Sunday, February 12, 2017

Cas Vos – In ’n oomblik (2017)



Cas Vos – In ’n oomblik. Naledi, 2017. ISBN 9780928316445

Resensent: Joan Hambidge

Die belangrikste bydrae van hierdie bundel van Cas Vos wat heet In ’n oomblik is die herdigtings van Konstantinos Kavafis en Georgos Seferis se gedigte.

Verskeie Afrikaanse digters het al hierdie digters na Afrikaans getransporteer. Eersgenoemde deur Uys Krige, ekself, Johann de Lange; laasgenoemde deur Dian Joubert.

Vos het die voorsprong dat hy met die oorspronklike Grieks kan werk. Ons dink hier aan onder meer Fragmente uit die Ilias.

Steeds moet ’n gedig egter in die nuwe taal as gedig oortuig. Dit gebeur oortuigend in “Die siele van ou mans”.

Die bundel bevat belangrike endnote oor die digters wat vertaal is en Auden se bekende uitspraak oor die probleme rondom vertaling.

Volgens Auden kan interne alliterasie, vergelykings en metafore behou word; liriese komponente, homofoniese assosiasies, en ritme staan aan die verloorkant.

Vos se kennis van Grieks kom nuttig te pas en die vertalings van hierdie twee digters is ’n bydrae tot die vertaalkuns wat veral deur M.M. Walters geboekstaaf is as redakteur van puik bloemlesings. (Uys Krige se Spaanse dans bly die beste.)

Wanneer Vos egter uit die Engels vertaal, is dit minder imposant: onder meer Gregory Orr se “Na ’n dood”. ’n Mens wonder ook waarom Afrikaanse digters probeer om klassieke Engelse verse te vertaal. Ons verstaan almal tog Engels.

Dit is egter wanneer ’n mens oor Cas Vos se eie belewenisse nadink, dat die ou hebbelikhede weer hier aandoen: sentimentaliteit, lawwe beelde, gedigte wat tegnies en dus nie vormlik afgerond is nie, rymdwang, verkapte prosa, woordoordaad, die verhewe aanslag, ensomeer.
Siekte en ellende waarborg helaas nie ’n goeie gedig nie.

Daar word onder andere oor siekte (diabetes) geskryf: Nou het ons in Afrikaans E.W.S. Hammond se Doodsteek van ’n diabeet; ons het Ernst van Heerden se operasie-verse; ons het Opperman se inbeweeg in die onbewuste in die onoortroffe Komas uit ’n bamboesstok. Onlangs was daar Marlise Joubert se Splintervlerk.

Daar is T.T. Cloete en Sheila Cussons wat uit verwonding en pyn magistraal bly dig het.

Maar siekte en ellende waarborg helaas nie ’n goeie gedig nie. Opperman was onder meer gaande oor Hammond se spaarse, woordsuinige verse.

Die siekteverse hier by Vos lewer die volgende op:

Diabeet

Al is ek deurtrek van suiker,
bly ek die Here se stroopsoet seun. (38)

of

Gebed vir ’n ortopeed
Trap jy net versigtig op jou voet,
drink jou antibiotika en wees soet. (52)

Die lykdig vir Bertie du Plessis, “Aan Helderberg se voet”, is gewoon potsierlik. Is die digter ernstig wanneer hy skryf:

Ons het Sondagaande
by die Doll’s House
aan hamburgers gesmul.
Die lewe het ons op die hande gedra
en ons woorde land en sand gestrooi.
oor ons nagvrese en trillende verwagtings (17).

Daar is verse oor die liefde. Picasso en Muhammad Ali. Goethe en Vincent van Gogh. Lykdigte en beeldgedigte dus.

Diskoerse, dispute en dialoë. Paul Celan word helaas verminder (40). Daar is opdragte vir vriende, geliefdes en ’n ortopeed.

