Thursday, August 12, 2021

Resensie | Meyer van Rensburg – Heenkoms | Imprimatur, 2021

Meyer van Rensburg – Heenkoms. Imprimatur, 2021. ISBN 978-0-620-92969-1

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Heenkoms is die tweede bundel van die digter Meyer van Rensburg. In 1983 verskyn Klankmanwoordboom (Human & Rousseau) wat die betekenis van klank in ‘n gedig ondersoek en ontgin. Nou, 38 jaar later, is daar Heenkoms. Heenkome, tuiskoms, afkoms, heengaan en al die ander versluierde betekenisse word deur hierdie titel opgeroep.


In die afdelings Uittrek, Uitbeeld, Uitspraak navigeer hierdie digter die impak van vertrek uit jou land en aankoms in ‘n vreemde ruimte. Die “gekopuleerde klinkers van my klankbord” waarsku die programgedig, wat telkens die afskeid (en vertrek) uit die moederland (en moedertaal) ondersoek in verskillende verse. Pynlik, maar sober. En klank is hierdie digter se métier, ‘n voormalige klankingenieur by die SAUK en liedjieskrywer vir musiekkunstenaars.


So dig hy dan:

 

Beeldkontroleur

 

voeg visie by die woorde

laat klank substansie kry

beligte klankakkoorde

crescendo vol verby

tot lampelegkaart vierkant pas

’n prentjiemooi geheel

en niks word dan weer bygelas

dis woordwys fyn gereël

profeties klaar

gekontroleer

deur woordbeeldregisseur

(41)


En:

 

Klankmanie

 

Ek wil, soos mikrofone,

woorde in my net vasvang:

die instrument se nootpatrone,

weer, berigte, klanknuanses

klodder teen my aan

terwyl ek met my gospel-goggles

die lewe gadeslaan.

Ek wil my klinkers so verstel

dat ek klankgetroue goeie nuus vertel:

die manie gaan nie dood nie,

al doof hy allengs uit.

(43)

 

Ons het hier ‘n woordvaste digter wat uit ‘n vreemde landskap terugkyk na Van Wyk Louw en Opperman. Hoe dan anders? Die digter karteer sy verlange na sy herkoms en in ‘n nostalgiese vers soos “Ganspan” (23) onthou hy die “suikersagte sand”.

 

II

Behalwe vir die migrasieverse en verse wat die klankmatige van die gedig ondersoek, is hier ook teologiese besinnings. In die slotvers “Die laaste vertrek” (93) word daar verwys na die “lyflike Egipte”  … en die gedig eindig met “Eksodus!”.


Hierdie gedig verwys terug na die vers “Eksodus 4:10” (13) waar die digter homself tipeer as “swaar van mond en tong”. Tog uit hierdie selfironiese opmerking sien ons dan verse oor klank en musiek en ‘n spreker wat hom meet aan Louw en Opperman. Tog skuil daar in hierdie gedig ‘n belangrike spel met sy “prullerige gestotter” wat uiteindelik uitstekend verwoord word. Ook die spel tipografie sien (en hoor) ons in “Wandelende Jood” (33) met sy dubbelsinnige slot. Die tuinier is hier ook die digter wat snoei en kap.


In “redigering” (42) gebruik hy die begrip anastomoseer wat netwerke en verbintenisse impliseer, maar vir hierdie leser ook die begrip anastrofe oproep. En hoe verruklik is “’n Simpel liedjie” (48) nie. “Soho: Diane Schuur” (79) is ‘n uitsonderlike huldeblyk.  Hy verwys na die “dinamies perfek getoonde woorde” en “helder kaskades” met ‘n slot wat aan die keel ruk.


Eweneens is daar beeldverse soos oor Winston Churchill en Jan Smuts wat ‘n bepaalde politieke diskoers aktiveer in hierdie dae van beeldverwydering.


Die verskille in toonaard is opmerklik: van die ernstige, wufte, frivole, satiriese tot selfspot. Die gedig sit vol ironie en dubbelspraak, die kentekens van ervare digters.


Ons vind ook ars poeticas – netjies opgebou róndom klankspel en assosiasies – wat die poësie “tradisieklas” via Van Wyk Louw, Opperman, Peter Blum en Lina Spies aktiveer.


Die migrasie na Engeland plaas die digter binne ‘n vreemde (taal)landskap met ‘n nostalgiese verlange na sy mense.


Ons tref vele Bybelse verwysings en toespelings regdeur die bundel. Die digter is opgelei in die teologie en het boeke hieroor gepubliseer en in “Teoloog” (28) soos in “Religie: sistematies opgedis” (26) word die plek van godsdiens ondersoek.


Ouderdom, liefde, familieskap, die dood en die natuur maak van hierdie bundel ‘n ryk geskakeerde werk wat elke herlees sy geheime stadig prysgee. Iets hiervan sien ons in die voorblad (“Island refuge”). In “Ou skilder” (92) som die digter sy lewensfilosofie op:

 

Ou skilder

 

En nou, voor die laaste dae kom,

wil ek nog een verfkwas laat blom:

oor seildoek strepe trek wat wys

hoe ek natuurwonders kan prys

in diep karmosyn,

chartreusegroen of amber

en teen ’n lasuur of kobalt lug

nes note in ’n koloratuurgesang

sneeuvlokwolke los laat dryf:

dan, as my doek die vrye kleurevlug

vasvang,

het my siel vir eers genoeg gelyf.

