Monday, October 4, 2021

Resensie | Zandra Bezuidenhout - Derde gety | H&R, 2021

Zandra Bezuidenhout – Derde gety. H&R, 2001. ISBN 798 0 7981 8170 9 

Resensent: Joan Hambidge

 

‘n Soeke na die staning in die self

 

Zandra Bezuidenhout het haarself al onderskei as 'n uitnemende vertaler van Alfred Schaffer en Anna Enquist se poësie. Haar jongste bundel heet Derde gety.

 

Bezuidenhout is verteenwoordig in Karen de Wet se Vers & vrou (2020) waarin 258 vrouedigters saam-groepeer word róndom al die aspekte van vrouwees. Ons vind hier haar gedig "Falliese vrou" wat inspeel op Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves. Contacting the power of the wild woman wat in 1992 verskyn het. Hierdie Jungiaanse cantadora (oftwel storieverteller) analiseer die krag van die vrygeworde vrou.

 

In De Wet se antologie word die leser deur die verskillende aspekte van vrouwees geneem. Lankal nie meer is sy die "vroulike aanvulling" of die tweede seks nie. Vroue binne die Afrikaanse digkuns het agentskap. The empire writes back. Tegnies bedrewe (soos Elisabeth Eybers) of liries-besinnend (soos Antjie Krog). Trouens, dit sou 'n hele studie kon word om te kyk hoé vrouedigters oor die vaderfiguur skryf: wetend dat hy 'n mens met gebreke was en dikwels nie 'n man van staal nie (Marlise Joubert). Of liefdevol-teer (soos Olga Kirsch). 

 

Vroue moes deur die manlike orde van goedkeuring beweeg en bloemlesings, saamgestel deur vroue, se klem word anders geplaas soos in Lina Spies se Sy sien webbe roer (1999) en die reeds genoemde een van Karen de Wet. Die skokkende of transgressiewe word eweneens verteenwoordig: die vrou as hoer, die one night stand, lesbiese seks, die woman-identified woman, die vrou as Amasone of huisvrou, die verliefde of versaakte vrou; menstruasie en swangerskap.  Die zipless fuck en verslawings. Swangerskap en aborsie.

 

Van Julia Kristeva, Hélène Cixous (White ink, 2008) tot by Luce Iragaray en Elaine Showalter word die vroulike begeerte, fantasie en kreatiwiteit beskryf waarmee die leser hierdie tekste kan oopmaak. Elke gedig skep en vra vir haar eie teoretiese benadering of leesmodel.

 

In die jongste bundel van Bezuidenhout word daar 'n blik gegee op verskillende aspekte van vrouwees: die dogter teenoor die moeder; die kind wat probeer vredemaak met die vader (met die wete dat sy soos hy is); die vrou as moeder verbind aan bloedgenote verbeeld in "Donker raam" (71).

 

By Bezuidenhout is daar 'n meer konvensionele vrou aan die woord en hierom is dit tersaaklik dat sy aanklank vind by Eybers soos in die aangrypende "In memoriam Eybers" (91) waar sy hulde bring aan die "elegante hand" (letterlik en figuurlik) van ons eerste gekanoniseerde vrouedigter. Hier word verwys na  "… die ligval deur haar raam" wat Eybers vir ons in ‘n portret plaas.

 

Stilte in hierdie gedig dui op die dood, maar dit is 'n belangrike kode in vrouepoësie, al word hulle 'n "ongehoorde soort" later. Die mooi voorblad van Andries Gouws heet Stoel in ateljee, Molyvos, Lesbos, Griekeland wat verdere stilte en verlatenheid impliseer.

 

Die eb/vloed van die lewe word in die derde gety ondersoek met 'n verwysing dalk na die derde golf van die feminisme waar vroueregte ook krities ondersoek word en denkfoute uitgewys word?

 

In hierdie bundel word daar besin oor die kwessie van herdoping van name binne die postkoloniale tydvak en in “Perspektief” word daar krities gekyk na die einde van die orde van bevoorregting. Genderissues word betrek en in “Dubbelvisie” gekyk na die “transgender Kaapse suster / is soos die oorstewind ‘n heer” (27) waarin Bezuidenhout tereg begryp dat die begrip transgender dui op die versamelterm van verskillende genderdwarshede; en nie net na geslagsverandering nie.

 

Daar is herinneringsverse, reisgedigte en ‘n beeldvers vir Marlene Dumas wat “Intiem” (45) heet. In hierdie gedig word ‘n hele feministiese diskoers rondom intimiteit (en skaamte) met ‘n ferm digterlike hand oopgemaak en ons lees ook verwysings raak na Antjie Krog.

 

Daar is ars poëtiese besinnings (soos in “Ongenooide gaste”, 82) waar ‘n spel met woorde-as-gaste verbeeld word:

 

Slegs genooides kry toegang

tot die knap woonruimte van ‘n gedig (82).

