geen swelsel nie. My ervaring van ‘n geelkoorsinspuiting was veel erger met ‘n arm wat opgeswel het met erge koors.

 

Jokes as means of survival. Duncan Brown relates a joke in “Unmade”: Sarah goes for a job interview as a typist.

The manager asks, ‘Sarah, wat is jou ervaring van tik?’

‘Nee, niks nie, Meneer,’ she replies. ‘Met my is dit net dagga en dooswyn.’

Die grap wat tydelik verdoesel. Net tydelik.

 

 

III. Even Cowgirls get the blues  

 

Barbara Johnson: "It seems to me that women are all trained, to some extent, to be deconstructors. There's always a double message, and there's always a double response. The difficulty for women, is unlearning self-repression and ambiguation and conciliation, and reaching affirmation." (Salusinszky, 1987, 151)

 

Johnson word gediagnoseer met cerebellar ataxia in 2001 en sterf in 2009, hierdie gedugte vertaler van Derrida en student van Paul de Man. In haar lewe professor in Engels en Vergelykende Letterkunde by Harvard. En ‘n vertaler van Derrida.

 

Hoe ironies dat Johnson, die groot intellektueel, só moes sterf.

 

Die bydraes van en deur vroue laat my nadink oor die volgende:

 

1 die huis as ‘n ruimte van angs;

2 hoe ons ‘n nuwe woordeskat moet aanleer ná ‘n traumatiese ervaring;

3 die vrees vir mislukking wat vele vroue moet hanteer in ‘n fallogosentriese samelewing;

4 genesing as ‘n komplekse proses;

5 die chaos wat pyn skep.

 

Maar dit sluit nie mans uit nie. Die ervaring van pyn in ‘n hospitaal (“Staring Death in the Eye” deur Vonani Bila) wys dat siekte ons anders laat kyk na die liggaam wat manlike beheer omverwerp. En dat siekte jou “merk” en  vervreem van ander (soos in “Unmade” deur Duncan Brown).

 

 

IV. We sing the body electric

 

The impact of physical and psychological wounds are presented to the reader: gender violence, disablities, rape, racial prejudice, poverty, adoption, cancer, embolism, AIDS, depression, cynanthropy, bipolar disorder, Covid, the ICU, substance abuse, private hospitals versus state hospitals, medical insurance …

 

Private notes versus poems. Afrikaans versus Sepedi and Xhosa. Antjie Krog in translation. Joseph Campbell versus Kafka.

 

Die Gannavlakte en Athlone. New York teenoor Kaapstad.

 

Double voicing in “Lines Land Slant” by Anthea Garman and Gillian Rennie.

In hierdie pakkende analise tussen twee vroue word die impak van borskanker ondersoek. En die impak van die mastektomie op ‘n vrou.

 

Self-analysis in “Finding the Words in Ten Movements” by Philippa Yaa de Villiers. “Every poet is a library on legs …”(174).

 

Verskillende skryfkonvensies: van dekonstruksie tot lang, orale gedigte wat ‘n mens moet hóór. Tekste wat opbreek in verskillende afdelings wat die pynlikheid van ‘n bepaalde ervaring onderstreep. Asof die skrywer onderbreek word deur sy/haar pyn.

 

 

V

 

Siekte maak jou broos en weerloos. En maak jou bewus van jou liggaamlikheid wat jy alte dikwels as vanselfprekend aanvaar.

 

Ironies genoeg is hierdie bespreking geskryf, terwyl ek siek was met ‘n somer-griep en hoesbuie.

 

En Krog som dit alles perfek op:

 

dit rammel sag

 

dit rammel sag. die aarde lig haar skedel.

vanuit die binnevlerk van wolke veer

die donderweer al met die stil verhemeltes

van berge langs. ‘n tiptol stip die mees

 

intieme plek aan in die esdoringboom –

die plek waar die stam die stilste boomwees hou.

o, roerloos wag die boom. die weerlig stroom

uit vlakke blou, die veld voel hoe haar ganse

 

vel oopsnou na die geur van dragte vol

geloftes. in haar hare bloei die rose.

haar laaste koelte damp vanuit haar oksels

 

sy knoop haar lang hart los. nog nooit was sy

so karig, so alleen, of het sy so

gesmag na reën wat net nie, nooit nie kom nie

 

*

Die eensaamheid van siekte; hoe die ganse vel oopsnou … 

Body bereft. Dis waaroor dit hier gaan.