(92)

 

III

Die pragtige omslag is na ‘n skildery van die digter sélf wat ook onderlê is in die teologie. Hy het sewe boeke gepubliseer oor teologiese onderwerpe. Die gedigte verval egter nie in die abstrakte nie, omdat hy telkens die worstelende vrae konkretiseer.


In hierdie bundel word geworstel met die sin van die lewe en die ouderdom. En ‘n fan van Sinatra se “foutlose frasering” is ‘n digter so na my hart.


Daar is wat hierdie leser betref nie een swak vers in die bundel nie. Welkom terug, Meyer van Rensburg!


Dit is ‘n loflike publikasie en dank aan Imprimatur wat dit gepubliseer het. Die resensie het oorspronklik op die Versindaba verskyn (Versindaba » Blog Archive Resensie. Heenkoms (Meyer van Rensburg).

 

Naskrif:

Kyk hoe mooi het wyle Gisela Ullyatt oor die eerste bundel geskryf wat ek vir haar present gegee het (Versindaba » Blog Archive Gisela Ullyatt. 'Ek wil weer jou rooikors breek'/ ontworteling in KlankmanwoordboomBesoek 14 Junie 2021).

 

Monday, August 9, 2021

Resensie | Magmoed Darwiesj – Die vlug van ‘n vreemdeling | Naledi, 2021

Magmoed Darwiesj: Die vlug van ‘n vreemdeling (Vertaal deur Bester Meyer). Naledi, 2021.  ISBN 978 928 530 206 

Resensent: Joan Hambidge



Ek is jou metafoor, en ver van die roete van my lotsbestemming

 

I

In 2009 verskyn Breyten Breytenbach se bundel oor Magmoed Darwiesj – oorblyfsel / voice over  – wat hierdie Palenstynse digter aan ‘n Afrikaanse en Engelse leserspubliek bekend gestel het. Die voice-over in die filmkuns is wanneer ‘n verteller, dikwels vanuit ‘n agternaperspektief, die verhaal situeer en verduidelik. In hierdie bundel is dit ‘n vriend getref deur die dood van ‘n kameraad wat deur sy gedigte iets van homself en van politieke onreg probeer begryp. 

 

Sopas verskyn Bester Meyer se Die vlug van ‘n vreemdeling, sy Afrikaanse vertalings van Darwiesj met inleidende refleksies deur Breytenbach en ‘n nawoord deur Shahd Abusalama.

 

Die digter Magmoed Darwiesj (1941 – 2008) se werk het trefkrag en hy word tereg gesien as een van die belangrikste digters in die Arabiese taal. 

 

Die gedigte is roerend mooi veral róndom die vreemdelingskap. Die digter bevind hom van jongs af in ‘n geweldgeteisterde omgewing en in gedig VII (74, 75) skryf hy:

 

O Dood, wees ‘n seën vir die vreemdeling

wat die ongesiene 

duideliker sien as ‘n realiteit wat nie meer werklik is nie. 

 

Hierdie gedig is deel van die reeks “Elf planete oor Andalusië” waarin hy Lorca aanspreek, en identifiseer met die gewelddadige dood van hierdie digter:

 

Ek is ‘n Adam van twee Edens –

Ek het die paradys twee keer verloor.

Verdryf my daarom stadig,

En vermoor my stadig,

– onder ‘n olyfboom –

 saam met Lorca.

 

Dit herinner dan ook aan Pablo Neruda se beroemde Ode aan Lorca. [1]

 

Die vers “O water, wees ‘n snaar vir my kitaar” (gedig VIII in hierdie reeks) werk met ‘n refrein. Water as ‘n spieël moet die herinneringe terugbring voor die ballingskap. Dit sluit met ‘n pynlike wete dat die veroweraars gekom en gegaan het en dat politieke onreg herhaal word. Die beste deel van die digter is agtergelaat: die verlede.

 

Die musikaliteit van die verse is opvallend soos ons sien (en hoor) in “XI Viole”. Dog met die pynlike wete:

 

Viole is die anargie van harte wat gek gemaak word

deur die wind van dansvoete. (82)

 

Uit Ek sien wat ek wil sien (1993)  gee die digter erkenning aan Munir Akash en Carolyn Forché met verwysing na Fady Joudah se vertaling. Nou onlangs het ek verwys na die vergelykings wat George L. Kline maak.  Tien Engelse en tien Amerikaanse vertalings van Anna Akmatova word onder die loep geneem en met die oorspronklike gedig vergelyk. In die formele digkuns moet die metriese patrone en rymskemas gevolg word, meen hy tereg. Hy praat van die sogenaamde “verse integrity” (Seven by Ten/ An Examination of Seven Pairs of Translations from Akhmatova by Ten English and American | Besoek 23 Junie 2021).

 

En dis juis hierdie vergelykings wat ‘n vertaler moet raadpleeg om sy eie weergawe te “toets” teen ander vertalings of herdigtings.

 

In die gedig “Poëtiese regulasies” (132) word die digter se werkswyse veral treffend onthul. Die gedig as selfrefleksie, as iets wat jou kortstondig in die eg verbind; maar die gedig verlaat ook die spreker:

 

Die gedig is in my hande –

ek kan stories deur haar vingers laat vloei.