 

En in “Repliek op kritiek” (83) aktiveer sy Eybers se skerp siening van die dagbladkritikus en hoe modes en smake soos die seisoene wissel. Die ewige onsekerhede waarmee elke digter worstel oor die weegskaal wat implisiet of eksplisiet ter sprake is.

 

Die verskillende afdelings (Kontreie, Sinneryk, Vrou-beeldig, Dinkgoed, Die makers, Lament) gee ‘n aanduiding van die digter se besinning oor die lewe van ‘n woordmaker wat nostalgies terugkyk en die vreugde van digtersfeeste besing.

 

En daardie walvis het baie simboliese lae binne die letterkunde. Die seekalender het sy eie tyd en in hierdie bundel word daar baie keer na tyd gekyk. Letterlike tyd, herinneringstyd en die sterreskrif wat dui op verdwene tyd.

 

 

Met hierdie bundel vind ons ‘n belangrike aansluiting by die groot aantal “vroulike aanvullings” wat oor alle fasette van vrouwees skryf sonder skroom. Nie net oor die potte of panne nie, maar oor die einders en reise, verlos van die wasgoedbalie. Al is dit net tydelik. Die vrou is nie langer voorbeeldig nie, maar vrou-beeldig.

 

Zandra Bezuidenhout


 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld) 

 

 

Sunday, October 3, 2021

Resensie | Nicole Jaekel Strauss - Om alleen te gaan | Queillerie, 2021

Nicole Jaekel Strauss - Om alleen te gaan. Queillerie, 2021. ISBN: 978 0795 801648

Resensent: Joan Hambidge

 

Nicole Jaekel Strauss het veral bekendheid verwerf as bekroonde kortverhaalskrywer en bloemleser van die genoeglike Kosblik (2013). Kos, eet en voedsel is ‘n belangrike onderbou van hierdie skrywer se werk soos in Maal (2010) en As in die mond (2017). In haar debuutroman is daar verwysings na kos soos kosheri, Fattah, fuul, kahk, ensomeer. Die leesaksie as ‘n spyskaart (J. Hillis Miller) impliseer ‘n bepaalde orde. 

 

Wyle Hennie Aucamp het altyd gemeen die kortverhaal is nie ‘n mindere sub-genre of oefenplek vir die skrywer wat ‘n roman beoog nie. Tog kan kortverhaalskrywers oortuigende romanskrywers wees net soos digters dramaturge kan word.

 

Van die eerste oomblik sluk hierdie roman jou heelhuids in op ‘n reistog deur Egipte. Wat dikwels blote “travelogue” kan bly of te na aan die herkenbare beweeg (vraisemblance) is Om alleen te gaan dit gelukkig nie. Die roman ondersoek reis (die transportering van die bekende na die onbekende ruimte), die gevare hieraan verbonde, die psigiese verandering of transformasie en uiteraard die komplekse emosies opgesluit in transportasie.

 

Die titel (met ‘n knipoog na Fanie Olivier se digbundel Om alleen te reis uit 1973) dui op ‘n soloreis.

 

Die Rooikappie-verhaal is ook ‘n soort reisverhaal: die beweging van een punt na ‘n ander, die ag slaan op raad of die ignorering daarvan. En in hierdie Rooikappie se mandjie is daar mitologiese gidse.

 

En wat uiteindelik gebeur wanneer jy buite die bekende of gebaande weë beweeg, word in hierdie teks ondersoek.

 

Die roman word kort en kragtig bemark:

Cato ontmoet Da’oud, ’n jong Egiptenaar, tydens ’n bootvaart op die Nyl. Sy familie is intens geraak deur sosio-politieke onrus en ongeregtigheid, met 2011 se onlus op die Tahrir-plein as laagtepunt. Op hul bootvaart ontmoet dié twee ’n bonte verskeidenheid soekers en swerwers, wat almal afleggings en tot-rus-kom moet deurmaak – elkeen alleen. 

Egipte het hierdie leser driekeer beleef (in verskillende tye) en die Nylvaart tweekeer meegemaak van Aswan tot Luxor. En weer van Luxor tot Aswan. Museums besoek. Die piramides bestyg en die mitologie bestudeer. Die spanning tussen Egipte en ‘n besoeker word uitgewerk róndom oorlog en konflik in hierdie vertelling. Neith die godin van oorlog teenoor die opstand teen Moebarak. 

 

Cato se vader was eweneens betrokke by die oorlog in El Alamein met vertellings oor grusame ervaringe in die woestyn. 

 

Maar daardie stories blyk vaag te wees, want Cato kan nie onthou wanneer haar vader uit Mombasa vertrek het nie.

