Wednesday, May 25, 2022

Resensie | Johan Myburg – Narreskip | Protea Boekehuis, 2022


Johan Myburg – Narreskip. Protea Boekehuis, 2022. ISBN 978-1-4853-1345-8  

Resensent: Joan Hambidge



Die droom bly ’n mens jaag as rede begin te slaap

 

Narreskip van Johan Myburg se voorblad betrek die derde paneel van die drieluik wat bekend staan as Die tuin van aardse luste van Jheronimus (Jeroen) Bosch, te siene in die Prado-museum, Madrid. Ons sien hier ‘n greep uit die hel en hierdie ryk geskakeerde bundel verwys na die inferno wat die moderne mens ervaar. Ekologiese onsekerhede, geweld, die Corona-19 virus, oorlog, en uiteraard: die kondisie van paranoia.

 

Afdeling I

Die digter gebruik skipbeelde om sy gevoelens te navigeer in ‘n tyd van onrus wat alreeds in die geskiedenis opgeteken is soos die gedig “Politeia” (Boek IV) waarsku. Die digter se opleiding in die klassieke tale én sy kennis van die beeldende kuns word belangrike kodes vir die digbundel as ‘n soort bark. (‘n Kopknik na Lucas Malan se ‘n Bark vir die ontheemdes.)

 

Ons is op ‘n Ship of fools uitgelewer aan stormagtige en onvoorspelbare draaipunte. 

 

Nie een is onderlê in die kuns van laveer

nie, meen dis oorbodig om te buig oor kaart

en bakens op dié vaart, om fyn te navigeer (8).

 

Alles is onvas, onbestendig lees ons in die komplekse vers; ons is op pad na Narragonië, ‘n plek wat op geen kaart voorkom nie.

 

Die digter gee wel vir ons die kaart en transport van die klassieke wêreld waarteen hy die hier-en-nou afspeel.

 

Circe se swyne en Odusseus se lot word skitterend verwoord in “Moralia” (met verwysing na Plutargos):

 

Circe se beswymelde swyne 

steun almal op Gryllus die ot – 

van die lot een van die flinkste breine.

Circe se beswymelde swyne 

weet presies waar trek mens lyne 

tussen vark en Odusseus die sot. 

Circe se beswymelde swyne 

steun almal op Gryllus die ot (14).

 

Hierdie knap spel met rympatrone wat verbreek word met lyne / breine beklemtoon die sotheid van alles. In die derde afdeling van die gedig kry dit ‘n wrang toespeling op manlikheid (soos dit nou daar uitsien).

 

Afdeling II

Die gedigte lewer kommentaar op mense se onvermoë om te weet wanneer om stil te bly en die sosiale maskers wat ons dra:

 

Wie kan praat en wie moet swyg; 

wie het en wie kry die mirtetwyg? (21)

 

In “Note to self” (22) maan die digter homself tot (self)vermindering, tot sag praat; vra eerder vrae as wat jy stellings maak. Die satiriese en skerp blik op ander word hier op homself gedraai.

 

In “Wolkstaar” (25) fantaseer die spreker deur verskillende figure in die wolke raak te sien en uiteindelik met die wete dat geskepte Wolkekoekoeland vertroostend oor hom hang. Dit hang saam met die gedig “O dapper” (26) waar die verbeelding vrye teuels gegee word. 

 

Telkens die knusheid van die bekende en die besoeke aan ander plekke, hetsy deur boeke of in die verbeelding. “Les I” (29) is ‘n liefdesvers en die ingeboude verlies so bekend aan hierdie soort gedig wat hierdie leser treffend vind. Die geliefde en liefde word behou deur daaroor te skryf; die verlange na die lyflikheid kan helaas nie deur die gedig opgelos word.

 

In die opvolgvers “Les 2” (30) is die geliefde onbereikbaar:

 

Op dae soos dié wanneer telepatie 

so ontoereikend blyk 

begeer ek die taalreëls van jou nuwe 

onderaardse ryk.

 

In hierdie afdeling is daar selfpraat en ‘n gesprek met die onmoontlike toestande van stilte en die dood.

 

Afdeling III

In hierdie afdeling word die museum van verlore objekte besoek. Die digter se kennis van die klassieke wêreld en die kunsgeskiedenis word goed versoen in netjiese verse. 

 

“Ex ungue leone” (36) praat terug met Louw se belangrike vers en beide digters se kennis van klassieke tale en simbole flits na mekaar. Enige dosent wat intertekstualiteit wil verduidelik vir jong studente sal hierdie gesprek waardevol vind.

 

“Rhinocerus” is ‘n juweel: via Plinius tot by Dürer met die wete dat groot kunswerke jou kan laat voel (39). “Jagger reading room” (42),  wat die brand van die biblioteek aan die Universiteit van Kaapstad beskryf, sit vol ironie: Léon Gautier se La Chevalerie, ’n boek opgedra aan Miguel de Cervantes Saavedra is nie verwoes nie. Tog word die Ideale van hierdie skrywer gefnuik:

 

Gepluk uit vuur ruik dié edel ideale, en die boek,

buiteblad met goud versier, nou na roet.

 

Afdeling IV

Via Jeroen Bosch se skets word die geweld en wreedhede van ons land helder beskryf. Dit staan reeds opgeteken en die digter het oë en ore wat die nonchalante plundering van mense se organe as ‘n siek heldedaad in ‘n moetiemoord verbeeld. In die hartverskeurende gedig oor ‘n ou vrou wat vee oppas, word die leser blootgestel aan die sinnelose moord; iets wat elke dag rondom ons gebeur. Die gedig is juis so pakkend, omdat dit in ‘n liriese toonaard geskryf is. In die Afdeling VI van hierdie reeks is ons terug by Jeroen Bosch se demoniese hellevaart.

