Tuesday, July 16, 2024

Resensie | Henda Olivier - Onder water. Human & Rousseau, 2024

Henda Olivier - Onder water. Human & Rousseau, 2024. ISBN: 9780798184571, Sagteband, 272 bladsye, R 340,00.

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Onder water is die tweede roman geskryf deur Henda Olivier. Die hele problematiek van seksuele identiteit en agentskap word onder die loep geneem. Die slim gekose titel werk met die onbewuste as ‘n bergplek (Freud) wat deur koerantberigte, gesprekke of films ontsluit kan word. Dit vertel die verhaal van Rebekkah Keller wat haar pa aan die dood afstaan as tiener. Dit is eerste die motoriese moment vir die verhaal.

 

Swem word ‘n ontvlugting uit hierdie ellende. Boonop is haar moeder emosioneel onstabiel en ‘n opgaarder. 

 

Die hele kwessie van die plaas en ‘n veiling word ook bekyk. En aanvalle soos op Hannes. Daniël (God is my regter in die Hebreeus) en Rebekkah (om te bind in die Hebreeus) is die twee hoofspelers in ‘n pynlike geding van hoe daar vergeet en verberg word. Ten einde te oorleef.

 

‘n Onderwyser ontferm hom oor Rebekkah en is haar swemafrigter. Twintig jaar later, as geskeide vrou, is sy werksaam by ‘n prokureursfirma. ‘n Vriendin stuur ‘n boodskap aan haar en haar hele verlede “spoel soos ‘n fratsgolf oor haar”. Dit is die tweede motoriese moment.

 

Nou wil hierdie leser nie die leeservaring bederf vir die voornemende leser nie. Dit is pakkend geskryf en jy word ingetrek in die stroom van herinneringe, bedrog, voorgee en jaloesie. ‘n Toe versus ‘n nou. Die huwelik en familieskap as ‘n benoude en gereguleerde ruimte waaruit die hoofkarakter nie kan ontsnap nie. 

 

Op bladsy 49 word die baboesjkapoppies as simbool gebruik. En dis hoe ‘n mens hierdie boek moet ontsluit: die reëls van jag geleer by die vader teenoor die man en seuns wat op Rebekkah jag maak. Briewe teenoor sosiale media en die impak van Facebook. Die liefdeswoord “bokkie” teenoor die natuur waar bokke gejag en geskiet word. Bon Jovi versus boere-idiome. Die invloed van drank op laataandboodskappe.

 

Daar is verwysings na Orkney snork nie en Riaan Cruywagen, onder andere, wat ‘n spesifieke tydvak aandui teenoor name van bekende eet- en drinkplekke in Klaarfontein/Bloemfontein. Vraisemblance dus.

 

Die adder wat kan kamoefleer, is ‘n belangrike simbool. Hy hoef nie te jag nie; sy prooi kon na hom toe (59). Die jagmetafoor is deurgaans aanwesig soos die spitsmuis wat sy prooi vergiftig en aan hom bly vreet, selfs vir vyftien dae lank (159).

 

Die #MeToo-beweging, waar veral vroue opgestaan het teen sosiale misbruik, word hier ingebed. Rebekkah se ellende word word geplaas teenoor Evert, waar sy ouers namens hom by die prokureur ‘n klag wil aanhangig maak. Oor ‘n ouer vrou se ontoepaslike gedrag. Grooming en drowning. (En mag die oppasser kinders kaal bad?, is een van die vrae in die boek.)

 

Die roman ondersoek alles tussen toe en nou en hoe die landskap van die seksuele spel verander het. Camille Paglia het in Vamps & Tramps (1994) haar sterk uitgespreek teen vroue as slagoffers versus moderne feministiese kritici, wat daarop wys hoe Alfred Hitchcock, byvoorbeeld ‘n obsessie gehad het met vroue soos Grace Kelly (Rear Window) en Tippie Hedren (Marnie / The Birds). Tog is dit juis hierdie manlike blik wat sy films so fassinerend maak, aldus Paglia. (Melanie Griffith, Hedren se dogter, het hierdie aspek bevestig.)

 

Groot kuns is helaas selde polities korrek of vind closure of heling. Of maklike oplossings. 

 

Ons dink hier aan Lolita van Vladimir Nabokov in 1955 en aan die verfilming deur Stanley Kubrick in 1962, met die onvolprese James Mason, as Humbert Humbert in sy allesoorheersende verhouding met Dolores Haze, die manipulerende Lolita. Hier is die kind-as-nimfet die een wat beheer. Met Peter Sellers as Quilty. En Shirley Winters as die flirterende ma. 

 

Nou plaas hierdie spannetjie teenoor die karakters in Onder water, dan praat ons weer.

“Sy is gekwes, maar sy lewe” (270) lees ons in Onder water. Goeie letterkunde systap eenvoudige oplossings en is beslis nié sosiale of politieke traktate nie. Hannes in sy Stormerstrui teen die slot en haar huis toe neem. ‘n Goeie slot?

 

Dis werklik jammer om só te skryf oor hierdie roman, want Henda Olivier kán vertel en simbole inryg en met verwysings werk. Tussen toe en nou. Uiteindelik word dit ‘n roman vir lekkerlees. Die verwysing na ‘n kinderboek Otjan Otter is wel tersaaklik.

 

Miskien moes sy klasse gebunk het en eerder by ‘n letterkunde-onderwyser gaan leer het. Of dalk net Francoise Sagan se Bonjour Tristesse (1954) gelees het in die biblioteek saam met Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan (1937) waar vroue ook uitgelewer is aan mans. En begeerte. (In Onder Water is daar ook tydsaanduidings soos by Smit.)

