Tuesday, May 21, 2013

Ron Irwin - Flat Water Tuesday (2013)



Ron Irwin. Flat Water Tuesday. St. Martin’s Press, 2013. ISBN 978-1250035981.

Resensent: Joan Hambidge

Rob Carrey, ’n dokumentêre fliekmaker vir National Geographic, vlieg terug New York toe om sake tussen hom en sy geliefde, Carolyn, te herstel. Hy word egter gekonfronteer met die selfdood van ’n jeugvriend aan Fenton, ’n private skool in Connecticut. Hulle was roeimaats in die God Four-span.

Hierdie debuut vertel nie net die verhaal van roeiers aan ’n skool nie. Dit is die oppervlakverhaal, maar soos die roeiers voortbeweeg, word die roman ’n analise van trauma. Nie alleen die selfdood van die skoolmaat word beskryf nie, maar ook die verdrinking van die hoofkarakter, Rob, se suster, sy verhouding met sy geliefde as volwassene in New York en die traumatiese ervaring van ’n miskraam en dan, die slopende einde van ’n verhouding. (Was die verteller nalatig oor haar bloeding of bloot net oningelig?)

Hoofstukke wissel tussen hede en verre verlede om die impak van die pynlike selfdood te probeer bepaal. Carolyn redigeer ’n dokumentêr oor haaie – ’n duidelike vinjet van die troebel waters waarin die karakters hulle bevind.

Die roman begin met ’n brief van John Perry, wie se dood die verhaal bepaal. Hy skryf dit vanuit ’n rehabilitasiesentrum en die invloed van drank op gedrag word besonder goed geanaliseer in hierdie roman. Trouens, ek ken min romans waarin die uitwerking van alkohol so waarheidsgetrou weergegee word. ’n Kroeggeveg in Afrika wys presies wat kan gebeur. Dit word eweneens ’n oomblik van rasseverskille.

Die roman wentel om ’n paar sentrale episodes, bykans pynlike bakens. Die eerste een is die selfdood van die jeugvriend; die tweede een die dood van ’n suster; die derde een die vader se dronkbestuur-episode; die vierde een ’n dronk-episode van Rob wanneer hy homself as ’n verloorder sien (“a wicked loser”, bl. 184); die vyfde Connor se ongeluk en dan ten slotte, Carolyn se miskraam. John Perry se dood word goed voorberei in die roman wanneer hy as jong mens op ’n brug staan en spoeg (bl. 160). Terloops, maar met enorme impak, word die ervaring van die suster se begrafnis vertel: inderdaad ’n hou in die maag. Die een broer kan die ander se pyn nie verduur nie. Die roman is dan ook ’n ondersoek na hoe ons weghardloop van pyn, maar dit ons tog ten slotte inhaal.

Die roman gee eweneens ’n besondere blik op die bevoorregte lewe van Amerikaners binne die sogenaamde “blue blood” of Ivy League-bestaan. Ruth Anderson is ’n Yale-opgeleide coxswain en daar is karakters soos John Wadsworth, die “preppy laywer-to-be”, en Colin Payne uit ’n bevoorregte Massachusetts. Dis dan ook Ruth die leier, ’n helder getekende karakter, wat die selfdood aankondig van die klasmaat in ’n tyd waarin Rob se verhouding aan die opbreek is. Sy konstateer reeds vroeg in die roman dat sy kan sien wat aan die gebeur is, terwyl die roeiers daarop konsentreer om vooruit te beweeg.

“The sport is not just about brute power. Or endurance. Or the ability to suffer. Rowing in a team forces you to respond to what other men do in the boat. To adhere to a strategy. To follow commands. To put your petty gripes and prejudices and fears aside.” (bl. 65)

Die roman gee ’n raak beskrywing van New York in al sy geledinge en die eerste toneel waar Carrey en Connor handgemeen raak, word besonder goed beskryf. Die skrywer se dialoog is eweneens oortuigend en jy ruik die sweet en bloed van die karakters. Die ruimtes stink na Lysol. Boonop is dit ’n analise van Amerikaanse klasseverskille: Fenton teenoor Niccalsetti; “tools” teenoor “dorkage” (bl. 94). Outsiderskap op skool (Jumbo haat sy bynaam) en hoe kinders mekaar afknou en “score”, word waarheidsgetrou beskryf. Soos ook die skoolreünie waarin daar ’n kritiese blik gegee word op die Fenton-skool.