 

Die digter gee die verskillende weergawes van geweld: plaasmoorde en moetiemoorde. Haatlikheid. Onversetlikheid. In die ix-de deel beweeg ons in die fantasie van ‘n vrou wat alles beskryf vanuit die dood.

 

Afdeling V

Hier word gekyk na die impak van die grendeltyd, iets waaroor vele digters bloeiend geskryf het. Bloeiend en boeiend. En die spreker wys op hoe hierdie tyd ongeregtighede duideliker uitgewys het.

 

B(l)oeiend …

 

Afdeling VI

‘n Gedig oor die wildtuin handel oor meer as oor die wildtuin. Hier die besoekers (ryk) wat na die wrede dierelewe kyk (72). Die digter laai dit met kodes uit Dante se Heilige komedie en implisiete bybeltekste. In die gedig “Hel” via Giotto in die Scrovegni-kapel in Padua tot by Goya se Kronos en Bosch eindig die vers met die wete dat die diepste put is “van ewig vreet en ekskreteer in dié helse latrine”. (Julia Kristeva en die abjekte in Powers of horror uit 1980.)

 

“Skemer”(79) is ‘n puik distigon vir Eugène Marais en hesperiese depressie. In min, spaars woorde word Marais se siening van weemoed beskryf en sy eie uitgang beskryf in ‘n skitterende portretvers.

 

“Quinta del Sordo” (82) vir en oor die kunstenaar Diane Victor, wys op ander kant van die melancholiese munt: woede.

 

En die poging om ‘n tuin te maak, geluk nie. Hierom kan daar geen paradys wees nie.

 

Afdeling VII

“Twee ryme in die trant van Sebastian Trant” (91) is gepak met selfspot oor geleerdheid en sy eie Ptolomeus-projek. Die inkyk op sy kennis van Latyn (wat hy ook in klein tawerne-drink-gedigte opstuur) loop uit op die wete:

 

As doktor het ek meer as kalot

’n mus nodig sodat tussen grys 

my eselsore tog net nie wys

 

“Rose Tatane” (92) is ‘n skrynende, skreiende politieke vers oor onreg. Hierdie vers ruk aan die hart (Andries Tatane's Wife Killed In A Car AccidentBesoek 7 Maart 2022).


“Siedaar, die man” (96) speel in op die Ecce Homo van Wilma Stockenström en verder terug in die tyd, op Louw se bekende vers. En die wete dat dit ook die titel was van Nietzsche se teks.

 

“Hymie”(97) vir Etienne Leroux wys op die dwaasheid van alles. Ook hier vind is die satiriese aanslag.

 

“Brueghel se twee ape” (97) en “Dulle Griet” (98) werk met die primordiale. Alles wat gebeur het, word nou in die tyd herhaal. (“About suffering they were never wrong …”, aldus Auden).

 

‘n Sentrale vers is “Hillbrow” waar die digter terugkyk na sy jeug. Hy is agter in die motor van sy vader en die herinnering gebeur agterstevoorom. Toe hy uiteindelik as volwassene die stad betree, onthou hy die toring en die narreskip. Die stukkende stad word so gesien:

 

sy rug gebreek soos ’n boek argeloos hanteer

 

Le Corbusier en ander argitekte word betrek om die landskap van ‘n vervalle stad te beskryf in hierdie verruklike vers.

 

Inderdaad konkludeer die spreker:

 

Die droom bly ’n mens jaag as rede begin te slaap. (102)

 

Die swart son soos Julia Kristeva dit beskryf in Black Sun: Depression and Melancholia (vertaal deur Leon S. Roudiez) is van belang. Hierin kyk sy na die taal van melancholie in kuns, letterkunde, filosofie, godsdiens en hierdie psigoanalitiese studie is van waarde vir die begryp van Myburg se werkswyse. Die verlies aan identiteit, self, die sentrum wat nie meer bestaan nie, pakkend beskryf in ‘n vers waar Mahler in die agtergrond draal en die sermoen vergete raak … (105)

 

Diegene wat getwyfel het aan Johan Myburg se bekroning met die Hertzogprys sal nou moet toegee: hierdie is ‘n digter wat verskillende vorme en uitinge kan hanteer. Die toonaard wissel van melancholies na satiries, speels en ernstig. Verwysings na die skilderkuns (Bosch, Brueghel en vele ander) en digters (o.a. Dante, Van Wyk Louw,  Wisława Szymborska, TT Cloete) met ‘n blik op ‘n wêreld waar geweld die nuwe aanvaarbare taal geword het.

 

En ja die titel aktiveer ook die film Ship of fools (1965) deur Stanley Kramer, met Vivien Leigh (haar laaste rol), Simone Signoret, Lee Marvin en José Ferrer. Dit is gebaseer op Katherine Anne Porter se gelyknamige roman van 1962.

 

‘n Skeepsvaart van Duitsland na Mexiko in 1933.

 

Dis ‘n boek van verlies wat diep inkyk in die mitologie en primordialiteit:

Visualiseer oopgelate frases, 

die slotsom afwesig, 

en sonder om finaal te konkludeer.

 

*

 

Katabasis en anabasis word in balans gehou. Die afdaal in die hel en die gedig wat die anabasis word in ‘n psigiese opbeweeg uit ellende. Daar is ‘n fyn balans tussen verwysing en emosie in hierdie bundel.

