Monday, November 15, 2021

Resensie | Jan Wagner – Wat ek van klippe weet (Vertaal deur Robert Schall) | Naledi, 2021

 

Jan Wagner – Wat ek van klippe weet (Vertaal deur Robert Schall). Naledi, 2021. ISBN: 9781928530633 | Prys: R260.00

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Hierdie bundel wat sopas by Naledi verskyn het en vertaal is deur Robert Schall is een van die hoogtepunte van my leeservaring hierdie jaar. Die antologie is keurig uitgegee en die afwerking prima. Jan Wagner, gebore in 1971, word beskou as een van die gewildste digters tans werksaam in Duitsland. Hy is veelbekroonde digter en hierdie leser verstaan presies waarom.

 

Onder andere Zhongkun Internasionale Digtersprys van die Universiteit van Peking en die gesogte Georg Büchner-prys.

 

Die digter is self vertaler en essayis.

 

Die gedigte is essensieel in die trefkrag, eenvoudig (oënskynlik) met verwysings na geskiedkundige oomblikke wat die digter ontgin vir sy verse. Per voetnoot word dit oopgemaak (“störtebeker”, 61) en die mitologie word ook in verse ingevoer. Vreemde landskappe word ook bekyk: Huntsville, Texas, Australië…

 

Tegnies bedrewe met die beoefening van o.a. die sonnet, kwatryngedig, Sapfiese strofe, sestina, tersine, villanelle, haikoe en rondeel, maar ook die vrye vers én prosagedig. Ongewone rymvorme wat verdere vernuf demonstreer is soos die skuinsrym, pararym (al die konsonante pas by mekaar (tell, tall) en anagramrym gee verdere blyke van ‘n digter wat sy passies ken. Rym, soos wat digkuns-lesers alte goed weet, kan die onervare digter liederlik pootjie. Elisabeth Eybers kies dan tereg ‘n ironiese bundeltitel as Rymdwang.

 

Die leser kan telkens vergelykend lees met die oorspronklike vers links afgedruk en die vertaler se teks na regs. Ons lees verder dat die vertaler hierdie projek voltooi het as deel van ’n Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat. En veelvuldige applous aan die mentors en aan die uitgewer wat hierdie bloemlesing vir ons gee.

 

Die vertaler Robert Schall is bekend aan die lesers van Versindaba en Stilet, gebore in Duitsland en tot met sy aftrede Professor in Wiskundige Statistiek aan die Universiteit van die Vrystaat. GR von Wielligh se Boesmanstories is uit Duits vertaal as Die Sterne sind glühende Kohlen und Asche, gepubliseer in 2005.

Henning Pieterse se Rilke vertalings is eweneens ‘n hoogtepunt en kon as leermeester raad bedien.

 

Schall het Jan Wagner se gedigte vertaal as deel van ’n Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat onder leiding van Henning Pieterse en Francois Smith.

 

II

Wat ek van klippe weet aktiveer al die gesprekke met klippe in Afrikaans. Ons dink hier aan Van Wyk Louw se “Klipwerk”-reeks, Opperman en Wilma Stockenström. 

 

By Opperman die bekende “Te klip om te boom”:

 

Klip kan net klip,

sy teel is onderverdeel

tot stomme klippertjies

duinend rondmeel.

 

Boom kan net boom

word langer en ook swanger

tot singende boompies

voël óm die voorsanger.

 

Maar voorwaar:

voor boom kan boom

moet klip eers klip,

en klip teel swaar

- glo miljoene jaar.

 

Ina Rousseau, Johann de Lange, Antjie Krog het eweneens oor klippe gedig, soos die digter Ilse van Staden, Hendrik J Botha, Pieter Fourie.

 

En in die literatuurteorie herinner die Russiese Formalis Sklovskij ons aan digterlike taal wat die klip klipperiger moet maak. Die gedig moet die essensie so oordra dat die ding-likheid jou tref.

 

Ons dink aan die mitologie róndom klippe wat in elke landskap iets van daardie wêreld representeer. Die klippe in Japan wat anders lyk en voel as die klipformasies in Peru of die ronde spoelklippe in Turkye.

 

In my besit ‘n Tarotstel met die klipformasies van Macchu Picchu.

 

III

Dit gebeur nie elke dag dat ‘n resensent dit moeilik vind om ‘n keuse te maak uit die bestes in ‘n bundel nie. ‘n Mens sou die volledige bundel moes afdruk vir die leser.

Daar is reeds gewys op die uitbuiting van tegniek en die ontginning van verskillende digvorme. Die vertaler beklemtoon dat die gebruik van kleinletters dubbelsinnigheid tot gevolg het, omdat dit afwyk van die Duitse spelreëls. Dubbelsinnigheid en homonieme is hierdie digter se handtekening nes die ontginning van ryme. Die vertaler wys ook op die gebruik van “brutale enjambemente” wat die leser opnuut bewus maak van die musikaliteit van sy verse (238). Hiervan is die gedig “die études” (205) ‘n bewys:

 

…: die onverbiddelike maat-

slag van die metronoom

 

waar die klavier, soos by Robert Pinsky se gedig oor ‘n klavier in Jersy rain, ‘n hele lewe opsom en ‘n vreemde of onverwagse ars poetica word.