Maak jou reg vir een van die beste romans van hierdie jaar. Dit is ’n pakkende roman sonder enige redigeer- of taalfoute.

Die Bob Dylan-motto som dit alles op: ”Behind every beautiful thing, there’s been some kind of pain.”

Die roman word tereg aangeprys deur J.M. Coetzee op die buiteblad en Ron Irwin is ’n voormalige student van Coetzee. Irwin het ’n ryk geskakeerde roman geskryf waarin al die vlakke verbind word en al die simboliese toespelings by ’n tweede en derde lees netjies op mekaar inspeel. Die volgehoue beelde wat met roei te make het, word netjies verbind.

Die slot is kompleks en laat verskillende interpretasies toe.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Saturday, May 18, 2013

Jeanette Ferreira & Suzette Kotzé-Myburgh (Reds) - Nuwe Stories (2013)



Jeanette Ferreira & Suzette Kotzé-Myburgh (Reds). Nuwe Stories. Human & Rousseau, 2013. ISBN 9780798156448.

Resensent: Joan Hambidge


I. ’n Nuwe wêreld-sonder-grense

Afrikaans is geseënd met uitmuntende kortverhaalskrywers. ’n Mens dink aan Jaarringe (1966) van Henriette Grové, Duiwel-in-die-bos (1968) van Chris Barnard, Volmink (1981) van Hennie Aucamp. Van ons “mooistes” en “bestes” is deur Abraham H de Vries, self ’n voorste kortverhaalskrywer, in ’n kortverhaalboek byeengebring. In die tagtigerjare het Etienne van Heerden, Koos Prinsloo, Alexander Strachan, Victor Munnik, en ander die grensoorlog oopgeskryf en die sogenaamde postmodernisme ingelui en grense verskuif. Jare later kom Johann de Lange met sy gesprek met Aucamp en Prinsloo in Vreemder as fiksie (1996) en daarna met sy opbreek van die “ek” in dwelmverhale in Tweede natuur (2000). Digters is dikwels uitstekende kortkuns-beoefenaars, soos Petra Müller en George Weideman bewys het. En H.J. Pieterse se kortverhaalbundel Omdat ons alles (1998) is eweneens voortreflik.


Veral Prinsloo se verhale – ’n mens dink hier aan Slagplaas (1992) – het die owerhede op meer as een vlak ongemaklik gehad. In die tagtigerjare is die manlike subjek (gay, straight, weerloos, weerbaar) beskryf en ’n Wêreld sonder grense sou ’n metafoor word vir hierdie generasie.

Daar is puik kortverhale in Afrikaans: Ina Rousseau se “Onthou jy nog vir Helena Lem?” (Soutsjokolade, 1979), wat ’n openbaring word van hoe ’n opmerking ’n verhouding kan kelder en hoe herinnering sy eie pad loop. Nanette van Rooyen se “Tollie Hans”, wat wat in 1999 Human & Rousseau en De Kat se Vonkfiksie-kompetisie gewen het, is ’n klassiek. Dit is sekerlik die mees gedronge verhaal oor aflegging, pyn, verwonding van ’n vrou in haar liefde verlaat.

