Friday, April 19, 2013

Alfred Schaffer - Kom in, dit vries daar buite (Vertaal deur Daniel Hugo) (2013)



Alfred Schaffer. Kom in, dit vries daar buite. (Vertaal deur Daniel Hugo) Protea Boekehuis, 2013. ISBN 978 1 86919 912 8.

Resensent: Joan Hambidge


Die volgehoue gesprek met die Ander

Daniel Hugo is ‘n gesiene vertaler van Nederlandse digters. Vir my is Hugo en Johann de Lange se vertalings presies hoé ‘n goeie vertaling daar moet uitsien. Op sy Kaapse paragrawe, sy blog, illustreer De Lange die werkswyse van die goeie vertaler: vorm en inhoud word één. As die digter ‘n sonnet skryf, moet jy die gedig in die sonnetvorm behou. Daniel Hugo begryp hierdie werkswyse ook. Hy het vir ons Herman de Coninck, Gerrit Komrij, Rutger Kopland, o.a. vertaal (behalwe vir sy uitstekende prosa-vertalings) en nou het hy die jong, dog vaardige digter, in ‘n seleksie byeengebring. Hugo is self ‘n punteneurige digter, sterk ingestel op vormbeheer en sillabes, wat kennelik getel is.

As jong en veelbekroonde Nederlandse digter bevind Schaffer hom in Suid-Afrika. Hy het jare terug ‘n rubriek behartig in Die Burger oor ons digkuns en dikwels met ‘n blik-van-buite interessante, maar soms ook omstrede uitsprake gemaak oor die digkuns. Maar hierdie soort kontensie is goed vir polemiek en hou die digters op hulle tone.

Schaffer skryf ‘n besonder boeiende soort gedig. Hy spreek ‘n “jy” of ‘n tweedepersoon aan – ons, die lesers, word dan sáám met die intiem-aangesprokene, daardie jy.

Die gedigte word gekenmerk deur ‘n vreemde mengsel van gewone, alledaagse beelde wat dan vermeng word met die aweregse blik of onkant-beeld soos in “Exit muse” (95). In hierdie vers word die geliefde-as-muse gelykgestel aan die gedig: ”Eindproduk van breedvoerige sinne”. Die gedigte is dikwels verhulde ars poeticas of te wel, gedigte-oor-die-digproses, soos “Impasse” (93). Die assosiasies tussen ‘n afspraakboek, die lewe op Mars (gesien op televisie) en ‘n pelgrimstog aktiveer die spel tussen werklikheid en verbeelding. Ook in hierdie gedig is die leser (die jy!) nie altyd seker wanneer die oorgang presies gebeur het nie.

Die gedig “die tyd laat ons koud”, vir die vermoorde Lisbé Smuts, is hartgrypend.

Die slotwoorde:

“maar ek is nie meer dieselfde nie en ewemin is ek jy. En daar kom die verdriet” (67),

problematiseer die verhouding tussen die persone, een lewend; die ander een oorlede.

Beide is deur die proses verander; iets wat nooit weer reggestel kan word nie.

“A love supreme” (65) werk met die Hoofse liefde en hoe moderne liefdesgedigte te familiêr geword het. Hierdie slim toespeling maak die gedig besonder interessant.

Die leser wat die moderne Nederlandse digkuns ken, sal verdere toespelings en intertekste kan raaklees. Op die agterblad word daar verwys na die “oorrompelende direktheid” en hoe die digter taal in sy vreemdheid laat funksioneer. Dit is natuurlik die waarmerk van die ware digter: om die klip klipperiger te maak. ‘n Ander kritikus verwys na die “koel, observerende oppervlakte en daaronder ‘n borrelende emosionaliteit”. En dit is presies hoe dit is. Met elke lees, sien jy iets wat bedreig, ontstig, seermaak – jy word ingenooi van buite na binne. Van die koue, vriesende landskap na die ruimte van die gedig: “Voorbeeld van ‘n besluit” (37) illustreer al hierdie kwessies wat Michael Riffaterre in sy Semiotics of poetry (Methuen, 1978) beskou as die interpretant van die gedig. Daardie teken wat die teks se oppervlak-tekens dra en verduidelik. In elke gedig is daar so ‘n teken wat al die ander tekens dan “verhelder”.

“Die dagbreek stol in sigbaarheid” (53) illustreer dit:

“‘n Dik rooi spoor verklaar sy tog in minute of dae.”

Die digter is besonder verbeeldingryk en sy vermoë om paradoksale toestande saam te dig, is aanskoulik.

Daar is ‘n setfout: mesdom in plaas van mensdom (101)

Dit is ‘n belangrike bundel vir alle poësieliefhebbers.Die digter het in pas in 2000 gedebuteer met Zijn opkomst in de voorstad, maar al diep spore getrap in die landskap van die digkuns. Vir my is hy ‘n moderne Lucebert.

Die gesprek met die ander (die jy) en die ewige gesprek tussen Afrikaans en die oorspronklike teks, maak van hierdie bundel ‘n uitdaging vir die leser.

Kom gerus in, Alfred Schaffer. Dit vries nie hier by ons nie.

Die situasie teen sluitingstyd

In die vlak deel van die swembad blaas ‘n man
klein wolkies in die aandlug.
‘n Paar meter verder omhels ‘n seun en meisie mekaar
vir die eerste keer – hulle skuur saggies met hul onderlywe,
hulle wil dans in ‘n nagklub, liefs tot die volgende oggend,
onder water na mekaar toe swem
en mekaar vasgryp soos wat hulle dit eenkeer in ‘n film gesien het.
Of waai en roep na die intens starende man
wat lyk of hy hom skielik bedink en maak of hy
versigtig uit die swembad klim noudat die trappelende bene
van die twee verliefdes allerlei vorms begin aanneem
in die voortdurend bewegende water.