 

Joan Hambidge is a Fellow and Senior Researcher at UCT.

Poet and novelist.

Januarie 2024

Bronne: 

Butler, Judith. 2016. Frames of War: When is Life Grievable?  New York: Verso.

 

Freud, Sigmund. 1916/1976. Jokes and Their Relation to the Unconscious. Pelican Freud Library volume 6. Londen: Penguin. (Vertaal deur James Strachey en hersien deur Angela Richards).

 

Gallop, Jane. Maart 1979. "Why Does Freud Giggle When the Women Leave the Room?". Lesing gelewer in die Women and Humour Section, Nemla-kongres. Connecticut: Hartford.

 

Krog, Antjie. 2006.  Verweerskrif. Kaapstad: Umuzi.

 

Law-Viljoen, Bronwyn. 2022. Notes on Falling. Cape Town Umuzi.

 

Salusinszky, Imre. 1987.  Criticism in Society. Londen: Methuen.

 

Sontag, Susan. http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=sontag+illness+as+metaphor

Besoek 12 Januarie 2023

 

Endnote:

 

Fisting-as-écriture

Joan Hambidge

 

Moes deur baie pyn

om mens te word,

artikuleer ons digter 

op die Dam; moes deur 

veel veg

om self te vind,

van hier tot in verre plekke

terug in die gevegsone van die digkuns

immers ‘n binne-geweld wat beskut

teen buite-geweld: 

ek-sing-oor-die-liggaam

se oorskot, ek lees

Eve Kosofsky Sedgwick

se Die weer in Proust

en elders, ja elders

is dit altyd mooi weer en warm

vir hulle gebore met regte

en voorregte,

nooit weet hoe 

dit voel as jou tong

as kind uitgesny is.

Uitgeskuif, weggedruk.

Hierom die vuis-in-die-lug,

daarom die woede

by ons, ‘n myn - ‘n dyn,

die Afwykendes, die derde seks,

die transgender, die deviant:

smagtende na stilte     

ná hierdie oorlog, ‘n El-Alamein.

 

 

Sunday, January 14, 2024

Resensie | Daniel Hugo (red) - Ina Rousseau – ‘n huldiging | Naledi, 2023

Daniel Hugo (Red) - Ina Rousseau – ‘n huldiging. Naledi, 2023. ISBN 9781 991 256 447. R330, 336pp

Resensent: Joan Hambidge

Onder die sub-titel Digter van die kwiksilwerwoord word Ina Rousseau vereer met die digter en vertaler Daniel Hugo as samesteller. Sy ontvang die Reina Prinsen Geerligsprijs vir haar debuut Die verlate tuin (1954) en die Hertzogprys vir haar laaste bundel ‘n Onbekende jaartal (1995).

Hugo het Rousseau se poësie gebloemlees as Die stil middelpunt (2003).

As voormalige dosent het studente immer plesier gehad aan haar komplekse verse in lesings waar ‘n mens op verskillende aspekte kon fokus in haar digkuns: vreemde woorde, versvorme, genderkwessies, Bybelverwysings, tydshantering, die gesprek met Blum, haar plek in die kanon, ensomeer.

Daar word hier na haar werk gekyk as digter, kortverhaalskrywer én vertaler. Dit is bekend dat sy verse afgewerk het tot in die laaste sillabe in. Haar verbintenis met die digter Peter Blum is eweneens bekend. Hieroor het sy ‘n aangrypende reeks geskryf “Steppewolf”.