 

Dieselfde geld “geitjie” ‘n prosavers wat meer word as wat die geitjie is: die asosiasies met dinge buite-om wat die besondere aard van die diertjie opsom; ook ‘n primordiale simbool van die digkuns. Perfekte nabootsing. (111)

 

En aweregs is bepaald ‘n verdere kenmerk. Die vreemde dwars-blik kenmerkend aan die digterskap: om die klip klipperiger te maak.

 

Humor is daar in die beskrywing van die renoster (103). Of die verse oor pasteie (81). Kos teenoor klip, as u wil.

 

Die kleiner gedig wys dikwels mankemente uit en hier stel die digter nie teleur nie. Elke woord op sy plek:

 

ek lig die deksel

en kyk in die lyster se 

reusagtige oog (213)

 

Pragtig oor ‘n teesakkie:

 

teesakkie

 

I

net in saklinne 

gehul, tenger kluisenaar

in sy klam spelonk.

 

II

benewens ‘n tou-

tjie lei niks na bo. ons gee

hom vyf minute. (105)

 

Wonderlike implikasies hier.

 

 

Met die Anton Brant-vertalings (Brant is ‘n skuilnaam van die digter) wys die vertaler sy slag wanneer hy Afrikaanse streektaal (in voetnote geplaas) invoer. Geen sprake van ‘n gebroddel hier nie en die leser sien hoe hy die landskapwoorde van Duits na Afrikaans transporteer en dikwels moeilike gedigte naatloos vir jou neerplaas via die glossarium vir Afrikaanse streektaal.

 

Die vertaler verstaan die grein van die oorspronklike taal (Roland Barthes) en kry telkemale die regte aansluiting in Afrikaans.

 

Die digter dig assosiatief (vleiland, weiland, weikamp, kanet) op soek na die regte woord as hyself ‘n woordeboekmaker is. Die land, soos die gedig, staan soos ‘n groot harp vir die nag (157).

 

IV

Dit staan op die kliptafels geskryf dat hierdie bloemlesing met gedigte en vertalings ‘n mens lank sal bybly.

 

Wanneer ‘n goeie digter ‘n behendige vertaler ontmoet, is daar geen splinte nie:

‘n mens kan Korsika

 

reeds aan sy geur herken, sê hulle, lank

voor die eiland opduik uit die see. (89)

 

Verander korsika na digter en vertaler.

 

Die hele santekraam moet geluk gewens word met hierdie publikasie: die uitgewer, die digter, die vertaler, die mentors en die klasmaats.

 

Bronne:


Woorde Wat Weeg | Rubriek: Klippe (Besoek 27 Oktober 2021)


Prinsloo, Anton F. 2004. Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom. Pharos.


Rym | Wikipedia (Besoek 27 Oktober 2021)


Pinsky, Robert. 2000. Jersy rain. Farrar, Strauss & Giroux.


The Green Piano

Robert Pinsky

 

Aeolian. Gratis. Great thunderer, half-ton infant of miracles 

Torn free of charge from the universe by my mother's will. 

You must have amazed that half-respectable street 

 

Of triple-decker families and rooming-house housepainters 

The day that the bole-ankled oversized hams of your legs 

Bobbed in procession up the crazy-paved front walk 

 

Embraced by the arms of Mr. Poppik the seltzer man 

And Corydon his black-skinned helper, tendering your thighs 

Thick as a man up our steps. We are not reptiles: 

 

Even the male body bears nipples, as if to remind us 

We are designed for dependence and nutriment, past 

Into future. O Europe, they budged your case, its ponderous 

 

Guts of iron and brass, ten kinds of hardwood and felt 

Up those heel-pocked risers and treads splintering tinder. 

Angelic nurse of clamor, yearner, tinkler, dominator — 

 

O Elephant, you were for me! When the tuner Mr. Otto Van Brunt 

Pronounced you excellent despite the cracked sounding board, we 

Obeyed him and swabbed your ivories with hydrogen peroxide. 

 

You blocked a doorway and filled most of the living room. 

The sofa and chairs dwindled to a ram and ewes, cowering: now, 

The colored neighbors could be positive we were crazy and rich, 

 

As we thought the people were who gave you away for the moving 

Out of their carriage house — they had painted you the color of pea soup. 

The drunk man my mother hired never finished antiquing you 

 

Ivory and umber, so you stood half done, a throbbing mistreated noble, 

Genuine — my mother's swollen livestock of love, lost one, unmastered: 

You were the beast she led to the shrine of my genius, mistaken. 