 

Die roman neem ons na ervarings op die Nyl, besoeke aan museums en uiteraard die Vallei van Konings. Catarina van Staden (Cato), onderwyseres, lewer kommentaar op die gode Nut en Geb, Hatsjepsoet, onder andere. Haar fyn waarneming word dus ingegee deur haar werk as pedagoog. Sy registreer ook verlies (56) en haar reis word een van selfkonfrontasie. Wat het sy haar kinders aangedoen, wonder sy, deur die gesin op te breek? (150)

 

Isis en Osiris (en Horus), die Bybel (Prediker), Anna Karenina en Tsjekof word netjies ingeweef om die verhaal vérder te dra met ‘n ondersoek na oordeel en haat, twee belangrike aspekte van menswees. Rondom die dood van ‘n kind en die rouproses vind ons ‘n besonder emosionele beskrywing van die uitwerking op ‘n huwelik in die afdeling Taweret (die godin van geboorte en fertiliteit). Liefdesontrou – netjies voorberei rondom Hatsjepsoet lei tot skeiding en ‘n alleenreis. Met ‘n onthulling oor komplekse keuses rondom genderidentiteite.

 

Die verhaal word geraam rondom ‘n mitologiese figuur in elke hoofstuk, ‘n vernuftige truuk om nou teenoor die dieper argetipiese laag te plaas. Nefertiti is simbolies aanwesig. Haar amulet is ‘n skilpad. ‘n Simbool van spiritualiteit en verbind op verskillende vlakke met ‘n geliefde en die dieper mitologie. Kos, soos begin het, speel ‘n beduidende rol in hierdie roman. Jan Rabie se “Drie kaalkoppe eet tesame” word in die verhaal ingebed om iets van die hoofkarakter se siening van taal en kos te verklap.

 

En hierdie boek – met ‘n handige gids agterin – neem die leser op ‘n buite- en binnereis. Dis nie ‘n roman wat nie haar leser kielhaal nie, maar eerder verskillende aspekte van menswees saamsnoer met die besef: daar is niks nuuts onder die son nie. Cato erken ook hoe sy deur ander se lense kyk na Egipte, ‘n besondere erkenning van hoe ons deur die mitologie, films en Die Bybel beïnvloed is om na hierdie landskap te kyk. En die filmweergawe van Agatha Christie se Death on the Nile is eweneens hier ‘n sleutel. En die kwessie met die skilpadjie word ‘n Christie-krimi-in-die-kleine. Met ‘n kopknik na die Katarak. En Agatha Christie-bewonderaars sal plesier hê aan bepaalde bakens.

 

Die navorsing staan egter nooit in die pad van die storie(s) nie.

 

Shukran, Nicole Jaekel Strauss!


Nicole Jaekel Strauss

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Sunday, September 26, 2021

Rubriek | Inenting 2021

Op laerskool het daar so elke paar jaar ‘n skoolsuster jou ondersoek.

Jy staan net in jou swart skoolbroekie sonder jou wit hempie aan of skoene. In ‘n ry.


Jou keel word oopgetrek, ‘n versoete suikerpil vir polio in jou mondjie gesit met ‘n vinnige inenting teen witseerkeel en masels. Die spuitnaald flink gepiets en daarna net die reuk van ontsmetting. 

 

Hierna was jy allergies vir bysteek en weekliks het jy medikasie ontvang by ‘n kliniek in Pretoria. Alte lekker was dit want jy kon met die bus ry van pa se werk in die middestad op Paul Krugerplein tot in Sunnyside. Hier sou jy by die OK ‘n koeldrank drink en ‘n worsrolletjie eet. Te lekker om nie ma se verpligte groente te eet nie.

 

Toe begin jy na verre plekke te reis. En beduidend intens was die geelkoors-inspuiting wat jy moes kry vir ‘n reis na Indië. Jou arm pyn die aand. Dit lyk soos ‘n gholfbal soos jou arm swel. Jy is koorsig. Oor drie weke vertrek jy na Nepal en dan sal jy Indië deur Varanasi binnegaan.

 

Gelukkig gaan die olikheid gou oor. En op die reis deur Indië besef jy hoe gelukkig jy is om beskut te wees teen die aanslae en oorweldigende uitskot van hierdie land.


Deur die woestyn reis jy. Eet neute en gevaarlike kerrie. Slaap in die woestyn. Drink water uit ‘n kan.

 

Maar kom niks oor nie. In hierdie land bly jy intens bewus van die dood.

 

Daardie man wat stap in Jodhpoer

 

Daardie man wat stap in Jodhpoer,

nuus wag hom in vanaand:

soos hy stadig stap deur die stofstrate

met bedelaars en handelaars

– as getuies dat hy hier gewandel
het op die laaste dag van die week –

sal hy moontlik‘n koerant koop,

dalk aan kasjoeneute peusel,

water afslaan teen die stad se blou muur,

verder wonder wat hy vir aandete gaan kry,

nuus kyk en môre gewoonweg aangaan,

sy lewe sonder voorval noemenswaardig

of inmenging van die noodlot. Tot op hierdie punt.