Máár vandat ek die gedig aangryp

is ek ‘n verkwister van my siel,

en vra dus:

Wie ís ek?   Wie ís ek?

 

Die ambivalente verhouding met die gedig en die skryfproses, word voortreflik in hierdie gedig beskryf. Hierom versoek hy in “Ons loop op die brug” (150) dat hy die ware land wil beleef; nie die metafoor nie. Hierdie meta-poëtiese besinnings (met die gedig as ‘n toestand van afwesigheid) is ‘n belangrike aspek van sy digkuns. Die wete dat skryf in ‘n tyd van ongeregtigheid ‘n eggo op ‘n eggo word. Hierom die verafge-leën-tyd van taal (“Jou nag is ligpers”, 153).

 

Die gedig as vervreemding – die vreemdeling wat sigself raakloop ín die vreemdeling – word briljant beskryf in die gelyknamige gedig (154). Nie alleen Lorca, wat in 1936 deur die militia vermoor is, word aangespreek nie, maar ook Celan wat selfmoord gepleeg het in Parys in 1970.  Hierdie mede-digters se werk word in gedigte geaktiveer soos in “’n Wolk van Sodom” (156).

 

Die Nakha (ramp of katastrofe) word eweneens beskryf – en watter elende die Palestyne in vlugtelingkampe woon – word skrynend opgeroep in “Die muurskildery” (188) met die digter as pleitbesorger weergegee met die slot:

 

En my naam, alhoewel ek dit verkeerd

oor die doodskis uitgespreek het, is myne.

Wat my aan betref,

gevul met elke rede om te gaan:

ek is nie myne nie

ek is nie myne nie

ek is nie myne nie. (229)

 

Die gedigte word ook gekenmerk deur paradokse deur die persoonlike wat nie persoonlik is nie, omdat hy namens ander praat (214):

 

Maar ‘n wond op die gegewe oomblik

skend die kwynende niksheid

en beweeg verby die tydelike dood om denke te word.  

 

II

Bester Meyer se vertalings is aangrypend-mooi. In die “Notas, Woordelys en Erkennings” neem hy die leser telkens na belangrike kwessies rondom die vertaling en die verstaan van die gedigte. Hy wys op die dubbelsinnigheid van Nahawund wat sowel verwys na klassieke Arabiese musikale modusse as ook die naam van ‘n gebied in Iran. Hudhud vertaal hy as hoep-hoep. Misr kan stedelike lewe en Egipte beteken. Alles belangrike punte vir die lees van die bundel en wat bewys dat die vertaler sy werk ernstig opgeneem het.

 

Die opstel deur Shahd Abusalama gee vir die leser ‘n onthutsende beeld van die ellende wat die Palestyne verduur het en steeds verduur. Breytenbach se beeld van hierdie digter is eweneens tersaaklik wanneer hy skryf dat hy nie sal vervaag nie. Die herhaling van die “nie” beklemtoon juis dat hy sal bly leef:

 

Hy sal nie vervaag nie. Nie die silhoeët in sy netjies, ouderwetse klere en gepoleerde skoene nie. Nie die intelligente oëagter die dik lense nie. Nie die geterg, of die nuuskierigheid oor die wêreld en die intimiteit van sy uitreik na dié naby hom nie …

Nie die gasvryheid om nooit sy pyn jou op te lê nie… (3)

 

“Ons was sonder ‘n hede” (144) bely die digter in ballingskap, beroof van lewensgenot. 

 

Die gedigte verklap met elke herlees iets nuuts en vir die Westerse leser veel te lere! Oor die digter Al-Ma’arri en die Muwashah, ‘n Andalusiese digsoort wat opgesê en gesing word.

 

Die leser hoor die digter se stem: verwytend, pleitend en as swerwer:

 

Ek het die metafoor van ‘n swaeltjie geword

om bo my oorblyfsels te hang

in die herfs en in die lente …

 

Dit is ‘n belangrike publikasie. Een wat vra vir herlees en herbesoek saam met Johan Steyn se aangrypende vertalings uit die Hebreeus, saam met die Joodse digter Israel Ben-Yosef: Olyfwoestyn (1987).

 

Die bundel beslaan 300 bladsye en is werklik die moeite werd om sy verlore Eden te besoek.

Hierdie resensie het op Versindaba verskyn: Versindaba » Blog Archive Resensie/ Die vlug van 'n vreemdeling (Magmoed Darwiesj.


 

Endnote:

 1. “Ode to Federico Garcia Lorca” deur Pablo Neruda – in Afrikaans vertaal deur Uys Krige – klink so in Engels:

 

Ode to Federico Garcia Lorca

Pablo Neruda

 

If I could cry out of fear in a lonely house,

if I could take out my eyes and eat them,

I would do it for your mournful orange tree voice

and for your poetry that comes out screaming.

 

Because for you they paint the hospitals blue,

and the schools and seaside barrios swell

and are populated with the feathers of injured angels

and are covered with the scales of bridal fish,

and the sea urchins are taking to the sky:

for you the tailor’s shops with their black membranes

filled with blood and spoons,

and they swallow torn ribbons, and they murder with kisses,

and they dress in white.

