Showing posts sorted by date for query guggenheim new york. Sort by relevance Show all posts
Showing posts sorted by date for query guggenheim new york. Sort by relevance Show all posts

Saturday, July 30, 2016

Reisjoernaal. Wenen | Terugkeer: Lost in translation


Oostenrykse Nasionale biblioteek © Ken Kaminesky

Die reis vanaf Wenen tot in Kaapstad is 27 uur as jy al die oplaai en aflaai met pendeldienste by tel.

Vir oulaas reis ons deur Wenen en ek versoek die man om stadig te ry sodat ek vir oulaas die skoon, oorrompelende stad kan besigtig. Mooi geboue. Gaan die vlug vertrek of nie? Die Air France-staking maak alles onseker. Daar is ’n e-pos van my reisagent wat troos dat dat daar ’n 90% kans is dat ons wel op tyd sal vertrek. Die eerste vlug is met 20 minute vertraag, maar ek hou moed.

Die groot tas is ingelaai. Deurgestuur tot in Johannesburg.

In Parys is dit weer lang ente stap, maar gelukkig na al die trappe klim in Wenen, kom ek gou by die bestemming. Vir oulaas rook in die rookhokkie.

“Kom rook saam met die stoutes,” nooi ’n man gul. Die sigarette-bak lyk soos ’n Dali-kunswerk.

Ek kyk na die kaart van Wenen en trek met ’n swart pen strepies. Hier was ek; daar sou ek nog wou wees.

Die Innere Stadt was hoofsaaklik die vertoefplek met oopbus-toere na die omstreke. Maar die kongres was eerste prioriteit. ’n Opwindende, leersame kongres.

Uiteindelik stap ons in. Die gewone veiligheidsmaatreëls in die vorm van ’n speelse video met dansende jong meisies volg. ’n Parodie van die ernstige aanwysings.

Dan die stem van die kaptein: “Welkom aan boord. Weens die stakings, het ons min personeel aan diens en dus sal die diens minder flink wees. Ons het ook beperkte ...”

Nou ja. Dan volg ’n toebroodjie en ’n kerrieslaai. (Brekfis is ’n kaasbroodjie en joghurt en ’n appelmoes.) Wyn en bier is daar. Maar dit vorder alles stadig. Stakings is stakings. En van die puik kos op Air France is daar nie nou sprake nie. Ek kla nie. Bly in Zen-modus.

Ek kyk na Youth met Michael Caine en Harvey Keitel. ’n Parodie van hoe ’n film gemaak word en die ellendes van oudword, liefdesverraad, en ja: dat jeug vermors word op die jeug. Paul Dano is skitterend as die akteur wat vies is oor mense hom herken vir die verkeerde rol as ’n robot en wanneer hy dan Hitler “speel”, besef ’n mens opnuut hoe skitterend hierdie man is, wat ek laas in War and peace gesien het. 

Die ouer aktrise herken ek nie; genugtig! Jane Fonda stuur haarself so hemelhoog op dat ’n mens net kan bewonder. Dan kyk ek ’n dokumentêr oor Peggy Guggenheim: Peggy. Sy het Jackson Pollock ontdek, onderhou en binne die moderne kunswêreld van New York gepromoveer toe niemand in hom geglo het nie. Haar verhouding met mans, haar jeug, haar neusoperasie wat misluk het, haar huwelik met Max Ernst word eerlik vertel op bande wat ontdek is. Daaromheen is daar onderhoude met gesiene kunskenners wat die modernisme verduidelik. Haar gewoonte om haar tong uit te stoot soos ’n akkedissie word in enkele kameraskote weergegee. Haar huis in Venesië het ek besoek en vanselfsprekend is die Guggenheim in NY ’n gunsteling-plek. Edmund White praat uitstekend oor haar werk en hoe sy agter die skerms kunstenaars raakgesien het.