Tot hy verneem sy vrou, sy toeverlaat,

het vandag skielik aan ‘n hartaanval beswyk.

Môre sal hy anders deur die strate van Jodhpoer stap.

Vir oulaas ‘n blom koop vir die klein, eenvoudige begrafnis,

die stoet deur die strate volg. En wag op sý laaste nag

wanneer sy stoet hom inwag.

Om agter die oomblik in te sien,

dit op te vang of kundalini te vind,

so ja so, is die skryf van hierdie gedig.

 

Hierna reis jy weer na Macchu Picchu en ontdek jy het jou geelkaart tuis vergeet. Die dokter by die kliniek wat beloof het hy sal jou van hulp kan wees tydens enige gebeurlikheid, is helaas nie lus om jou dokument deur te faks nie. Missing in action.

 

‘n Dokter in die dorpie gee vir jou ‘n tydelike geelkaart (natuurlik na ‘n paar dollars hande verwissel) en jy reis na Sao Paulo. O gedoente. Die geelkaart het nie internasionale status nie en wat nou? Die doenebeampte is hulpvaardig en wys na die kliniek op die lughawe. Jou vlug vertrek oor ‘n halfuur. Daar is lang toue. Jy onthou Indië en die slangsjarmeerder …

 

 

Slangsjarmeerder

 

Die slang dans op die maat van die eenstemfluit,

wriemelend, grillig, spiralend uit sy grasmandjie uit.

Soos ‘n toneelspeler wat wag op ‘n streng regisseur,

sak hy terug op die smak van die sussssende fluitspeler.

 

Gelukkig word geen toneelspel behoef nie. Die vrouedokter begryp jou dilemma en kyk na die paspoort en sê: “Jy was in Indië en jy het dus ‘n geelkaart gehad. Hier is ‘n nuwe een vir jou.” Sy tjap die kaart en die lang reis terug huis toe word begin. 


Goedskiks ‘n dekade later maak jy ‘n bestekopname van inentings. ‘n Pandemie se grootste impak is onsekerheid en konflikterende boodskappe. Menings wat paradeer as wetenskap.

 

Onrus wat gesaai word.

 

Jy onthou die skoolsuster, die medikasie teen bysteek, die geelkoorsinspuiting en registreer vir jou inenting via die internet.

 

‘n Sms flits ‘n paar dae later vir afspraak in ‘n stadsaal. Bring jou mediese kaart saam en hier is jou verwysingsnommer.

 

Jy staan weer in ‘n ry. Genadiglik hierdie keer met klere aan.

 

© Joan Hambidge

 

 

Die gedigte is uit: Vuurwiel. Human & Rousseau, 2009.

 

Wednesday, September 22, 2021

Resensie | Eddy van Vliet – Na die wette van Afskeid en Herfs | Protea, 2021

Eddy van Vliet – Na die wette van afskeid en herfs (Vertaal deur Daniel Hugo). Protea, 2021. ISBN: 978-1-4853-1179-9

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Eddy van Vliet se bundels De binnenplaats (1987) en De toekomstige dief (1991) is hoogtepunte in sy oeuvre. Saam vorm hulle ‘n tweeluik van opbou en afbreek, van orde en chaos, van herinner en vergeet. So staan dit opgeteken op die buiteblad van hierdie verruklike, hartgrypende, lieflike versameling vertaal deur Daniel Hugo en uitgegee deur Protea uitgewers.

 

Dis helder, glashelder gedigte en oënskynlik eenvoudig. ‘n Dieper lees, wys op die parlando-styl en hoe vernuftig beelde sluit. Met ‘n slot wat jou in die maag tref.

 

Die digter se verse is outobiografies en van sy beste verse handel oor die versaking van die werklike vader wat die spreker probeer terugwen en begryp in die neerskryf van gedigte. Abandonment / versaking is immers die basis van Freudiaanse denke. Dit is weer herleibaar na die verhaal van Oedipus met vaderversaking en -dood.

 

Die vaderfiguur in hierdie teks word deur die gedigte opgeroep, aangekla en begrawe. En die spreker gaan in die herinnering terug na die oomblik van hierdie abandonment soos in die gedig “Pa” (17). En helaas is die mes verroes en dit is hierdie gevoel van magteloosheid om die vader te konfronteer en oorrompel wat enorme psigiese pyn veroorsaak, maar ook die drif (libido) word vir die kragtige verse. 

 

In die gedig “Die stad” (83) gebruik hy die ont- (negatief): ontneem, ontloop, ontkom en herhaal ontneem. Dit herinner aan Eybers se gebruik van die negatief soos briljant deur Hein Viljoen uitgewys in sy artikel “Die poëtiese krag van negativering by Elisabeth Eybers” (Literator | ‘Die choreografie van ontwyking’: Die poëtiese krag van negativering by Elisabeth Eybers. Besoek 20 September 2021).