 

When you fly away dressed as a peach,

when you laugh the laugh of hurricane-thrown rice,

when you sing you make teeth and arteries tremble,

throat and fingers,

I would die for the dulcet thing that you are,

I would die for the red lakes

where you live in the middle of autumn

with a fallen steed and a blood-soaked God,

I would die for the cemeteries

that pass by like ashen rivers

with water and tombs,

at night, amongst muffled bells:

rivers thick as bedrooms

of ill soldiers, who suddenly swell

toward death in rivers with marble numbers

and decaying garlands, and funeral oils:

I could die from seeing you at night

gazing past the piled-high crosses,

standing crying,

because before the river of death you cry

abandonedly, injuredly,

you cry crying, with eyes full

of tears, of tears, of tears. 

 

If I could at night, hopelessly alone,

amass oblivion and shadow and smoke

above railroads and steamboats,

with a black funnel,

chewing the ashes,

I would make the tree in which you grow,

the nests of golden water that you gather,

and the vine that covers your bones

communicating the secret of the night.

 

Cities that smell of wet onion

wait for you to pass by singing hoarsely,

and silent ships of semen pursue you,

and green swallows nest in your hair,

and seashells and weekdays, too,

furled masts and cherries

definitively spin when

your pale head of fifteen eyes

and your mouth immersed in blood appear.

 

If I could fill the city halls with soot,

and, sobbing, tear down clocks,

I would be there to see when summer comes

at your house with broken lips,

here comes a crowd of people in death suits,

here come regions of sad splendor,

here come plowed dead poppies,

here come gravediggers and riders,

here come planets and maps with blood,

here come divers covered with ash,

here come masked men dragging maidens

held against large knives,

here come roots, veins, hospitals,

springs, ants,

here comes the night with the bed where

a solitary hussar is dying among the spider lamps,

here comes a rose of hatred and pins,

here comes a yellowish embarkation,

here comes a windy day with a child,

here I come with Oliverio, Norah,

Vicente Aleixandre, Delia,

Maruca, Malva Marina, María Luisa and Larco,

la Rubia, Rafael Ugarte,

Cotapos, Rafael Alberti,

Carlos, Bebé, Manuel Altolaguirre,

Molinari,

Rosales, Concha Méndez,

and others I’m forgetting.

They see that you are crowned, young man of health

and butterfly, pure young man

like a black flash of lightning perpetually free,

conversing among us,

now, when no one is between the rocks,

let’s simply talk about how you and I are:

what do verses serve if not the dew?

 

What do verses serve if not for this night

in which a bitter dagger finds us, for this day,

for this twilight, for this broken corner

where the battered heart of man prepares to die?

 

Especially at night,

at night there are many stars,

all within a river

like a ribbon next to the windows

of the houses full of poor people.

 

Someone has been killed, perhaps

they have lost their jobs in the offices,

in the hospitals, in the elevators,

in the mines,

the stubbornly wounded beings suffer,

and there is purpose and weeping everywhere:

while the stars run in an endless river

there is profuse weeping in the windows,

the doorsteps are worn from the weeping,

the bedrooms are wet from the weeping

that comes in form of a wave to eat away the carpets.

 

Federico,

you see the world, the streets,

the vinegar,

the farewells at the stations

when the smoke raises its decisive wheels

toward where there is nothing but some

separations, stones, tracks.

 

There are so many people asking questions

everywhere.

There is the bleeding blind man, and the irate, and

the downhearted,

and the miserable, the tree of fingernails,

the bandit with envy on his back. 

 

Thus it is life, Federico, here you have

the things that my friendship can offer you

from a melancholic, manly man.

Already you know many things for yourself.

And you will know others slowly.



(eNOTHING - Poems, Poets, and Poetry made easy.../ Poem of the Day – "Ode to Federico Garcia Lorca". Besoek 5 Julie 2021).



(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Versindaba)

Thursday, August 5, 2021

Resensie | Alfred Schaffer - Wie was ik. Strafregels | De Bezige Bij, Amsterdam, 2020

Alfred Schaffer – Wie was ik. Strafregels. De Bezige Bij Amsterdam, 2020. ISBN 978403 183 107

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Alfred Schaffer is bekroon met die gesogte PC Hooft-prys. Sedert sy debuut Zijn opkomst in de voorstad (2000) het daar agt ander bundels gevolg. Mens dier ding (2014) het besondere uitdagings aan die leser gestel en dit is ook uitstekend vertaal deur Zandra Bezuidenhout vir Afrikaanse lesers. Hiervoor ontvang hy drie pryse: die Awater-, die Paul Snoek- en Charlotte Köhler-pryse. Die digter Daniel Hugo het eweneens 'n gerf van sy verse vertaal. Verder is sy gedigte beskikbaar in Engels en Frans.

 

Die verhoudings tussen ouers en kinders het al tot fassinerende gedigte aanleiding gegee. In Afrikaans is daar Breytenbach se "'n brief van hul vakansie" waar die ouer en kind in 'n ewige inkarnasie-verhouding tot mekaar staan, soos Henning Snyman uitwys in Mirakel en muse (1983).

 

In Schaffer se jongste bundel gee hy stem aan die moeder wat die Karibiese eiland (en haar familie verlaat) en in Nederland trou met 'n Nederlander. Die swart vrou en wit man het 'n dogter en seun; die dogter sterf vroeg en die seun gee nou 'n stem aan hierdie geskiedenis wat migrasie, kulturele verskille, rassisme en al die komplekse kwessies aanraak. In die verantwoording word daar erkenning gegee aan Frantz Omar Fanon, die psigiater en politieke filosoof van Martinique, se Peau noire, masque blanc (1952), Black Skin, White Masks, en die werk van Susie King Taylor, o.a.