Vir my is haar kortverhaalbundel Soutsjokolade (1982) ‘n besondere bundel. Die verhaal “Onthou jy vir Helena Lem?” kan geen leser ooit vergeet nie. ‘n Verhaal oor ‘n verloofde man wat sy vrou met wie hy op trou staan sonder erbarming ervaar wanneer hy haar vertel van sy ontmoeting met ‘n jeugvriendin wat ondertussen blind geword het. Sy onthou haar egter as iemand wat ‘n skoenlapper se vlerke afgetrek het. Vir hom het sy egter ook húl kosbare verbintenis vernietig met haar gemene reaksie. Die brief wat hy aan haar skryf – met woorde wat deurgekrap word – gee ‘n weergawe van sy vertroebeling. Wie die skoenlapper se vlerke afgeruk het, word in die ontknoping weergegee.

Francois Smith, ook prosaskrywer, gee ‘n interessante psigoanalitiese interpretasie van hierdie Atwood-agtige teks, terwyl Daniel Hugo as stipleser fokus op die gesprek tussen Johann de Lange en Ina Rousseau. Hugo wys hoe die digter De Lange as’t ware sy eie poëtika op haar projekteer in sy pragtige verse oor én vir haar.

Smith skat haar goed in as prosaskrywer en wys ook op haar hantering van simboliese getalle en offergawes. En waar sy ook haar leser dalk mag onderskat het in ‘n vertelling?

Die verskillende variante in haar digkuns dui op haar werk as ‘n groeiende organisme en Shané Kleyn wys op verskeie aspekte van variante en hoe dit benader moet word. Juis omdat die perfeksionistiese Rousseau telkens gedigte verbeter het, was daar verskillende variasies (soos by Yeats, Achterberg, Nijhoff, o.a.)

Sy was inderdaad uiters ambivalent oor die publikasieproses. In persoonlike gesprekke was sy ook afwysend oor enige navrae oor die spreekwoordelike koek in die oond. Trouens, in ‘n telefoongesprek teenoor my het sy opgemerk dat my handskrif onleesbaar-lelik is (korrek!) en dat sy dit nie kan ontsyfer nie. Hierteenoor ‘n poskaart van haar: kort en kragtig. Afgesluit: I.

Kleyn vertel die anekdote van die koekbakker-van-formaat, via Abraham H. de Vries. Inderdaad. Maar die resep bly tog ‘n geheim …

En hierdie komplekse geheimsinnigheid analiseer die digter en literator, Hein Viljoen behendig, ook as kenner van die Simbolisme en as ‘n leser wat die hele kwessie van die dubbele negatief (soos by Eybers) onder die loep neem. Die sogenaamde “simple replacement and the suggestion of the mystery” via Wellek, die groot literatuurteoretikus word bespreek. Hierdie bydrae is uiters leersaam oor hoé die sogenaamde “kognitiewe domeine” in ‘n gedig versmelt word.

Fanie Olivier gee ‘n hoogs leesbare (en deeglike) geskiedenis róndom die ontvangs van Rousseau se poësie wat opnuut bewys: ‘n resensie is ‘n eerste reaksie, boonop tydsgebonde en die boek bly staan selfs wanneer die Malmokkies en ander ou Boekgodjies ses voet onder die grond lê.

Die voetnote hier is openbarend. Olivier wys op ‘n fout wat ‘n literator maak met verwysing na Standpunte op bladsy 49.

Bernard Odendaal, ‘n kundige vertaler en raadgewer, gee ‘n uitvoerige verslag van Rousseau se werk as vertaler. Hy wys op die “uitleengeskiedenis” in die Ferdinand Postma-biblioteek in Noord-Wes om sy argument te staaf oor vertalings en hy vind dit jammer dat herdenkings by haar dood die vertalings nie vermeld nie.

Die digter se idiosinkratiese woordgebruik is algemeen bekend en haar werk by die Woordeboek van die Afrikaanse Taalhet kennelik haar taalkennis verruim. Die gebruik van sogenaamde “onpoëtiese woorde” en wetenskaplike terminologie is ‘n belangrike stilistiese bydrae, soos Bernard Odendaal tereg uitwys.

Tania Colyn ondersoek die komplekse verhouding tussen Ina Rousseau en Peter Blum vanuit ‘n genderperspektief. Via Hélène Cixous en Barbara Johnson word die leser opnuut bewus van hierdie intertekstuele wisselwerking (en uitruiling) tussen twee belangrike digters. Hierdie artikel wys op die in transit-aspek van vrouedigters wat buite die manlike orde skryf. 