 

In “Out of place”, wat verwys na Edward Said, het die digter ‘n kopskuif gemaak en reeds verkas uit hierdie troostelose toestand “na vistas waar niks ooit onbekender was”. Said se Orientalism en die ewige soeke na die sentrum word so opgeroep. Daardie boek oor grense en grensverskuwings uit 1978 en hoe die Weste die Midde-Ooste verkeerd verstaan of romantiseer.

 

‘n Plakkaat van Said staan in my kantoor toe daar ‘n huldigingsrede aan die UK vir hom gehou is: The Task of the Intellectual.

 

Ek sluit dan af met hierdie veelseggende gedig wat sterk resoneer met die vreemde tye waarbinne ons leef:

 

Out of place

Edward Said

 

Sonder om willens of wetens ’n skuif 

te beplan óf te maak, sonder om voet

uit die land te sit, met ’n laaste wuif 

 

te groet, het ek reeds verkas,

as kopskuif ’n grens oorgesteek na vistas

waar niks ooit onbekender was

(104)

 

Postscriptum:

 

Myburg skryf insiggewend oor die kuns van William Kentridge in Meevoerend elegant en melancholies/ William Kentridge se kortprente – LitNet. Besoek 16 Maart 2022.


Auden se beroemde gedig:

 

Musee des Beaux Arts 

W. H. Auden 

 

About suffering they were never wrong,

The old Masters: how well they understood

Its human position: how it takes place

While someone else is eating or opening a window or just walking dully along;

How, when the aged are reverently, passionately waiting

For the miraculous birth, there always must be

Children who did not specially want it to happen, skating

On a pond at the edge of the wood:

They never forgot

That even the dreadful martyrdom must run its course

Anyhow in a corner, some untidy spot

Where the dogs go on with their doggy life and the torturer's horse

Scratches its innocent behind on a tree.

In Brueghel's Icarus, for instance: how everything turns away

Quite leisurely from the disaster; the ploughman may

Have heard the splash, the forsaken cry,

But for him it was not an important failure; the sun shone

As it had to on the white legs disappearing into the green

Water, and the expensive delicate ship that must have seen

Something amazing, a boy falling out of the sky,

Had somewhere to get to and sailed calmly on.  

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van VersIndaba)

Wednesday, May 18, 2022

Gedigte | Joan Hambidge - Oggendmeditasies | 2022

 Oggendmeditasies

 

Pase 2022

 

Die nag ‘n oorvol asbak

met besoeke van en na

verre plekke, ontmoetings

met vergetenes, vertrekkendes.

 

Vrese tot die dag breek:

‘n stil gebed soos Eugenio Montale

soekend na die stil punt van die wêreld

nes Eybers in haar winter-surplus.

 

Daardie Stil punt van die aarde,

soos my vriend dig, nou onmoontlik

met modderrampe en ‘n oorlog

op ons klein en silwerige planeet.

 

In hierdie concordia discors

onthou ek Pase by my ouers,

my vader se studeerkamer

‘n atlas-van-die-wêreld.

 

Toe was alles ver en in beheer

met “Vroegherfs” ‘n gebed

vol hoop en verlossing …

Nou smag ons na berusting.




Oggendmeditasie 2

 

‘n Dooie vlieg langs ‘n skuifspeld

tandestokkie neffens ‘n bril gebreek

laat my opnuut wonder oor jou vraag:

 

hoe bepaal ons die toon van die gedig?

Amper iets soos in ‘n droom kleurloos

waarin jy verskyn en steeds knieknik?

 

Iewers tussen hierdie beelde en ritmes

en hortende metrum met weefwerk bekyk

deur Ina Sintaksis en Henning Semantiek

 

hoor ek jou smalend lag oor die gedig-

as-literatuur-teorie en sien jou wegloop

met dié nikswerd-gedig nes ‘n dooie vlieg.

 

 

 

Oggendmeditasie 3

 

Die monodie in die Griekse tragedie,

‘n lament, oor die dood van ‘n ander.

George Steiner sou waarskynlik meen

nie sprake van soiets ná die 17e eeu.

 

Treurend oor jou in ons Ioniese drama:

Creusa versaak Ion en Hermes verklap

alles van Apollo se dade in ‘n grot …

Met ‘n terugkeer word ek dalk Pythia?

 

Jy verlaat my lank terug en voetspore

in ‘n herinneringsgrot die leidraad:

jou voete loop na ‘n Griekse eiland,

maar ek ontleed οἷα εἶναι δεῖ …

 

Euripides het dit reeds vertel: verraad

en versaking, immer met ‘n terugkeer

na die plek van skending of verminking:

in my grot van herinnering ‘n trenodie?

 

 

 

Oggendmeditasie  4

 

Verloor my Mont Blanc-pen, ‘n cadeau

van haar, vind dit op ‘n ander plek gestoor:

met hierdie pen in ‘n kroeg, einste seimste

‘n weddenskap gewen: ein Meisterstück

 

korrek vertaal, want sy was ‘n Duitse nooi

wat immer lag oor my grammatika-boeke

(hoog opgestapel langs my bed ‘n berg)

met Nachfüllung vir dié pen so woekerend.

 

En vandat sy weg is, is hierdie pen op stuk

van sake, in kompetisie met ‘n potlood

en skerpmaker, wat ek draai en draai

om die grein van haar stem te ont-hoor.



© Joan Hambidge

 

 

Sunday, May 8, 2022

Rubriek | Agatha Christie-Hercule Poirot | 2022

I

Die afgelope langnaweek bekyk ek 12 episodes met Christie-speurverhale. Met David Suchet se puik vertolking van Agatha Christie se speurder: Hercule Poirot, vertolk deur David Suchet wat die pikkewynstappie perfek naboots. Met sy kierie. Soms word daar geloer met die knypbrilletjie om ‘n leidraad in te skat. Immer netjies aangetrek. Two tone-skoene. Netjiese baadjies. Klein ringetjie op die linkerhand. En die gestileerde snorretjie.