 

Postkolonialisme, "the empire writes back", agentskap en dekolonisasie het belangrike konsepte geword in ons tyd. Die stemlose het stemhebbend geword. In hierdie bundel word die digtende spreker 'n buikspreker vir die geskiedenis van sy ouers en sosiale onreg. Fanon is bekend vir die term "double consciousness". In Les damnés de la terre, 1961 (The wretched of the earth) verdedig hy geweld teen verdrukking. Hierdie boek is in Frankryk verbied en Schaffer speel hierop in:

 

Tijd dag plaats - mensen wat een drama

 

Ik weet wel wat de bromvlieg drijft

Die continu tegen mijn vensterraam blijft vliegen.

––

Zijn geblokte bewegingen.

Een kleine zwarte held die lak heeft aan censuur.

Het is zo lang geleden allemaal.

Ik hoop dat hij snel vrijkomt.  (34)

 

Die digter buikspreek vir die ouer (41) en die stem van die vertellende digter word onderbreek deur prosa-insette of selfs deur 'n dreigende e-pos. Die lewe van die migrant word beskryf as 'n bestaan van 'n muisval met 'n blokkie kaas.

 

Taal en vervreemding word ook aangespreek: die eerste taal is in bruikleen; die tweede een word vir noodgevalle agter die hand bewaar.

 

In die gedig "Wie was ik" (84) vind ons 'n enumerasie van onreg en pyn. Hierdie gedig resoneer met Johann de Lange se gedig "Ek is my" in Die meeste sterre is lankal dood (2020).

 

Dit is 'n melancholiese bundel met verskillende stylsoorte wat die werklike en emosionele grense tussen lig en duisternis ondersoek. Die bundel bestaan uit fragmente, gedigte in kursief, opgebreekte reëls, afwaartse reëls, e-posse, chiasmus en prolepsis, oftewel die vraagstelling en beantwoording van daardie dikwels retoriese vrae. Dit is 'n metamodernistiese bundel wat implisiete vrae vra oor die boomstruktuktuur van ontelbare werklikhede (97)

 

"tegen de patrijspoort / van my isolement" (105) lees ons. Is kleur (huid) 'n seën of vloek? Die bundel sit vol ironieë soos 'n e-pos wat aanbeveel dat 'n mens iets uit 'n krisis moet leer (78).

 

Schaffer is woonagtig in Suid-Afrika en doseer in die Afrikaans en Neerlandistiek departement  aan die Universiteit van Stellenbosch. So bekyk (en versoen) hy dus drie wêrelddele as buitestaander én kritiese waarnemer. Waar Elisabeth Eybers na Suid-Afrika in 'n tussentaal terugbeweeg het, reik Schaffer uit na Nederland en haar kolonies in sy eie taal.

 

Dis 'n uitdagende en ontroerende bundel. Een waarin die kind stem gee aan die moeder wat anders net sou verdwyn het. Aruba en Curaçao word geplaas teenoor die Lae Lande: en mense mag grondwetlik gelyk wees, maar die realiteit wys iets anders op. Alles staan hier in tweevoud: die "double consciousness" van Fanon word poëties ondersoek. Schaffer begryp die "ultrasoniese vibrasies" van sy tyd soos hy dit klinkend stel soos opgestel in die programvers "Mira Akí!".

 

Daar is reëls wat my altyd sal bybly:

 

ik ben als de liefde een veeg uit de pan

een harde emotie (56)

 

blijt ineengezakt achter op de bodem van mijn geest

als een marionet zonder touwtjes (57)

 

'n Bundel van afskeid en vertrek; vertrek en aankoms. Die bundel stel besondere eise aan haar leser, maar aanhouer wen! 

 

Resensie | Jaco Fouché – Simoelégri | Human & Rousseau, 2021

Jaco Fouché – Simoelégri. Human & Rousseau, 2021Isbn 978 0 7981 82 02 7

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie roman, wat 126 bladsye beslaan, het die groot romanwedstryd gewen teen bekende skrywers soos Ingrid Winterbach, Francois Smith en Kirby van der Merwe. Die roman word tereg as enigmaties beskryf met marginale karakters wat mekaar in ‘n “postapokaliptiese verstrooiing” probeer vind. 

 

Uiteraard plaas hierdie tipering die roman onmiddelik teen die werk van Willem Anker se voortreflike Skepsel (2020) en Alettie van den Heever se skitterende Stof (2018).

 

So ‘n wenner roep onmiddellik vergelykings op met ander wenners (Dan Sleigh, Winterbach) en naaswenners (Etienne van Heerden, Alexander Strachan …).  

 

Boordelaarspanele word dikwels ‘n kollektief (aldus Jung) en word beïnvloed deur nie-tasbare of sosiaal-politieke onderstrominge. Jare, jare later kyk ‘n mens terug en dink hoe het dit gebeur? 


En in die reklamestuk staan daar met groot stelligheid:” met die werklik gesaghebbende, wyse, filosofiese stem van ’n ervare skrywer aan die woord.”

 

Die teks word ook as elegies beskryf met ‘n spirituele soeke …

 

Wanneer die uwe resenseer, word ‘n boek ten minste driekeer gelees. By die lees van hierdie roman van Jaco Fouché, wat heet Simoelégri, het die uwe jurielede aangestel om my van raad te bedien.