By Van Vliet word die ont- egter omgekeer en die gedig herstel die orde van dit wat die “jy” hom ontneem het. Die digter is ‘n meester van verlies en die ingehoue aanklag wat daarmee saamgaan.

 

Die dood word direk aangespreek (“Dood”, 89) en uitgenooi om binne te kom:

 

Vee jou voete af en wees welkom.

 

Uit die bundel Glazen (1979) word genoeglike verse opgeneem wat elke liefhebber van whisky en konjak sal geniet. En jenewerdrinkers word ook vermaak.  Die konjakglas word ‘n heer met ‘n ronde pens vir wie Napoleon groete stuur met die slot:

 

Dit is die ware lewe

armoede is ‘n rooi leuen. (33)

 

Dit is my soort digkuns, moet ek openlik bely: outobiografies sonder dat jy hoef te gaan koekeloer in die kaste van die digter om die donker geheime na vore te bring. Die gedig word daardie donker kis vol familiegeheime, maar word ook méér as outobiografie. Die ware digkuns moet immers altyd verby die outobiografiese of konfessionele beweeg in die domein van die primordiale. Daarom is Anne Sexton se gedigte so treffend. Bloedskande en skandale staan opgeteken, maar die gedigte word meer as ‘n bandelose skinderkolom.

 

Hier is ‘n pragvers:

 

Vakansie

 

Dit was warm. Dit was Spanje waar ek vir briewe wag

en telegramme wegstuur. My suster wat nie ’n suster is nie

van verdrinking red. ’n Pa wat my verfilm, te lank in beeld

volgens haar wat hom van my vervreem het.

 

Dit was Spanje waar ek die haat verduur

soos brandnetelvuur ná ’n woeste gespeel in die veld,

die rykdom ervaar soos ’n bediende

die skittering van die silwerservies.

 

Dit was met my rug op Franco se portret gedraai

dat ek in my gedagtes die volmaakte moord kon pleeg.

 


En hier is nóg een van sy verse, in die oorspronklike taal
:
 

Afscheid van mijn vader [1]

 

Ik wil alleen maar zeggen dat ik het niet weet.

Dat ik het allemaal niet zo duidelijk zag,

zoals gebleken achteraf.

 

Het tuinhek diende plotseling gesmeerd.

De lege plekken op de muur bedekt en vlug

vlug de geur van scheerzeep weg.

 

De kalende die Homerus declameerde. De maïsvretende.

De charmante die uit Frankrijk parfum meebracht. Hadden zij

ook hun koffers gepakt, de huisvrienden van de vrije dag?

 

Ik schreef het reeds meer. Die morgen

liep hij van de keuken naar de straatdeur

en kwam niet weer.


Uit: Jaren na maart, 1983.


Eddy van Vliet (1942-2002) sorg vir vele leesplesiere.



[1] Gedichten | Afskeid van mijn vader, Eddy van Vliet | Gedichten.nl. Besoek 21 September 2021

  

[2] Sien ook: Woorde wat weeg | Eddy van Vliet - ’n Pleidooi vir die poësie (Vertaal deur Heilna du Plooy) (1998) | Besoek 21 September 2021


Thursday, September 16, 2021

Gedig | Vertigo | 2021

Vertigo

Joan Hambidge 


Drome is ook metafore

soos Scottie 

deur ‘n opening

vol blomme in ‘n floristewinkel

Podesta Baldocchi kyk

op 224 Grant Avenue

na die geliefde

poserend as die verdwene een;


dan verander die staf in ‘n slang

toe ek nademaal

jou afskryf

in hierdie droom.


My hand nie melaats

toe ek ontdek

my vriende

hou ruggespraak

oor ons.


Nou val iemand na benede

uit ‘n klooster

soos ek toekyk

hoe al die vroue


één word: Carlotta Valdes, 

Madeleine Elster, Judy

in ‘n lang galery

van verraderlike impersonasies.


Scottie oorkom  

akrofobia

soos die digter

die hoogtevrese

van herkenning:

die digkuns 

se uitkenningsparade

troef soos ‘n Hitchcock.


Scottie tweekeer

verloën verlaat;

die digter meerduidig

verraai geostraseer.



Wednesday, September 8, 2021

Resensie | Francois Smith – Die getuienis | Tafelberg, 2021

Francois Smith – Die getuienis. Tafelberg, 2021. ISBN 978-06240-92360

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Van die eerste oomblik wat hierdie leser begin het om Die getuienis van Francois Smith te lees, was sy onder die indruk van die vaart en drif van hierdie roman. 

 

Dit het die tweede plek in die groot romanwedstryd verower.