Daar is 70 episodes in hierdie reeks wat tussen 1989 en 2013 gebeeldsaai is.

 

Die ander spelers is Captain Arthur Hastings (Hugh Fraser) met sy golfobsessie en wat dikwels deur Poirot beskuldig word dat hy iets verkeerd verstaan. Chief Inspector James Japp, van Scotland Yard,  (Philip Jackson) is ‘n ander teenspeler waarmee die reeks gelaai word met kultuurverskille rondom kos, drank en modes. Met humor wanneer Japp aan’t huise van Poirot kos moet eet wat hom nie aanstaan nie of wanneer Poirot op sy beurt Britse kos moet eet. Of wanneer Miss Lemon dieetkos voortsit wat die smulpaap Poirot nie kan verduur nie. Belg vs Brit.

 

Tyd word met disse verbind soos in  The day after the funeral wanneer daar onthou word dit was Dinsdag, want daar is breinstowe geëet.

 

Miss Felicity Lemon (vertolk deur Pauline Moran) is die sekretaresse wat soms kos maak en selfs navorsing doen wanneer Poirot uitstedig is.

 

Peter Ustinov was op sy dag ook ‘n uitmuntende Poirot: ‘n mens dink hier aan Evil under the Sun en Death on the Nile.

 

Albert Finney was ook ‘n vertolker.

 

Minder entoesiasties is hierdie kyker oor Kenneth Branagh se interpretasie van Madame Christie se speurder. Te gestileerd. Aksent verkeerd.

 

II

 

Elke episode het ‘n ander regisseur en soms duik daar ‘n bekende akteur op soos Sarah Miles of Elliott Gould. Barbara Hershey, Elizabeth McGovern, James Fox is ook daar.

 

Hierdie celebrity-akteurs verleen glans aan die reeks, ofskoon die ensemble-spel hiervan ‘n trefferreeks maak.

 

Agatha Christie fop jou telkemale. Jy kan helaas nie uitwerk wie die moordenaar(s) is, so jy plaas al die gesag in die hande van Hercules Poirot wat ‘n klein besonderheid opblaas tot ‘n toring.

 

Waarom is daar twee lepels op die piering van die vermoorde vrou op die vliegtuig?

 

Waarom beklemtoon Poirot die belangrikheid van ‘n vrou wat nie van swart klere hou nie?


Wat maak ‘n stukkie papier op die vloer?

 

Madame Christie gee vir jou alles: maar dit is altyd die toevallige aspek wat alles bepaal. ‘n Moord uit die verlede wat nou herhaal word en Poirot (of een van die ander speurders) wat dit onthou. Dan begin die weefwerk.

 

Dialoog, maar altyd ‘n “plot twist”. In die films word groot moeite gedoen om die aandag van die werklike moordenaar af te trek.

 

Maar dis Poirot wat weet watter tegnieke gebruik word: soos waneer ‘n persoon driekeer ‘n ander een se naam herhaal in ‘n gesprek, moet jy lont ruik. Waarom iets herhaal? Dit gebeur in Hickory Dickory Dock waar studente saambly in ‘n hostel. Moord en diamantsmokkelary word verbind, maar die werklike moordenaar word via ‘n foto vir ons gewys. Eers verdink ons sy vader die politikus; later blyk hy die skuldige te wees wat sy moeder vermoor het, omdat sy hom betrap het as kind dat hy steel.

 

‘n Heerlike roesbolling. Maar al die drade word deur Poirot saamgetrek – dikwels dan met die hulp van ander wat ‘n moord of arrestasie of skandaal kan onthou en dit dan onder sy aandag bring.

 

“Suspension of disbelief”, toeval, altyd ‘n verband tussen iets uit verlede en hede, klein onbenullighede of besonderhede, en natuurlik: vermomming of die aanneem van identiteite. In The day after the funeral word die vermoorde se rol oorgeneem deur haar bediende. En Poirot gee ‘n lesing oor die spieëlteks en dat die vrou alles perfek nageboots het, maar in werklikheid was dit verkeerd. Sy het nie besef haar maniërismes is verkeerdom nie.

 

Opvallend hoe dikwels die séance en paranormale gebruik word. En verwysings na Oscar Wilde en ander beroemde tekste wat die speurder help.

 

Daar is net een plot en verskillende sielkundige moontlikhede, bely onse Hercules in Cards on the table.

 

III

 

Op die internet is daar selfs wenke om soos Christie te skryf: 7 excellent plotting tips from Agatha Christie. Besoek 2 April 2022.  

 

Suchet is telkemale genomineer vir sy spel. Jammer genoeg het hy nooit gewen nie. Dit was dan Agatha Christie se kleinseun wat opgemerk het dat sy ouma sou gehou het van hierdie vertolking van die obsessiewe, perfeksionistiese briljante Poirot woonagtig in Whitehaven Mansions.

 

66 speurverhale, 14 kortverhaal-versamelings uit die pen van die Koningin van Misdaad.

 

IV

 

Fate can be cruel.” Besoek 7 Mei 2022.

 

 

© Joan Hambidge

 

Rubriek | Wat vind ons in Rooikappie se mandjie? | 2022

I

In ‘n kursus in literatuurteorie daag ek my studente in die derdejaar uit: kom ons kyk na die verhaal van Rooikappie en ons probeer bepaal watter boeke is in haar mandjie te vind.