Narkose

Die koffers in die gang die kaste leeg die vensters toe
ek wil nou niks meer hê nie. Hoe lank was ek weg
dae weke ‘n sekonde. Ek is lief vir jou dwaal soos
‘n mantra deur my kop die maan ‘n erfstuk
so naby ek kan met albei hande daaraan raak.
Drie hoera’s vir hierdie weersien, vir die sirkuswiel
vas langs die see ingeplant, die neonvrolikheid my teddiebeer
wat ek in die skiettent gewen het met net een probeerslag.
Ek het die diertjie warm gehou onder my baadjie, ‘n gryns
op sy gesig gestik – as ek hom sou oopsny
en watte uitpeul by die maag die rug die kop, sal hy aanhou
lag, stil en stug. Die nag het my ingehaal op pad terug
die lampe langs die kusweg soos ‘n string pêrels
‘n genadige gids, ‘n felle lyn elektriese lig.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Wednesday, April 17, 2013

Loftus Marais - Staan in die algemeen nader aan vensters (2009)



Loftus Marais. Staan in die algemeen nader aan vensters. Tafelberg Uitgewers, 2009. ISBN 978 624 04725 4.

Resensent: Joan Hambidge

Met hierdie debuut voel die leser dat jy bekend gestel word aan ’n jong digter wat sowel tegnies vaardig as tematies dwingend is. Dit is ’n seker stem. Dit is ’n jong persoon wat sonder skroom sy standpunt maak: teen die werklike vader, die familie, die genealogie van digters soos Harold Bloom dit beskryf in The anxiety of influence. Seksualiteit, “sonde” en veral ontluistering kom aan bod.

Die spreker reken af met ’n tradisie, maar hy bestendig dit terselfdertyd. Staan in die algemeen nader aan vensters stel jou voor aan iemand wat teen Van Wyk Louw se beiteltjie indig:” ek het ’n fokken lugdrukboor” (Die digter as rockstar, 40) en Opperman se “bottelskippie” word verwoes in ’n "Pleidooi vir vinniger kuns" (41).

Marais is dus een van die nuwe stemme wat werklik nuut is, wat die gevormde kuns ontvorm en uitmekaar ruk.

Agter die woedende opstand is daar weerloosheid. In die hartgrypende gedig oor die vader, val die kind, maar die vader beveel dat hy nie mag huil nie. ’n Sentrale gedig, wat die machismo van manwees aan die kaak stel en uitwaaier na ander gedigte. Hy ervaar die vuil hande van ’n vader as oorlogsverf op sy gesig. Hierdie bewapening of voorskrif gebruik hy teen die vader. Hy loer voyeuristies na ooms, ontmasker manlikheid en in ’n gedig oor die wederkoms is daar ’n catsuit wat fire-resistant is langs die vanity case!

Die sterk-manlike verse van Johann de Lange speel in die agtergrond, maar hier het ons die stem van die sagter man.

Hy weet ook dat poësie ’n perversie is (Op soek, 42) en heel dikwels word die leser holderstebolder aangespreek of sommer aan die keel gegryp.

Hy tipeer homself as die Ander: as draadtrekker, dief, voyeur, loerhoer, ontluisteraar, koppesneller. (Hy was immers die man wat Melanie Grobler van plagiaat aangekla het en die hele kanon dwarsklappe gegee het in die destydse Insig. In ’n latere onderhoud wel erken hy was dalk te gung ho.)

Die leser se gemoedstoestand by die lees van hierdie verse is een van bewondering vir die onopgesmuktheid, die indig tot die essensie, die afskil van (voor)oordele. Deurgaans bly jy tog bewus van weerloosheid onder die voorgee soos verwoord in Op soek (42). Die digter stap oor ’n mangat en onder draai die duiwels rond . . . Dit is ’n belangrike metafoor vir die werksaamhede in die bundel. (Die begrippe metafisika en onbewuste word in gedagte gebruik.)

Die filosofiese titel dui al op ’n skerp bewussyn met die “dinge”, soos dit in die fenomenologie heet. Die tuindwerg gee sy waarneming of blik op mense. Die meeste gedigte gee ’n vreemde blik op die gewone dinge: Sklovsky se ostranenie of die vervreemding van die digterlike aanslag kom ter sprake. Alles staan in die teken van die aweregse, die nuwe aanslag.

Die digter weet wat agter verse skuilhou in ’n gesprek met die broer: Die onsigbare word hier dikwels vir ons sigbaar gemaak.

Daar is stryd met die kanon, met stellingname, met wegskryf van die mooie en die “skone”. Daar word gekyk na uitskot en graffiti. En die liefde word gedekonstrueer in ’n aangrypende aubade.

In “Platteland-fantasie” (26) word die digkuns weggeklap en eerder na die sterre soos Braille gekyk. Die plattelandse landskap word ontluister en boertig beskryf. In ’n kroeg word ’n ou gay se sinisme sekuur beskryf.

’n Klein kragtoer is die gedig Siel (39):

hoekom dink almal die siel is inwendig?
verborge soos jou beendere, maar kleiner
soos ’n klier of juweel
of ’n teug helder lug vir ewig ingehou…
vir my’s dit eerder ’n soort peignoir
vloeibaar, satyn en stralend
gedra wanneer ek hare kam
my fopdos-kleed, my gewyde kamerjas
waarin ek vroom rondstap
soos ’n jong gloria swanson….

’n Bloekomboom staan in ’n gelyknamige gedig soos Scarlett O’Hara!

’n Windpomp is ready-made Duchamp!

Dit is ’n leeservaring van opwinding. Terselfdertyd is dit goed wanneer ’n mens ’n nuwe digter ontdek wat werklik iets om die digterlike lyf het. Wees gewaarsku: Die gedigte in die bundel is gevaarlik. Dis soos pakkies dinamiet en al is sy gedigte nie polities-betrokke nie, is dit verse met ’n “edge”.

Inderdaad breek hy sy gedigte oor ons koppe soos ’n “rockstar” dit doen (Die digter as rockstar, 40).