Ons eie Pretty Yende is in Air France-tydskrif. Ek onthou hoe ek haar die eerste keer as ’n jong student aan die UK hoor sing het by Angelo Gobbato se afskeid en toe het hy voorspel dat sy nog ’n groot ster sal word.

“Asem is alles wanneer jy sing,” verklap sy. “Jou asem lei jou. Dit is wat jy moet beheer.” Ook waar van die digkuns, dink ek.

Dis drie vm. Ek drink ’n glasie melk en presies 9.10 land ons. Deur paspoortkontrole. Hoe lekker om in Afrika te wees.

“Was your trip good, Mama?”
“Very, very good.”
Hy tjap my paspoort.
’n Gawe swart man help my om die doodskis op te laai, in te tjekkereer en nous dit Kaap toe.

Weer deur die kontroles. Laptop uit, sak deur, baadjie deur, selfoon deur ...

Oor ’n driekwartuur vertrek ons. Die pad is lank en swaar.
Ek wag geduldig. Besluit om koffie te drink en raak verdwaal in e-posse. ’n Jong swart man klop my op die skouer.
“Kom, ons gaan nou vertrek.”

Die vlug is halfleeg en SAL maak op vir die stroewe kos op Air France met ’n heerlike vislunch wat ek verorber met ’n glasie water.

Die pendeldiens gooi my af en omtrent halfvier stap ek in my koue appartement in. Sms die geliefdes en gaan slaap. Na Wenen se 32 grade is die koue Kaapstad ’n bietjie wreed op die sinne. Ek sorg dat ek dadelik in die bed klim. Gooi ’n stapel klere in die wasmasjien en droom van Wenen.

Skrik wakker. Gooi nog ’n duvet oor die bed. Sekere stede verlaat ’n mens bepaald moeiliker as ander.

Afskeid

Daar is sekere stede (soos geliefdes) wat mens moeilik verlaat.
Deur hulle word mens geteister deur ’n vlugvertraging
van herinnering of verlies aan jou enigste paspoort
tot nuwe ervarings liefde of ’n belangrike afspraak.

Daar is sekere stede (soos geliefdes) wat mens swaar verlaat.
Oor hulle draai die vliegtuig vir oulaas te lank
vir ’n panoramiese blik of keer selfs terug weens die weer
van hul veranderende emosies – net om mens wéér in die steek te laat.

Daar is sekere stede (soos geliefdes) wat mens nooit verlaat
weens willoosheid, herinneringe of ’n onverwagse coup d’etat.

Montevideo

(Verdraaide raaisels. H&R. 1990).

Hierdie stad en kongres sal lank in die gemoed bly draal. In die nag laai ek foto's af van die kongres met kollegas.

Die lekker brekfis in die Rathauspark hotel, die etes in San Giovanni ’n blok van die hotel, die Votivkerk en die Freudpark - dit alles sal ek mis.


En die Freud-museum.


© Joan Hambidge

Thursday, November 12, 2015

‘n Moderne Hamlet: ou wyn in nuwe vate




Michael Almereyda se Hamlet – met Ethan Hawke as Hamlet – is ‘n besondere interessante en relevante herbesoek van Shakespeare se klassieke drama. Die teks word verskuif na New York, meer spesifiek Manhatten met sy geel taxi’s en paranoiese gejaagdheid. Herkenbare bakens word ingespan om die storie te vertel, soos Times Square en die Guggenheim-museums met sy sirkels. Hier gil Ophelia haar waansin uit en die sirkels van die hel word geaktiveer.

Moderne tegnologie (selfone, TV-skerms, telefoonapparate, komputers en ‘n gedateerde faksmasjien) word ingespan om die storie te vertel. Die jong, wroegende Hamlet besoek ‘n DVD-winkel waar hy stapels en stapels films uitneem om iets te verstaan van sy Umwelt, teenoor die lesende Hamlet in die oorspronklike teks.

