Monday, July 19, 2021

Filmrubriek | Inspector Morse | 2021

I

Die morsekode in die musiek sinjaleer iets van hierdie reeks wat ek sopas voltooi het. Morse en Lewis. ‘n Moderne Sherlock Holmes-series? Morse, wie se vader ‘n liefhebber van Captain Cooke was, doop hom Endeavour. (Wat hy later as ‘n blokkiesraaiselwenk vir Adele Cecil, ‘n kortstondige geliefde, gee …)

 

Almal noem hom Morse. Of Chief Inspector Morse blaf hy vir ‘n joernalis. 

 

Aan Oxford was sy bynaam Pagan. Lewis noem hom ook nie op sy voornaam nie; hy noem Lewis gewoon Lewis en in ‘n tere oomblik word Lewis wel Robbie. Ander kere korrigeer hy sy Engels en die verkeerde gebruik van who/whom. Twitchery is bird watching leer Morse, die pedant ons, en hy vang ‘n man uit wat ‘n verkeerde voëlnaam gee as ‘n verdagte.

 

Morse (John Thaw) is ‘n alleenloper, kenner van opera en klassieke musiek; ‘n ywerige blokkiesraaisel-kenner met ‘n swak vir sy pint en whiskey. Intellektueel meerderwaardig – hy het immers aan Oxford studeer – maar terselfdertyd vasgevang in sy slim hipoteses dat Lewis hom dikwels moet reghelp.

 

In die slot van die reeks wat handel oor die sukses en vervaardiging van die reeks, praat sy baas, Chief Superintendent Strange (vertolk deur James Grout) oor hom asof hy werklik bestaan. Wanneer ‘n fiksionele karakter so tasbaar word, bewys dit dat die reeks werk. (Ons dink hier aan Poirot of Maigret.)

 

Colin Dexter is die skepper van hierdie briljante figuur wat ten spyte van menslike foute wêreldwyd erkenning en aandag geniet. Of dalk juis weens menslike oordeel wat hom soms in die steek laat. Hy is ook polities-inkorrek en seksisties teenoor ‘n vroue joernalis of patoloog wat hom reghelp. Hy weer kap terug dat vroue juis in hul vroulikheid iets vermag. In een episode word daar selfs ‘n boek gedekonstrueer (geskryf deur ‘n Amerikaanse navorser) om te bewys dat verkeerde persone galg toe gestuur is.

 

Selfs die Koningin van Engeland het versag teenoor Rebecca Eaton, in die VSA toe sy hoor dat sy die vervaardiger van hierdie reeks is, op besoek aldaar. Daar bestaan ‘n bustoer waar jy in Oxford kan gaan kyk na die bakens in die reeks. In menige aflewering word daar gespot met die verskille tussen Britse en Amerikaanse universiteite en ‘n hoogtepunt is met Sir John Gielgud as die kanselier van Lonsdale, die fiktiewe kollege.

 

Dexter is soos Hitchcock aanwesig in sy reeks. Daar stap hy verby; hier dirigeer hy die koor.


Die ónperfekte speurder met ‘n enorme kennis van die Engelse digkuns (van Tennyson tot Eliot) sjarmeer hierdie kyker gewis. Wanneer Lewis (Kevin Whateley) ‘n bekende aanhaling toedig aan sy tennisklub, weet Morse dis Kipling. Hierdie kognitiewe dissonansie skep baie humor. 

 

Miskien is ons só sat vir geweld en vals boodskappe dat iets mensliks ons raak. 

Morse, so meen Thaw in ‘n onderhoud, wil net weet hoe gebeur dat gewone mense optree soos hulle optree.

 

II

Hierdie Britse reeks het in 1987 begin met 750 miljoen mense in 50 lande wat dit kyk en waardeer.

 

Die reeks hou jou op jou tone met musiek wat ‘n leidraad bied of ‘n verwysing soos “earth to earth / ashes to ashes/ dust to dust”.

 

Britse gewoontes, die invloed van die kerk en hoe ‘n gemeenskap funksioneer word geanaliseer. Morse sing selfs in ‘n koor en die Latynse verwysings verleen eweneens gravitas aan die reeks waar Anthony Minghella selfs ‘n buiging maak as draaiboekskrywer.

 

Wanneer Morse sterf aan ‘n hartaanval, ervaar die kyker saam met Lewis enorme verlies met die dood van hierdie skrander man van die Thames Valley Police.

 

‘n Skaakspeler boonop met ‘n enorme kennis van Wagner (wat hom help om die spanning tussen die bose en goeie te navigeer) en pragtige etse teen sy mure, o.a. van Piranesi. Sy vintage Jaguar (nommerplaat 248 RPA) is eweneens aanskoulik.

 

‘n Speurder met ‘n hart wat bely in Cherubim and Seraphim dat hy as jong, misplaaste kind op ouderdom 15 self selfmoord oorweeg het wanneer hy sy niggie se dood ondersoek.

 

En hoe sal ons ooit die patoloë vergeet: manlik en vroulik. Die vroue wat hom liggies betig oor sy seksisme en tog hom ook aantreklik vind. Maar dis Dr Max DeBryn (Peter Woodthorpe) wat die primordiale Britse patoloog vertolk. Beterweterig, maar ook reg. En Thaw die akteur speel met sy oë.

 

My DVD-agent het vir my diskette ter geskenk gegee. Dit word bewaar soos ‘n kleinood langs my duur whisky.

 

© Joan Hambidge