In die publisiteitsnota verneem ons: “Die intertekstuele gesprek met Homeros en Dante as reismotief om ’n langdurige ongeluk en operasie poëties te verwoord, is nuut in die Afrikaanse digkuns.”

Die klassieke toespelings dalk; digterlik faal dit.

“Ek is, daarom taal ek,” heet ’n afdeling. Die toespeling op “cogito ergo sum” is fasiel.

En die lofuiting vir hierdie bundel wat verwys na sonderlinge poëtiese vondste, oortuig nie.

Die kritiek het nou al by herhaling sekere mankemente uitgewys en ’n mens wil nie hamer op dieselfde besware nie.

Dit is net jammer dat iemand met soveel kennis van die klassieke, verval in ’n bundel wat nie deurgekomponeer is nie.

Die toespelings op groot digters soos Wislawa Szymborska, Anne Carson, Breytenbach en Mallarmé vra vir ’n sterker ars poëtiese aanslag.

Hierom in “Om ’n gedig te maak” (8) word “gereedslaap” wat inspeel op gereedskap ’n ironiese (en onbedoelde) ondermyning van die vers.

Motto’s is nie net aanhangsels of oorbelle nie. Dit moet ’n gedig voortstu.

Daar is net te veel verspeelde kanse en gedigte wat nie verby ’n eerste weergawe kom nie.

Hierdie gedigte is lekkende siwwe soos die digter iewers oor sy niere skryf.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Monday, February 6, 2017

Deon Maas - Melk die heilige koeie: Van baarde en banting tot Zupta en zol (2017)


Deon Maas - Melk die heilige koeie: Van baarde en banting tot Zupta en zol. Tafelberg, 2017. ISBN 978 0 624 08116 6

Resensent: Joan Hambidge

Die boek word bemark met Deon Maas op die agterblad wat meen dat die Afrikaner-geen 'n dwarstrekker-geen is. Dis ook glo tyd om al die heilige koeie in heroorweging te neem.

Die idee van die Afrikaner as dwarstrekker is so oud soos die berge. Hoeveel (susters)kerke had nie? Hoeveel families is nie deur politieke verskilletjies (SAP versus NAT) tot vyande verklaar nie?

Deon Maas is soos Koos Kombuis. Hulle het hulle aanhang met kwirky, stroomop, aweregse, dwars, humoristiese rubrieke. Beide het my al laat dreunlag met hul satires; beide moet (volgens die uwe) hou by spotspraak, populêre musiek, en trends.

Francois van Coke loof die boek op die blakerteks as "donners snaaks, skerp ... mal daaroor". In die voorwoord word ons gevra om vir onsself te lag. Ons isolasie as nasie is verby en ons staan nou op ons eie voete. En op die graf van 'n politieke ideologie wat ander benadeel en ons groei gekortwiek het.

Nou moet ons vir onsself lag en dan word daar verkeerdelik beweer dat as jou tong in jou kies is, gaan jy baie skade opdoen in 'n vuisgeveg.

Tong in die kies beteken lig-ironies, jokey-wokey.

Oorspronklik het die uitdrukking minagting beteken; toe het dit later in die volksmond beteken dat 'n uitspraak nie ernstig opgeneem moet word nie.

Maar hierdie beswaar tersyde gelaat: wanneer jy hierdie boek begin lees met sy hoë lagkurwe, besef jy hoe eiesoortig ons gemeenskap is. Tim Noakes en banting, sitplekke op vliegtuie, studente wat skilderye verbrand, ouers wat spog met kinders se rapporte, is van die satiriese teikens wat opgestel en afgeskiet word.

Oordrywing, spotspraak, sarkasme, gekskeerdery, beledigings, aspris-wees, is van die bekendste elemente van hierdie sub-genre. En wanneer dit in 'n rubriek of bundel opgeneem word, dan moet jy eweneens die skrywer se persoonlikheid aanvaar.

Do you love to hate Deon Maas?

Is hy 'n blote opskepper, of kan ons hom ernstig opneem?

