Monday, January 22, 2024

Resensie | JM Coetzee - The Pole and other stories | Penguin, 2023

JM Coetzee - The Pole and other storiesPenguin: 2023. ISBN:9781787304062, Sagteband, R350.00, 250pp.

Resensent: Joan Hambidge

 

In Lucy Daniel, die redakteur van Defining Moments in Books (Cassell Books, 2007), word ‘n foto opgeneem van J.M. Coetzee: voor ‘n spieël. En dis hoe ‘n mens hierdie skrywer moet benader:  As dubbelganger. Agter én voor die spieël. (En ons weet watter simbole alles aan die spieël gekoppel word.)

 

Coetzee is ‘n fiksieskrywer, maar terselfdertyd ‘n besinnende, denkende, filosofiese outeur soos in The lives of animals (1999) wat ‘n hibriede teks is. Iets tussen essay, literêre teorie en fiksie. Daar is eweneens outobiografiese romans soos Boyhood (1997) en Youth (2002). En The Master of Petersburg (1994) op die spoor van Dostojefksi, maar ook ‘n terugkaatsing op sy eie bestaan as skrywer en mens.

 

Veral David Attwell het uitstekende essays geskryf oor hierdie spel in JM Coetzee and the Life of Writing (2015).

 

Die jongste heet The Pole and other stories. Dit het oorspronklik in Spaans verskyn as El Polaco. (Coetzee is Spaans magtig.)

 

The Pole vertel die verhaal van ene Witold Walczykiewicz, ‘n pianis en Beatriz, wat help om sy konsert in Barcelona te organiseer. Sy is getroud en aanvanklik nie geïmponeer met sy toenadering nie. Maar dan gebeur dit wél, maar op haar terme. (Of só dink sy verkeerdelik.) 

 

Die verhaal roep uiteraard Jorge Luis Borges se private mitologie op rondom Dante en Beatrice. Borges het sy eie moeilike liefdesverbintenisse afgekaats teen Dante. Ons dink hier aan die Vita nuova. Witold is 72 jaar oud en herinner aan Max von Sydow, die Sweedse akteur. Dit roep die verbintenis op met die filmmaker Ingmar Bergman en sy vertolking van Knut Hamsun in die film Hamsun (1996) deur Jan Troell. ‘n Politiek-gelade film oor verraad tydens die Nazi-tydperk. Hamsun het in 1920 die Nobelprys verower; Coetzee in 2003.

 

Hiermee word die sosiale gewete van die skrywer subtiel ingebed in hierdie vertelling. Ons onthou die ANC se kritiek op Disgrace (1999) en hoe die ingeboude ironieë in die teks misgelees is.

 

Die verhouding tussen man en vrou in The Pole aktiveer eweneens George Sand (1804 – 1876) en Frédéric Chopin (1810 – 1849) se verhouding. Sand, ‘n feminis en ouer as Chopin, speel eweneens ‘n rol in die leeservaring van hierdie teks. Die vrou as versorger en ewige moeder? 

 

Die novelle se paragrawe word genommer. Ons het hier ‘n besinnende ouktoriale verteller teenoor ‘n personale (hy/sy) verteller wat moontlikhede ondersoek saam met die leser. Die novelle word ‘n soort dramateks en die leser wag op die klimaks (29). Die konvensies van musiek teenoor storie word netjies teenoor mekaar geplaas. Die hande van pianiste wat groot is en grotesk sou lyk op ‘n vrou. Hoe ou mense lyk en ruik, word raak beskryf.


En die verskille tussen tale en wat alles in ‘n vertaling verlore raak, kom aan bod. Die onbeholpe gedigte van Witold verklap sy wond en haar briewe bewys watter houvas die kortstondige verbintenis op haar steeds het. Geheime in huwelike teenoor die soeke na vervulling en romantiese liefde, maak die novelle nog sterker. Begeerte geplaas teenoor onvervulde liefde.