Die grootste waarde van hierdie bundel is die Engelse vertalings en gedigte uit die Italiaans na Afrikaans versend deur hierdie woordsmid. Soos sy opmerk in Die Burger, 1 April 2006.

"Ek werk nooit aan ’n bundel nie. Ek werk selfs nie aan ’n gedig nie. Ek skryf woordgroepe, en later sluit die woordgroepe by mekaar aan en word ’n gedig." Erika Terblanche gee vir ons ‘n biografiese oorsig.

En die pragfoto’s in die boek is aangrypend mooi, veral die een wat Philip de Vos van haar geneem het in haar woonstel in Hofstraat, Kaapstad. Pragtige foto’s met mooi, stylvolle klere.

En ‘n klassieke Rousseau-kwatryn bly hierdie een vir my:


In sneeuwit siermotiewe van die pyn

breek die verwording deur in blaar en stam.

O was die lewe mooier sonder die fyn

borduursel van die skimmel? Van die swam?

(52)

 

Van die huldigingsbundels is al gestriem oor setfoute of swak keuses. Hierdie een is goed afgewerk en gee ‘n vars blik op hierdie uitsonderlike digter. Ja, sy met haar woorde van brokaat.

 

Joan Hambidge Senior Navorser en Genoot aan die Universiteit van Kaapstad.

 

 

 

Monday, December 18, 2023

Resensie | Kobus Lombard – Sandskrif | Imprimatur, 2023

Kobus Lombard – Sandskrif. Imprimatur, 2023. ISBN 978-0-7961-1000-8

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

In 2001 debuteer die digter Kobus Lombard met Geknipte naelstring. Hierna volg in 2005 Tussen wysvinger en duim. In 2010 Vlerke vir my houteend en in 2015 Skadu oor die sonwyser. In 2018 verskyn Tussen toeval en willekeur.

 

Só word Sandskrif bemark:

Die Namibiese landskap en mense van die land figureer deurgaans in Kobus Lombard se sesde digbundel. Reeds in die openingsgedig staan die sterflikheid en kortstondigheid van die menslike lewe teenoor die grootse, onveranderlike woestyn, die see en die taai plantegroei. Die digter tree in gesprek met God, met sy aanneem- en pleegouers, sy gesinslede, die inheemse mense van die land én met homself. Woorde bied beskerming teen die koue, donker en honger en dors van die aardse bestaan. Selfs die digterlike woorde is soms net “’n gevlekte lys/van gedane sake/sonder keer”, maar die digter weet ook dat taal die enigste instrument is waarmee die mens die geheimenis van sy eie geboorte en lewe op aarde “oop kan sê”. Lombard se poësie is oënskynlik eenvoudig en deursigtig, maar met ‘n kenmerkende ironiese blik op die mense en wêreld om hom, en veral ook op die self. Daardeur wen sy gedigte aan insig in die menslike kondisie en die voortdurende soeke na die betekenis van die kort menslike lewe in die grootse skepping. 

Sandskrif is Lombard se sesde digbundel. 

 

II

 

Lombard het ‘n belangrike tematiese bydrae gelewer as ‘n digter wat skryf oor versaking. Sy verse verwys voortdurend na die traumatiese ervaring wat die aangenome kind beleef. Gebore as Johannes Vermeulen in 1952. Sy moeder, ‘n ongetroude verpleegster, raak swanger by ‘n man van Griekse afkoms. Haar ouers weier dat sy die kind mag grootmaak. Sy teken hom af en hy word opgeneem in die Maria Klopperhuis in Johannesburg. (Hierdie inligting is opgeteken in Wikipedia).

 

In 1954 word hy aangeneem deur die Lombard-gesin van Gobabis en hy word groot as hul seun Kobus Lombard. Hy gaan skool in Windhoek.  Hierdie agtergrondinligting word telkemale in sy aangrypende bundels na vore gebring: die wond van abandonment.