Die kortverhaal en kort-kortverhaal is in Afrikaans deur vele beoefen. Trouens, dit is Hennie Aucamp wat in sy Die blote storie daarop wys dat die kortverhaal nie ’n vingeroefening vir die roman is nie. Dit is ’n gerekende genre. Guy de Maupassant versus O Henry se verskillende aanslae – die een wat wentel om die storie en sy ontknoping; die ander wat werk met die knalslot. En dan is daar Borges, wat verhale-binne-in-verhale skep.
Wie kon ooit PJ Haasbroek se Roofvis (1975) ewenaar? Of saampraat met John Miles of Welma Odendaal? Of verder terug in die tyd dink ’n mens aan Van Melle en Elise Muller.
’n Goeie kortverhaal is op sy beste soos ’n goeie gedig: dit suggereer en agterna klap die implikasie jou in die maag. Nou onlangs het André le Roux weer uit die coulisse getree met sy eiesoortige, minimalistiese styl.

’n Mens kan maar net weer Haasbroek lees vir sy metaforiek, of Strachan, Grové of Barnard loof vir hul eenheidsbundel waar elke verhaal inspeel op ’n ander storie en sodoende die bundel met dieper implikasie laai.

’n Spaars oorsig wat enige persoon wat sy/haar hand wag aan ’n kortverhaal tot nederigheid behoort te stem.

Aucamp se Vuurslag (1990) oor die kort-kortverhaal is ’n briljante leesboek.

A short story is a work of short, narrative prose that is usually centered around one single event. It is limited in scope and has an introduction, body and conclusion. Although a short story has much in common with a novel, it is written with much greater precision.

Aldus Carol Dwankowski in "How to Analyze a Short Story", Internasjonal Engelsk - NDLA (9 Maart 2013 geraadpleeg).
Beter kan ek dit nie formuleer nie.

En dis juis hierdie presisie wat die kortverhaalskrywer onderskei van die skrywer van ander verhaalvorme.

’n Goeie kortverhaal is dan ook een wat jy met jou saamdra, amper soos ’n gedig, omdat elke aspek inspeel op ’n ander, en met ’n herlees sien ’n mens dikwels hoe die skrywer klippies in die pad gelaat het sodat jy nie moet verdwaal nie.


II. Die blote storie en die “naked I”

As ’n pendant vir die Nuwe stemme-reeks in die digkuns wat vir goeie verrassings gesorg het, is daar ’n reeks vir jong kortverhaalskrywers geskep.

In hierdie dae, waar ons vergas word met die verkeerde spelling van Barbra Streisand se naam en Elisabeth Eybers se naam met ’n z geskryf word by ’n uitgewershuis, is die eerste vraag: Is die keurders deurwinterde lesers wat kennis geneem het van die tradisie?


Die beste 21 verhale vir Human & Rousseau se Nuwe stories-kortverhaalwedstryd vir skrywers onder dertig. Ons verneem op die agterblad dat ons hier die pols kan voel van ’n nuwe generasie skrywers, met skrywers soos Nina Botes, Carolyn Meads, Bibi Slippers, Alettie van den Heever en Willim Welsyn, wie se name al op ander plekke opgeduik het.

Jeanette Ferreira en Suzette Kotzé-Myburgh is die samestellers. Beide laat hul dan ook uit oor die bydraes soos die “unieke register”. Twintig verhale uit 69 het die paal gehaal. Uiteindelik moes die uitgewer 21 opneem; die gehalte was dan so goed.

Die veranderde sosiale werklikheid word uitgewys: die nuwe tegnologie, die ander politiek en watter invloed dit op die verhale gehad het.

Soos met die Nuwe stemme-reeks in die digkuns, het ook hierdie skrywers werkswinkels meegemaak. Verhale is dus “geslyp” en “afgerond” in hierdie besprekingsessies. (Die invloed van kreatiewe kursusse is waarskynlik nog nie genoegsaam verdiskonteer in ons letterkunde nie en hoe alles vinniger en gouer afgewerk word onder die leiding van ’n mentor of fasiliteerder. Daar bestaan ook deesdae iets soos manuskripontwikkeling, waar ’n ervare redakteur of skrywer foute kan uitstryk voordat die boek voorgelê word.)