 

Dit word bemark as ‘n egpaar se verslag van ‘n reis. ‘n Verslag van drome en visioene, van wonderwerke en vloeke, van bloedverwantskappe en sluimerende woede. Aldus die agterplat.

 

Die motto is ‘n aanwysing: “Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.” Génesis 22:2.

 

Rondom geloof en simboliese offergawe – met ‘n uitkoms wat die leser kan voorspel – word twee karakters, Retha en Gerbrand “Valkie” Killian, se binnespraak vir ons weergegee. Hulle geloof en hoe dit alles bepaal is die ondergrond van hierdie pakkende roman.

 

Twee karakters se binnespraak word teenoor mekaar geplaas.

 

Hulle reis na Ventershoop en die teks kan as ‘n peregrinasieverhaal beskou word. Reis beteken immers ‘n verplasing van een ruimte na ‘n volgende een. Hier is dan ‘n terugkeer na die verlede en die ruimte Ventershoop, waar Gerbrand groot geword het, is bepalend. Naboomspruit en Nylstroom is eweneens hier.

 

Twee figure, ‘n man en vrou, se verbintenis word ondersoek. Bedrog van die vrou, maar alles word deur die geloof “reggemaak”. Ons beleef hul bewussynstroom en verskillende interpretasies op ‘n lewensreis. Sy kom uit die Ooste van Pretoria; sy vestig haar saam met die man in Pretoria-Wes, hy werksaam by Makro. Daar is twee seuns. En ‘n vele teenspelers wat hul “happy clappy”-geloof bevestig. Retha se vader was bang dat Gerbrand (“bokka”) ‘n “evil spirit” is. Daar is orals verwysings na die mag van Satan.

 

Haar bedrog en misbruik van sy kredietkaart lei tot ellende. Die balju is voor die deur. 


Op ‘n fassinerende wyse word Bybeltekste vervleg deur hierdie teks (“Nogtans sal ek jubel”, Habakuk 3:18) en ‘n verwysing na Pilatus se vrou se droom wat waarsku oor die verkeerde besluit oor die kruisiging van Jesus.

 

Ruan, die seun sien in ‘n droom ‘n G wat verwys na Gerbrand, gebed en getuienis. Die droom word ‘n vooruitwysing vir die simboliese offergawe. Teenoor die Bybelse verwysings is daar Vicki Leandros se liedjie oor drome (Dreams are good friends - Vicky Leandros - Youtube. Besoek 8 September 2021).

 

Tydens die lees van hierdie teks kyk ek weer na The Exorcist van William Friedkin (1973), daardie film oor demoniese besetting van Regan, die twaalfjaaroue kind. In ‘n analise van die film (‘n ekstra tot die DVD) erken Friedkin die mag van spiritualiteit en dat die Goeie die Bose oorwin in hierdie film.

 

In Katinka Heyns se rolprent Paljas (1997) vertolk Marthinus Basson die rol van die predikant wat die gemeenskap moet beskerm teen die bose. Hoe die kerk teen mense wat anders of buitestaanders is optree word knap weergegee. Met Marius Weyers as die stasiemeester wat beproef word deur sy huislike omstandighede (‘n stom kind en die aankoms van ‘n sirkus). Die paljas en towerkunsies bevry sy kind van stomheid. En die gemeenskap se onvermoë om buite die voorspelbare indoktrinasie te kan dink en optree, word skitterend ontleed.

 

En In Die getuienis word hierdie selfde onkritiese oorname van God se Woord ondersoek. Die dorpie in Paljas is Toorwater; in Die getuienis is dit Ventershoop. 

 

By Friedkin is die demoniese ‘n werklikheid en die priester Lankerster Merrin (Max von Sydow) met sy kennis van die argeologie bevind hom in Hatra (Irak) en sien ‘n beeld wat lyk soos Pazuzu, ‘n demoon. In hierdie ruimte sien hy ‘n beeld wat hom waarsku dat die bose gaan toeslaan. Hy is dan een van die priesters wat die jong kind moet eksorseer in Georgetown, VSA. Met die hulp van Vader Karras (Jason Miller), ‘n priester wat sy geloof verloor het, word die kind van haar demone bevry, ofskoon albei die priesters sterf tydens die proses. Die film analiseer die verskille tussen geloof en sielkunde. Vele besoeke aan dokters en sielkundiges kan helaas nie die kind van demoniese besetting bevry nie. Geloof en rites alleen kry dit reg.

 

In hierdie roman moet die leser self besluit of die Goeie die Bose troef. Dwaal ons dalk vra ‘n karakter, omdat ons nie die Skrifte ken nie en die krag van God misken, aldus Matthéüs 22 vers 29? Aldrie hierdie uiteenlopende tekste ondersoek immers dat jy aan die bestaan van Iets moet glo alvorens dit ‘n impak het? Of nie?