Freud of Lacan? Derrida of Jane Gallop? Harold Bloom of Jung?

 

Watter digters neem jy op hierdie reis van moeder na Ouma deur die donker woud (Jung) tot die ouma waar die Wolf haar inwag wat paradeer as die Ouma (Butler). En dan word sy – wat nie na die  moeder se waarskuwings geluister het nie - gered deur die houtkapper. (Freud)

 

Is dit ‘n verhaal oor vroulike vrees vir verkragting? Cixous se kwessie van onthoofding?

 

Waarom die verandering van identiteit? Dalk Judith Butler se siening van identiteit wat kan verander?

 

Kan jy egter die vader doodmaak wat reeds dood is?, aldus Jane Gallop.

 

Of is die konfrontasie met die wolf dalk die digter wat sy vaderlike tradisie uitdaag?, aldus Harold Bloom. Die verhouding tussen die precursor en ephebe.

 

Of is hierdie teks ‘n representasie van die argeologie van interpretasie via Derrida en Freud met die onbewuste as ‘n “oorspronklike afdruk”, ‘n ruimte van teenstrydigheid?

 

Of vertel die verhaal iets van die Begeerte na die Ander (Lacan) en dat die leser vasgevang is in hierdie soektog na Begeerte wat bly ontglip? Soos betekenis.

 

Hierdie spel met die Rooikappie-verhaal is deur vele feministe al gebruik as ‘n teoretiese matriks. (Dit staan opgeteken in Gallop, Cixous en vele andere.) Ook Johan Degenaar het in die tagtigerjare in De Kat oor Rooikappie vanuit ‘n filosofiese perspektief geskryf.

 

II

 

Of hoe nou gemaak met tekste wat deur twee outeurs geskryf is soos Gilbert & Gubar? Of Deleuze & Guattari?

 

Aan wie behoort die outeursreg? 

 

Aan beide. Aan sowel Rooikappie as haar moeder en ouma (die tradisie) en die wolf en houtkapper (die manlike orde).

 

Vrou en man. Man en vrou.


Dubbel-identiteite.


Tandempublikasies.

 

Want agter Lacan sien ons Freud; agter Northrop Fye skuil Jung; agter Bloom staan Northrop Frye en Freud.

 

III

 

Elke leesstrategie verklap iets van die leser. Daar kan nie ‘n onskuldige leesaksie wees nie.


Soos  T.S. Eliot skryf in 1921 in Tradition and the individual talent: 

No poet, no artist of any art, has his complete meaning alone. His significance, his appreciation is the appreciation of his relation to the dead poets and artists. You cannot value him alone; you must set him, for contrast and comparison, among the dead. I mean this as a principle of æsthetic, not merely historical, criticism. The necessity that he shall conform, that he shall cohere, is not one-sided; what happens when a new work of art is created is something that happens simultaneously to all the works of art which preceded it. The existing monuments form an ideal order among themselves, which is modified by the introduction of the new (the really new) work of art among them. The existing order is complete before the new work arrives; for order to persist after the supervention of novelty, the whole existing order must be, if ever so slightly, altered; and so the relations, proportions, values of each work of art toward the whole are readjusted; and this is conformity between the old and the new. Whoever has approved this idea of order, of the form of European, of English literature, will not find it preposterous that the past should be altered by the present as much as the present is directed by the past. And the poet who is aware of this will be aware of great difficulties and responsibilities.

 

Bibliografie:

   

Bloom, Harold: A map of misreading. Yale University Press, New Haven. 1975.

 

Butler, Judith: Gender trouble: Feminism and the subversion of identity. Routledge, Londen. 1990.

 

Chetwynd, Tom: A dictionary of symbols. Paladin Grafton Books, Londen.

 

Cixous, Hélène: "Castration or Decapitation?" in Robert Con Davis & Ronald Schleifer(redd.) se Contemporary literary criticism - Literary and cultural studies. Longman, New York. 1989. 

 

Cixous, Hélène: Sorties. opgeneem in David Lodge (red.): Modern criticism and theory - A Reader. Longman, New York, 1988.

 

Derrida, Jacques: Writing and difference. Vertaal deur Alan Bass. Routledge & Kegan Paul, Londen. 1978.

 

Eliot, T.S.: Tradition and the individual talent.  Besoek 8 Mei 2022

 

Freud, Sigmund: The interpretation of dreams.Vertaal deur James Strachey. Penguin, Londen.1900/1976.

 

Frye, Northrop: Anatomy of Criticism: Four Essays. Princeton University, Princeton. 1957/1973.

 

Gallop, Jane: Feminist accused of sexual harassment. Duke University Press, Durham. 1997.

                         

Gallop, Jane: The daughter's seduction - feminism and psychoanalysis. Cornell University Press, Ithaca. 1982.

 

Gilbert, Sandra M. & Gubar, Susan: The madwoman in the attic: the woman writer and the nineteenth century literary imagination. Yale University Press, New Haven. 1979.

 

Jung, C.G.: The collected works (Bollingen series XX). 20 volumes. Vertaal deur R.F.C. Hull. Ed. H. Read, M. Fordham, G. Adler, Wm. McGuire. Princeton University Press, Princeton. 1953 -1979.   

 

Lacan, Jacques: Écrits - a selection. Vertaal deur Alan Sheridan. Tavistock, Londen. 1966/1977. 

 

Ragland, Ellie: Essays on the pleasures of death. From Freud to Lacan. Routledge, New York. 1995.