Boonop moet so 'n satirikus 'n stilis wees.

Maar hierdie intellektuele analise het al waarskynlik vir Maas aan die knor!

Daar is 'n paar juwele (wees gewaarsku, jy kan nie die boek in die openbaar lees nie, want jou verwoede lagbuie gaan die omstanders steur) soos:

die een oor Adriaan Vlok wat dalk 'n spesiale afskorting in sy kattebak moes laat bou het om te verhoed dat die plastiekskottel waarmee hy almal se voete was, te veel rondgly;
sy enumerasie van die name vir die manlike bultboor;
sy analise van hoe jy met 'n eks (via Emsie Schoeman) moet omgaan;
die impak van eenlaag-toiletpapier;
croc-skoene.

So tussen al die grappe deur is hy soms ernstig wanneer hy byvoorbeeld slut shaming analiseer en die dubbele standaarde van ons gemeenskap.

Sy analise van Afrikaans aan universiteite is uitstekend. Laat die tegniese wetenskappe in Engels voortgaan en die geesteswetenskappe in 'n plaaslike moedertaal. As musiekkenner maak hy tersaaklike analises van waarom Jack Parow suksesvoller as sy bruin eweknieë is. Oor Facebook is hy in die kol! Hy deel klappe uit na vele bekendes, soos Steve Hofmeyr, maar ek is seker Steve sal dit kan vat.

Daar is verwysings na Trump, Danny Jordaan, Louis de Villiers (die rugbyskrywer), die AWB, rugby, en wat nog.

Die dwarsgeit van die Afrikaner resoneer met Willem de Klerk se ernstige boek Afrikaners: Kroes, kras, kordaat.

En terloops: Maas draai ook die mes op homself in. Sy haarkleur, tande en aknee as kind. Hy vergeet egter van sy Ȏfrikônse aksent.

So hy slag (in plaas van melk!) ook 'n heilige koei van satire! Die boek word aan sy ouers opgedra en ja lees mooi: agter die ou hardegat-aanslag, is daar tog iemand wat hou van maniere, respek vir ander en waardes soos eerlikheid.

'n Aweregse kultuurdokument, dus.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Friday, February 3, 2017

Burn after Reading (2008)



I
Die idee van skering en inslag kom sterk na vore wanneer ‘n mens die films van die Coen-broers beskou. Die opwaartse draad en die draad wat hierteen gaan.

Ek bekyk tans die films van hierdie uitsonderlike duo. Burn after reading met George Clooney, Tilda Swinton, John Malkovich, Frances McDormand, Richard Jenkins en Brad Pitt.

Dit analiseer twee obsessies van die Amerikaanse kultuur, te wete die fiksheids- en liggaamsbewustheidskultuur en die doen en late van die CIA. Die bo-laag van skoonheid; die onderlaag van paranoia, komplotte en samesweringsteorieë.

Malkovich (Osbourne Cox) word gedemoveer as agent weens ‘n drankprobleem en hy besluit om te bedank. Sy vrou, vertolk deur die onblusbare Tilda Swinton (Katie Cox), het ‘n verhouding met Clooney (Harry Pfarrer). Hy begin sy memoirs skryf en dit beland per ongeluk in die gym. Dan word Malkovich afgepers deur McDormand (Linda Litzke) en Pitt (Chad Feldheimer). Haar mediese fonds wil nie betaal vir plastiese sjirurgie en sy sien dit as ‘n manier waarop sy dit kan doen. (Ten slotte word dit wel betaal. In ‘n ironiese wending.)

Met elke optrede is daar ‘n teen-aksie. Clooney verneuk sy vrou, ‘n skrywer wat op ‘n bemarkingstoer gaan. Maar sy is ook ontrou aan hóm; soos ons sien in ‘n klein vinjet.

Swinton, die pediater, wil van haar man skei en sy moet finansiële inligting aan haar prokureur deurstuur. En so belang die memoirs dus op die verkeerde skyf … en sy vergeet dit in die gym (Hardbodies). McDormand en Pitt besoek selfs die Russiese Ambassade met die hierdie geklassifiseerde inligting!