 

Endlessly I bonged according to my own chord system "Humoresque," 

"The Talk of the Town," "What'd I Say." Then one day they painted you pink. 

Pink is how my sister remembers you the Saturday afternoon 

 

When our mother fell on her head, dusty pink as I turn on the bench 

In my sister's memory to see our mother carried moaning up the last 

Steps and into the living room, inaugurating the reign of our confusion. 

 

They sued the builder of the house she fell in, with the settlement 

They bought a house at last and one day when I came home from college 

You were gone, mahogany breast, who nursed me through those 

 

Years of the Concussion, and there was a crappy little Baldwin Acrosonic 

In your place, gleaming, walnut shell. You sere gone, despoiled one 

Pink one, forever green one, white-and-gold one, comforter, living soul.



Kyk hoe netjies word “Klipwerk” vertaal. Besoek 28 Oktober 2021.


 

So vertaal David Keplinger die “reënbalievariasies” / “regentonnenvariationen” na Engels. ‘n Goeie vergelykingstudie vir die leser (Besoek 28 Oktober 2021):

 

beneath the plum tree

behind the house, unmoved, cool

like a zen master.

 

*

 

a sort of oven

in negative, without smoke,

gulping up the clouds.

 

*

 

gurgled just a bit,

if you bashed hard against it,

but disclosed nothing.

 

*

 

as if the dead climbed

through her from the netherworld,

to listen to us.

 

*

 

silvery organ-

pipe, squat gutterspout: through which  

pumped all the weather.

 

*

 

one summer long

fully sated. then, with storm,

it bubbled over.

 

*

 

stay, spoke that darkness,

and your face dissolves itself 

like a sugar lump.

 

*

 

old as the garden,

redolent as forest-lake.

there: barrel of styx.

 

*

 

i lifted the lid,

twitched back. the blackbird singing

suddenly darkened.

 

*

 

awash in autumn,

it leaked out by the hundreds

the heaps of black slugs.    

 

*

 

what got imprinted

in me, framed in the barrel,

like a locket: rat.

 

*

 

last drop from the tree.      

in the quiet, quietly,

the quivering gong.

 

*

 

a brooding, brooding;

in winter, enlightenment

as a disc of ice.

 


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Versindaba)

 

Tuesday, November 9, 2021

Onderhoud | met Azille Coetzee | 2021

1 Die teenoorgestelde is net so waar is jou debuut as romanskrywer.

Dit volg na jou memoir In my vel. Jou debuut word bemark as nie-fiksie: dit is iewers tussen 'n outobiografie, verslag en reisbeskrywing. Nou skryf jy fiksie. Hoe ervaar jy die verskille in die skryfproses?

Met In my vel moes ek baie tyd in my eie geheue en psige spandeer, om dinge te probeer onthou en weer te gee presies soos dit gebeur het en gevoel het. Met Die teenoorgestelde daarenteen het dit amper gevoel of my eie buitelyne oplos. Ek dink om karakters te skryf wat nie jouself is nie verg van ’n mens om poreus te word op ’n manier, jouself oop stel vir dit wat buite jouself is. Die skryf van albei boeke was interessant en terapeuties, maar die skryf van die roman was bevrydend en verruimend op onverwagse maniere wat verskriklik lekker was.


2 Jou boek handel oor vriendskappe tussen drie vroue. Hoe sien jy vriendskappe en verbintenisse? Is vriende ‘n mens se geheue, jou gewete of blote spieëlbeelde van jou en ander?

Ja, ek dink vriendskappe vervul al daardie funksies. En ek is presies geïnteresseerd in daardie veelvuldigheid van vroulike vriendskappe – hoe dit soveel dinge gelyk vir ’n mens kan wees, hoe dit verander met tyd, hoe dit kan aanpas, hoe daar plek is vir allerhande soorte vriendskappe in mens se lewe  – hoe dit dus op ’n manier baie meer hibried en veerkragtig en vloeibaar is as meeste monogame romantiese verhoudings.


3 Jy lewer kommentaar op die private wat openbaar geword het soos Instagram en Facebook. Hoe het dit, volgens jou, vriendskappe verander? Ek dink hier aan die steelfoto by ‘n bruilof wat dan uitgestal word met implikasies vir almal.

Ek dink dis maar nog iets wat ’n mens onderhandel in jou vriendskappe. Ek gebruik nie sosiale media op ’n verskriklik persoonlike manier nie, so vir my is dit maar net nog ’n gerieflike platform om met my vriendinne te engage. Maar ek dink dis dalk ’n luxury wat ek het omdat ek nie met sosiale media grootgeword het nie. Ek kan my net indink hoe ingewikkeld hoërskool moet wees as jy dit ook op TikTok moet navigeer!