 

H. P. van Coller - Resensie: Nié met ander se kalwers geploegBesoek 6 Mei 2022 


 

© Joan Hambidge

 





Sunday, May 1, 2022

Resensie | Ashwin Arendse – Swatland | Kwela, 2022

Ashwin Arendse – Swatland. Kwela, 2022. ISBN: 9780795710070

Resensent: Joan Hambidge

 

Ennie wit mense vegietie ’n bġyn gesig ie

en vegiewe oekie maklik ie. 

 

28 gedigte. Met die eerste oogopslag dalk te min. Maar onthou dat gert vlok nel se debuut ook min gedigte bevat het. Die res is geskiedenis.

 

Hierdie bundel is sopas met sowel die UJ- as die  Eugène Marais-pryse bekroon. 


Dit is gesitueer in die Swartland en die digter stel sprekers aan die woord met die bekende bry-r. Die bry word met ‘n ġ voorgestel. Hierdie leser het die digter sy verse hoor lees en dis belangrik dat dit praatverse is, maar ook verse wat uiters slim gekonstrueer is. 

 

Politiek en die gepaardgaande ellendes van hierdie land: armoede, werkloosheid, diefstal. Die digter vestig hom in die lang galery van belangrike bruin digters: Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer, Jolyn Phillips, Lynthia Julius, Ryan Pedro oa., wat in die onlangse verlede begin stem dik maak het.

 

Hulle skryf in Kaaps of wyk af van Standaard-Afrikaans.

 

Die kanon word op sy kop gekeer, nie alleen tematies nie, maar ook op ‘n taalvlak.


Tereg word die bundel aangeprys deur die digter Alfred Schaffer wat sélf die hele kwessie van taal aanspreek in sy bundels. 

 

In Schaffer se jongste bundel,  Wie was ik. Strafregels, gee hy stem aan die moeder wat die Karibiese eiland (en haar familie verlaat) en in Nederland trou met 'n Nederlander. Die swart vrou en wit man het 'n dogter en seun; die dogter sterf vroeg en die seun gee nou 'n stem aan hierdie geskiedenis wat migrasie, kulturele verskille, rassisme en al die komplekse kwessies aanraak. In die verantwoording word daar erkenning gegee aan Frantz Omar Fanon, die psigiater en politieke filosoof van Martinique, se Peau noire, masque blanc (1952), Black Skin, White Masks, sowel as die werk van Susie King Taylor.

 

Ook wit digters doen dit. Met die onlangse afsterwe van Thomas Deacon het ons weer bewus geword van die Noord-Kaap se Afrikaans. En die wêreld van die Noord-Kaap is die gebied van George Weideman en Donald W. Riekert. En wat Griekwa-Afrikaans betref, het die digter Hans du Plessis waarskynlik geen gelyke in Afrikaans nie.

 

In hierdie unieke bundel posisioneer die digter homself as ‘n unieke stem binne ‘n lang tradisie van digters wat buite Standaard-Afrikaans dig, en sover terug as Adam Small begin het.

 

Die praattoon is opvallend en ‘n mens kan as't ware die digter “Innie Malmesbuġy, vi coloureds …” hoor voordra.

 

Dis “poetry met ‘n purpose” soos Elodi Troskie geskryf het. Die digter het onder Nathan Trantraal gewerk (Ashwin Arendse se Swatland. Besoek 1 Mei 2022). 

 

Dis nie gedigte wat troos nie. Dit ontstig en die harde werklikheid word telkens vir die leser uitgewys. Die sogenaamde plat woord duik ook hier op; dit is gedigte wat die ander kant van ‘n leefwyse verken, so opvallend van hierdie digtersgenerasie. ‘n Bundel wat jou tussen die oë tref en word tereg dan ook in Kaaps geresenseer. Dit kan ek helaas nie.

 

So klink sy gedigte:

 

liefde angelo

 

As twie broese met hulle arms agte hulle ġugte

en floppies op hulle koppe in jou ġigting beginne ġol

isse slight slope in jou swag die eeste warning

wat jou liggaam afgie voorit in panic mode gan.

Ek’t it ignore wannie winkel is net vyf minute weg.

En oppe Saragaan issie plek woelag

mettie Muslims wie op en af in hulle VTECs

in Darlingstraat ġy opsoek nare kin

wat smaak voetjies hang.

Tien tġeë later.

Die naies doen “what Tiggers do best”.

Hulle hop, hop, hop tot by my, byg voo oo

soes goet watte curtain call doen,

en van onnerie floppies yt met koppe skyns

gedġai vġa hulle altwie in unison, soes harmony singers:

“Wat het jy daa virrie ouense?”

Twie chinks in my armour later.

Ek wôd nog steeds vanne awkward angle af interrogate.

Maa innie way hulle staan

soes mense voorie ATM

kan ek sien die ouense wag vi my om te antwood

soedat ie tġansaksie voltooi kan wôd.

Asse mens gerop wôd

wêk dieselle nerves wat wêk

as jy wag op final results.

Soe mens sê stupid goed.

Al wat ek kon ytkry

in dai moment wasse offer om vi hulle

’n pakkie Labamba beef

enne vyf ġand Cell C te koep.

Een moerse klap later.

Die ouense staan man-man menne mes

langer asse donkie-tollie.

Vat vi phonetjie.

Vat vi twinnag ġand.

Skud my yt asof ekke spaarblikkie is.

Hulle stap weg en een skġie vi my tġug,

“Saloet broetjie,”

asof om te sê ek het goed gedoen.

Maarie pyn in my wang lat my dink

ek kan bieter gedoen et.

Ek’s net ommie dġai toe Bentley

in sy Polo Playa optġek en ligte gooi.

Hy gym plus hyse mal bra.

Ek gie vi Bentley die noragge info

en hys daa weg om my gesteelde goed te gan soek.