 

Die implisiete verteller moes die sleutel in die metaforiese oseaan gegooi het (97) en die Pandorakis vérder oopgemaak het. Of dalk nie na Lena geluister het nie.

 

Inderdaad: Ain’t no thang but a chicken wang … (124). Die roman word bemark as ‘n nuwe stem wat dit bepaald is binne die romanza-kultus. Binne ‘n letterkunde waar krimi’s ernstig geresenseer word, is ‘n belofteryke debuut of ‘n nuwe stem ‘n swaar verdiende etiket. ‘n Nuwe “gloeiende stem” reserveer hierdie leser vir name soos o.a. Lettie Viljoen (Klaaglied vir Koos), Rachelle Greeff (Die rugkant van die bruid) of Koos Prinsloo (Jonkmanskas). Of Alexander Strachan en later: S.J. Naudé …

 

En wag maar eers met die heiningkwas en laat die boek haar lê kry.

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot en Senior Navorser aan die Universiteit van Kaapstad. Sy is digter en romanskrywer.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)


Sunday, June 23, 2024

Resensie | Justin Fox – The Wolf Hunt. Jonathan Ball, 2024

Justin Fox – The Wolf Hunt. Jonathan Ball, 2024. ISBN: 9781776194025

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Oorlog en die impak daarvan,  verdwyn nooit nie. Justin Fox, digter, fotograaf, reisiger, nie-fiksie skrywer van formaat, karteer in The Wolf Hunt al die kompleksiteite van oorlogvoering ter see. 

 

‘n Roman wat belangrik is, veral in die lig van die voort-durende, slopende oorloë wat tans die nuus oorheers: Rusland en die Oekraïne versus die Midde-Oosterse konflik. All Quiet on the Western Front (2022) is ‘n meesleurende film van Edward Berger oor WO I, gebaseer op Erich Maria Remarque se klassieke roman uit 1928. Met die verskrikkinge wat die 17-jarige Paul Bäumer alles moet trotseer. Daar is ‘n verwysing na hierdie roman en Murder on the Orient Express van Agatha Christie (29). Ook die Reader’s Digest en Moby Dick is hier (228).

 

Vérder terug in die tyd is daar die Serwiese filmmaker Emir Kustirica se Life is a miracle (2004) wat op satiriese en sardoniese manier met oorlog omgaan.  En hierdie films word met opset betrek, omdat Fox filmies en beeldend vertel. 

 

Die voorblad het ‘n sub-titel: Nazi terror in South African waves. Boonop lyk die voorblad soos ‘n berig wat uitgeskeur is uit ‘n koerant. ‘n Belangrike kode wat die leser help om die spel tussen waarheid en fiksie te navigeer.

 

Dit is Julie 1941. Engeland teenoor Simonstad. Luitenant Jack Pembroke wat sy manne moet reg kry vir die oorlog en die tyd loop uit. Admiral Dönitz wat uit Frankryk U-bote stuur. Rommel. Jan Smuts. Die Geallieerdes in Egipte. ‘n Suid-Afrikaanse, Nazi-gesinde spioen en pogings om Jannie Smuts se pro-Britse regering te ondermyn.

 

Dis ‘n hoogs leesbare verhaal en die McGuffin word hier ingespan. Die outeur gee vir ons (baie slim) ‘n glossarium voorin (en agterin nie), soos lordships (sleng vir U-boat seamen) en pongo, sleng vir Bitse soldate: “where the wind blows, the pong goes”). Of Snoekie (Snoektown) naam vir Simonstad. So word die leser dus vooraf gerig om begrippe en woorde reg te vertolk.

 

II

Die werklike outeur (Fox) gee eweneens interessante gender-perspektiewe op oorlog. ‘n Romantiese liefdesverbintenis tussen Jack en Clara. Clara wat mans se aandag geniet en Jack se hart laat pyn (158). Oorlog wat belangriker is as die liefde en die vrou wat moet wag.

 

In dieselfde tyd kyk ek weer Notorious die klassieke Hitchcock-film uit 1946 met die rol van die vrou (Ingrid Bergman) wat mans eweneens oorrompel met haar skoonheid. ‘n Spioenasiefilm van hoogstaande gehalte met Cary Grant as die een teenspeler.

 

‘n Jong offisier wat sifilis opdoen en veral die beskrywing van Mevrou Smuts en die SAWAS. Die “glory bags” wat vir die soldate gemaak word, wys hoe diep die oorlog almal geraak het.

 

Na Agatha Christie word verwys as “an old English duck”, maar in die gedagtegang van ‘n man in daardie tyd.

 

Die gebruik van Afrikaanse woorde (soos vaderland, moer, ouma, soasties, boerewors, ensomeer) gee ‘n outentieke blik op die interne belewenisse van karakters. Die navorsing is oortuigend: Die Burger word gelees en ons sien Isie en Jan Smuts. Die Universiteit van Kaapstad is hier en die wandelpaaie korrek.

 

Radio Zeesen, die SDF uniforms, Hitler se mag word deeglik beskryf. (Kyk na die ikoon tussen afdelings.)

 

En verwysings na die Bybel (Jona, o.a) en gebede is aanwesig. Wat geëet en hoe ‘n man se oë oopgesper is soos litchies bly mens by (109). Hande wat so rooi soos lobsters is. Die konkrete aspekte (die beskrywings van die see en aanvalle) word uitstekend weergegee. En jy kan die stank van kots en bevuiling ruik. En Wagner se musiek is ‘n interteks. En wanneer die verhaal ligter raak, is daar die musiek van Vivaldi.