4 Jou karakters se seksualiteit is meer vloeiend – ek dink hier aan die verhouding tussen Lien en Katryn wat later na ‘n mislukte huwelik van eersgenoemde, weer hervat word.

Is die ou binariteite in genderkonstruksies nie meer geldig nie?

Dit is so ’n interessante vraag, en een wat Kabous Meiring ook aan my gestel het by die bekendstelling van die boek. Ek dink gevestigde genderkonstruksies gebaseer op ’n meer binêre verstaan van gender (hier dink ek byvoorbeeld aan die lesbiër) is absoluut nog geldig, en sal waarskynlik vir altyd bestaan, dit is hoe baie mense identifiseer. Maar ek dink dat ons vandag gelukkig genoeg is (te danke aan die aktivisme van vorige generasies) dat daar ook plek is vir ’n meer terloopse omgang met seksuele oriëntasie en gender identiteit. Ek dink my generasie het dus meer vryheid om nie altyd hul genderidentiteit in kategoriese terme hoef uit te druk of te moet beskerm nie. Natuurlik is alles nog glad nie gewonne nie, maar ek dink wel dat ons dit makliker het as wat vorige generasies dit gehad het.


5 Jy verwys na Tsjekof se Drie susters. Is dit toevallig of wou jy die teks hier met meer implikasie laai? Dis immers ‘n teks oor verspeelde kanse en verlore drome …

Dalk die ewige konflik tussen droom en werklikheid?

Verlaat Katryn die droom of nie?

Ek hou van wat jy sien hier! Ek het gedink aan Drie Susters omdat dit bekend staan as ’n toneelstuk waarin daar nie veel gebeur nie (meeste van die aksie is weg van die verhoog af) maar waar dit gaan oor die innerlike drama wat mense ervaar te midde van hul gewone doen en late en alledaagse roetines. Ek het ook gedink aan hoe die toneelstuk op ’n manier gaan oor uitgediende waardes, en die soeke na nuwe maniere van leef. Maar ek dink jou interpretasie is baie interessanter as wat ek gesien het!


6 Sliding doors met Gwyneth Paltrow ondersoek ook die teenoorgestelde wat ook kon wees. Het jy hierdie film doelbewus / onbewus gebruik as interteks?

Nee, maar ek is weer mal oor die konneksie wat jy maak! Ek het baie aan Gwyneth Paltrow en Goop gedink terwyl ek die boek geskryf het, die maniere waarop feminisme en verbruikerskultuur verweef geraak het. 


7 In my vel se sub-titel lui: 'n reis. Jy spreek hier kwessies van ras en gender en klas aan wat identiteit bepaal. Jy maak dikwels uitsprake oor ras-ongelykhede en dat die Afrikaanse letterkunde nog baie hieraan moet doen. Dink jy nie die Afrikaanse letterkunde het wel die afgelope tyd geweldig baie bruin en swart tekste gelewer nie?


Ja ek dink jy is heeltemal reg, dinge is beslis besig om te verander. Maar ek dink histories gesproke is dit ’n letterkunde wat die wit man sentraal stel as literêre stem en ek dink dit gaan nog tyd en werk kos om dinge genoegsaam te verskuif (Die verhaal van drie vroue ‘n bruilof en ‘n boerboel | Netwerk24).



8 In jou artikel in Covid Diaries: Women’s Experience of the Pandemic – met Amanda Gouws & Olivia Ezeobi as redakteurs – verwys jy tereg na Hannah Arendt. Watter invloed het sy op jou denke gehad as politieke filosoof, feminis, vrydenker? 

Ek het akademies gesproke nog nie soveel met haar gewerk nie, maar op ’n persoonlike vlak is sy ’n rolmodel vir my – as vrou, as filosoof, feminis en vrydenker. Ek versamel vroulike figure by wie ek kan leer hoe om te lewe en sy is beslis een van hulle.


9 Hoe sien jy “die banaliteit van boosheid”?

Ek dink nogal baie daaraan deesdae – die idee dat mens nie inherent boos hoef te wees om bose dinge te doen nie, dat boosheid dikwels die resultaat is van onnadenkendheid, van ons versuim om aandag te gee. Dit is vir my baie relevant in ons wêreld vandag waar daar soveel verskriklike swaarkry oral rondom ons is en waar ons ekonomiese stelsels so vernietigend is. En hoe ons onsself so aandadig maak daaraan omdat dit gerieflik is en omdat dit is wat ons gesê word om te doen. Ek weet haar konsep is baie meer genuanseerd as dit, maar dis hoe dit deesdae baie by my opkom.


10 Hoe sou haar filosofie gelyk het, as jy kon raai, indien sy nie met Heidegger bevriend geraak het aan die Universiteit van Marburg nie?

 

Sjoe, ek wonder! Ek weet nie! En dalk is dit ’n vraag wat ’n mens kan stel ten opsigte van die Westerse filosofie as geheel – hoe sou ons denke ontwikkel het as problematiese mans soos Heidegger nie so ’n groot impak daarop gehad het nie. Maar die verhouding met Heidegger is nog ’n aspek wat Arendt se lewe vir my so fassinerend maak. 

