Op al my reise deur die jare, tel ek klippe in vreemde landskappe op. Fassinerend hoe anders klippe in Nagasaki lyk as in Turkye of Machu Picchu. Die klippe in Nagasaki is swart, donker – asof dit ‘n somber geskiedenis weergee, teenoor die ronde klippe in Turkye. Die klippe in Machu Picchu wat op ‘n rak in my kombuis staan, het skerp punte. Dit vertel iets van hoé moeisaam dit was om hierdie stad te bou.
Klippe. Dink net hoeveel gedigte bestaan daar nie oor klippe
nie. D.J. Opperman se “Te Klip om te Boom” of gedigte van Wilma Stockenström.
Ina Rousseau, Johann de Lange, Antjie Krog het eweneens oor klippe gedig, soos
die digter Ilse van Staden.
Wanneer ‘n mens lees oor die ars poetica, die gedig oor die
kuns van gedigte skryf, kan jy spesifiek ‘n klip gebruik om dit te verduidelik.
Die Tien Gebooie is op kliptafels geskryf en iets wat onveranderlik is, word
beskou dat dit in klip geskryf is.
Idiome oor klippe is volop. Om vir iemand te sê hy is van sy
klippers af, beteken hy is gek. ‘n Klipchristen ‘n huigelaar. ‘n Mens slaap
soos ‘n klip. En ‘n klipkop is ‘n dommerd of dalk iemand wat nie wil hoor nie!
Behalwe vir my gewoonte om klippe op te tel, is ek ‘n
woordeboek- en grammatikaboekleser. Ek lees woordeboeke altyd met ontsag. Waar
woorde vandaan kom en hoe hulle in die volksmond verskeie betekenisse het, is
fassinerend. Amper soos klippe wat deur kragte van buite gevorm word.
Klere word op klippe gewas.
Anton F. Prinsloo se Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom
het in 2004 by Pharos verskyn. Miskien gooi ek nou met hierdie rubriek ‘n klip
in die bos, nie waar nie? En hopelik gee ek aan u nie ‘n klip in plaas van
brood nie. Want rubrieke is ‘n holte vir die voet, ’n plek van besinning tussen
al die somber nuusberigte oor geweld, moord, verkragting en korrupsie wat ons
lewens versuur. ‘n Rubriek is soos ‘n park in ‘n stad. Die bome is tussen die
beton (of klippe) ‘n plek van lafenis, asemskep…Ons is terug by Opperman se
gedig wat hierdie opposisies uitwerk.
Nou mag u, liewe leser, dalk dink: stadig oor die klippertjies!
Of dalk mag ek my verbeelding soos ‘n klip aan die rol sit.
Daardie klippe opgetel in vreemde omgewings is soos foto’s wat ‘n mens neem op
jou reis. Jy onthou dikwels deur ‘n foto meer van ‘n oomblik, omdat jou sinne
oorweldig is. Agterna kyk jy na ‘n klipgebou in Venesië en dink: hoe mooi lyk
die groen blare nie op die stroewe gebou nie. Daardie blare en takke beskut die
gebou.
En bome? ‘n Boom gooi altyd ‘n skaduwee. ‘n Ou boom word nie
maklik verplant nie. Die boom van kennis van goed en kwaad. En gedane sake het
geen keer nie se idioom is immers “soos die boom val, bly hy lê”. In die skadu
van soveel bome (die titel van ‘n nuwe digbundel), is die beste opsomming van
die gesprek tússen digters.
Nou onthou jy presies hoe jy gevoel het op daardie reënerige
dag agter die Peggy Guggenheim-museum. Mevrou Guggenheim, so weet ons almal,
was klipsteenhard van die geld.
In haar tuin staan daar pragtige bome en beelde. Onder my
sambreel – geleen by Peggy se huis – dink ek aan die kunsskatte wat hier bewaar
word. ‘n Vesting.
Haar dogter, voortydig dood weens selfdood ná ‘n lang,
slopende depressie, se kunswerke staan ook hier, hoewel sy nie so groot soos
Klee of Braque of Picasso is nie. Vir my simboliseer sy die mens wat nêrens
tuishoort nie. Te weerloos was om haar te verset teen ellendes.
Woorde is klippe. Klippe wat gegooi kan word. In tye van
onrus, gooi mense letterlik klippe. Mense word vandag nog met klippe gestenig.
En name staan op grafstene, op klippe. So word ‘n lewe dan
opgesom tussen die geboorte- en sterftedatum.
En nou Opperman:
Klip kan net klip,
sy teel is onderverdeel
tot stomme klippertjies
duinend rondmeel.
Boom kan net boom
word langer en ook swanger
tot singende boompies
voël óm die voorsanger.
Maar voorwaar:
voor boom kan boom
moet klip eers klip,
en klip teel swaar
- glo miljoene jaar.
© Joan Hambidge
[Hierdie rubriek word met vriendelike vergunning van Die
Burger, BY geplaas.]