 

Hierdie leser moes weer oplees oor die Ossewabrandwag en hul rol in die oorlog. En die verraad ontdek in ‘n dagboek. Wat alles gedoen word om almal besig te hou, word deeglik beskryf:”With Seebohms help, he penned a weekly newsletter which was pinned up in the the control room for all to read and featured on-board gossip, poems by the crew, cartoons, a crossword with specific relevance to their boat and reports from home”(108). Dis vanuit Brand se perspektief. 

 

Danse weer beleef aan die anderkant van die gevegsfront.

 

III

Die hele kwessie van wie vertel, wie kyk, die ouktoriale verteller, die geskiedenis as ‘n makro-teks teenoor persoonlike perspektiewe, word behendig hanteer en sal vir jong navorsers in die narratologie belangrike navorsing bied. Hierdie verteller gee eweneens sleutels na die mitologie en die “Lili Marleen”.

 

Om tekste te suiwer of skoonmaak, omdat dit ‘n nuwe generasie mag aanstoot gee, is verkeerd. Die integriteit van sowel die teks as tydsgees word hierdeur aangetas.

 

Die periskoop is hier ‘n belangrike kode, omdat die outoriale verteller weet wat die uiteinde sal wees. Brand se logboek en persoonlike dagboek gee ‘n blik vanuit ‘n ek-perspektief op die ellendes wat beleef word (211).

 

IV

Die skrywer speel ‘n spel met die leser. Wat dink jy weet jy van hierdie oorlog en wat word gefabriseer, byvertel?

 

Die boek word aangeprys deur die gesiene historikus Bill Nasson (kenner van die Suid-Afrikaanse oorlog) en John Maytham wat dit ‘n yarn noem. Dus ‘n storie met oordrywing en wat die verbeedling aangryp.

 

Die roman vorm deel van die gewilde Jack Pembroke-reeks. Lees hierdie roman. Dit het my oneindige leesgenot verskaf en my kennis van die oorlog en woorde verryk. En ou Engelse gewoontes en hoflikhede weer verskerp: soos daardie preprandial glasie voor die ete.

 

Die titel is meervlakkig. Die leser word deel van die soektog. 

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste roman heet Stasies (Protea).

Monday, June 10, 2024

Resensie | Corlia Fourie en Annelize van Rooyen (Samestellers) - Draaie, swaaie en afdwaalpaaie: reisstories | Queillerie, 2024

Corlia Fourie en Annelize van Rooyen (Samestellers) - Draaie, swaaie en afdwaalpaaie: reisstories. Queillerie, 2024. ISBN: 9780795802751 | R320, 00 Sagteband

Resensent: Joan Hambidge

 

Van die grootste skrywers het al hul hand gewaag aan reisbeskrywings. Paul Theroux se The Great Railway Bazaar(1975) bly ‘n baken in die ontdekking van vreemde, eksotiese landskappe. Ons is bekend met Graham Greene se Travels with my Aunt, met ene Henry Pulling, ‘n afgetrede bankbestuurder se ervarings saam met sy onkonvensionele Aunt Augusta op die Orient Express. Hy kry ‘n nuwe blik op die lewe (en sy ou self) danksy reis met sy amorele tante.

 

Hier te lande het Elsa Joubert Afrika in haar reisverhale ontgin. Haar soloreise deur Afrika in 1948 deur Uganda, Egipte en Mosambiek is uitstekend. En in 1997 verskyn Gordel van Smarag na Indonesië.

 

Die verskillende skrywers in Draaie, swaaie en afdwaalpaaie: reisstories  vertel van onverwagse én ongewone gebeure. Snaaks, bittersoet of met “heuglike” gevolge, maar immer verrykend. Reis is op alle vlakke verre-gaande. Mary Louise Pratt verwys na die "kunste van die kontaksone" in Imperial Eyes: Travel Writing and Transculturation (1992).

 

Hier is 46 skrywers opgeneem, maar belangrike reisskrywers in Afrikaans staan nie hier nie. Die voorwoord is maar skrams en dit is vir die leser onduidelik hoekom daar op sekere skrywers besluit is. Maar dit bly immer altyd samestellers se prerogatief om te kies.

 

Die verhale word in verskillende afdelings geplaas soos  ‘n Bus vol plesier, Hoe sag wieg ons bootjie, So ry die trein, Laat die wiele rol, Vlieg hoog, vlieg ver, Verblyf, Bagasie, Ontmoetings, Onvoorspelbare weer, Bestemmings, Die tale wat ons praat.

 

Reis werk altyd met dít wat jy dink jy weet van ‘n land, sy mense en kulture en die ontdekking van ‘n wrede werklikheid. Hierom kan ‘n nuwe land jou lie maak of fop.

 

Reis is immers om te navigeer tussen dit wat jy dink jy weet en die ervaring. Dikwels verstaan jy eers die impak van ‘n land en sy mense lank nadat jy teruggekeer het. Fly now, cry later.

 

Elke skets is hoogs onthoubaar en hierdie leser fokus net op ‘n paar kwessies.

 

Sophia Kapp vertel van ‘n verlore rugsak en ‘n stryd met koerierdienste geplaas teen die argetipiese verlore silwerstuk.

 

Of die besef dat die reis belangriker is as die aankoms. Of dat die natuur altyd groter is as die mens: uitmuntend vertolk deur Michèle Meyer oor die Grand Canyon.

 

Reis het met altyd taalmisverstande te make. Of met die afwesigheid van taal. In die afdeling Die tale wat ons praat, is daar ‘n subtiele faux pas, hilaries weergegee deur Renée Rautenbach Conradie met ‘n slim slot. Kort en kragtig met ‘n blomnaam met funeste gevolge: spyker-my-by-die-tuinhekkie. Stywerug en tweezerlip Franse in ‘n diplomatieke wêreld word heerlik opgestuur in hierdie snelfiksie.