III. Enkele kanttekeninge

         Alettie van den Heever
Die verhale aktiveer die ervaringsveld van die jong mens: soos by Willim Welsyn (“Agter die tennishuisie”) is daar die jong verteller wat aan die woord is en juis deur die oënskynlike onskuld diep kan raaksien. Daar is ook die refrein van ontheemding en die ervaring van drugs, die internet, McDonald’s, en so meer. Die verhouding met die ouers word onder die loep geneem.

“Onder die brug” van Christina van Deventer – met sy Faulkner-toespelings – ondersoek die lewe na die dood op ’n verrassende manier.

“Oog, lopend” van Alettie van den Heever is ’n besonderse verhaal waarin die motief van die oog besonder goed uitgewerk word. Dit is ’n verhaal wat nie al sy sleutels prysgee nie en die leser dwing om terug te keer na simbole en subtiele implikasies. ’n Mens verwag nog baie van hierdie jong skrywer.

Die patologie – onder andere verkragting – word uitgebou in die verhaal “’n Ongelooflike hartseer” van Lezandra Thiart. Dit is ’n skokkende, dog aangrypende verhaal wat sterk resoneer met werklike gevalle soos die Eksteen-verdagte op Stellenbosch wat na bewering  ’n jong meisie verkrag, ontvoer en in die Weskus-duin begrawe het. Op ’n vernuftige wyse word die Leigh-Ann Matthews-gebeure ook in die leser se gemoed geaktiveer.

’n Verhaal wat al die kodes van die post-postmoderne tyd inkorporeer, is “524 keer” van Carolyn Meads, ’n uiters boeiende en ontstellende verhaal oor Facebook en video-posting. Die karakter se ervaring van hoe haar privaatheid binnegedring is, speel al die implikasies uit van hoe die moderne mens enersyds verslaaf is aan hierdie media en andersyds uitgelewer is aan die verskuiwing van grense wanneer ’n private video op die internet beland. Inderdaad ’n “Alice through the looking glass” – ’n slim vertelling. Uiters besonders juis omdat ’n mens as leser hier iets sien van die lewe en angst van jongmense.

                                                                                        Trish Goosen
“Die ryloopmoordenaar” deur Trish Goosen speel met die leser se verbeelding. Wat is feit, wat is fiksie? Die verhaal begin met ’n sin wat jou uitnooi: “Kom ek vertel jou die storie wat my lewe vir altyd verander het”, en eindig met ’n sirkelgang-slot. Met elke lees raak jy as leser dus betrokke in ’n nuwe sirkel van interpretasies.

Armand Fourie maak die pap lekker dik aan in “Kampuskriminologie” met ’n selfoon wat gil soos Psycho. Die mate waarin ons uitgelewer is aan gevare en die algemene toestand van paranoia waaronder ons leef. Die vrees dat ’n vriendin vermoor is, neem die leser deur al ons herinneringe aan moord en doodslag.

In die verteller se binnespraak: “En tog is sý nooit direk aangeraak deur geweld nie, nie sy of haar familie nie, dink Marieke. Al haar vrese is slegs tweedehands …” (83)

Tog met ’n positiewe slot.

               Wilken Calitz
’n Verhaal wat tot my gespreek het, is die skitterende “Fratres” van Wilken Calitz. Konflik tussen broers, via Anna Karenina, word op ’n oortuigende wyse verwoord. Nie alleen skep die interteks spanning nie, maar dit gaan hier om wat ons lees en dink ander nié gelees het nie. Nabokov se beroemde lesing oor hierdie roman word ’n eggo: Anna Karenina is vernietig deur die verkeerde boeke wat sy gelees het. ’n Diepsinnige ontleding van broedertwis, wrokkigheid, wraak, liefdesontrou – met ’n knalslot.

