Monday, March 25, 2013

Eddy van Vliet - ’n Pleidooi vir die poësie (Vertaal deur Heilna du Plooy) (1998)



Eddy van Vliet. ’n Pleidooi vir die poësie. (Vertaal deur Heilna du Plooy). Protea Boekehuis, 1998. ISBN 0 620 22858 X.

Resensent: Joan Hambidge

Ons leef in 'n wêreld waar die  digter 'n agtergeblewene geword het. Oralsoor is dit die tyd van die romanskrywer, van die vertelling. Kyk maar net hoé bloedloos het ons Afrikaanse poësie geword.

Die ou bestendige name lewer dieselfde werk. Die jong talente is of dood-stil of tokkel al hul metafore op die verhoë uit. Self-gepubliseerde poësie-tydskrifte is tam. Oor die “gehalte” is daar ook nie meer eenstemmigheid nie en die gebruis op die digterlike toneel het plek gemaak vir 'n skouerophaling.

Heilna du Plooy se vertaling van Eddy van Vliet se Poëzie: Een Pleidooi maak immers weer die debat wakker. Van Vliet is 'n regsgeleerde en praktiseer tans as advokaat in Antwerpen. Du Plooy is digter en akademikus en hierdie kombinasie verduidelik haar belangstelling in die onderwerp.

In haar voorwoord skryf Du Plooy dat dit dan ook interessante perspektiewe vir die leser oopmaak wanneer 'n digter oor sy/haar eie werk kommentaar lewer. Om Van Vliet se elegante essay op te som in enkele sinne, sal nie reg laat skied aan die bedoeling van hierdie teks nie.

Tog is daar 'n paar interessante stellings wat 'n mens bybly: die digter kyk soos 'n kind na die werklikheid; sintuie word oopgestel; vir hom/haar is die vlinder 'n dubbelgevoude liefdesbriefie op soek na die adres van die blom (Jules Renard).

Die digter het volgens die man-in-die-straat nie kontak met die werklikheid nie; nee, skryf Van Vliet, die digter het werklike kontak in 'n lewe waar ons oorval word met te veel taal, te veel advertensies, te veel sinnelose beelde. Die digter heraktiveer weer die betekenis van woorde se oorsprong en maak die blik op die verdorwe werklikheid nuut.

Hy verwys ook na Enzensberger se beroemde ars poetica van 1963 wat soos volg begin:

Moenie odes leer nie my seun,
lees die treinroosters: hulle is noukeuriger.
Rol die seekaarte op, voordat dit te laat is.
Wees waaksaam, moenie sing nie.
Daar kom 'n dag waarop hulle opnuut lyste
teen die deure kom vasspyker
en die wat nee sê op die bors sal merk (p. 13).

Daar word hiermee 'n ironiese blik op die funksie van die digkuns gegee waarvan die nutswaarde nie herleibaar is tot 'n teken – $ – is nie, maar iets is waarsonder ons nie durf bestaan nie.

Ook kan die digkuns nie die politieke werklikheid verander nie; al was dit dan die eis van digters soos Pablo Neruda, Erich Fried, Jevgeni Jevtoesjenko, Rafael Alberti, Hans Magnus Enzensberger, Bertold Brecht en ander.

Die gedig transendeer die politieke werklikheid, omdat dit praat met universele beginsels. Dit mag mense op 'n indirekte manier insig gee in hul situasie, maar dit verander nie werklikheid op 'n direkte manier nie. Ook wys Van Vliet daarop dat besinnings oor die digkuns dikwels tot stom-vervelige herhalings kan lei. Sy Pleidooi – gelewer voor nie-ingeligtes – wil juis die dromende denke verduidelik en mense bewus maak van die feit dat hulle die kind (en hierby inbegrepe die digter) in hulself doodgemaak het.

Dit was Lorca, onthou ek, wat so so 'n kreatiewe ouma had. Selfs water wat kook is beeldend, metafories aan hom oorgedra. Hierom waarskynlik dat hy tot selfs in sy laaste gedigte nooit die blik van die kind afgesweer het nie.

Ek dink in hierdie verband aan sy breirympie - vertaal deur Uys Krige en opgeneem in Spaanse dans (Perskor, 1991, p. 41):

Mammie,
ek wil graag silwer wees.

My kind,
dan sal jy koud kry, ek is bevrees.

Mammie,
ag, was ek maar van goud gemaak.

My kind,
dan sou drie dieners oor jou waak.

Mammie,
ek sou 'n diamant wil word.

My kind,
dan slyp hulle jou mos klein en kort.

Mammie,
was ek maar ou Kleurklasie.

My kind,
dan kry jy snags skoon bewerasie.

Mammie,
was ek maar 'n waterval.

My kind,
jy sal verkluim...en val en val.

Mammie,
ek sou graag 'n vlam wil wees.

My kind,
dan kwyn jy...en dis klaar met Kees.

Mammie,
brei my in jou kussing in.

Dit, ja dit,
my skat,
ek gaan nou op die plek begin!

Die boek is voorsien van 'n goeie bibliografie en die werklike bonus is 'n handvol goeie gedigte van Van Vliet self. In die lieflike “Verliefd” (p. 45) word die liefde soos volg tipeer:

Liefde als een veelvoud van vergissingen.

Daar verskyn al hoe minder bundels in Afrikaans en gerugte doen die rondte dat uitgewershuise voortaan net twee bundels per jaar gaan publiseer. Mag daar tog steeds name wees wat hierdie toegevoude brief van geslag na geslag sal dra.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Insig geplaas.]