 


11 Die konsep “natality” (Natalität) en “amor mundi” (liefde vir die wêreld) is twee van haar belangrikste konsepte. (Lg. uit haar 1929 doktorale tesis oor Augustinus). Jy betrek dit in jou artikel “Everything is Cake: Reflections on Natality and the New World Order”. Kommentaar.

 

Ag ek dink ek voel sommige dae so moedeloos oor die wêreld en waarheen als oppad is en dan bied Arendt se filosofie ’n bietjie hoop. Die idee dat daar altyd die moontlikheid is vir nuwe begin en dat elke mens daardie moontlikheid dra en dat ek self die wêreld kan betree op nuwe maniere. En dan ook weer die idee om hierdie wêreld te kies (al is dit so dikwels vreemd en vervreemdend), om daarvoor te sorg, om met aandag deur die lewe te gaan, eerder as om dit te probeer ontsnap. Ek weet ek vereenvoudig haar nou gruwelik, maar dis hoe Arendt my op ’n alledaagse manier deur die lewe help!

 


12 Waaroor het jou doktorale studie gehandel?

Ek het die Belgiese feministiese filosoof Luce Irigaray in dialoog gestel met die Nigeriese feministiese denker Oyèrónké Oyĕwùmí om te kyk wat hulle by mekaar kan leer en hoe die Afrika feminisme ons kan help om Westerse- en Afrika-filosofie te dekoloniseer.


13 Jy is werk in filosofie, jy skryf ’n roman en ’n memoir. Waar lê jou hart?

 

Ek hoop nie ek hoef ooit te kies nie! Ek vind dat die verskillende registers of maniere van skryf mekaar aanvul en verdiep.

Joan Hambidge

Wednesday, November 3, 2021

Rubriek | Restaurant etiket | 2021

Voor Covid was restau-rante dikwels bestuur deur bestuurders wat uit magsbeheptheid ‘n besoeker sou dissiplineer met lawwe reëls soos ons maak eers 12.30 oop. Of nee, die kombuis is reeds gesluit.

As besoeker aan etlike restaurante hier te lande en elders het die impak van Covid sy tande gewys. Na die inperking het dieselfde stafsersant vriendelik begin optree. Jou met ope arms verwelkom.

Nou met alles wat weer begin “normaliseer”, tree daar ‘n subtiele verandering in by sekere restaurante. Hoflikheidstrategieë begin vervaag en ‘n diepe irritasie begin weer sy tande wys. 

The customer is always right? Ek dink nie so nie, maar indien die besoeker oor die vingers getik word, moet dit met beskaafdheid hanteer word.

 

Me pay, me say? Bepaald binne die grense van aanvaarbaarheid soos jy vra dat die kos asseblief nie gebrand moet wees nie en dat die vis nie op stapels groente moet staan nie. Wie het hierdie kulinênere kaplaksheid uitgevind? Kabeljou wat in ‘n tweede dood op 'n baar groente en aartappels geoffer word?

 

Serve on the left, remove on the right? Hiervan kom daar dikwels dadels met kelners wat bo-oor jou leun om iemand daar doer onder se bord te verwyder, so naby dat jy sy naambordjie kan lees!

 

Die restaurateur/restauratrice (hierdie woord(e) kom van die Latyn vir “restorer”)  mag uiteraard sy/haar etende gaste aanpraat. Dis egter die hoe wat tersaaklik is.

 

Tips? Inderdaad belangrik. 20% indien jy die kelner ken en die diens goed was. Andersins ‘n aanbaarbare 10%.

 

Jare gelede het ‘n kelnerin ‘n man wat 20c agtergelaat het, agterna gesit, hom ingehaal, en die geld voor sy voete neergegooi met ‘n verwyt:  “Hou dit, asseblief. Jy het dit bepaald nodiger as ek.”

 

Ambiance? Dis bykans die allerbelangrikste aspek van die restaurant behalwe vir kos. As daar druisende, harde musiek speel, kan dit die aand bederf. Musiek moet gewoon net gesprekke neutraliseer sodat jy nie hoor wat die man langs jou praat nie. Kinders wat op die vloer speel, is nie net steurend nie, maar kan dalk in die hospitaal land sou iemand oor hulle val. Wat ook in die hospitaal kan beland.


Who is the payee? Gaste behoort die geldkwessie voor die tyd uit te sorteer oor wie gaan betaal. En as dit ‘n gedeelde rekening is, moet die rekening ter wille van orde net gelykop verdeel te word in stede van "ek had dit / jy had dat".

 

Chatty waiter? Dit mag wanneer jy ‘n local-yokel is en die mense ken jou.