’n Uitstekende balans tussen tegniese vaardigheid en iets om te sê, word hier aangetref.

Ons word gewaarsku dat feite verdraai en opgemaak is. ’n Gedig is immers nie ’n getuigskrif nie; ’n goeie gedig praat vir sigself. En in die spel met gevaar, die gedrewe soektog na inspirasie (soos beskryf in “Lightning safety tips – what you should know”, 63) word gekoppel aan pyn, verlatenheid, straf . . .

Hierdie bundel het my teruggeneem na Bloom se The breaking of the vessels en die slot van Freud se Interpretasie van drome waar die droom werklikheid word.

In die droom wat Freud beskryf, ervaar die vader verlies aan die kind; hier word die gegewe omgedraai en ervaar die kind angs oor die dood van die vader. In die onbewuste ervaar hy waarskynlik ook skuld / aandadigheid en hierom dat hy bestraffing soek.

Dis ’n besonder goed afgeronde bundel.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Volksblad geplaas.]


Friday, April 12, 2013

Die liefdesgedig. ‘n Persoonlike belydenis



Valentine

Not a red rose or a satin heart.

I give you an onion.
It is a moon wrapped in brown paper.
It promises light
like the careful undressing of love.

Here.
It will blind you with tears
like a lover.
It will make your reflection
a wobbling photo of grief.

I am trying to be truthful.

Not a cute card or a kissogram.

I give you an onion.
Its fierce kiss will stay on your lips,
possessive and faithful
as we are,
for as long as we are.

Take it.
Its platinum loops shrink to a wedding-ring,
if you like.

Lethal.
Its scent will cling to your fingers,
cling to your knife.

Carol Ann Duffy

I
Daar word vertel dat glansmense in Engeland deesdae ‘n egskeidingkaartjie ontvang: Geluk met jou egskeiding en dan word ‘n winkel aanbeveel waar ‘n mens vir die geskeide geskenke kan aankoop ten einde te kan oorleef (BY, 23 Januarie 2010). Is die skeiding maar nie net die anderkant van die liefde nie? Om geskei te wees, beteken daar was ‘n verhouding. Net soos die meeste gedigte ‘n verhouding na die afloop probeer opvang.

II
Een van die grootste digters in Afrikaans, D.J. Opperman het in sy letterkundige laboratorium – wat ek bygewoon het as kritikus, want ek het toe verhale geskryf – se mantra was: skryf wég van jouself. Opperman het die objektivering van die emosie voorgestaan en hy het jong digters probeer weghou van pynlike en dikwels embarasserende onthullings oor die liefde. In Fanie Olivier se Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte kom ‘n mens wel onder die indruk van die feit dat die liefdesgedig besondere eise aan die digter stel. Die meeste verse in hierdie versameling handel oor afgelope en dikwels misgelope verhoudings.

Ekself het my hand aan ‘n hele klomp liefdesverse gewaag. (Trouens, as ek Voyager-punte vir my liefdesverse kon kry, sou ek al om die aarde kon vlieg.) En Opperman se waaksame woorde het deur die jare by my gebly. Maar hoe gemaak met die liefde wat dikwels in ‘n nuwe vorm voor jou staan?

In die vers “Vlugvertraging” uit Vuurwiel probeer die spreker via John Stammers, die Britse digter en Pablo Neruda, die Chileense digter, ‘n nuwe roete vind vir hierdie soort gedig, juis omdat die digter reeds in Verdraaide raaisels oor hierdie ervaring gedig het.

‘n Digter is uiteindelik ‘n soort teoretikus wat woorde moet weeg en opsies moet ondersoek.

Vlugvertraging

Daar was ‘n keer in Santiago
in die stad van Neruda
toe die vliegtuig nie die stad
kon verlaat.

Nog ‘n keer in Londen
in die stad van Stammers
bly ‘n vlug uitgestel,
gekanselleer.

Oor die liefde het Neruda
en Stammers veelduidig
gedig: ”Vanaand dig
ek die seerste reëls”.

Hulle het dit reeds geskryf,
beide Neruda en Stammers.
Laasgenoemde met die geliefde
in ‘n hotel – met ‘n panoramiese uitsig.

Net ek, ek sien die vliegtuie
wat sirkel, draai:
die elektroniese glimming
van ‘n slaaplose horlosie.

Drome kartets
soos ligte op die landingstrook:
‘n laaste vlug in ‘n eensame
hotelbed.

Nie ver van hier
slaap jy onrustig,
onbewus-bewus-onbewus
van hierdie klein gedig.

Ook die kuberruim word ingespan, want e-posse het die liefdesvers binnegedring nes film-verwysings soos Sleepless in Seattle en Casablanca.


Sleepless in Seattle

Bedags versend ons e-posse
na mekaar: twee reisigers
in stede vér van mekaar.

Snags besoek jy my in drome:
in die helder film van my
beeldryke onbewuste.

Miskien is drome niks meer
as ‘n e-pos versend uit
die donker skag van begeerte.

Ons sal waarskynlik nooit
in die werklikheid
mekaar só intens beleef,

of iewers, soos Meg Ryan
en Tom Hanks, op ‘n hoë
gebou mekaar moeiteloos

vind nie. Ons is immers
nie in Hollywood nie.
Maar in die landskap

van die bodemlose put:
die grenslose kuberruim.


Sleepless in Seattle II

Toe word die versendings
minder driftig, selfs ingeperk.
Die twee reisigers in stede

vér van mekaar. Vasgevang
in daaglikse roetines, veral
die opruiming van verhoudings.

Skielik is daar weer kontak:
‘n e-pos, ‘n wedersiens:
ons telepatie van ouds hervat.

Miskien hoor ek jou opmerk:
om in ‘n convertible ‘n landskap
te verken, sit ons terug in Hollywood.

Dit bly alles praatjies vir die vaak:
‘n duiselingwekkende raakvat
van begrip, verstaan tot verruiming:

“Here’s looking at you kid!”


III.