PL Brand se “Gewapende kerkgangers” ondersoek die verhouding tussen vader en seun. Die pa, met geen familie nie, lei ’n dubbele lewe en die seun word daarby betrek. Sterk Freudiaanse ondertone stu hierdie kragtoer voort: dit word ’n ontleding van die verhouding tussen vader en seun en hoe mense betrek word by ondergrondse aksies. Dit is eweneens ’n subtiele ontleding van ons geweldskultuur met ’n siniese verteller: “Op twaalf het ek die girls begin charm. Op veertien het ek my maagdelikheid verloor” (45). Die verhaal getuig van insig in familiestrukture en onthegting. Freud, eat your heart out.

Hierdie verhaal resoneer met Marni Bonthuys se “Familiemoord”, ’n verhaal wat moord, selfdoding, die paranoia van die nuwe Suid-Afrika knap ondersoek en aktiveer – met ’n vibrerende slot oor die monsters wat kinders begin raaksien. Daar is geen buite-teks nie, het Derrida geskryf, en hierdie teks speel so sterk in op ons belewenis van die huidige onrus dat die verhaal nuwe dimensies bykry. Dieselfde geld die openingsverhaal, “Centre stage is lewendig” van Charl Bezuidenhout met ’n deur wat oopswaai in ’n pynlike slot.

“Tweede natuur” van Nina Botes is ’n intellektuele ontleding van vrou-wees: die vroulike subjek, ’n intellektueel, se vrese rondom swangerskap en ma-wees word in ’n vreemde ruimte (België) geplaas. Die hoofkarakter keer terug na Suid-Afrika en al die opposisies tussen manlik/vroulik, swangerskap/aborsie, intellektueel/nonintellektueel word in hierdie puik verhaal uitgewerk wat ’n mens terug neem na Cixous se studies oor vroulikheid. Slim verwysings na Simone de Beavoir, Freud, Frida Kahlo gee skakering aan die teks – ’n klein kragtoer. Botes is ook ’n teoretikus, en haar verhaal lewer bewys van haar kennis van die kortverhaal wat ons in artikels sien:

• Botes Nina en N Cochrane. 2011. Generiese merkers in die kortverhaalsiklus. Deel 1: teoretiese uitgangspunte. LitNet Akademies (Geesteswetenskappe), 8(2):112-51. ISSN 1995-5928. 
• Botes Nina en N Cochrane. 2011. Generiese merkers in die kortverhaalsiklus. Deel 2: 'n toepassing op Die dag toe ek my hare losgemaak het van Willemien Brümmer. LitNet Akademies (Geesteswetenskappe), 8(2):152-87. ISSN 1995-5928.

’n Jong, maar sterk intellektuele stem wat al die diskoerse rondom vrouwees aktiveer: vanaf die Middeleeuse Holy Maidenhood tot jongste reaksies: Fear of flying, Agaat, en so meer.


IV. Is slotte dan sleutels?

Die slot van ’n kortverhaal is, soos die begin, van uiterse belang. Met elke herlees sal die slot jou weer op ’n nuwe wyse laat kyk na die begin van die verhaal.

           Bibi Slippers
Bibi Slippers werk in “Ikoon” met so ’n spel tussen begin en einde, volgepak met verwysings wat die verhaal met elke lees komplekser maak. Die kode van die kamera is belangrik in hierdie verhaal: “Sy kreun toe haar oë oopsluiter en die kamer stadig in fokus trek” (147). Foto’s en hoe ’n bepaalde oomblik in die tyd gestol word, dryf hierdie verhaal vorentoe. Net soos die skryfproses.

Alida Ehloff se “Wentzel” se slot nooi jou in en het waarskynlik een van die ongelooflikste en mees bisarre eindes – wat ek nie hier kan verklap nie! Wat ’n wonderlike verbeelding!
Donovan Greeff se “Noem my Kassandra” aktiveer ook paranoia en reeds die mitologies-gelade titel laat ’n mens dieper kyk na sien en onsienlike: “Angs hang dik in die lug soos ’n giftige gas. ’n Bedompige bedugtheid wat my uiteindelik na buite dryf” (105). Die “Hulle” wat hier bedreig, laat ons lees tot die onafwendbare slot. Die skrywer het ook ’n besondere kennis van hoe ’n kortverhaal werk en hierdie insig gee ’n bykans metafiksionele wending aan die verhaal. Die toespelings op Openbaring maak die verhaal kragtig.