 

Vriendelikheid kos niks nie! En gesels met gaste is aan, indien hulle daarvan hou. So het ek op ‘n keer ‘n Spaanse man en vrou gewaarsku om nie die kabeljou (kabeljulle?) van die dag te bestel nie.


So ontdek ek hy is die Spaanse filmmaker, Almodóvar, se broer, Augustín.

 

Kunswerke in restaurante? Hoe nou gemaak met breekbare borde teen mure of beelde op uitstalling? Mag jy dit bewonder of aan die beeld raak?


Lewensgrootte Fernando Pessoa standbeeld voor die A Brasileira do Chiado restaurant in Garret straat, Lissabon, Portugal.


In die Kronenhalle, Z
ürich (geopen in 1924 Hulda Zumsteg) het Coco Chanel, Albert Einstein en Sigmund Freud besoek afgelê. James Joyce het glo by tafel nommer 17 Ulysses geskryf. ‘n Portret vereer hom. Dieselfde verering vind ‘n mens in Buenos Aires met ‘n lewensgrootte Borges neffens Lorca in die Café Tortini.


Ek het ‘n foto waar ek neffens die manne sit. En jy mag raak aan hierdie beelde vat, anders as in ‘n restaurant in die Hemel-en-Aarde vallei waar ‘n kelner op besoekers gegil het wat aan ‘n beeld vat.


Eisj. Sit dan die aanwysing duideliker sodat die maagdelike beeld nie versteur word nie.

 

En maak ‘n bespreking vir 31 Februarie volgende jaar om te wys hoe jy hulle waardeer. (7 restaurants with incredible art collections. Besoek 1 November 2021)

 

Dit moet nooit whining & crying word nie, maar dining & flying.


© Joan Hambidge


Sunday, October 24, 2021

Resensie | Azille Coetzee – Die teenoorgestelde is net so waar | 2021

Azille Coetzee – Die teenoorgestelde is net so waar. H&R, 2021. ISBN 978 0 7981 8235 5

Resensent: Joan Hambidge



Drie jong vroue: Lien, Katryn en Charlotte. ‘n Vriendskap tussen drie uiteenlopende vroue en die impak van Lien se bruilof op hul lewens word ondersoek. ‘n Troue in die Karoo. Die ander vriendinne is strooimeisies.

 

Inderdaad ‘n moderne Jane Austen-verhaal waar die spanning tussen Lien en Katryn opvlam.

 

Iets soos ‘n herinnering aan Sliding doors met Gwyneth Paltrow in die hoofrol in Peter Howitt se 1998 film met die vraag wat-as en wat miskien ook Krzysztof Kieślowski's se 1987 film Blind Chance oproep.

 

Ons lees ook in die roman van ‘n reeks kamera-reg oomblikke wat naatloos opmekaar volg met toneelstukke en opvoerings (60)

 

By Jane Austen is daar ‘n dans en alles beweeg vorentoe; hier is daar ‘n troue en alles draai vorentoe en agtertoe. Bruidstydskrifte word van jongsaf bestudeer; naels is gemanikuur. Konflik broei.

 

Hierdie roman – drieledig opgebou – werk met hede, verlede en toekoms en soos in die Lacaniaanse teorie rondom begeerte, werk alles in sirkels. Die knope in die psige waaraan ons verbind bly. Jungiaans gelees, kan dit argetipies benader word. Die drie vroue is waarskynlik ook verskillende aspekte van die vertellende instansie: die onvoorspelbare teenoor die intuïtiewe en die rasionele dimensie. Eros / pathos / logos.

 

Wanneer Katryn terug is in die Kaap, speel sy in ‘n Suid-Afrikaanse weergawe van Tsjekof se Drie susters. Charlotte gee vir haar ‘n rok present en Katryn hou nie van die rok wat sy in die toneelstuk moet dra nie. Maar het sy werklik ‘n trourok nodig vir hierdie produksie en waarom kry sy Lien se rok?

 

Met die aftrek Kaap toe, laat Katryn klere agter vir Lerato, haar buurvrou en joga-guru. Klere, soos ons weet uit Alison Lurie se 1981 studie, The language of clothes (Heinemann, Londen) gee bepalende sleutels tot karakters in ‘n roman en hul binnespraak. Marjorie Garber se Bisexualities (2000) is eweneens handig.

 

Wat mense eet, drink en dra is deel van die leefwyse en verduidelik optredes. Kulinêre eetgewoontes en die sogenaamde gustatory is ook hier as ‘n kode.

 

Die steelfoto by die troue word ‘n ikoniese voorstelling van rykdom en kommentaar op die eet van vleis en middelklaswaardes wat ondersoek word (101). Afrikaner-mitologie (gelaai met ironie, want die dag toe Tiaan gebore is, het vyf van die skape gelam met ‘n koperkapel in Ouma Esther se wasbak, 30) teenoor patriargale geweld (aangekondig met die dood van ‘n jakkals). Hierteenoor die vader wat ‘n gesin uitwis en die underbelly van die idilliese plaasbestaan impliseer altyd armoede en uitbuiting van ander. 