 

“Gaan julle, of bly julle?” van Louis Jansen van Vuuren herinner ons aan die waansin van Covid-inperkings en reisbeperkinge. Hier vind ons die blik van buite (Frankryk) teenoor binne (die bekende).

 

‘n Skitterende skets is die een van Gerrit Rautenbach se “Uitkamp in die Fraserburg Hotel”: nostalgies, navrant en hoé die verdwyning van ‘n afgebrande hotel nooit uit die geheue gewis kan word nie.

 

Of as jy dink dat binne ‘n vreemde omgewing word Afrikaanse geskinder nie verstaan nie, soos Anzil Kulsen tereg uitwys, is jy toetentaal verkeerd. Ons ken almal die storie van die twee studente wat ‘n mooi meisie se bates op ‘n bus in Londen in kleur en geur bespreek en haar later die aand by die Suid-Afrikaanse Ambassade raakloop.

 

En hoe mense sonder taal kan kommunikeer, met welwillendheid en liefde, bewys Erika Murray-Theron: daardie gemeenskaplike taal wat mense saamsnoer in die vreemde. Hier speel dit af in Slowakye.

 

Marita van der Vyver beskryf die greyhound-reis en die mense van die VSA perfek. Saam met Jacques Pauw reis jy deur Siberië met vodka. Annemarié van Niekerk gee ‘n raak beskrywing van hoe mens soms toevallig onder die indruk kom van menslikheid, oor aanraking:” … oor die wete dat een mens ‘n ander se weggoibekertjie kan vul met veel meer as munte”(187).

 

Of reis met ‘n ou moeder wat ‘n vriendin uit Pofadder herken wat sy jare laas gesien het, groet in vreugde, maar mekaar nooit weer sien nie. Joan Kruger in “Kakamas>*<Parys> *<Pofadder” wat dit hier raak opsom:”Ons reis in ons eie taalkokon voort” (204).

 

En Kerneels Breytenbach se skitter bydrae waar hy sy storie baseer op ander se verslae en herverpak. Oor Mamma Jane se staning en verskillende kulturele tradisies. Die stem van rede teenoor bacchantiese wellustelinge (32).

 

Humor en misverstand (Martie Retief Meiring). Stinkende reisgenote (Frederik de Jager). Bedrog (Skreeusnaaks beskryf deur Nadia de Kock). Diefstal (Annelize van Rooyen). Verkeerde stasies of treine (Erika Murray-Theron). Of aanwysings wat verlore geraak het in ‘n wonderlike smokkelstorie (Elma Potgieter geplaas teenoor Kas van den Bergh). Of ‘n paspoort wat tuis in ‘n laai vergeet is (Bettie Lambrecht).

 

Of ‘n skets wat ‘n bekende verhaal oproep soos Japie Gouws dit doen in sý weergawe van Positano. Reis dan ook deur boeke. ‘n Goeie reisbeskrywing laat jou daardie plek in al sy fasette voel en ruik.

 

Daar is uiteenlopende en hoogs onthoubare reissketse saamgesnoer in hierdie versameling: Saam na die Noorde, saam met die wa!

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste roman heet Stasies.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Monday, May 6, 2024

Resensie | Hedley Twidle – Show me the place | Jonathan Ball, 2024

Hedley Twidle - Show me the place. Jonathan Ball, 2024. ISBN: 9781776193202. 228 pp. Sagteband

 

Resensent: Joan Hambidge

 

In hierdie versameling essays is daar ‘n motto voorin van Damon Galgut uit In a Strange Room oor die hele kwessie van reis. Die efemere en vervlietende aard van die reiservaring word hiermee beklemtoon. Die kamer wat jy nou betrek, word binnekort deur iemand anders beset. Alleen in die herinnering word iets bestendig of verewig.

 

In Afrikaans het Elize Botha, ‘n fyn stilis, vir ons in 1975 Afrikaanse essayiste gegee. In Italiaans is daar (vertaal in Engels) Umberto Eco se besinnende essays. In Frans ‘n hele galery essayiste van Michel de Montaigne tot Roland Barthes. In die verskillende definisies is ons altyd bewus van die persoonlike indruk of mening. En soos Susan Sontag, een van die grootste beoefenaar van die essay, tereg opgemerk het: “Style is the principle of decision in a work of art, the signature of the artist’s will”. (Sontag maak ‘n buiging hier: ‘n karakter het ‘n streep deur haar hare nes Susan Sontag.)

 

Die essay kan literêre kritiek wees, maar soms word dit ook ‘n persoonlike of politieke manifes. En dit ervaar en beleef ons in Margaret Atwood se essays uit 2005 Curious Pursuits.


Hedley Twidle gee sy siening en belewenis in Show me the place van verskillende plekke, intellektuele ruimtes, tye, die otro mundo (of hiernamaals), utopias en distopias.  Dit is hibriede tekste: iewers tussen essay en kortverhaal. Selfs met politieke kommentaar.

 

Van hier te lande (Rhodes se verdwene neus) tot die monsoon raag. In “A line of light” skryf hy oor sy ouers, en meer spesifiek, sy moeder se demensie. Hierdie leser ken min tekste waarin die pyn, ontnugtering en verdriet só ingehoue en raak beskryf word. Die rooi dagboekie verklap die aftakeling en die skrywer navigeer alles met wetenskaplike feite. (Wees gewaarsku: moenie dit lees tydens die blou uur nie.)

 

Wat hierdie versameling hoogs leesbaar maak, is die skrywer se skerp oog (en oor). Nie net as voyeur nie, maar veral as écoteur. Is reis nie, wonder hy, nie eerder om vreemde klanke en musiek te ervaar nie? ‘n Skreeuende baba op ‘n vlug huil namens die hele mensdom se ellendes, soos opgesom op die verteller se Kindle.