Maar die liefde neem ‘n duisend vorme aan. En ‘n mens dink hier aan die liefdesverse van Johann de Lange wie se Nagsweet vele onrustighede veroorsaak het, omdat kritici gevoel het dat dit te openlik-gay is. 1. De Lange se besegging van die liggaam of lyf, dwing bewondering af.

Tongnaai I

Roekelose gevleuelde wilde man
op jou rasendmooi snelrooi motorfiets:
jy het jou lyf een nag vir my oop-
gemaak, ‘n fyn senuagtige roos,
‘n nuutgevonde herontdekte pyn.

Boude wit en rond soos eierdoppe,
sterk geheime kluis van die liefde.
Ek weet nie dat ek jou liefhet nie,
net dat jy oopvurk vir die woord
wat my reënende tong wil plant


teen ons dood. My heupe stamel.
Jou nat voorkop, bruin bene wat span
terwyl jy swetend spook en buitel
om te kom. Ek lê langs jou, krom
soos ‘n hand, luister na jou asem

wat gejaagd ‘n ander beeld wil oproep
agter jou saamgeperste oë:
‘n paar huise weg jou vrou en kinders
soos liefdesbriewe in ‘n laai vergeet,
afgesluit van ons agterbakse plesier.


Tongnaai II

Op jou maag, met een been hoog opgetrek,
kan ek sien tot waar jou blonde beenhare
strek, verdonker en verdig, en die dik rif
van jou horing tussen harde boude in verdwyn.

Judasoog wat vir ‘n tongnaai oper plooi,
geurige kreukel met ‘n vag bruin krulle,
ring wat ritmies knel as die eerste fel spasmas
die skoot diep uit my swaar balle boontoe bring

en stoot tot by die rooi geswolle knop wat klop
en taai wit wiele oor jou rug uitrol.
Jou lyf maak my jags vir growwe taal
- hol en horing, pielkop, fok en tos -

want in my mond is sulke soepel woorde
dik en vlesig en vrank soos jy.

In die twee gedigte “Tongnaai I” en “Tongnaai II” word die twee dimensies van Orpheus en Eurydike se bestaan uitgespeel, te wete die spanning tussen lewe en dood. Ook ‘n opposisie tussen die bewuste en onbewuste is hier aantoonbaar.

In die eerste gedig behoort die geliefde nog nie volledig aan die spreker nie. Hy is nog deel van sy konvensionele lewe; die bestaan waar ‘n vrou en kinders wag – afgesluit van die agterbakse plesier wat sowel die seksuele dimensie as die verraad-element aktiveer. In die tweede gedig is daar oorgawe aan die wêreld van die spreker; die geliefde spook nie meer om te kom nie. Hy is dus nou die objek, volledig oorwin en besit deur die spreker. In die gedig “Tongnaai II” wat as ‘n tweeluik met die eerste gedig gelees moet word, word die geliefde tot objek verklaar. De Lange neem hier besit van die geliefde soos wat ‘n man die vrou tot objek verklaar. Hy de-romantiseer egter die liefdesdiskoers deur vuige woorde of begippe te gebruik. Die geliefde se anus (dik rif) word beskryf en hy besing die penis as ‘n horing. Hy vertel ook vir die leser presies wat in die liefdesdaad gaan gebeur. Die leser word medepligtige, voyeur en sien hoe die anale seks plaasvind. Tongnaai is immers sleng vir die betreding van die anus.

Dit word as ‘n “geurige kreukel” beskou, “ring wat ritmies knel”. Ons neem ook presies waar watter effek dit op die spreker sal hê: die ekstase van betreding of binnedringing. Bykans beskryf soos dit in ‘n pornografiese rolprent ervaar word en ons sien hoe hy spuit oor die geliefde se rug, om die ekstatiese oomblik uit te stel. Meer nog, die daad neem hom wég van romantiese liefdeswoorde en hy verkies die gebruik van growwe, platwoorde in die liefdesdaad. En ten slotte word die liefdeswoorde soepel in sy mond. Die gedig is dan ‘n tongnaai met dik en vlesige en vrank woorde.

Die besondere vernuftige taalspel word in die gedig “Tongval” verder ontgin. Om liefde te maak, is angelsisties, ‘n toespeling op anglisisties. Omdat Vigs die liefdesspel bedreig, is dit iets met ‘n angel. Daar is ‘n begeerte om die liefde veilig te maak: hierom ‘n soeke na uitdrukkings wat bloot op plesier ingestel is soos “seks gehad”, “naai” of “kopuleer” waarin die spreker kortstondig bevry sal word van die gevaarelement van die seksuele. Tog is die seksdaad tussen mans reeds aggressief in taal verwoord: “kom”, “skoot”, “skiet”. Dus voor die bedreiging van Vigs, is die seksuele alreeds in taal ‘n aggressiewe daad, juis deur die gebruik van oorlogsmetafore. Hierom dan dat die dood retrospektief gesaai word, omdat daar in nadenke of dig oor die seksuele gebruik gemaak word van sodanige metaforiek.

Tongval

Om te sê: ek’t saam met so-en-so
geslaap, is ‘n lieg,
want van slaap soos óns
dit ondermaans verstaan
was daar g’n sprake nie:
‘n neurotiese kwartier
op die agtersitplek van ‘n kar.
Of: ons maak liefde (angel-
sisties) terwyl ons met spits lywe
mekaar nóg dieper probeer
wond. Meer korrek sou wees
om te beweer: ons het seks gehad,
of: genaai, gekopuleer.
‘n Man sê, as hy kom (cum
op Amerikaans): ek gaan
skiet, of praat van skoot
as hy bedoel die liefdesvog.
Só word die daad van hartstog
aggressief, en word die dóód
gesaai, retrospektief.

Die “gevaarlike skoonheid” (soos Etienne Britz dit noem), is wat hierdie verse so sterk maak. Maar dit is ook die vermoë om die liefdesgedig in opstandige beelde te beskryf, wat die leser bybly.


IV.