Ek het my ouija-bord uitgehaal en begin soek …

 

Dit was die groot romanskrywer Virginia Woolf wat gewaarsku het die lees van ‘n roman ingewikkeld is en dat jy uiteindelik die reëls-van-die-spel wat die skrywer voor jou neersit, moet nakom. Omdat daar met gendersake gespook word, was Woolf dus die eerste lid van die jurie.

 

Om die hele kwessie van transgender in ‘n roman aan te spreek, vra uiterse besinning, waarsku sy. 


“Ek dink die enigste volwaardige “cross dresser” in die Afrikaanse letterkunde is Hennie Aucamp se “Vir vier stemme” (uit: Volmink) en oor transgender is daar maar sopas ‘n outobiografie geskryf deur Robert Hamblin. Dit is al uiteraard ‘n problematiese romangegewe wat vergelykings sal oproep – ook met Orlando. Natuurlik lewer dit kommentaar op die tyd en die klassessisteem (en ja oor Vita Sackville-West), maar dis ‘n roman van metamorfose,” laat weet sy stadig en afgemete.

 

(Ek sou Foucault wou uitvra oor Herculin Barbin wat in 1980 verskyn het oor die 19e eeuse hermafrodiet, maar ek is ingelig dat hierdie teoretikus knorrig reageer op enige navraag via ‘n oujia-bord.)

 

Dus gaan ek maar na Nabokof, een van die grootste skrywers en kenners van die romankuns.

 

Vladimir Nabokof brom-brom en verwys my na sy beroemde Cornell-lesings (wat in 1980 by Wiedenfeld verskyn het) oor klassieke romans in die wêreldletterkunde waar hy tekste uitmekaar haal soos wat jy ‘n legkaart bou.

 

Die boek val oop by Flaubert se beroemde dictum dat die outeur orals aanwesig én onsigbaar moet wees in sy roman, soos God in sy wêreld.

 

In die genoemde Cornell-lesings is daar ‘n eksamenvraag oor Madame Bovary: What had Emma read? Name at least four works and their authors

 

Dieselfde vraag kan aan lesers van Fouché gevra word, meen hy.

 

Daar is verwysings na die Boek Jona, Boeke oor Marilyn Monroe en Sylvia Plath, die Bybelkonkordansie. Sumeriese geskrifte. Alles sleutels.

 

Maar maak die outeur Fouché werklik iets hiervan? Mooi oomblikke is daar: Leef dubbeltyd, bladsy 109; die riool van die stad wat parfumeer; die aarde wat post-alles is; selfs post-hemel (99); Uit die bloed van onse hemel, ens. ‘n Lewensverhaal wat net 2000 woorde behels! Boeiende Ronnie en Dean. 

 

In Nabokof se Lectures on Russian Literature val die boek by Maxim Gorki oop en sy analise van The Lower Depths. Nie ‘n groot skrywer nie, maar tog relevant binne die sosiale struktuur van Rusland. 

 

Dalk omdat Fouché in sy roman - met die subtitel – Stad van onrus – die verloedering van ‘n stad aanspreek, het hierdie roman die paneel aangegryp?

 

Aktualiteit en spanninge rondom politiek en ongelykhede beskryf?  Lady Die (“Dame Dood”) die transgender-figuur, woonagtig in ‘n verlate ou kerk in ‘n fiktiewe Simoelégri, is weliswaar ‘n interessante gegewe.

 

By Fouché is die klassesisteem die bekende haves/have nots en die kerk aktiveer in die verbeelding (dalk?) daardie een op die Groentemarkplein indertyd beset deur haweloses en inkommers, uiteindelik verwyder deur die polisie.

 

(En hier is ‘n virus, onrus, dwelmhandelaars, die hitte van ‘n konkavuur.)

 

Jaco Fouché het alreeds ‘n bestendige plek ingeneem binne die Afrikaanse vertelkuns, veral met sy besonderse debuut, Die ryk van die rawe in 1996 en die onlangse Aanspreeklikheid. Met hierdie roman voel hierdie leser dat die roman die tekstuur en drif mis van daardie twee boeke. Dalk te vinnig gepubliseer vir die romanwedstryd? Die roman sou gebaat het met ‘n verdere herskrywing. 


Hopelik beantwoord ek die vraag gerig aan die leser op bladsy 125:

 

“En jy, leser, hoe is jou tydsgees? Wie is jy wat hier lees? Watter soort mens?”


Hopelik sal hy weer ‘n roman vir hierdie leser skryf wat aan die keel gryp.

 

Monday, July 19, 2021

Filmrubriek | Inspector Morse | 2021

I

Die morsekode in die musiek sinjaleer iets van hierdie reeks wat ek sopas voltooi het. Morse en Lewis. ‘n Moderne Sherlock Holmes-series? Morse, wie se vader ‘n liefhebber van Captain Cooke was, doop hom Endeavour. (Wat hy later as ‘n blokkiesraaiselwenk vir Adele Cecil, ‘n kortstondige geliefde, gee …)

 

Almal noem hom Morse. Of Chief Inspector Morse blaf hy vir ‘n joernalis. 