 

Of die geluid wat gesoute branderplankryers maak aan die begin van hul vaart. Die deeglike her-vertelling van hoé die tsoenami ervaar is deur ‘n oorlewende, tref in die maag. Want reis konfronteer jou met tekste wat jy toevallig sien of iets opteken wat jy nie werklik begryp het nie.

 

En waarskynlik nooit ten volle sal begryp nie …

 

Van George Orwell, Gandhi, Ursula Le Guin tot ‘n biblioteek met selfhelp-boeke kom onder die loep in ‘n soort ashram. Wanneer hy skryf oor Rhodes se verdwene neus, neem hy ons terug na Gogol se klassieke verhaal, Sello Duiker en natuurlik na William Kentridge se interpretasie hiervan. En ontmoetings met werklike figure wat die verhaal nog ingewikkelder maak. 

 

In hierdie klein kompendium registreer die verteller die teenstrydige emosies rondom reis. En ek gebruik met opset die begrip verteller: want die werklike Hedley Twidle skep hier ‘n vertellende instansie én fokalisator (I am a camera, I am a sound recorder, I am a eavesdropper) om sy sieninge neer te pen. En terselfdertyd slim te bevraagteken of dekonstrueer. 

 

Die tekste speel eweneens op mekaar in. Ons besef reis onthul jou verborge fantasie van jouself en jou Umwelt. Hierom is dit ‘n verregaande proses (letterlik en figuurlik). 

 

Op die voorblad word die woord essays onderstebo geplaas om waarskynlik die hele kwessie van wat die essay nou eintlik wil wees, te problematiseer. Dis helder en eerlike tekste, wat iets van hierdie tydsgees opvang. Skerwe van hoop en verbeelde plekke. Let’s save pessimism for better times, lees ons op die agterblad. En kyk wat dink hy van die akademie se negatiewe diskoerse en werkswinkels. 


Hedley Twidle

Utopia in al sy geledinge word semanties ontleed: van eutopia tot outopia. Van Thomas More tot nou. 


“Five by three” onthul iets van die kompleksiteite van moderne verhoudings. Ons leer van iets soos “polyamory”. Daar is slim intertekste (soos Calvino) en ‘n verwysing na Werner Herzog se film in 2005 Grizzly Man oor Timothy Treadwell. ‘n Film oor beer-aktiviste Treadwell en Amie Huguenard) se dood in Alaska.

 

Daar is humor, daar is slimmighede, daar is rou emosie en ‘n vermoë om disparate elemente saam te snoer. En wyshede:”Travel means relinquishing control of what music is playing around you” (166). Hier kan ‘n mens byvoeg: kos, mense, slaapplek.

 

Daar is ‘n analise van Alberto Manguel en Gianni Gaudalupi se The Dictionary of Imaginary Places (1980) en die begeerte om ander wêrelde te skep. Met ‘n skerpsinninge ontleding van Ursula Le Guin, die koningin van SciFi.

 

Die boek word tereg aangeprys o.a. deur Jonny Steinberg en Mark O’Connell, die Ierse skrywer en joernalis.

 

Ek was werklik spyt toe ek klaar gelees het en toe sommer dadelik weer begin. Sela. Netsach. Amen.

 

Joan Hambidge is ‘n senior navorser en Fellow aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste roman heet Stasies.

Tuesday, April 9, 2024

Resensie | Betsie van Niekerk – ... so ook op die aarde | Naledi 2024

Betsie van Niekerk - ... so ook op die aarde | Naledi, 2024 | ISBN 978-1-991256-59-1

Resensent: Joan Hambidge

 

Betsie van Niekerk se prosateks …so ook op die aarde kan ‘n mens net met een woord beskryf: ‘n juweel. 

 

Dit verbeeld religieuse kwessies in die Kalahari met ‘n woestynkatedraal. Dit vertel die storie van Suster Agnes, Suster Léonie, die Hondekind, Vader Simon en ouma Pop. En Rufus die koster. En Kleinklaas se begrafnis, sogenaamde die wending of denouement van die verhaal. Met ‘n Hoofouderling Herklaas. En ‘n klagskrif.

 

Die vertelling ondersoek die donker kamer van die siel (11). Die skrywer gee ‘n besondere kennis weer van die Katolieke liturgie en gebede: die gebedsweë, kruisweë, litanieë en novene (oftewel, die gebed van 9 dae), gebede tot die Drie-eenheid, gebede tot die heilige Maagd Maria, opstaangebede, gaan-slaap-gebede, die Jesus-gebed, die mag van die bidsnoer-gebed. (21)

 

Wat hierdie vertelling uitermate aangrypend én boeiend maak, is die spanning tussen die goeie en die bose wat subtiel uitgewerk word. Die verskillende ruimtes soos die woestyn teenoor die verre Lyon gee sleutels vir verskillende lewensuitkyke, maar met die universele spanning tussen geloof en twyfel (die sogenaamde “skemerwete” van die bestaan).

 

Die aankoms op ‘n poskar en hoe ‘n klein gemeenskap se vooroordele teen die afwykende of outsider funksioneer, neem hierdie leser terug na Elsa Joubert se roman uit 1988, Missionaris. Hierdie teks in sy eenvoud is egter só treffend dat die impak vir hierdie leser sterker is.

 

En die geheim oor die sonde en die hondekind (die judasbok) word netjies weggesteek. Wyfie- en mannetjieblomme is die simbole vir seksualiteit. Wanneer die dadeloes af, is kom daar klaarheid en helderte.