Hierdie film is alreeds in 2000 gemaak en analiseer die impak van modern tegnologie op ons lewens. Hamlet dwaal binne ‘n vlugkajuit en wonder oor die impak van sy dade, terwyl hy na ‘n film kyk.

Is dit toevallig dat die drama-binne-in-die-drama Mousetrap heet? James Dean, die silwerdoekheld soos Hamlet, bly tydloos aanwesig en glibber op ‘n TV-skerm.

Ophelia neem Polaroids wat sy weggooi, in plaas van blomme …

Die oorweldigende back-drop van die nooit-slapende New York was ‘n knap idee. Hierom is die jonge, tobbende Hamlet ‘n tegno-junkie. Die beroemde “to be or not to be”-monoloog word geparodieer deur ‘n Oosterse kommentator op ‘n TV-skerm wat beklemtoon dat ‘n mens se “being” altyd gedefinieer word deur ander mense. Met hierdie insetsel word daar verder gesuggereer dat ‘n mens se syn in die moderne wêreld verder bepaal word deur jou ekstensies in die tegno-wêreld.

Die jong Hamlet weifel tussen ‘n studie in die MBA-wêreld en filosofie. Hy keer terug uit die buiteland om te ontdek dat sy vader, die hoof van Denmark Korporasie, dood is en dat sy moeder (Diane Venora) getroud is met sy moordenaar, Claudius (Kyle MacLachlan). Die nuwe vader is ook nou in beheer van die maatskappy en die oorspronklike oedipale stryd word nou in moderne terme ook ‘n geldstryd.



Peter Bradshaw, ofskoon entoesiasties oor hierdie produksie, is wel skepties oor die voiceovers:

Moreover, Almereyda persistently makes the vulgar mistake of putting soliloquies onto a voiceover over a shot of the tight-lipped protagonist, as a kind of "thinks" bubble. It was the sort of thing Polanski did with his 1971 Macbeth: a disconcerting and unnecessary trick which you just don't need on film, and which lessens the visceral impact of speech.


Vir my is dit aanvaarbaar binne die styl-mélange van die produksie. Dit dwing die kyker om die monoloog van elke karakter weer aan te hoor. Met onderskrifte word dit ‘n besondere spannende spel tussen die Shakesperiaanse taal en die moderne vertolking van Hamlet met ‘n bokbaardjie, sonbril of ‘n tweegeveg wat gemoderniseer word met 'n elektroniese punteteller!

Daar is verder ‘n Elsinore hotel en ‘n laundromat waarin die vermoorde se klere gewas word. Is die laundromat nie immers binne die stadsbestaan die ruimte van sowel eensaamheid as ‘n soeke na kontak nie? Boonop is Sam Shepard, self ‘n gesiene dramaturg, die “ghost”!

Shephard se Buried Child (1979) is ‘n belangrike interteks, nes sy gekwelde lewe. Hierdie drama lewer kommentaar op die spanning in die nuklêere gesin. Hierdie pakkende aktiveer bloedskande op ‘n direkte wyse en aktiveer sowel Oedipus rex as Hamlet.


Hiermee wil die die filmmaker waarskynlik ‘n spanning uitwerk tussen Shakespeare en moderne dramas wat steeds bly teer op die Freudiaanse familieromanse wat terugkeer na Sofokles.

Met Liev Schreiber as Laertes beweeg hierdie kyker weg van die Mousetrap tot in Ray Connolly, ‘n reeks wat moderne kykers fassineer.

Die TV-leser, ten slotte, lewer kommentaar op ons samelewing in hierdie tye wat resoneer tot en met FMF#.

Is die moderne student nie ook in opstand teen die vaderfiguur (die regering) wat hom en haar versaak het nie?

The Mousetrap (Besoek 12 November 2015) is die kode met die leser wat moet speurwerk doen. Soos Agatha Christie se drama beskryf word as "the longest running play", is Hamlet presies ook dit.


© Joan Hambidge