 

Die wit apartheidsbestaan word skerp geteken: vibracrete, snorre, perms …

 

Honde speel ‘n belangrike rol en die boerboel as kunsobjek is mitologies gelade (en gevaarlik). Cerberus (driekoppig) word so geaktiveer, daardie bewaker van Hades wat verhoed dat die dooies kan ontsnap. (Wat is dood? Manlike oorheersing? Die verlede?)

 

Regina die huishulp sien alles afspeel.

 

Agter die storie skuil baie feministiese vraagstukke oor aborsie, moederskap, woman-identified-woman en of ‘n vrou werklik bevryd kan wees in ‘n patriargale gemeenskap. Eetstoornisse en perfekte lywe. Prokureur, kunstenaar teenoor aktrise. The Bacherolette is hier as ‘n vingerwysing aanwesig. Jenna se kameerol verklap iets verders.

 

Daar word eweneens kommentaar gelewer op Instagram, narcisme, selfbeheptheid en hoe die private openbaar geword het. Veral Katryn se karakter verteenwoordig hierdie dimensie. Sy word immers die verwyt gemaak dat ander mense net bykarakters is in haar storie.

 

‘n TV-reeks met die titel Siembamba is ‘n verdere ingebedde ironie. Feministiese wit vroue teenoor vermoorde swart vroue sonder agentskap. Die mans soos Tiaan en Hendrik is gedugte teenspelers. ‘n Manlike professor word die objek van die jong vrou se begeerte. Daar blyk twee soorte mans te wees: dié wat gedigte stuur en die manne wat dit nie doen nie. Binariteite word deurgaans bevraagteken.

 

Die roman ondersoek die subtiele verhoudings tussen vroue wat alreeds in Afrikaans uitsonderlik deur Rita Gillfillan beskryf is in veral Die vrank smaak van frambose in 1993.


Dit is ‘n vlot vertelling met baie implikasie oor hoe jong mense leef. Kundalini en chakras netjies ingebed in ‘n roman oor indiwiduasie. Hierom eindig die slot met ‘n ring wat oorhandig word. ‘n Ring met ‘n gevaarlike geskiedenis.

 

En ook ‘n teks oor die implikasie van Begeerte (en die oneindige sirkulasie daarvan) wat deur die media geskep word en wat ons (dalk) manipuleer? Die vreemde droom op bladsy 137 illustreer dit.

 

Met In my vel (2019) het Azille Coetzee ‘n beduidende memoir gelewer (Youtube | Video: Kaapstad-bekendstelling van In my vel deur Azille Coetzee. Besoek 24 Oktober 2021).


Hierdie kaleidoskopiese roman bevestig haar talent met kommentaar op Eva wat sowel Cixous as Gallop se studies na vore bring. Die Uitgange teenoor die dogter se seduksie.


Luami Calitz se voorblad Witches is treffend en openbarend.

 

 

Bronne:

 

Chetwynd, Tom: A dictionary of symbols. Paladin Grafton Books, Londen. 1982.

 

Cixous, Hélène: Die Unendliche Zirkulation des Begehrens. Merve Verlag, Berlyn. 1977.

 

Cixous, Hélène: "Castration or Decapitation?" in Robert Con Davis & Ronald Schleifer(redd.) se Contemporary literary criticism - Literary and cultural studies. Longman, New York. 1989. 

 

                               Sorties. opgeneem in David Lodge (red.): Modern criticism and theory - A Reader. Longman, New York, 1988.

 

Gallop, Jane: Feminist accused of sexual harassment. Duke University Press, Durham. 1997.

                         

                        The daughter's seduction - feminism and psychoanalysis. Cornell University Press, Ithaca. 1982.

 

                        "Why Does Freud Giggle When the Women Leave the Room?". Lesing gelewer in die Women and humour section - NEMLA-kongres, Hartford, Connecticut. Maart 1979. 

 

Garber, Marjorie: Bisexuality & the eroticism of everyday life. Routledge, New York. 2000.

 

                        Vested interests - cross-dressing & cultural anxiety. Routledge, Londen. 1992.

 

Sunday, October 17, 2021

Resensie | Koos Kombuis - Help! My dorp hou ‘n kunstefees! | Naledi, 2021

Koos Kombuis - Help! My dorp hou ‘n kunstefees! Naledi, 2021. ISBN 978 1 928530 64 0

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie boek word bemark as ‘n crazy komedie en glo my, dis presies wat dit is. Van die komiekstrip voorblad tot die uitstal van karakters (uiteraard stereotiep) lag ‘n mens luid en lank. Koos Kombuis het nou maar eenmaal ‘n oog vir die absurde. Kunstefeeste en boekklubs. Afrikaanse sangers. Dominees en ‘n karakter met die naam Cassandra D’Ole bevolk hierdie roman.