 

‘n Biblioteek vol verbode boeke wat brand met “otterspore” geplant in die teks, eis ‘n Jungiaanse lesing op. Kaarte van die psiges teenoor die lyflikheid wat ervaar word deur die Suster. Die verskillende karakters is argetipes: moeder en kind; die sondebok; lewe teenoor dood gekoppel aan die Christendom; die natuur wat groei aandui; water hier, wat sowel positief (Grootrivier) as negatief, ervaar word (verdrinking teenoor oorlewing); vuur wat dui op verwoesting van die Bose.


Skedels en Sandro Botticelli se Moeder en kind (1480) gee ‘n ánder belangrike sleutel vir die geheim van die teks. Ook genoemd die Madonna van die Boek, omdat die moeder lees uit die gebedeboek, die Horae Beatae Mariae Virginis. Dit is te siene in Poldi Pezzoli Museum in Milaan. ‘n Sogenaamde emblematiese skildery, net soos hierdie vertelling emblematies en dalk allegories is.

 

In 1988 het Betsie van Niekerk, ‘n bekroonde jeugverhaalskrywer, ‘n bundel Ronkedoor gelewer. En hier sien ons die hand van ‘n digter in die ragfyne beskrywings.

 

Tussen die aarde en geloof.  Tussen belewenis en emblemata. 

 

Joan Hambidge is ‘n Fellow en Senior Navorser aan die Universiteit van Kaapstad


 


 

 

 

 

 

 

 

 

Friday, April 5, 2024

Rubriek | Magiese realisme: Etienne van Heerden | 2024


I

In magiese realisme is daar altyd ‘n verteller waar die verbeelding opvallend aanwesig is met ónmoontlike reise tussen plekke en geskiedenis. Die reise kan astraal of werklik wees. En in die Suid-Amerikaanse letterkunde is dit sterk verbind aan die Katolieke Kerk. In Suid-Amerika is daar kruise en blomme vir die geliefdes langs die pad. Die afbreek van grense is opvallend in hierdie tekste. Met ‘n besoek aan Machu Picchu, wonder ‘n mens wie het of kon hierdie stad gebou het? 

 

II

 “Van die verwysings sal seker té privaat wees vir die eventuele lesers. Maar ek skryf nou in die eerste instansie om self te probeer onthou. U is gewaarsku – dis ’n notaboek! As u die vleis het, bring ek die bene.” (43)

 

Aldus Breyten Breytenbach in ’n Seisoen in die paradys (1976). En die leser moet invul, bylees, reglees. Hierdie soort tekste eis uiteraard ‘n soort suspension of disbelief op. Eventueel hier as moontlik en nie uiteindelik nie.

 

Binne die Afrikaanse letterkunde kan van Etienne van Heerden se romans as magies-realisties beskryf word. Toorberg voer ‘n gesprek met Gabriel García Márquez se 100 Years of Solitude  (Cien años de soledad) in 1967. Sy jongste roman heet Gebeente (Tafelberg). Só word die roman bemark:

Met ’n onverwagte trein kom Magistraat Imker Goedeman aan op Gebeente, ’n klein dorpie op die Vergete Grootpad noord van Sutherland. Die omgewing is geruk deur ’n opspraakwekkende plaasmoord, maar ’n nog komplekser saak moet ondersoek word: die diefstal van die melkweg. Ons is hier in die buurt van onwaarskynlikhede en eindelik word die ganse regstelsel uitgedaag. Historie, mite, allegorie en magiese realisme word sjarmant verweef in dié meesleurende roman. 

Die ónmoontlike vind plaas en ‘n plek se naam is Gebeente. Net so vind ons die naamsverandering by Márquez: Macondo teenoor Aracataca.

 

So begin die beroemde roman van Gabo:

Many years later, as he faced the firing squad, Colonel Aureliano Buendia was to remember that distant afternoon when his father took him to discover ice. At that time, Macondo was a village of twenty adobe houses, built on the bank of a river of clear water that ran along a bed of polished stones, which were white and enormous, like prehistoric eggs. The world was so recent that many things lacked names, and in order to indicate them it was necessary to point.

Macondo is ‘n stad van spieëls en water. Dis eweneens utopies. In hierdie ruimte gebeur wonderbaarlike dinge totdat daar kontak gemaak word met die buitewêreld. ‘n Treinspoor verander alles en met setlaars (binnekommers?) wat alles verander.  ‘n Amerikaanse maatskappy begin ‘n piesangplantasie en nuwe ordes geld. Opstand en stryd. Alles gebaseer op die sogenaamde Banana Massacre van 1928 met stakende werkers. Vraisemblance dus. 


Die utopia stort in duie. Daar is ‘n bloedskendige verhouding tussen ‘n neef en niggie en ‘n kind wat met ‘n varkstertjie gebore word.

 

Die niggie, ene Amaranta Úrsula, sterf by die geboorte van die kind. Net Aureliano bly oor.

Hy lees ‘n geheime manuskrip oor die Buendía-familie se hele geskiedenis. Die teks se slot buig op sigself in. Die verteller beskryf hoe Aureliano ‘n storm beleef. Hy lees oor die gedoemde familie wat uitgewis sal word. Ten slotte lees ons hoe hy lees dat Macondo uitgewis sal word …

 

Ene Gabriel (die naam van die werklike outeur) is die enigste een wat die dorpie verlaat, alvorens dit uitgewis word.

 

Hy vertrek na Parys. 

 

Die skrywer wat uiteindelik sy geboortedorp moes verruil vir internasionale erkenning en roem? Met my reis deur Colombië spreek ‘n duidelike ambivalente gevoel jeens hierdie skrywer. Endersyds word hy vereer met vlae in verskillende dorpies; andersyds kritiek op sy skryfwerk en sy uitsprake oor sy land. (Obituary/ Gabriel Garcia Marquez - BBC News | Besoek 30 Maart 2024)

 

Die plaag van imsonia en vergeet wat die Indiane na die stad bring. Die sogenaamde costumbrismo (slice of life) word uitgewys deur Jay Corwin in sy studie oor hierdie skrywer se werk (2016: 114).