 

Coetzee is bekend vir “doubling the point” met subtiele verwysings in sy tekste na ander skrywers. Met prosa wat tot op die been gesny is. Waarom ‘n boek wat in Pole afspeel? Sy moeder se grootvader was ‘n Pool en in sy werk sien ons belangrike besinnings oor Poolse en Russiese letterkunde.

 

“Where would the art of fiction be if there were no double meanings? What would life itself be if there were only heads or tails, with nothing in between?” lees ons in “As a woman grows older”. En dit kan op hierdie komplekse tekste van toepassing gemaak.

 

Telkens die “irony of fate”, soos Cleanth Brooks & Robert Penn Warren dit perfek tipeer in ‘n analise van O’Henry se “The furnished room” in The scope of fiction (1960). Coetzee neem jou terug na Frank O’Connor se “The drunkard” waarin Chopin ook voorkom. Larry Delaney is ‘n karakter wat herinner aan O’Connor se lewe. O’Connor het ‘n studie oor Toergenjef geskryf.

 

Ons keer ook terug na Coetzee se stories waarin hy dikwels oor transgressiewe begeerte skryf.

 

‘n Novelle en vyf kortverhale. Meerduidig én terugwerkend na Elizabeth Costello (‘n buikspreker vir Coetzee) en die skrywer se besinnings oor diereregte. ‘n Storie oor ‘n woedende hond laat jou sidder in “The dog”. Die vrees van die besoekende vrou laat jou wonder oor die hond se base. 

 

Het katte gesigte of nie?, word in “The old woman and the cats” gevra. Skokkende ervarings van ‘n ouerwordende moeder in “Hope”. En hoe die seun haar vertel van die hond, Demeter, wat aanhou veg het om sy lewe, pyn ten spyt. Ambivalensie dra die verhaal “As a woman grows older” in haar konfrontasie met haar kinders. “The glass abattoir” analiseer mense se ongevoeligheid oor diere rondom ‘n ingebedde vinjet in Djibouti. ‘n Bok wat geslag word, beskryf in grafiese besonderheid met ‘n analise oor die betekenis van pyn. ‘n Simboliese judasbok?

 

Coetzee is ‘n meester van sub-teks én implikasie. Hy het hierdie leser nogmaals verbyster met sy onverdrote kapasiteit om télkens nuwe moontlikhede in die skryfambag te ontgin. Van die vleiland tot die billabong. Politiek-bewuste tekste tot metafiksie soos in Summertime (2009). Kortverhale tot lang, uitgebreide stories soos die Jesus-trilogie. Essays oor ander skrywers is altyd leersaam wanneer ‘n mens Coetzee lees. Ons onthou hoe hy ‘n Engelse vertaling van ‘n Harry Mulisch roman stip uitmekaar gehaal het soos ‘n sjirurg met sy kennis van Nederlands. 

 

Musiek, films, geskiedenis, politiek, sosiale kwessies (o.a. die verlange na die telegram), die rol van private dokumente, maak alles deel van hierdie pakkende boek.

 

Hierdie leser het onlangs weer In the heart of the country (1977) gelees. ‘n Boek met 266 genommerde paragrawe eerder as hoofstukke. En sy 1974 debuut Dusklands, twee verhale, maar ook ‘n roman. O.a. ‘n reisverhaal in die 18e eeu. Die kritikus Jason Cowley wys op Coetzee se voorliefde vir die allegorie en simbool in Lucy Daniel se kompendium. En die isolasie van die meeste van sy stemlose karakters.

 

As Borges werk met die labirint, sien ons die spieël by Coetzee. Beide outeurs is sterk beïnvloed deur Franz Kafka. Al waarvoor ons nou wag, is ‘n roman in Afrikaans. Die prosa in hierdie puik boek is soos lug wat afgekaats word in ‘n poel water soos by MC Escher.


Met hierdie boek het hy sy tweemalige bekroning as Bookerprys- en Nobelpryswenner nogmaals en absoluut bevestig. Om op 80 plus so te kan skryf, is ‘n absolute segetog.

 

Joan Hambidge is ‘n Senior Navorsingsgenoot aan die UK. Haar jongste roman heet Stasies.