Clooney trek by Swinton in (haar man is nou uit die prentjie) en Pitt word per ongeluk in die kas doodgeskiet. Boonop is Clooney – soos McDormand – ywerige internetsekssoekers en hulle paaie kruis ook. (Skering en inslag!)

Boonop is Sandy, die skrywer, besig om Clooney, haar man,  dop te hou want sy wil van hom skei. Hy op sy beurt raak heeltemal paranoïes en glo dat McDormand ‘n spioen is wanneer hulle in ‘n park ontmoet. Sy is gewoon net te skaam om te erken dat die man ‘n vorige internetfiksasie is. Clooney hardloop weg, in ‘n toestand, en hy word later gedeporteer na Venezuela.

Cox skiet die hoof van Hardbodies, Ted (Richard Jenkins) dood, omdat hy dink dit is sy vrou se minnaar. Hy, op sy beurt, word deur die CIA raakgeskiet en beland in ‘n koma.

 II
Die dialoog en spel is briljant. In ‘n onderhoud het Tilda Swinton op ‘n keer bely hoe sy en Clooney gelag het oor die karakters wat hulle vertolk het. In die prettige onderhoude met die akteurs kan ‘n mens hierdie knipoog-aksie sien.

Die dialoog is briljant: Iemand se boude is so groot dat jy ‘n bus daarmee kan trek.
“Wie sal tog nou geïnteresseerd wees in jou memoirs?” teef Cox se vrou hom.
En McDormand – in ‘n ironiese oomblik – bely as karakter dat sy met haar gesig en lyf uit Hollywood gelag sou word; terwyl sy ‘n groot sukses is.
Die film eindig met die volgende wysheid van die CIA: “I guess we learned not to do it again”.

Ook die naamgewing is skitterend. Harry is ‘n Deputy-US Marshall; dus nog nie gearriveer nie. Sy minnares, vertolk deur die ysterkoningin, Tilda Swinton, kom uit ‘n ryk familie. Die spottery met die Princeton boys club is spot on. Malkovich se spel wanneer hy ontdek sy vrou het sy rekening leeggetap, is eweneens skitterend.

Is die obsessie met seks meer briljant voorgestel as met die masjien wat Clooney bou met die dildo?

Bradd Pitt as die dom fiksheidsinstrukteur wys sy akteurspiere.

III
Skering en inslag. Met elke optrede van hierdie kwirkie-akteurs, word daar ‘n dubbelspel gemaak.

In ‘n onderhoud met Anne Carson haal sy Lacan aan wat geskryf het dat “The reason we go to poetry is not for wisdom, but for the dismantling of wisdom.”

Dieselfde geld hierdie film: waarhede of geykte sieninge word telkens op die kop gekeer (Paris Review - Anne Carson, The Art of Poetry No. 88. Besoek 2 Februarie 2017).

Volgens die Nederlandse woordeboek aanlyn, beteken skering en inslag dit gebeur gereeld en dit is ‘n slegte ding (Dat is schering en inslag | Dutch Word of the Day. Besoek 2 Februarie 2017).

Anton Prinsloo in sy wonderbaarlike boek, Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom, het my op hierdie soektog geplaas.

In Prinsloo se woorde:

Skering is die draad wat in die lengte van ‘n weefsel loop en inslag die dwarsdraad wat deur die skering loop.
Omdat dié proses by wewery nooit wissel nie, word dit aanvaar as die onveranderlike optrede van die wewer; die gewoonte dus (Pharos, 318).

Die Coen-broers (uitgespreek Cohen, nie Koen nie) het die gewoonte om op ‘n dwarse wyse die weefsel van hul samelewing uit mekaar te torring.

Net soos Lacan ook ons aannames oor die digkuns en lewe uitmekaar uittorring.


© Joan Hambidge