 

Aan Oxford was sy bynaam Pagan. Lewis noem hom ook nie op sy voornaam nie; hy noem Lewis gewoon Lewis en in ‘n tere oomblik word Lewis wel Robbie. Ander kere korrigeer hy sy Engels en die verkeerde gebruik van who/whom. Twitchery is bird watching leer Morse, die pedant ons, en hy vang ‘n man uit wat ‘n verkeerde voëlnaam gee as ‘n verdagte.

 

Morse (John Thaw) is ‘n alleenloper, kenner van opera en klassieke musiek; ‘n ywerige blokkiesraaisel-kenner met ‘n swak vir sy pint en whiskey. Intellektueel meerderwaardig – hy het immers aan Oxford studeer – maar terselfdertyd vasgevang in sy slim hipoteses dat Lewis hom dikwels moet reghelp.

 

In die slot van die reeks wat handel oor die sukses en vervaardiging van die reeks, praat sy baas, Chief Superintendent Strange (vertolk deur James Grout) oor hom asof hy werklik bestaan. Wanneer ‘n fiksionele karakter so tasbaar word, bewys dit dat die reeks werk. (Ons dink hier aan Poirot of Maigret.)

 

Colin Dexter is die skepper van hierdie briljante figuur wat ten spyte van menslike foute wêreldwyd erkenning en aandag geniet. Of dalk juis weens menslike oordeel wat hom soms in die steek laat. Hy is ook polities-inkorrek en seksisties teenoor ‘n vroue joernalis of patoloog wat hom reghelp. Hy weer kap terug dat vroue juis in hul vroulikheid iets vermag. In een episode word daar selfs ‘n boek gedekonstrueer (geskryf deur ‘n Amerikaanse navorser) om te bewys dat verkeerde persone galg toe gestuur is.

 

Selfs die Koningin van Engeland het versag teenoor Rebecca Eaton, in die VSA toe sy hoor dat sy die vervaardiger van hierdie reeks is, op besoek aldaar. Daar bestaan ‘n bustoer waar jy in Oxford kan gaan kyk na die bakens in die reeks. In menige aflewering word daar gespot met die verskille tussen Britse en Amerikaanse universiteite en ‘n hoogtepunt is met Sir John Gielgud as die kanselier van Lonsdale, die fiktiewe kollege.

 

Dexter is soos Hitchcock aanwesig in sy reeks. Daar stap hy verby; hier dirigeer hy die koor.


Die ónperfekte speurder met ‘n enorme kennis van die Engelse digkuns (van Tennyson tot Eliot) sjarmeer hierdie kyker gewis. Wanneer Lewis (Kevin Whateley) ‘n bekende aanhaling toedig aan sy tennisklub, weet Morse dis Kipling. Hierdie kognitiewe dissonansie skep baie humor. 

 

Miskien is ons só sat vir geweld en vals boodskappe dat iets mensliks ons raak. 

Morse, so meen Thaw in ‘n onderhoud, wil net weet hoe gebeur dat gewone mense optree soos hulle optree.

 

II

Hierdie Britse reeks het in 1987 begin met 750 miljoen mense in 50 lande wat dit kyk en waardeer.

 

Die reeks hou jou op jou tone met musiek wat ‘n leidraad bied of ‘n verwysing soos “earth to earth / ashes to ashes/ dust to dust”.

 

Britse gewoontes, die invloed van die kerk en hoe ‘n gemeenskap funksioneer word geanaliseer. Morse sing selfs in ‘n koor en die Latynse verwysings verleen eweneens gravitas aan die reeks waar Anthony Minghella selfs ‘n buiging maak as draaiboekskrywer.

 

Wanneer Morse sterf aan ‘n hartaanval, ervaar die kyker saam met Lewis enorme verlies met die dood van hierdie skrander man van die Thames Valley Police.

 

‘n Skaakspeler boonop met ‘n enorme kennis van Wagner (wat hom help om die spanning tussen die bose en goeie te navigeer) en pragtige etse teen sy mure, o.a. van Piranesi. Sy vintage Jaguar (nommerplaat 248 RPA) is eweneens aanskoulik.

 

‘n Speurder met ‘n hart wat bely in Cherubim and Seraphim dat hy as jong, misplaaste kind op ouderdom 15 self selfmoord oorweeg het wanneer hy sy niggie se dood ondersoek.

 

En hoe sal ons ooit die patoloë vergeet: manlik en vroulik. Die vroue wat hom liggies betig oor sy seksisme en tog hom ook aantreklik vind. Maar dis Dr Max DeBryn (Peter Woodthorpe) wat die primordiale Britse patoloog vertolk. Beterweterig, maar ook reg. En Thaw die akteur speel met sy oë.

 

My DVD-agent het vir my diskette ter geskenk gegee. Dit word bewaar soos ‘n kleinood langs my duur whisky.

 

© Joan Hambidge

Thursday, July 8, 2021

Filmrubriek | William Friedkin | 2021

Filmrubriek | William Friedkin | 2021

 

In hierdie tyd word klassieke films besoek en herbesoek. Fellini. Bergman. Tarkofski. Maar ook meer populistiese films.

 

Die werk van die Amerikaanse filmmaker William Friedkin is uitstekend. Hy behoort tot die sogenaamde “New Hollywood”-beweging en my filmverskaffer beveel aan: The French Connection en The Excorcist.