Op die Versindaba se webblad vind ons hierdie speelse, jagse vers van Daniel Hugo wat weer ‘n ander “spin” gee op hierdie soort gedig!

Hanekraai

klokslag met dagbreek steek
‘n morning glory sy kop uit
saam met al die ander lig-
gevoelige organe wat geur
op hierdie lengtegraad

stel jou voor: triljoene ereksies
wat verskyn, weer verdwyn
en in ‘n Meksikaanse golf
reg rondom die aardbol dein
teen vyftien grade per uur

die aarde draai om die son
ter wille van ‘n voyeur

Hoe kan ‘n mens skryf oor die liefde sónder om Ingrid Jonker of Breytenbach te betrek. Of Antjie Krog?

Die liefde wat gebitterbessie-dagbreek is of die allerliefste wat by Breytenbach sóveel keer in landskappe van die taal aangespreek word? Of Van Wyk Louw se aangrypende gedig oor die geliefde wat ‘n silwer herberg in die sneeu bewoon?

Of Elisabeth Eybers?

Of Cloete wat die ouerwordende geliefde in soveel teerheid opvang?
So dig Krog in haar agterstevoor-om-sonnet waar sy die toepassing eerste plaas:

Sonnet

vanaand weet ek
dat ek jou nooit weer lief sal hê nie:
jou hande het te klein geword
om my vas te hou
jou liggaam te tenger
om my te bevry
ek het losgespoel uit pyn en hartseer
en uit jou
ek het koeie sien opstaan uit die gras
‘n dag sien sterf soos ‘n voël op sy rug
ek moet nou opstaan
en ‘n horison breek
omdat ek moeg is
vir jou nat snoet in my lies.

Of J.C. Steyn se taalspel in “Die grammatika van liefhê”:

Liefhê is ‘n tangkonstruksie,
as eenwoord-samestelling ‘n abstraksie.
Die eenwoordsin-imperatief
is nypend ongrammaties: “*Hê-lief!”
(So ‘n sterretjie, ontaalkundiges,
lig u toe dat ‘n sin ontaalkundig is.)
Lief-hê (s)kort dus ‘n onderwerp
en is – met onderwerp – onderwerp
soos wees, wat is word, aan deklinasie,
ouderwets, maar glo-nodig vir kombinasie.
Dus: “Jy/hy/sy het-lief.” Korrek?
Nee, ‘n voorwerp ontbreek, naamlik ek.
Maar die eerste persoon word verbuig,
as lydende voorwerp raak ek my.
“Jy het-lief my.”?
Nee: Het en lief word deur my geskei.
Alleen as ek vra: “Het jy my lief?”
kom jy my naby – byna-byna.
Hét jy dit nou? Begryp jy?
En hét jy nou my
en het jy my nou
lief, of liefgehad? Of sou jy, wou jy?
Is liefhet ‘n te “groot” woord vir jou, te lank?
Kort ons iets korters, met minder klank?
Iets soos min. Mín jy my?
Of is jy dalk my aan ‘t vermy?
Een min een, dag ek, maak twee
of reken jy een min een maak niks?
Iemand minus iemand gee niemand.
Een minus ‘n ander
min vinkel of koljander
saam-saam geeneen saam.

Maar ons het soveel polfyntjies in ons digkuns dat ‘n mens sal kan aanhaal en aanhaal tot in ewigheid.

“Mitsdese wil ek vir jou sê”…


V.

Roland Barthes se bekende A lover’s dicourse dra ‘n sub-titel, te wete “fragmente”.  Miskien omdat ‘n mens nooit die geliefde in volledigheid kan beskryf of besit nie.

Die “discours amoureux” is in Afrikaans só veelsydig. Barthes beskryf hoé die geliefde jou volledige universum word en dat jy later alles as tekens van die geliefde interpreteer. Ingrid Jonker se beroemde “Bitterbessie dagbreek” het hierom ookal ‘n parodie ontlok (www.litnet/poësie). [2]

Barthes skryf oor die “angoisse” of agonie wat die geliefde ervaar: die wag op ‘n wederwoord of ‘n verwerking van die afsegging, van die verby-wees oftewel, die “cri de coeur”.

Is die parodie of pastiche nie dalk juis ‘n poging om hierdie pyn te probeer systap nie?

Want die liefdesvers dra in sig die Petrarcaanse paradoks: jy raak dikwels verlief op die projeksie wat dalk niks met die werklikheid te make het nie. Laura, so skryf  kenners van die Canzoniere, het Petraraca nooit geken nie en sy was ‘n maaksel / ‘n konterfeitsel.

Tog het hy bitterlik geween toe sy dood is.

In hul prettige en dikwels skunnige bloemlesing, Die dye trek die dye aan, bring Johann de Lange en Antjie Krog die lyflike vers van al ons digters tesame. So buite bundelverband, kom lê verse tesame en stig as’t ware nuwe betekenisse aan.

So ons het nie net liefdesverse in Afrikaans nie. Ons het ook lyflike verse, naamlik waarin die liggaamlikheid van die liefde besing of  beskryf word. Sowel Krog as De Lange het die sogenaamde platvloerse woord suksesvol binne die Afrikaanse gedig ingedra; dikwels tot ontsteltenis van gevestigde kritici en lesers wat nie die belangrikheid van hierdie dekonstruksie raaksien nie. Dit wil die liefdesgedig met sy mymerende, valsifiserende diskoers neem na die harde, ruwe werklikheid van die lyflike ontnugtering of ekstase waarmee die digter (en die geliefde) moet saamleef.

En in hul antologie neem hulle ‘n vers op van I.D. du Plessis (wat staan in Vreemde liefde, 1937):

Die rooi blom van begeerte het oopgegaan
en deur die bloutes van die nag gegloei:
Dit was die uur, en ek het opgestaan
om swyend met ‘n woesteling te stoei   (p. 114).

Dalk ‘n gedig oor masturbasie? Of is die woesteling dalk ‘n werklike persoon?