 

Regan se hele lyf skud immers weens die poltergeeste wat haar oorgeneem het. By Smith word skisofrenie beskou as een van die ergste en duidelikste tekens van die bestaan van Satan (95). En daardie Satan, meen die naïewe belyer, kan by ‘n klein gaatjie inkom, al is dit so klein soos ‘n koeëlgaatjie.

 

Die otchitka word steeds in die Rooms-Katolieke kerk beoefen. ‘n Gebed deur die priester wat water sprinkel oor die persoon moet die duiwel(s) verdryf. Trouens, die priester verduidelik dit vir die moeder in The Exorcist.

 

Francois Smith teken hierdie tafereel helder.  Hy is nie satiries oor sy karakters nie. Jy is oortuig van sy karakters se lewensfilosofie: van Junior wat uitgelewer is aan ‘n jesebelgees; van gedagtes wat soos vlermuise vlieg; van God se post-traumatiese stres, omdat sy Seun lank voor hom gesterf het … (155).

 

By Smith handel dit oor Bevrydingsgodsdiens en lekeprediker; In Paljas sien ons die NG Kerk in aksie en in The Exorcisten die Rooms-Katolisisme wat demone kan eksorseer.

 

Elke teks reageer uniek op die Bose met die geloof dat die Goeie in die Onsienbare dimensie sal oorwin. (KYK WEER/ Francois Smith gesels oor sy verslag van drome en visioene | Netwerk24. Besoek 6 September 2021).

 

Harold Bloom se boek Angels in America (2005) ondersoek eweneens die impak van hierdie soort geloof. Daar is ook The American Religion: The Emergence of the Post-Christian Nation (1992). 

 

‘n Roman wat baie goed werk met implikasie, subteks en verwysings. Hierdie mense bestaan wel. Hulle eet Doredo pizzas, kry aalmoese van ander en jare terug het so ‘n lekeprediker teenoor my opgemerk dat depressies van die duiwel is. As Harold Bloom die impak van hierdie soort geloof op die gemeenskap analiseer, dan weet ons dat ons moet kennis neem.

Monday, September 6, 2021

Resensie | Ena Jansen - Immigrant: ‘n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers | H&R, 2021

Immigrant: ‘n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers. H&R, 2021. ISBN 978 0 7981 8203 4

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Meester van die prosodie en posodinie

 

Die enorme posisie wat Elisabeth Eybers (1915 – 2007) inneem binne die Afrikaanse én Nederlandse kanon kan nie verminder of ontken word nie. As ons eerste gepubliseerde vrouedigter het sy alreeds ikoniese status verwerf sowel hier te lande as in die buiteland. Sy verlaat Johannesburg in 1961 op ouderdom 46.

 

Geen kursus oor vrouedigters kan sonder haar nie en Hélène Cixous en Julia Kristeva laat haar oopwaaier vir jong studente wat haar gedigte besielend en slim vind.

 

Die pragversameling gedigte is deur ‘n kundige leser Ena Jansen gemaak wat ons op die belangrikste aspekte van Eybers se digkuns attent gemaak het soos die sogenaamde “tussentaal” waarin sy dig. Die verhouding tussen moederland en aangenome land word deur hierdie skerp intellek ondersoek. Jansen noem haar tereg die literêre dubbelganger met ‘n dubbele poëtisiteit. Inderdaad skryf sy in Amsterdam haar beste verse en sy takel die tabelleland sodat (en totdat) dit haar nuwe tuiste word.

 

Afstand en verbintenis (1996) heet Jansen se studie oor ‘n digter wat die “voelhorings van ironie” ken en die paradoks by uitnemendheid bedryf. Lina Spies het al op die merkwaardige ooreenkoms tussen haar en Emily Dickinson gewys in Die enkel taak (1995).

 

Die volledige vrouwees word in haar digkuns opgeteken. Ons verneem van siektes (griep, ‘n besoek aan die arts), beserings na ‘n val, sonde met die bure en ‘n gesprek met ‘n kleinkind. Sy lewer egter ook kommentaar op die digproses – soms ironies met 'n gedig wat "Rymdwang" heet. Sy is beheer van die prosodie en weet wat posodinie behels (die vermoë om pyn te kan hanteer). Gedigte word selfs gedroom; sy skryf oor haar ouers met heimwee terug na haar tuisland wat altyd binne-in haar bly.

 

Sy is ook ‘n uitstekende vertaler (o.a. uit Frans) en haar selfvertalings gee baie om oor na te dink. Jy sien hoe sy assosiatief ‘n gedig transporteer van een taal na ‘n ander sonder om ooit vorm in die slag te laat bly.

