Monday, February 6, 2017

Deon Maas - Melk die heilige koeie: Van baarde en banting tot Zupta en zol (2017)


Deon Maas - Melk die heilige koeie: Van baarde en banting tot Zupta en zol. Tafelberg, 2017. ISBN 978 0 624 08116 6

Resensent: Joan Hambidge

Die boek word bemark met Deon Maas op die agterblad wat meen dat die Afrikaner-geen 'n dwarstrekker-geen is. Dis ook glo tyd om al die heilige koeie in heroorweging te neem.

Die idee van die Afrikaner as dwarstrekker is so oud soos die berge. Hoeveel (susters)kerke had nie? Hoeveel families is nie deur politieke verskilletjies (SAP versus NAT) tot vyande verklaar nie?

Deon Maas is soos Koos Kombuis. Hulle het hulle aanhang met kwirky, stroomop, aweregse, dwars, humoristiese rubrieke. Beide het my al laat dreunlag met hul satires; beide moet (volgens die uwe) hou by spotspraak, populêre musiek, en trends.

Francois van Coke loof die boek op die blakerteks as "donners snaaks, skerp ... mal daaroor". In die voorwoord word ons gevra om vir onsself te lag. Ons isolasie as nasie is verby en ons staan nou op ons eie voete. En op die graf van 'n politieke ideologie wat ander benadeel en ons groei gekortwiek het.

Nou moet ons vir onsself lag en dan word daar verkeerdelik beweer dat as jou tong in jou kies is, gaan jy baie skade opdoen in 'n vuisgeveg.

Tong in die kies beteken lig-ironies, jokey-wokey.

Oorspronklik het die uitdrukking minagting beteken; toe het dit later in die volksmond beteken dat 'n uitspraak nie ernstig opgeneem moet word nie.

Maar hierdie beswaar tersyde gelaat: wanneer jy hierdie boek begin lees met sy hoë lagkurwe, besef jy hoe eiesoortig ons gemeenskap is. Tim Noakes en banting, sitplekke op vliegtuie, studente wat skilderye verbrand, ouers wat spog met kinders se rapporte, is van die satiriese teikens wat opgestel en afgeskiet word.

Oordrywing, spotspraak, sarkasme, gekskeerdery, beledigings, aspris-wees, is van die bekendste elemente van hierdie sub-genre. En wanneer dit in 'n rubriek of bundel opgeneem word, dan moet jy eweneens die skrywer se persoonlikheid aanvaar.

Do you love to hate Deon Maas?

Is hy 'n blote opskepper, of kan ons hom ernstig opneem?

Boonop moet so 'n satirikus 'n stilis wees.

Maar hierdie intellektuele analise het al waarskynlik vir Maas aan die knor!

Daar is 'n paar juwele (wees gewaarsku, jy kan nie die boek in die openbaar lees nie, want jou verwoede lagbuie gaan die omstanders steur) soos:

die een oor Adriaan Vlok wat dalk 'n spesiale afskorting in sy kattebak moes laat bou het om te verhoed dat die plastiekskottel waarmee hy almal se voete was, te veel rondgly;
sy enumerasie van die name vir die manlike bultboor;
sy analise van hoe jy met 'n eks (via Emsie Schoeman) moet omgaan;
die impak van eenlaag-toiletpapier;
croc-skoene.

So tussen al die grappe deur is hy soms ernstig wanneer hy byvoorbeeld slut shaming analiseer en die dubbele standaarde van ons gemeenskap.

Sy analise van Afrikaans aan universiteite is uitstekend. Laat die tegniese wetenskappe in Engels voortgaan en die geesteswetenskappe in 'n plaaslike moedertaal. As musiekkenner maak hy tersaaklike analises van waarom Jack Parow suksesvoller as sy bruin eweknieë is. Oor Facebook is hy in die kol! Hy deel klappe uit na vele bekendes, soos Steve Hofmeyr, maar ek is seker Steve sal dit kan vat.

Daar is verwysings na Trump, Danny Jordaan, Louis de Villiers (die rugbyskrywer), die AWB, rugby, en wat nog.

Die dwarsgeit van die Afrikaner resoneer met Willem de Klerk se ernstige boek Afrikaners: Kroes, kras, kordaat.

En terloops: Maas draai ook die mes op homself in. Sy haarkleur, tande en aknee as kind. Hy vergeet egter van sy Ȏfrikônse aksent.

So hy slag (in plaas van melk!) ook 'n heilige koei van satire! Die boek word aan sy ouers opgedra en ja lees mooi: agter die ou hardegat-aanslag, is daar tog iemand wat hou van maniere, respek vir ander en waardes soos eerlikheid.

'n Aweregse kultuurdokument, dus.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)