V. Titels

Die titel van ’n verhaal moet die leser alreeds geïnteresseerd maak vir die gegewe. “Maar is bloed dikker as bloed?” van Janice Keogh en Henali Kuit se “Alles kom tot niks” presteer dit. Bloed is immers dikker as water en die verwringing laat ’n mens twee keer kyk, net soos “Alles kom tot niks” ’n soort nihilisme aktiveer wat die aandag trek. In eersgenoemde verhaal soek Andrea, die verslaggewer, na ’n storie vir die koerant. Maar sy kry uiteindelik meer as net ’n koerantstorie. Die afloop is ’n besonderse wending. In laasgenoemde verhaal word die implikasies van tatoe-kuns onder die loep geneem. En geloof. Dit is ’n ontleding van die impak van ’n herwonne geloofservaring en die betekenis van drome.

Madré Roothman se “Die ontmoeting” is inderdaad ’n ontmoeting waarop nóg Chantelle nóg die leser gereken het! Klein kodes oor identiteit – soos ’n graad in sielkunde – rig die leser om die ontmoeting se implikasies te begryp.

Carla van Eck begryp die implikasies van ’n sterk titel en laat die slot dan ook afwentel na die titel “Vir die eerste keer net Bea”. ’n Mens kan nie anders as om op te merk hoe ontnugter vele van die karakters in die verhale is nie. Die verhale registreer inderdaad iets van ons tydsgees: geweld, identiteitsonsekerheid, ’n soeke na geborgenheid (hetsy in geloof of in dwelms), en so meer. Maar veral die kwessie van identiteit, die vraagstuk na “wie is ek?”, word dan in vele verhale geaktiveer. Die binnespraak van die jong kind – so voortreflik hanteer deur Truman Capote en Carson McCullers – word presies weergegee. 

Die verhaal is geloofwaardig en die leser identifiseer met die lotgeval van hierdie jong kind.
Carla van Eck kry dan ook twee spreekbeurte. Die tweede verhaal, “Swem en ander drugs”, is ’n ontleding van die Freudiaanse familie-romanse. Ook hier kry die skrywer dit reg om die gemoed van ’n jong mens weer te gee. Die akute onsekerheid, die taalgebruik, die siniese blik op ouer mense, en so meer. Die titel resoneer met “Lady Jonker” se gedigte en lewenslot.

Die onpoëtiese titel “Plan B” is ook in die kol. Constant van Graan se slot het ’n lekker kinkel in die kabel!

Vir verdere nadenke oor titels:
Choosing the Right Name for Your Story.  (10 Maart 2013 geraadpleeg).     


VI. Is daar ’n “sense of an ending” (Frank Kermode)?

In ’n bloemlesing van hierdie aard speel verhale ook op mekaar in en verraai ’n tydsgees. Soos “Familiemoord”, “Kampuskriminologie”, “Die ryloopmoordenaar”. Dan praat “524 keer” weer met “Ikoon”. So gelees, wen verhale aan betekenis.

Dalk kort party verhale nog tekstuur, maar die bestes vergoed hiervoor.

Daar is agterin ’n klein biografie van elke skrywer.

Dit is ’n bloemlesing dié wat tot jong lesers sal spreek. Dit is dan ook die teikenmark. Die boek is besonder goed afgewerk. Geluk aan die twee redakteurs.

Die jong skrywers van die tagtigerjare het die grensoorlog in Afrikaans oopgeskryf. Skrywers vertolk dikwels ’n politieke klimaat op ’n eerlike wyse. En dit is wat hierdie bundel ook doen. ’n Mens kry as leser ’n gevoel van hoe jong mense die moderne wêreld ervaar. ’n Nuwe wêreld-sonder-grense …

Die voorblad kon bepaald meer opwindend gewees het.