Byrie join kap ek zip oorie phone cause my tanie

het net twie wieke geliede die lay-by gat afhaal.

’n Hele Sondagmarrag later.

Die Polo staan voo my hys

en boeta Ben se gesig getyg van goeie nuus.

Hytie phone gekry which means

een of altwie dai broese lê nou stukkend êrens.

Ek kyk of my memory card nog innie phone is.

En dan issit regyt bed toe.

Maa, net voo ek klaa mettie dag is

kom daa ’n please call me dee

vanne unknown nomme af.

Ek willit ignore, maa na dai

kom daa nogge paa dee.

Please call Ursula.

Ek check my balance en daa isse

twie ġand op wat ekkie gekoep et ie.

Die antie het net opgetel en

omtrent tien kee gevra wie die is

voorie phone afgeslat et.

Ek kyk deerie sent messages.

Heel boe kġy ekke boodskap wat sê:

Wil mami ni vi my ’n lyki gi ni asb

nwe job gkry innie Kaap, ma k need

fair vr d wiek

liefde

angelo



WWE

 

On this day I see clearly everything has come to life

A bitter place and a broken dream

– Edge intro song: Alter Bridge, “Metalingus”

 

As laitie het ek altyd oppe Sondagaan gehyl

om bietjie later wakke te bly virrie wrestling.

My tanie val gou vi tġane

soe soedra dai voiceover speel

wat sê ôs moetie die stunts byrie hys tġy nie,

het ek my kussings ġeggepak oppie sitkamevloe

en virre ieġ lank my ma se continental in sy moer geslaan.

Ek’t altyd gedġoem daavan

ommie stoei live te gat kyk.

Byrie skool,

as ek inne stġyery betġokke was,

het ek starag weggestap,

oo my skoue gekyk

en soes John Cena dai

“You can’t see me”-nommetjie gemaak.

En as ek sien ôs gat nou vysslaan,

het ek my oë omgedop,

my tong ytgestiek,

en my dym oo my nek getġek

tewyl al my tjommies dai klokgeluide

van Undertaker se intro song maak.

Soe ’n maan geliede, eintlik

heel eeste dag vannie maan,

manifest dai dġoem van my

inne strange way.

Soes ek innie pad af stap begin

’n ou oem enne ou antie mekaa spear.

Twie hall of shamers biesag

om innie sand ġond te ġol.

Asof hulle virre title fight.

Ek wou die match stop, maa daa was klaa ’n ref,

’n klein meisietjie wat mieste vannie tyd gehyl et.

Soes ek kon aflei wassit ’n TLC match.

Oupa het eeste die paal innie hanne gekġy,

een hou gegie en Ouma’s flou.

Oupa march daa weg soesie

Rated-R superstar

mettie SASSA-kaaġte

ġegyt smokkie toe

omme paa lieteġkies vaalwyn te koep.

Ouma het innie sand bly lê.

En net soes in WWE wanne iemand iets bġiek

is sy oppe stretcher daa weg.



Swatland

 

It’s a long camera

It’s a quantum leap to the beach

Is it too hot even for Speedos?

– Happy Mondays, “Somebody Else’s Weather”

 

Die Swatland hette way om temperature te gan ytgrawe

watte coloured familie lat kaalgat ġondstap innie hys

soes Scandinavians wat inne commune bly.

Innie Malmesbuġy, vi coloureds

wat an dai kant vannie bġug bly, isse pool

sewerage-wate wat langsie sypaadjie afloep.

Waarie klein laities heeldag in lê en float.

As jy te goot ġaak virrie kakwate

march jy oppe Sondagmarrag

af narie public pool toe.

Isse forty-minute walk tot byrie bads,

wan it was eens oppe tyd strictly reserved

virrie whiteys.

It kos van ôs om oorie N7 te stap

as ôsie journey kotter wil knip.

Wan veetag minute in veetag gġade

is jouself virre gat vat.

As ôs geland et, betaal ôs ie siewe ġand

en gat soeke dytlike spot wat ytkyk oorie hele scene.

Lunch isse paa pakkies Labamba,

suurvytjies en assie skarrel ’n sukses was,

syg ôs man-man anne JC vi afters.

Helfte van ôs kannie soe lekke swem ie

soe ôs lam innie kiddies pool.

Met ôs pecs op observe ôs ie goosies

wat parade voo ôs innie ways wat ôs

hulle byrie skool imagine.

Assie klokkie ly vi toemaaktyd, pak ôs ôs

sakkies op en beginne die pad anvat op hystoe.

Ommie trek lekke te maak gooi ôs man-man

’n paa klippe oppie wit mense se dakke

om sieke te maak hulle hoefie heeldag

veveeld te sit onnerie aircon ie.

As hulle ytkô, slat ôse gat tewyl hulle ġaas en skġie dat ôs

tġug moet fokof na ôs kant vannie bġug toe.

Laterie aan lam ôs ammel voo Wennie se join

en lag vi allie kak wat ôs angevang et deerie dag.

En beplan ’n anne route vi nex wiek.

Wan ôs kannie deal mettie hitte

aan ôs kant vannie bġug ie.

Ennie wit mense vegietie ’n bġyn gesig ie

en vegiewe oekie maklik ie. 

 

Tuesday, April 26, 2022

Resensie | Frederik de Jager – Man op ’n fiets êrens heen | Protea Boekehuis, 2022

Frederik de Jager – Man op ’n fiets êrens heen. Protea Boekehuis, 2022. ISBN13: 9781485312109 

Resensent: Joan Hambidge



Frederik de Jager se Man op ’n fiets êrens - 55 stories van mense onderweg is pas bekroon met die Eugène Marais-prys vir debuutwerk. Dit het die UJ-prys ook as debuut verower in die kategorie vir prosa. Protea het dit gepubliseer.