Of ‘n mens ‘n twakkie lus of op die babbeljoentjie baljaar: die liefde (en die wellus) neem ‘n duisend vorme aan. Begeerte, jagsheid, verlange, verdriet word dan dikwels verwar met Die Liefde. En gedigte tree in gesprek met mekaar soos Van Wyk Louw en Cussons se liefdesgedigte bewys: Abélard en Heloïse. Soms is die geliefde ‘n intieme afwesige, een wat moet weggaan sodat jy oor hom / haar kan skryf en in Afrikaans het ons eerlike en openhartige verse oor die gay-belewenis.

En “What abou’ de lô?”
Diana was ‘n wit nôi

Martin was ‘n bryn boy  skryf Adam Small oor liefde oor kleurgrense heen (Die dye trek die dye aan, p.206) en die harde realiteite van die apartheidbestaan wat mense se lewens vernietig het.

Tog kan niemand waarskynlik wanneer dit oor die liefde handel G.A. Watermeyer se slotstrofe in “Ballade op die dronkparty” troef nie:

Die liefde is die bitter glas,
die droë glas, die donker glas;
die liefde is die naverdriet
wat in die hart se holte pas.

Hierdie gedig staan op bladsy 308 van Brink se Groot verseboek 2000.

Uitinge oor die liefde, wellus, begeerte – te veel om te noem. Maar dit bewys uiteindelik Neruda en Cussons se stelling reg dat daar geen digters is nie, maar alleen ‘n digkuns. Elke woord ontlok ‘n wederwoord.

Joan Hambidge, Kaapstad 23 Januarie 2010


Bibliografie

Barthes, Roland. 1979. A lover’s discourse: Fragments. New York: Hill and Wang.

Brink, A.P. 2000. Groot verseboek 2000. Kaapstad: Tafelberg.

De Lange, Johann. 1991. Nagsweet. Johannesburg: Taurus.
De Lange, Johann. 1998. Die dye trek die dye aan. Kaapstad: Human & Rousseau / Tafelberg. (saam met Antjie Krog).

Hambidge, Joan. 1989. Verdraaide raaisels. Kaapstad: Human & Rousseau.
Hambidge, Joan. 2009. Vuurwiel. Kaapstad: Human & Rousseau.

Olivier, Fanie. 1992. Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.


Endnote:

1. Oor die omstrede bundel Nagsweet is die volgende geskryf:

T.T. Cloete resenseer Nagsweet in Beeld van 8 Julie 1991 (“Die erotiese as vertrekpunt…”). Cloete wys op die ooreenkoms tussen Nagsweet en Wordende naak. Die vertaling van Musuo Takahashi se “Portret van myself aan die begin” plaas die gedigte in ‘n bo-Afrikaanse literêre geselskap. By die aansluiting by soortgenote in ander tale, bevind die digter hom in ‘n geselskap waar die wenkbroue nie meer gelig word oor hierdie soort gedurfde gedig nie. Die bundel is sterk afgestem op ‘n bepaalde erotiese tema. Aan die een kant is so ‘n distinktief-tematiese fokus beperkend, maar die beste gedigte in die bundel bring vanself ‘n perspektiwiese verwyding. Cloete wys daarop dat van die belangrikste belewenisse wat uit die erotiek groei, teleurstelling en verydeling is. Of die ontdekking van die dood agter die sterk uiterlike van die mens. Hy wys op die viriele liggaamlikheid in die bundel, wat ook fragiele breekbare liggaamlikheid behels. Vir hom is van die beste gedigte foto-portret-gedigte. In ander gevalle sou ‘n mens kon praat van gebeeldhoude of anatomiese gedigte. Die gedigte het nie net in hul deskriptiewe kwaliteite trefkrag nie; ook die ritme is fel en die versreëls eindig dikwels abrup. Daar word ook vernuftig met die taal omgegaan. In te veel gedigte kry ‘n mens egter die indruk dat die digter te demonstratief omgaan met die onverbloemde taal; asof hy ‘n saak wil uitmaak vir die nuwe, vrye gebruik van woorde wat voorheen heeltemal of byna taboe was in die Afrikaanse digkuns. Sommige gedigte bly steek in die seksuele en mis hierom dimensie. Daar is egter uitstekende gedigte met baie verrassende momente. Hoewel hy soms ‘n brute gedig kan skryf, is De Lange op sy beste in staat tot die vertaling van die mees delikate, getemperde menslikheid en tot ‘n geraffineerde sintuiglikheid en taalgebruik.

Joan Hambidge bespreek die bundel in Beeld van 10 Oktober 1991 (“Agter die gedurfdheid lê ‘n stuk weerloosheid”) en wys op die deurbraak-hoogtepunt-bydrae van hierdie bundel. Die uitgewer moet geloof word om die manmoedigheid en daar word gewys op die feit dat die bundel eers as Tongnaai bekend gestaan het. Die homoseksuele-aspek word uitgelig met die obsessionele verkenning van die teks-as-liggaam. Die gedig word ‘n fallus / liggaam wat aan die leser aangebied word – hierom sal / gaan dit skok of walg of aantrek. Roland Barthes se The pleasure of the text word hier tot sy uiterste gevoer.