 

Hierdie aspek word aangrypend verwoord in “Periodieke tabel” (43):

 

my partikels vibreer 

teen frekwensies waarneembaar 

as Jacobus Gideon Lombard 

alias Johannes Vermeulen 

 

maar in leë spasies 

skuil ’n element 

wat ek vergeefs bly soek 

op my periodieke tabel

 

Die ander belangrike tema is sy aangrypende gedigte oor Namibië en die wyse waarop hy die inheemse wêreld beskryf. Ook met woordverklarings in die jongste bundel Sandskrif.

 

Soos:

 

p. 26 en 27: Abu-itse: Die Boesmans se hemelgod 

p. 67: omahango: Pêrelgiers, ’n graansoort wat die Ovambo’s verbou as stapelvoedsel. 

p. 67: Kalunga: Naam van God in die tradisionele Ovambogodsdiens. 

p. 67: oshanas: Vlak waterlope in die noorde van Namibië  

 

In hierdie bundel vind ons ook religieuse verse én ‘n bemoeienis met die digterskap. 

Die religieuse gedigte maak aanspraak op die leser se kennis van Die Bybel. Hier is ook ‘n twyfelende spreker aan die woord. In die aangrypende “Twee millennia later” (25) word moderne media gebruik om die mens se probleme met geloof weer te gee. Hierteenoor gebruik hy Agarob, die kind van die duineveld, om te wys dat geloof altyd kultuurgebonde is soos in “Gasprediker” (27):

 

straks is ons god en julle s’n 

ewe oud rook 

hulle dalk dieselfde pyp

amen

 

Daar is uitstekende ars poeticas soos “Sandskrif” (8) en “Woordwewer” (53). Anders as die geelvink is die digter se skryfproses geheimsinnig en vind plaas op ‘n plek waar niemand dit kan sien nie. In “Al my verse” (56) word bely dat elke vers ontspring uit die trauma van sy moeder se pyn; daardie eggo’s uit ‘n leë kamer, soos hy dit beskryf. Die broosheid van die skryfproses word beklemtoon in ‘n vers wat heet “Ongepubliseerde vers” (61). Hierdie vers sal die lem van resensente ontglip, bely die spreker. ‘n Mens dink hier aan Tom Gouws se resensie indertyd van Vlerke van my houteend wat lemmig was. ‘n Resensent behoort nie ‘n bundel te lees vir wat dit nie wil wees nie.  (https://www.netwerk24.com/Netwerk24/Skadu-oor-die-sonwyser-Vaardige-digter-se-bundel-kort-vlerke-20150608. Besoek 17 Desember 2023).

 

 

III

Kobus Lombard skryf die volgende uitstekende vers in Tussen toeval en willekeur (2018):

 

Duine

 

duine het nie agendas nie

dit kan nie laat kom

of vroeg vertrek

verkeerde besluite neem

en bekommerd wees nie

duine hoef nie voluit te leef

bang te wees vir die dood

of ʼn vers te skryf

voor dit sy gedagtes ontglip nie

duine is tot die laaste sandkorrel

uitgesorteer

 

In die jongste bundel word hierdie gesprek voortgesit:

 

Insig 

(Windhoek 2021) 

 

moeg van waak 

dat niks die berge en kastele 

voor my venster steel nie 

vlug ek die Namib in 

waar duine en see 

net aan my behoort 

 

eerlank trek die mis 

ook sy gordyne dig 

daag my woestyngetrou 

om uitsig 

vir insig te verruil

 

En in die volgende vers is die vloei van asem onsigbaar … soos ‘n rivier in die Namib. Ons dink hier aan die Kuiseb.

 

Nagrus 

(vir Zouna) 

 

jou silhoeët lê stil 

’n gebed sonder woorde 

jou asem vloei onsigbaar 

soos ’n rivier in die Namib

 

Sy verse mag eenvoudig of “oop” klink, maar daar is bepaald implikasies wat die leser verder neem. Dalk is die oorrompelende landskap van die Namib en die land van stilte ‘n rede vir ‘n digkuns van min woorde hier?

 

Dis ‘n bundel vol onthoubare verse en ‘n vooruitgang op die vorige bundels.