 

Dit is ‘n hibriede teks weifelend tussen dagboekinskrywing, essay, herinneringstuk, nostalgiese teks (via Hélène Cixous se herinneringe aan Algerië; Derrida wat verwys na nostalgeria) en natuurlik die kortverhaal.

 

Dit is ‘n meesleurende leeservaring. Elke teks loop in die volgende een oor en dit is geskryf deur ‘n volwasse man wat besig is met ‘n bestekopname, soos uit Griekeland, ander kere is dit van hier.

 

Die rypheid is opvallend, nes die verskillende toonaarde: melancholies, humoristies, met ‘n skeutjie humor. Hierdie leser het dit met ‘n “shock of recognition” gelees en via Hennie Aucamp se Kort voor lank weer besef: die huis van fiksie het baie wonings. Die vraag moet nie wees of die werk ouderwets  of byderwets, betrokke of onbetrokke is nie. Die vraag moet wees: het dit gehalte? Dit is alles vrae wat Aucamp vra. 

 

Tans is hierdie leser besig met ‘n kursus oor kortkuns en Aucamp is die basisteks. Aucamp as kortverhaalskrywer, bloemleser, maar ook as teoretikus. Hy beklemtoon immers die skerp sensoriese indruk en hoe die kortverhaal (via Eudora Welty) met iets so nietig as ‘n voëlgesang kan begin (Tafelberg, 1978, 135).

 

Wat De Jager se boek belangrik maak, is dat die intuïtiewe sterk na vore kom. Die skrywer se taalkennis is opvallend en daar is digterlike momente:

 

Ons het hom in ’n terras teen die hang begrawe waar hy vir altyd op die mooiste lentedag ’n uitsig oor die vallei ondertoe sal hê. Olyfbome wat sonlig uitsif oor groen gras met geel madeliefies en die rooi vuur van papawers. Ons het mirre in sy graf gestrooi en onder die silwer klank van ’n silinderbel sy gees aan die absolute natuur gegee. Daar was ’n klip met ’n plat skuins vlak en dié het ons oor sy graf geskuif sonder om sy naam daarop uit te krap. Hy was anderkant skrif, en meer as taal. Om die eerlike waarheid te sê, ons het skuldig gevoel oor sy dood. 

    Waar sou hy kon wees, wonder ons. Dit was ’n uitsonderlik strawwe winter, met halfeeu-sneeuval – dalk het hy dit nie oorleef nie. Maar hoe dan juis hy in wie die vlam so sterk gebrand het? So het ons bespiegel, tot iemand in ons gemeenskappie van mense ’n stoorkamer by die buurhuis oopmaak om lug te gee. En daar, op ’n handdoek opgekrul of hy net slaap, lê Columbo. Ná vier maande feitlik onaangeraak deur verval, sy vag nog glinsterend, sy gestalte net effens ingedoke. Asof hy geen teken van lyding wou nalaat nie. En net so het ons hom terug in die aarde geplaas  … (136)

 

Soos dikwels die geval is in nostalgiese reise vind ons twee vertellers: die ouer persoon wat terugkyk asof hy steeds die kind is:

 

Die vraaglose geloof. As ek my hier-en-nou meet aan my komvandaan voel dit partykeer of daar so min ooreenkomste is dat ek moet wonder of ek een en dieselfde mens is. Die kern van wat mens glo jou self is, is volgens sielkundiges nouliks een aaneengeskakelde kontinuum van jou begin tot jou einde. Is ons weinig meer as ’n voortgesette sameflansing van herinnerings vervaardig deur ’n onbetroubare geheue? (89)

 

Die bespotting van die Ander, verdagmaking, verkleinering en boeliegedrag word tot op die been gesny. Die seun wat bespot word as ‘n sissie, omdat hy klavier speel. Die seun wat met ‘n juffrou wil korrespondeer wat elders in die moeilikheid beland. Hettie wat klavier speel om te ontglip uit haar harde werklikheid. Die woordelose ete tussen pa en seun word pynlik ontbloot.

 

Vooroordele teen Portugese, Grieke (in Suid-Afrika), die ou kleurbeleid, wat mense se lewens verwoes het, word verder onder die loep geneem.

 

Maar die belangrikste van hierdie deurgangsrites is die unieke manier van onthou:

 

Boekomblaai en die rustige asemhaling van die honde was die klanke van die aand. Uil naby, jakkals ver. As jy buite op jou rug in die gras lê, sou die sterre en die krieke oor alles eenstemmig wees (132).

 

Ottermaklotter, terloops is ‘n drankie, maar miskien gebruik die skrywer dit metafories.

 

Hoe teer word oor die verbintenis tussen mens en dier geskryf:

 

Die Tibetane glo as ’n dier naby mense leef, ontwikkel hy ’n siel wat meer mens as dier is. Kan dit ook wees dat ons hebbelike mensesiektes, byvoorbeeld kanker, op ’n dier kan afvryf? (170)

 

Onverontagsaambaar inderdaad, hierdie sirkelteks. “Op ‘n boot na ‘n lotsbestemming” is ‘n hoogtepunt”: ‘n boek in twee geskeur (DeLillo) deur ‘n mede-reisiger word dan die aanwysing vir wat die skrywer later ontdek in sy eie lewe.

 

Kyk hoe aangrypend vertolk hy kefí en die onsigbare verbintenisse tussen mense. En die mens onderweg wat in ‘n nuwe omgewing homself moet ontdek, word aangrypend belig.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)