 

Uit 1971 en 1973. Beide het ek as jong kind by Sterland in Pretoria gesien. Wat hierdie films besonder interessant maak, is wanneer ‘n mens na Friedkin se analises van sy eie films luister. Jy kyk eers die film en dan luister jy na sy vertellinge van hoé die film gemaak is.

 

The French Connection wys sy vindingrykheid met die aksiefilm. As voormalige dokumentêre filmmaker gebruik hy tegnieke van die realisme en hy erken sy skatpligtigheid aan Jean-Luc Godard. 

 

Die verhaal is oorbekend. Dwelms wat gesmokkel word van Marseilles na New York. En netjies weggesteek in ‘n motor se panele. Die werklike speurhoof en die man wat die motor uitmekaar dolwe, was betrokke in die oorspronklike saak. So wil die filmmaker die vraisemblance van die film bevestig. ‘n Werklike saak, met werklike mense, met werklike lotgevalle. Die arme televisie-ster, Henri Devereux,  is die enigste een wat in die tronk beland en hy word wol oor die oëgetrek deur die Franse dwelmbaas. (Ons sien teen die einde van die film dat hy die enigste een is wat aan die pen gery het en dat Charnier weggekom het.)

 

Jimmy “Popeye” Doyle (Gene Hackman) en Buddy “Cloudy” Russo (Roy Scheider) agtervolg die swendelaars. Doyle raak obsessioneel en in een van die angswekkende jaagtonele, agtervolg hy ‘n boef met ‘n motor (wat hy sommer afneem by ‘n onskuldige). Die boef is in trollietrein en die bestuurder beswyk aan ‘n hartaanval. Hackman het glo self bestuur en 5 motors is opgefoes in die proses. Mense is afgeneem sonder hul medewete en daar is selfs ‘n wederregtelike verkeersknoop op die Brooklynbrug (met polisiebeamptes) geskep.

 

Fernando Rey is per ongeluk gekies vir die rol van Charnier, maar bely Friedkin, hy het perfek in die rol gepas as die suave dwelmbaas wat Popeye Doyle treiter in New York. 

Friedkin was gaande oor Luis Buňuel se Belle de Jour en die Francisco Rabal se spel. Hy het ongelukkig nie sy naam geken nie. Die produksiespan het toe per abuis Fernando Rey gekontak wat nog Engels nog Frans magtig was …

 

Die twee polisiemanne (good cop, bad cop) sien een aand in die Copacabana hoe ene Boca en sy vrou met ‘n ongure karakters rondhang. Doyle en Russo begin Boca en sy vrou dophou (en afluister) in Brooklyn en so toevallig word ‘n hele ondergrondse netwerk onthul – met Weinstock, die prokureur wat geld moet oorbetaal aan die Franse, lont ruik en dan by implikasie help skep aan die broeiende drama in NY met onderhandelinge wat eerder in Washington bespreek word. Boonop weet Charnier hy word agtervolg en een van die kernoomblikke in die film, speel hy kat-en-muis met Popeye Doyle. In en uit die underground … Wanneer Doyle hom finaal ontmoet, wys hy dieselfde handgebaar vir hom.

 

Toe die film verskyn het, was die gesiene filmmaker Pauline Kael uiters negatief oor die film in die New Yorker (Oktober 30, 1971). Sy het die film veral gestriem, omdat daar so min onthoubare oomblikke in die film is. Kurosawa beskou dit egter as een van sy gunsteling-films!

 

In 2021 kyk hierdie filmkyker anders na die film. Daar is belangrike oomblikke: soos die Krismistoneel met Doyle as Vader Krismis wat Jingle Bells met kinders sing; Doyle wat in ‘n jaagtoneel ‘n vrou met kind in ‘n kinderwaentjie rakelings mis; ‘n satmoeë Doyle wat verby ‘n seuntjie op ‘n driewiel stap na sy woonstel waar ‘n shoot-out op hom wag; die beroemde toneel waar die obsessionele Doyle die trein jaag; en die slot: nadat Doyle per ongeluk, die FBI-man, Mulderig doodskiet met ‘n laaste skoot in die donker waarmee die film eindig.

 

Dit is een van die eerste films wat die nou verdwene WTCentre wys. (Toe was nog net die Noordelike Toring voltooi.)

 

Charnier is ‘n opperse skelm. Ons sien hom op skrootwerwe waar hy ou motors opkoop waarmee hy dan uiteindelik die geld (weggesteek) kan terugstuur Frankryk toe.

 

In ‘n besonder mooi toneel kom Devereux se Lincoln Continental Mark III in New York aan met joernaliste wat die TV-held interview.

 

En hoe weet die polisie dat hierdie motor die dwelms vervoer het?

 

Die motor word geskut en hier sit die werklike polisieman wat by die slenterslag betrokke was in ‘n hokkie.

 

Cloudy maak almal daarop attent dat die motor 120 pond swaarder geweeg het by die aankoms …

 

Tereg het hierdie film pryse ingeoes: beste regisseur, beste akteur (Hackman), beste redigering, beste verwerking, beste kinematografie, beste ondersteunende akteur (Scheider), usw.

 

En as bonus: hierdie film het The Three Degrees beroemd gemaak met hulle vertolking van Jimmy Webb se “Everybody Gets To Go To The Moon” – nog ‘n spel met die werklikheidsdimensie.

 

Friedkin erken is sy voice over: hy sal nie vandag soveel kanse kan waag nie.


© Joan Hambidge