Die tekste word as ‘n volledige ontkleedans gesien nie as ‘n blote gaping tussen liggaam en kledingstuk nie. Die taalvaardigheid en knap strukturering van die gedigte temper die morele besware. Die patriargale oortreding van die taboe word verwoord deur gebruik te maak van die Orpheus-mite. Hambidge wys daarop dat De Lange die interpretasie gebruik van Woods se Articulate flesh. Die terugkeer na Hades is vir De Lange ‘n metafoor vir die ootreding van ‘n seksuele taboe, meer spesifiek die sterk taboe dat ‘n mens in die Hades van homofiele liefde mag afdaal. ‘n Ander weergawe van die mite beweer Orpheus het weens die verlies aan Eurydike hom volledig van vroue weggekeer en die Meinades het hierom sy liggaam volledig in repe geskeur. Orpheus is egter binne folklore die vader van die gays. Hy staan vir ‘n man-gesentreerde wêreld selfs vir misogonie. Orpheus is vir De Lange beeld / simbool van die digter wat telkens met verlies moet worstel en alleen uit hierdie toestand kan skep. Die opbreek van Orpheus se liggaam en sy verhouding met mans ná sy verlies aan Eurydike is vir De Lange voorts beeld van die digter se opbreek van woorde en die versplintering daarvan. Psigoanalities gelees, is dit ‘n bundel wat die leser dwing om af te daal in die Hades van die eie onbewuste ten einde meer te wete te kom oor die eindes of verloop van jou eie vleesgedig. Dood en erotiek word dus nie om dowe neute nie so saamgedig.

Verlies en verbrokkeling – twee bekende De Lange-motiewe – word in gedig na gedig teruggevind. Die opbreek van Orpheus se liggaam (vermoedelik uit wraak, omdat hy hom nie aan die Meinade wou oorgee nie) word ‘n metafoor vir die poëtiese werkswyse in die bundel. Daar is ‘n bykans aggressiewe opbreek van (vroulike?) taalpatrone in hierdie bundel te bespeur en verbrokkeling, onvolledigheid én onvervuldheid lê ten grondslag van elke gedig. “The true body is the broken body,” aldus Norman O. Brown en hierom is dit onmoontlik om in die liefde ooit die hele liggaam volledig te te beskryf. Agter die gedurfdheid, die openlike vulgariteit en selfs liederlikheid vir die swakkes van hart, lê ‘n stuk weerloosheid. Dis ‘n manjifieke bundel, omdat die digter in hierdie bundel begin wegdig van sy vroeëre amper té romantiese aanslag.

In sy bespreking van hierdie bundel in Vrye Weekblad van 12 – 18 Julie 1991 skryf Etienne Britz vermaaklik oor “Nagsweet: Nóg ‘n aangereikte warm patat”. Hy verwys na boeke waaroor resensente hul nie uitlaat nie en hy meen dat Merwe Scholtz op bladsye 56 – 57 ‘n blerts tamatiebredie (of hoesmedisyne? dalk pyptabakkwyl?) uitgestort het op die boek. Weens die weerlose inhoud het dit volgens Britz buitengewone beskerming en toeligting nodig. Sy geliefde promotor was die ideale man om dit te doen, aangesien hy die dekadente literatuur immers briljant teenoor sy studente verdedig het en hy het ‘n hele akademiese loopbaan gewy om te verduidelik dat die talige vorm, die eie stilistiese wetmatigheid – en nie die inhoud nie – die kwessie is wat saakmaak in poësie.

Britz skerts verder deur te verwys na Cas van Rensburg se brief aan hom na sy stuk deur Insig geweier is: hulle stel nie belang in ander resensente se menings nie. Britz vra tersaaklike vrae oor die resensie-bedryf en die gekonkel agter die skerms. Dan merk hy op dat hierdie bundel reeds die vernedering moes deurmaak dat dit deur Tafelberg afgekeur is. Hy wend hom tot die Vrye Weekblad om hierdie onthulling te doen en bely dat die bundel se tematiek hom nie persoonlik aanspreek nie. Hy was selfs ‘n bietjie ongesteld oor die onsanitêre voorstellings in hierdie bundel. “Hoe nader ‘n literêre werk sny aan pynlike of onaangename waarhede, hoe harder moet ‘n mens tog veg teen jou eie selfingenomenheid, teen jou eie sone van gerief en veiligheid, want hoe nodiger het daardie werk jou vermoë om dit te kan lees”, meen Britz.

Hy tipeer die boek as ‘n gevaarlike skoonheid. Die bundel doen die dapperste werk wat ‘n literêre teks kan doen, naamlik om vir alle mense ‘n stuk vryheid te probeer wen. Dit is ‘n boek soos wat Hermans die funksie van die literatuur omskryf, naamlik ‘n boek wat die eensaamheid van alle mense ophef. ‘n Boek wat troos, bevry, bevry en stimuleer, omdat ‘n mens, meen Britz, ‘n lewe so erg of erger as jou eie lewe daarin kan terugvind. Geen boek om dus aan te reik na tweede of derde resensente nie. Dis egter ‘n boek om vol deernis te lees, te verduidelik en te beskerm.

“Hierdie tong is ‘n springmes” is die bespreking van Wilhelm Liebenberg in De Kat (Desember 1991 Jg 7: Nr. 6). Hy meen dat die belofte van Wordende naak, bekroon met die Rapport-prys, in ‘n sekere sin vervul word. Hy noem dit kaalgatpoësie. Hy analiseer die betekenis van die begrip loergat in die bundel: die loergat in die openbare toilet en die loergat in die tronkdeur. Die suggestie is vir hom dat die leser ‘n mede-gevangene word en deur die lees van hierdie poësie geraak en daardeur ryker sal word.

Onderliggend aan die bundel is ‘n soort “Judasoog”-metafisika – met al die implikasies an verraad – waarin die “dieper” betekenis van wat die mens bespeur, self ‘n loergat blyk te wees. Hy beskryf dit as ‘n postmodernistiese mîse-en-abyme. Dit maak verder van ‘n arsenaal van seksistiese metaforiek gebruik. Die metaforiek gaan gepaard met ‘n verhouding waar oorlog intiemer as liefde blyk te wees, waarin die minnaars blote skermmaats is vir latere vyandigheid. Hier, volgens Liebenberg, gaan dit om mag soos dikwels ook in “hard core”-pornografie die geval is. Die tong word met ‘n springmes vergelyk, terwyl die “liefde” nie anders kan as om diep wonde te laat nie.

Ten slotte vra Liebenberg of die manier waarop die vervreemding (wat hierdie soort verhouding meebring) as tekenend van die menslike kondisie gesien kan word. Hy vra dan of dit projeksie is en hy wonder of De Lange nie hier dalk perspektief op die wyer werklikheid begin verloor met sy nou fokus deur die loergat nie.