Speels en satiries sonder erge gif, navigeer die skrywer, ‘n volksikoon, die karakters en absurde situasies. 


Sekere situasies is herkenbaar. Tyd is relatief. Ons leef immers sedert grendeltyd in die Ewige Nou. Anna M. Louw is die motto uit Die koms van die komeet. En die onherroeplike het nou met die aardbol gebeur.


Vredelus met Sanet Watermeyer-Grové. Terblanche Tuisnywerheid, hoofsanger van die groep Donker Gedagtes laat jou verder skater. ‘n Kunstefees wat die dorp op sy kop keer.


Die goeie word oënskynlik teenoor die bose geplaas: die prediker wat sy geloof verloor het en as jongeling gemasturbeer het met Scope en skuldgevoelens ervaar oor sy gelukkige jeug. Heino Declerque, die beroepsfilmmaker met ‘n filosofiese gees. Die dominee het slegte gedagtes, terwyl die filmmaker nadink oor simboliek. Almal is hier: die herkenbare politieke partye, gender- en raskwessies, protesoptogte, leuens … Met tussendeur komiekstrips van Koos Kombuis.


Bekend aan Koos Kombuis word hy self ‘n karakter in sy eie roman. Metafiksie dus met selfspot en (speelse) stekies wat uitgedeel word na ander skrywers en herkenbare mense. Die roman lees teen ‘n dolle vaart. 


Linda Hutcheon in haar studie Theory of parody. The Teachings of Twentieth-century Art Forms (1985) wys op die verskille tussen parodie, pastiche, persiflage, ensomeer.   In ons postmoderne en nou metamoderne leefwêreld teer tekste openlik én verhuld op ander tekste. Selfs in die modernisme (ek dink hier aan T.S. Eliot) is hierdie weefwerk aantoonbaar. Die parodie (send-up) en satire is twee verwante stylfigure. Hier vind ons eerder satire en dalk ‘n skeutjie self-parodie, omdat Koos Kombuis al van hierdie tegnieke aangewend het in vorige tekste. Vir my is sy hoogtepunte Somer II (as André Letoit van 1985) en natuurlik Suidpunt-Jazz (André Letoit uit 1989) en Raka die roman (2005). En Sushi with Hitler uit 2020.


Die postmodernistiese teks teer op ander tekste en uiteraard mag dit ook op eie tekste inspeel. Hier is metafiksie met Koos as ‘n herkenbare karakter (89). Daar word gespot met die postmodernisme (“Wat het van die postmodernisme geword?”) en niemand daag op vir die paneelbespreking nie.


Humor word afgewissel met pynlike insidente en kwessies: Vytjie se swangerskap op sestienjarige ouderdom, verkragting en gedaante-verwisselinge soos dié van Madelief van Biljon.

Die spot word gedryf met boekklubs en ‘n leeskultuur waar lesers nie boeke lees nie. Die biblioteek aan die einde van die wêreld word geteiken.


Byname wys op stereotipes (“Ou Pille”, Dok Olewage, byvoorbeeld). Die verskillende hofies wys op die manipulasie van die werklike outeur wat begin met ‘n Idee en eindig met Armageddon en ‘n epiloog.’n Ouktoriële roman dus soos by Dickens wat self in Oliver Twist “aanwesig” is.


Daar word eweneens kritiek uitgespreek teen godsdiens en lekepredikers. Bybelse tekste is aanwesig.


Daar is juwele: My Oupa se Skelmpie se Boetie se Kombi se Mekenniek se Selfoon se Charger en die beskrywing van gastehuise se dekor op die platteland. Pop-up restaurant en die pretensie rondom kos kom in die visier. Beurtkrag, pedofilie, sosiale media word geteiken. Die abjekte is hier en ‘n raspejoratief word toegedek. Inderdaad ‘n Bakhtiniaanse gedoente met sy siening van die karnivaleske. Jean Meiring verwys tereg hierna in sy resensie op Litnet: Help! My dorp hou ’n kunstefees! deur Koos Kombuis: ’n resensie | Litnet. Besoek 16 Oktober 2021.


In sy The Dialogic Imagination (1975) wys Bakhtin op die betekenis van die polifoniese teks en sy studie oor Rabelais is hier ter sake: Rabelais and His World (1975).


Nie om dowe neute nie word daar uit ‘n gedig van Kleinboer aangehaal:”’n bom wat stadig bars.” 

Alles op Vredelys is inderdaad crazy. ‘n Lewenslusfees?


Meer gif en afstand sou die roman sterker kon maak. Die grappe vergoed wel!


Ironie en spotspraak is hier. Skerp satire helaas nie. Bykans soos Faulty Towers?


Die roman is vir Koos Kombuis-aanhangers.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)