 

Hy wys ook die invloed van mites en verskillende inheemse tale in hierdie roman. Ook hier is Bybelse verwysings: Genesis en Openbaring.

 

In Gebeente:

Plaasmoorde (die werklikheid van ons dag) teenoor die diefstal van die melkweg (die onmoontlike).

 

Die regstelsel wat inderdaad hier uitgedaag word en op ‘n soort kollektiewe, bykans Ou-Testamentiese wyse tot uiting kom word.

 

In Die Bybel vind ‘n mens ook die ongehoorde: ‘n dooie wat lewend gemaak word; ‘n oor wat aangroei nadat dit afgekap word; die vermeerdering van visse en brode …

 

III

My lesing van Gebeente is veral is ‘n reaksie (ek volg dieselfde roete) op Chris van der Merwe se lang en grondige bespreking op Litnet: Gebeente deur Etienne van Heerden/ ’n interpretasie - LitNet | Besoek 27 Maart 2024).

 

Van der Merwe se siening van die religieuse en Bybelse dimensie is relevant. Jissus (‘n vloekwoord) teenoor Jesus. 

 

Gebeente speel in op Toorberg (1986). Die landdros wat ‘n uitspraak moet maak oor ‘n gemeenskap se oortredings of sondes. Skrywers besoek dikwels eerste werke en in laatwerk word die gegewe met nuwe simboliese betekenisse gelaai.

 

In die Nota voorin Gebeente staan daar: “Die Magistraat in hierdie boek is nie Toorberg se Magistraat Abraham van der Ligt nie, alhoewel Gebeente se Magistraat Imker Goedeman ’n ruk saam met Toorberg se Magistraat Abraham van der Ligt in die Bellville-landdroshof gewerk het. Maar dit was lank gelede” (8).

 

Juis word hierdie ontkenning dan belangrik wanneer ‘n skrywer beweer alles is fiksie of nie gelyk aan die “werklikheid” nie.

 

Die verhaallyne van die roman is kompleks. Die dorpie heet Gebeente waar mense gearresteer word vir onder andere plaasmoorde, godslastering, verkondiging van ’n vals evangelie en “Die Diefstal van die Melkweg”.

 

Ene Jisses Losper, is die buite-egtelike seun van Altydoopvygie en na sy pa word verwys as “Verbygaande”. Sy “tjommie” heet Wolraad Woltemade. Daar is ‘n saak. Daar is onrus. Met ‘n klasse- en rassestryd. 

 

’n Landdros, ene Imker Goedeman, en die staatsaanklaer, Div de Villiers, word uit die Kaap na die dorp gestuur om die saak aan te hoor. 

 

Die gemeenskap is in oproer, met ondersteuners van Jisses, wat hom as Verlosser beskou. Ander sien hom as die vals Christus en as die dief van die Melkweg. Sommige meen hy moet gekruisig word met al die duidelike verwysings na Die Bybel en Jesus Christus.


Die Aanklaer is ‘n cowboy en rocker wat ‘n Stetsonhoed dra en die elektriese kitaar bespeel. Die magistraat twyfel aan die relevansie van die Romeins-Hollandse reg in hierdie geweste. 

Twee opponerende figure dus. 

 

Die hele kwessie van skinder en hoorsêgetuienis vorm die ondergrond van die roman. Gemeenskappe tipeer mense en gee aan hulle byname wat hul argetipiese aard opsom. (En by Van Heerden is byname altyd belangrik.)

 

Jisses Losper se ma, Altydoopvygie, is 33 jaar gelede (let op die ouderdom) deur haar pa uit die huis gegooi nadat sy deur Verbygaande swanger gemaak is. Sy is ‘n enkelmoeder wat haar kind groot maak in ’n skaapwagtershut met die naam Opkyk. Die skande van die ongehude swangerskap is eweneens tersaaklik.

 

Sy  werk by die Oog of sterrewag. Só word wetenskap teenoor mondelinge verhale geplaas. Daar is verwysings na die uitwissing van die Boesmans in hierdie geweste jare terug.

 

IV

 

Die verhaal van Gebeente – veral nou teen die pynlike agtergrond van die verdwene Joslin – aktiveer abandonment. Die kind is deur ‘n maatskaplike werker weggeneem en Jisses word alleen groot in ‘n Kaapse weeshuis. Hy het botsings met die gereg en dertig jaar later keer hy terug na sy geboorteplek.

 

Soos by Márquez is die dorpie ‘n mikrokosmos met sy eie reëls afgesny, van die buitewêreld. Ons het verwysings na Covid (adem-pes) en Eskom. Die spoorweë is ‘n plek waar mense nog salarisse kry, ofskoon die treine nie meer loop nie. Daar is verwysings na die platteland se infrastrukture wat ingegee het. Werkloosheid, armoede, diefstal. En xenofobie. Hier is die vraisemblance van die roman belangrik.

 

Die mank magistraat en die skeel landdros is die twee teenspelers met konflik uit hul studentedae tydens die strugglejare. Hulle gaan tuis in Huis Suiderkruis en as regsgeleerdes moet alle kontak vermy word. Weens hul komplekse geskiedenis met mekaar, vermy hul uiteraard enige interaksie of gesprekke.

 

Die leser wonder saam met die regsgeleerdes: Het Jisses die melkweg gesteel en het hy die verkeerde Here verkondig toe hy die Maan besing het? 