Lees hierdie boek gerus. Dit sit vol pakkende, knap verhale. Ek gaan beslis weer terug na enkele verhale in hierdie bundel. Daar is beslis nie te veel geluk hier te vinde nie (Alice Munro ) – dis eerder stekelrige ervarings wat alles voortstu (Jane Bennett ). (Kyk na die addendum).

Dit sou interessant wees om te sien wie van hierdie kortverhaalskrywers uiteindelik ’n solobundel gaan publiseer.

En vir die slotakkoord verwys ek lesers na Ian McEwan: 

Addendum

Bibliografie



[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van LitNet Akademies geplaas.]

Sunday, May 12, 2013

Carié Maas - Koljander (2013)



Carié Maas. Koljander. Human & Rousseau, 2013. ISBN 978 0 7981 5926 5.

Resensent: Joan Hambidge

Koljander het die debuutprys verower in die Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2012 toe Ingrid Winterbach met die groot prys weggeloop het. Dit gaan die hele tyd in hierdie roman om twee wêrelde: jeug en hede; kunssinnigheid teenoor sinisme/ wetenskap; Suid-Afrika teenoor Mali (Wes-Afrika); skryf teenoor orale vertelling (griot). Die roman se voorblad rig dan ook die leser na hierdie, vir die meeste Afrikaanse lesers, onbekende, eksotiese wêreld. Boonop is die roman van ‘n baie handige leesgids voorsien wat ‘n mens help om baie van die Timboektoe-feite korrek te interpreteer. In Afrikaans, sover my kennis strek, het veral Antjie Krog hierdie gegewe diepsinnig gekarteer in haar digkuns (Kleur kom nooit alleen nie) en in ‘n Ander tongval. In haar bedankings word die naam van wyle Gretel Wÿbenga vermeld – tereg ook, want hierdie skrywer en letterkundige het enorm baie waardevolle werk gedoen met tekste wat buite die normale verhaalgang beweeg. Daar is ook toespelings op Wilma Stockenström se Die kremetartekspedisie (43).

Hierdie roman gee ‘n besondere blik op trauma en hoe families swaardra hieraan. Meer nog, die ervaring van vroue se trauma en pyn word werklik besonders weergegee in hierdie teks. Die vroulike verteller neem haar ma se dagboek saam (dit word in kursief gedruk) om die moeder se lyding te probeer begryp. “Stilte kom vanself”, lees ons,” Dit is ‘n pantser teen die weldenkende bemoeienis wat die versterking in ‘n gees, hoe weifelend ook al, weer kan lostorring. Stil smart pas in die hart soos ‘n gladgewaste stuk seep in ‘n reisbakkie”(246). Hoe die moeder nie kan uiting gee aan háár pyn voor die berader nie, word besonder knap vertel. Dis volgende keer u beurt, mevrou, verneem ons. Uiters verminderend dus teenoor die vrou wat ‘n stilgemaakte is.

Die dood van die broer is dit wat die vertelling voortstu. Hieraan gekoppel, die verwerking van van sy dood en hoe daar klarigheid moet kom oor aandadigheid, al dan nie, en vergifnis. Die geboorte van ‘n kind aktiveer al hierdie emosies.

Die oppervlakverhaal handel oor Karen Verhoef se lewe en haar verhouding met haar siniese vader, Hendrik, ‘n fisikus. Verskillende opposisies, soos hierbo genoem, word in die teks uitgewerk: wit teenoor swart Wes-Afrika, verlede teenoor hede, jeugervarings teenoor ‘n volwasse lewe, ensomeer. Karen is ‘n ontwerper en haar besoek na Mali vergestalt ‘n innerlike reis, saam met haar gids, Oumu. Die beskrywings van haar baba is lewensgetrou. So ook die reaksie op die gesteelde manuskrip en reisgids.

Maar die opposisies word ondermyn deur die sirkelgang van die beweging terug in die tyd. Met elke ervaring word dit anders verstaan en in die gemoed van Karen geïntegreer. Haar verskillende verhoudings – veral met haar man, haar vader, haar kind, Oumu en ‘n geliefde – word deur ons beleef.