 

Eybers is al deur verskeie digters geparodieer en aangespreek: Antjie Krog, Lina Spies, Johann de Lange, Daniel Hugo, Dolf van Niekerk, Eveleen Castelyn, I.L. de Villiers, o.a. Haar verbluffende vormbeheer het min gelyke. Die distigon, sonnet, ballade en kwatryn, beheer sy behendig. Sy is ironies; ander kere satiries soos in “Wespark”; dan weer nostalgies en in latere jare selfs (self)verminderend. 

 

En selfs ‘n bietjie stuitig in “Die ouderdom is nie noodwendig saai” met die dubbelsinnige slot.

 

Daar is gedigte wat elke digkuns-liefhebber met sig saamdra soos “Orkaan”, wat selfs ‘n pendant vind in ‘n gedig van die Suid-Afrikaans gebore Jonty Driver in Still further (2021). Ander klassiekes vir my is "Taalles" en "Navrae":

 

Navrae

 

Die aard van angs is dat dit tydelik kwel.

Verdriet, volgens 'n ou ballade, duur

twaalf maande en 'n dag, tot op die uur.

Die ritueel van rou is vasgestel.

 

Vreemd, van berou word nie so veel vertel.

Waar vind 'n mens 'n betroubare gedig

om jou oor die vervaldag in te lig

van daardie individueler hel?

 

'n Sentrale vers in hierdie versameling is die "Voetjie vir voetjie", omdat gedigte róndom migrasie en aanskoms nuwe betekenisse en implikasies genereer.

 

Voetjie vir voetjie

 

Voetjie vir voetjie word mens immigrant ...

Toevallig uit, toevallig tuis, gestrand

op hierdie teennatuurlike terras

sonder om ooit onloënbaar aan te land.

 

Die latere Eybers spreek veral tot hierdie leser waar sy ironies kyk na die "hardvogtige selfbejag" van die digproses ("Voortplantingsrym" uit Winter-surplus, 1999).  Die “beproefde patologie van poësie”, soos sy hierdie proses in "Verklaring" uit Verbruikersverse (1997) tipeer, neem ons na haar vreeslose laatwerk. Sy het getransformeer van die “vroulike aanvulling tot Dertig” tot ‘n skildery deur die internasionaal-bekroonde Marlene Dumas.

 

Daar is 'n handige indeks met eerste reëls van gedigte en verwysings waar gedigte staan. Om die tema van immigrasie / migrasie vind ons 'n sinryke versameling oor teenstellings en die soeke na balans. ‘n Groot versoek: plaas asseblief die samesteller se essay [1] in die boek. Skutblaaie raak allengs verlore.

 

Daardie grensgebied tussen liggaam en gees verwoord sy, soos Jansen uitwys. Eybers se idiolek is noteer, agteloos, tintel, allengs, sintels, respyt, gewrogte, bedolwe, om ‘n paar uit te sonder.

 

Hierdie is 'n keuse vir elke poësieliefhebber en met die boeiende tematiese keuses kry gedigte  langs mekaar geplaas nuwe betekenisse. Hierdie leser was opnuut so onder die indruk van ‘n digkuns wat stadig geheime prysgee; dikwels weifelend tussen implikasie en ‘n hartwankelingsdroom. As ‘n Röntgen-foto. Sy kyk deur die “tralies van tyd” met die wete:

 

Afbeelding oortref weer die werklike ding (“Weerkaatsing”).

 

Op ‘n koue wintersoggend lees ek gedigte uit hierdie bloemlesing voor vir my buurman en hy knik instemmend sy kop oor hoe goed “Taalles” is en hoe sy selfs in ‘n klein kwatryn jou ontroer:

 

Vir Bert

 

Noudat jy swyg is daar niks meer

vir my ooit nog te begeer

buiten die tydstip waarop ek

dieselfde stilte mag betrek.

 

Die digkuns as noodluik én onderdak. As kruis of munt. Met elke herbesoek van hierdie bloemlesing vind die leser nuwe aspekte van hierdie meester(es) van implikasie. Immigrant én Emigrant. Hier en daar. En al die genderopposisies waaroor Cixous skryf in Sorties (Uitgange) kan jy aflees in haar gedigte …

 

‘n Groot dank aan Ena Jansen se goeie oes.

 

Vir Eybers dan:

 

Elisabeth Eybers: Pegasus

Joan Hambidge

 

Gespierde hings, my teuelgreep tem jou trots,

boetseer die ritme van jou vaart ...

Elisabeth Eybers: Amasone

 

Die aard van dig is dat dit immer bly dikteer; 

dit wis jy met afstand én ironie in selfbevestiging. 

In die verte tot woordimmigrant gepromoveer, 

ry jy perd in die vleuels van jou verbeelding. 

Uitermate of uitgedien word hierdie digterlike verweer,

'n antwoord op jou, niks meer as selfverloëning?



















Elisabeth Eybers op Prins. In ‘Rit voor die storm’ en ‘Tuiskoms in Junie’ 

skryf sy oor haar perd.


[1] Ena Jansen, Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam · dbnl