 

Gebeente is ook ‘n roman oor transformasie en ‘n rite de passage. Oorgange van verskillende tydvakke en sieninge tot die hier-en-nou in ‘n dorpie waar enigiets kan gebeur. (Van der Merwe en Wepener wys op die invloed van die sondebok in die studie oor Schoeman wat sopas verskyn het.)

 

Die Magistraat word wel mensliker (na vergiftiging) en ontwikkel deernis met Jisses. Is hy “aangetas” deur die ruimte? Die gesondheid van die magistraat en ‘n gevoel dat sy interpretasie van die regsisteem, irrelevant geword het, is van belang. Hier moet ons hom plaas teen die gegewe van Jesus se verskyning voor Pontius Pilatus wat nie betrokke wou raak by Jesus Christus se lot nie. (Mattheus: 27).

 

Die hospita Fermi skryf ‘n boek oor die geskiedenis van Gebeente en sy is eweneens iemand met haar eie sieninge. Sy is helaas ‘n dubbelspeler met haar eie agenda. Fermi, soos Van der Merwe uitwys, verwys na fermer (Frans: sluit). Om iets te sluit, maar ook oop te sluit in hierdie roman.

 

Protagonis teenoor antagonis met randfigure wat die verhaal verder argetipies laai. Die wending of denouement is dan uiteraard ‘n hoftoneel.

 

Wolraad Woltemade, Christoffel de Geest, Willem Windverwaai, Chain Moloi, MaSarge is van die belangrikste randfigure. Van der Merwe analiseer in sý die simboliese betekenisse van die name.

 

So lyk die karakters in One Hundred Years of Solitude | Besoek 30 Maart 2024:

 


Let op die “illegal relationships”.

 

V

 

Hierdie roman speel in op die hele tradisie van die Suid-Amerikaanse magiese realisme en die Nuwe Testament. Veral Márquez en Carlos Fuentes se Terra nostra (1975) is vir hierdie leser duidelike intertekste. 1.

 

Name met simboliese toespelings en die hele kwessie van verraad en vergifnis word onder die loep geneem. Moeder en seun versoen. Die hofverrigtinge is uiteraard ontstellend.

Dis ‘n lang roman wat kommentaar lewer op kollektiewe skuld en hoe verskillende wêrelde en sisteme tegelykertyd in ‘n gemeenskap bestaan. 2.

 

Die diefstal van die melkweg word ‘n simbool van die verlore drome en versugtinge wat verydel word deur ‘n wrede werklikheid. En dat alles voortbeweeg ten spyte van menslike booshede en stryd. Mense wat mank of skeel is …

 

Amos Oz het insigryk oor Judas en verraad geskryf in sy laaste roman uit 2014. Dit speel af in Jerusalem in die winter van 1959. Die leser van Gebeente kan die herskrywings van en toespelings op die lot van Jesus Christus herken. Hier word Jerusalem verplaas na die Karoo.

 

Ons weet danksy Van Wyk Louw:

 

“slotreëls is altyd sleutels meer as slotte:”

Gedig XIV b, Tristia (1962/1975: 94)

 

“Los my hier,” sê Imker Goedeman hom agterna. “Ek sal wag op die trein.”

 

Dalk ‘n aanduiding van ‘n nuwe storie, ‘n opvolg?

 

So tussen tekste (Van Heerden, Gabo, Chris van der Merwe …), werklike belewenisse van ruimtes in Suid-Amerika (deur hierdie leser) en ‘n fassinasie met magies-realistiese tekste en Die Bybel, hierdie besinning.

 

Joan Hambidge

1 April 2024

 

 

Bronne:

Amos Oz. 1999. The story begins. Essays on literature. Londen: Viking.

Corwin, Jay. 2016. Gabriel García Márquez. Londen: Palgrave.

Willie Burger. 2023. Karel Schoeman: Stiltes en stemme. Gansbaai: Naledi. 

Van der Merwe, Chris. Bespreking op Litnet (Gebeente deur Etienne van Heerden/ ’n interpretasie - LitNet | Besoek 27 Maart 2024)

 

 

Endnote:

Fuentes se roman is waarskynlik een van die grootste prestasies binne hierdie sub-genre:

 

Terra Nostra is ‘n ensiklopedie van die geskiedenis en mitologie, het ene Jose Miguel Oviedo opgemerk.

 

Spieëls wat terugflits. Die roman as ‘n enigma wat nie sy geheime verklap nie. Soos die El Escorial: ‘n basilica, paleis, biblioteek, panteon, museum, universiteit en hospitaal is, word hierdie roman iets meer as magiese-realisme. Dit is metahistoriese kommentaar wat die verbeelding inspan. 

 

‘n Roman met halberdiers. Die El Escorial (begin in 1563) as ‘n monument om die Spaanse oorwinning oor die Franse in 1557 met die Slag van St Quentin te gedenk. 

 

Ook die roman is ‘n monument binne die Suid-Amerikaanse letterkunde en moderne letterkunde. Gekonstrueer in ‘n soort triptiek-formasie. Met elke oopmaak van hierdie verstommende boek, kom jy telkens op iets af wat jy nie geweet het nie.

 

So het ek geskryf oor hierdie roman vir die Vrye Weekblad: ‘Terra Nostra’/ Cervantes en Carlos Fuentes | 1 Maart 2024

 

Vir ‘n reis na Márquez se landskap en hierdie foto is daar geneem:


 

Chris van der Merwe analiseer die hele kwessie van kollektiewe skuld en die sondebok in sy resensie op Litnet (Gebeente deur Etienne van Heerden/ ’n interpretasie - LitNet | Besoek 27 Maart 2024).

 

Saam met Cas Wepener skryf hy uitstekend oor hierdie kwessie in die studie oor Karel Schoeman:”Die uur van die engel. Reise na ‘n sondebok.”

 

© Joan Hambidge