Uitstaande in hierdie vertelling is die poëtiese beskrywing van Timboektoe:
“Is Mali die aardse prag van sy modderdoek? Is hy die verwikkeldheid van sy boukuns en sy wêrelderfenismoskees? Is hy die arbeidsaamheid van die vroue wat mannakoring stamp en die vissers wie se liggies donkernag nog op die Niger flits? Is hy die koraklanke en rinkelende kalbastamboeryne wat Oumu se neef op ‘n CD het of die intellektuele tradisie van die horingoue manuskripte met die goudkalligrafie wat sy nog saam met haar pa op die uitstalling in die Kasteel in Kaapstad gesien het?” (236).

Dit is dan ‘n teks wat vra om ‘n Jungiaanse lesing. Daar is sowel ‘n buite-reis as ‘n reis na binne om helderheid en klaarheid te vind. Die werklike reis teenoor innerlike reise van die vader, die ander verteller, en die dogter wat tot klaarheid probeer kom, word teenoor mekaar geplaas. Jung teenoor Heisenberg se onsekerheidsbeginsel.
Vir Karen is die reis ‘n suiweringsritueel, ‘n hadj (135), ofskoon sy deelneem aan ‘n wedstryd as ontwerper. Hier is eweneens subtiele kritiek ingebed: hoe sy as deelnemer (daar is ‘n Visi-onderhoud) meer werk sal kry. Wat sy egter meemaak, is nie ‘n glansblad-ervaring nie. Haar baba huil, dis warm, daar is setpille, die petrol is duur, die oorstaanplekke is karig en beskeie.

Die verskillende aspekte van slawehandel, spesery-roetes en die betekenis van sout en suiker word ondersoek.  Die boek getuig van diepgaande navorsing en wanneer ‘n mens al die nuanses optel, word dit ‘n besondere leeservaring waarin verskillende aspekte van menswees ondersoek word, soos finansiële ellende, ‘n buite-egtelike verhouding, die invloed van die wetenskap/genetika, gesprekke met mense wat buite die normale orde beweeg, gestremdheid, moederskap, expats,  ensomeer. Veral Oumu se situasie is gelaai met soveel ironie.

Daar is vele ingebedde tekste soos die storie van Sunjata en hoe ‘n Westerse mens die kodes van Afrika nie reg verstaan nie. Met vooropgestelde idees gebeur misverstande, maar met ‘n gids word daar anders gekyk na hierdie wêreld. Die kind se naam is Pikaninie en die titel, Koljander, aktiveer eweneens ‘n kinderrympie.

Karen se psige word gekarteer deur logika en selfbejammering wat bots met mekaar (127) en as kind was sy ‘n gedrewe naelloper – wat die leeservaring rig van ‘n komplekse karakter. Die konfrontasie met die vader wanneer sy met ‘n mes staan om ‘n medisynebottel oop te maak en hy dink sy gaan haar kind leed aandoen, speel terug op die dood van die vader. Elke oomblik in die hede beweeg dus terug op ‘n oomblik in die verlede.

Dit is ‘n boek wat getuig van geweldige navorsing wat die vertelling amplifiseer. Die Boereoorlog, Cass Abrahams, VLU, wat nog, gooi hier ‘n draai.

Een punt van kritiek: soms wil die skrywer te poëties “klink”.

‘n Mens moet glimlag vir die siniese kommentaar oor wat romans moet doen om die aandag te trek! (Magiese realisme plus die pouveer op die voorblad…), 35.

“As mens skryf, wil jy tog seker gelees word?” (239), vra die verteller. Bepaald en ‘n mens kan byvoeg. As jy goed skryf en interessante knope maak vir jou leser soos in hierdie roman, verdien jy bepaald om gelees te word.

Dit is ‘n besonderse voorblad. Soos Sunjata moes die karakters vér reis en weggaan uit ‘n geboorteland om hulself beter te begryp.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]