Andreij Horn meen in Die Volksblad (10 Junie 1991) egter anders.”Verstommende talent misbruik” is die opskrif van sy stuk waarin Horn anti-gay-uitsprake maak. Hy stel hierdie bundel gelyk aan ‘n bevrydingstryd waarin die persoon aanvanklik die nuwigheid van sy regte misbruik. Volgens Horn was Wordende naak ‘n “stylvolle” betreding van die homoërotiek.  Hy noem die gedigte “soms tydloos elegant” en “met ‘n onweerstaanvare begrip vir die eise van die homoseksuele leefwyse afgerond”. Volgens hom het hierdie bundel baie simpatie gewek en is dit alles tekens van ‘n “volwasse verwerkte emosiebalans”. Horn bevind dat hy kuns gemaak het uit die pyn van “uitsluiting en verwerping”. Horn meen hy kon voortgebou het op die begrip van Wordende naak, maar hy het egter ‘n bundel gelewer wat hy beskou as een met groteske verse. Hierin word die kru-aspekte van homoseksuele omgang  in die fynste besonderhede beskryf. Hy bevind dat die bundel walglik is. Horn skryf: “De Lange verkrag jou daarmee. Hy doen sy ding sonder aansiens des persoons. En hy druk dit in jou keel af. Hy vryf jou dit onder die neus. En hy stoot jou van hom weg.” Hy erken wel die meesterlike hantering van die woord. Hy bevind dat hy ‘n knap digter is met ‘n verstommende talent wat onmiskenbaar is. Hy hoop dat De Lange uit hierdie “fase” sal breek en hy mis die volwassenheid en beheersdheid van ‘n Wordende naak.

Marthinus Beukes resenseer die bundel as “Die sweet van die erotiese spel” in Die Transvaler (12 September 1991). Hy sien voyeurisme as ‘n vooropgestelde tema in hierdie bundel en hierom moet die oog as kode raakgelees word. Alle seksuele verhoudings is dus momenteel in hierdie wêreld van cruising wat hy tipeer as reisigers-van-een-nag. Hy vind egter dat die eensydige beskrywing van die homoërotiek ‘n beswaar is wat teen De Lange ingebring kan word, omdat die seksuele daad geteken word as pervers, liefdeloos en sig slegs ten doel stel om seksueel te bevredig.  Die heelheid en duursaamheid van die enkelverhouding bestaan nie en die spreker bly voortdurend soekend. Die bundeltitel kan gesien word as ‘n simptoom van vigs en tuberkulose. Hy let op die deurdagte komposisie van die bundel met die motto’s om die onvoltooidheid van verhoudings, alleenheid en soeke na geliefde(s) oor te dra.

Henning Snyman bespreek die bundel in Rapport van 14 Julie 1994 (“Skokkende word literêre skoonheid”). Hy verwys na die komplekse aard van hierdie poësie wat begryp moet word binne die denksfeer waarbinne dit bestaan. Hy kan egter net lukrake opmerkings maak by gebrek aan ruimte. Hy sien die bundel as ‘n tweeluik van Wordende naak en die leser moet bekend wees met die digkuns van Whitman, García Lorca, Allen Ginsberg, W.H. Auden en Wilfred Owen. Op sigwaarde handel die gedigte oor die lyflike, maar met die ordende mag van die woord word die oënskynlik skokkende gegewe tot literêre skoonheid verwerk. Die bundel beantwoord aan die elementêrste eis van die letterkunde: die styl moet die gegewe pas. En, dit moet mensgerig wees. Alhoewel die meeste van die gedigte as flitse van die gay-wêreld beskou kan word, word dit ook die verhaal van menslike eensaamheid, vir die vrees vir die tyd en ouderdom, die tragedie van onvervuldheid en verlore liefde, die ironie van menslike illusies en verlangens en die wrangheid waarmee ons helaas moet saamlééf. Dit word ‘n inventaris van dié emosies wat menswees kenmerk. Die eerlikheid van die gedigte mag moontlik skok, maar as sodanig daag dit die samelewing en sy moraliteite uit tot gesprek en self-ondersoek. Dit is ontbloot van huigelary en so gelees, lewer dit sosiale kommentaar. Dit is ‘n gesprek wat steeds wag op ‘n antwoord. De Lange bring met hierdie bundel ‘n nuwe volwassenheid in die digkuns en dit is ‘n volwassenheid, volgens Snyman, wat nie terugstuit vir tematiese waagmoed nie. Dit is vorm die poëtiese ekwivalent van Aucamp se Volmink: dit is ‘n verslag van “volmaaktheid in die verminking”.

In ‘n berig van 7 Desember 1990 in Die Volksblad (“Uitgewer sê nee vir bundel”) word berig dat die bundel Judasoog, die eerste titel vir Nagsweet, afgekeur is deur Tafelberg uitgewers en toe uitgegee is deur Taurus. Die skildery van Battiss gee ‘n realistiese afbeelding van ‘n manlike geslagsorgaan. Die uitgewer, Danie van Niekerk verwys net na die meningsverskil oor die omslag van die bundel en lewer egter nie kommentaar op die inhoud van die bundel nie.

2.
Bitterbessie dagbreek
‘n Huildronk op Ingrid

Bitterbessie dagbreek
bitterbessie nag
Lacan het gebreek
tussen ons met mag
Vind jou in my verse
nes korrels lood
alles bly méconnaissance:
‘n vervloekte woord
Reis deur herinnering
beweeg ek deur vergeet
verdwaal ek in ‘n kring
wat terug lei na my leed
Vind net ‘n eggo
in kierang nabootsing
om opnuut so bedroë
‘n pastiche voort te bring
Eggo is ‘n antwoord
antwoord is ‘n eggo
bitterbessie dagbreek
bitterbessie nag

Joan Hambidge


 [Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Versindaba geplaas.]