Monday, January 20, 2014

Hennie Aucamp 80

Kunswerk deur Alex Emsley

Hennie Aucamp is vandag 80. Digter, kortverhaalskrywer, kabarettis, teoretikus, bloemleser, lyfleser, kunskenner, flâneur, resensent, essayis, ego-dokumenteerder, aforis, mentor...

In vandag se Die Burger bring 'n handvol kollegas hulde aan hierdie merkwaardige skrywer (Hennie Aucamp: Kenners en kollegas bring hulde. Besoek 20 Januarie 2014).

Vir my is die belangrikste bydrae wat hierdie skrywer gelewer het tekste waarin hy die posisie van die homofiele mens se bestaan sonder skaamte of skroom uitbeeld. Belangrik as in ag geneem word dat hy op die toneel verskyn het toe die "vreemde liefde" nog nie openlik besing is nie en lesers maar in verse deur Leipoldt of I.D. du Plessis met verhulde metafore tevrede moes wees. 


Ek meen dat "Vir vier stemme" (opgeneem in Volmink) as een van die grootste verhale in enige letterkunde gekarteer kan word. Aucamp is ons Boere-Tsjekof. Hy begryp hoe die mens uitgelewer is aan sy eie natuur en aan die eise wat 'n samelewing aan hom stel. Hierdie "boeregrap" (en hou in gedagte Tsjekof se dramas werk altyd met die fyn spanning tussen komedie en tragedie) het ek soos volg gelees in my tweede doktorale dissertasie:

'n Komplekse verhaal wat die kodes van die transvestiet aktiveer is Hennie Aucamp se "Vir vier stemme", oorspronklik opgeneem in Volmink in 1981. Die verhaal verskyn ook in Wisselstroom, die eerste volwaardige literêre bloemlesing van die gay-verhaal in Afrikaans wat in 1990 verskyn.

"Vir vier stemme" is 'n elegiese verhaal wat vanuit vier perspektiewe aangebied word. Aucamp aktiveer die konvensionele siening van die transvestiet of "moffie", naamlik dat dit as 'n grap of meer spesifiek 'n boeregrap uitgespeel word. 

Die verteller, oom Toon Lourens, is waarskynlik 'n Herman Bosman-agtige Oom Schalk Lourens: 'n verteller wat die mores en kodes van die gemeenskap ken en interpreteer namens ander karakters. Die naam aktiveer ook Toon Prens, 'n grootlieg-volkskarakter in Minnie Postma-verhale. Hiermee posisioneer Aucamp homself alreeds binne die boeretradisie.

Die verhaal het vier onderskrifte:

'n Grap is 'n grap;
Aan alles moet 'n einde kom;
En hadde de liefde I;
En hadde de liefde II.

Volgens 'n persoonlike mededeling aan hierdie skrywer, het Aucamp vier weergawes geskryf omdat hy in gebreke gebly het om die komplekse verhaal in een storie te kon vertel. Hierom die sonate-struktuur. Of moontlik kan die verskillende verhale gelees word as 'n jazz-weergawe van die eerste vertelling.

Die verhaal handel oor Toon Lourens en sy vriende, Oom Frik, tant Das en hul dogter Let, wat vir Beimen Botes, 'n jongman in die distrik, 'n poets bak. Beimen word om die bos gelei wanneer daar gemaak word asof Freddy, 'n Skotsman wat in Die Hoek herstel van 'n longkwaal, 'n besoekende niggie, ene "Fifi" is.

Omrede Let 'n onooglike meisie met 'n vlek is, stel Beimen nie in haar belang nie en word Fifi ingespan om die rol van die vrou te vertolk. Freddy werk in die poskantoor en wanneer dit blyk dat die twee mans werklik op mekaar verlief raak, word briewe geskryf en foto's geneem ten einde die spel te laat voortduur. Freddy pleeg egter selfmoord - 'n onthutsende slot wat wrange kommentaar lewer op 'n konserwatiewe gemeenskap se onverdraagsaamheid jeens homoseksualiteit. Slegs wanneer Freddy speel asof hy 'n vrou is, word hy aanvaar deur die boeregemeenskap. En, meer nog: slegs wanneer Freddy "Fifi" word, kan Beimen sy eie aard erken en uitleef.

'n Grap is 'n grap

Hier het ons Toon Lourens se perspektief. Die vernaamste redes wat hy aangee vir die gebeurde is die droogte en depressie. Weens 'n geldgebrek en kennelik ook verveling word daar saans na oom Frik se huis gegaan vir kaartspeel en boertige vertellinge.

Niemand het aan Let as 'n maat gedink nie, weens haar geskonde gesig: 'n pers vlek oor die een kant van haar gesig. Sy is dus 'n blote toeskouer weens haar outsider-posisie.

Beimen word deur Toon Lourens gesien as 'n onbelese, aksiegerigte persoon, terwyl Freddy as belese en ook diepsinnig beskryf word. Volgens die eerste perspektief (selfs getuienis) was oom Frik aandadig en die katalisator van die verhaal, want hy het die voorstel gemaak dat hulle Freddy moet vermom as 'n "meisiekind".

Wanneer Freddy vra oor sy snor, maak oom Frik 'n bepalende gender-opmerking: "Jy kweek 'n nuwe (...) en dié keer bemes jy hom van die begin af, om die brakkolle te wys wie is baas"(Wisselstroom, 1990, 133). Hiermee kodeer hy vir Freddy as wyfie-agtig. Ook dui die opmerking op 'n bepaalde gesofistikeerde kennis van seksuele voorkeure wat van oom Frik 'n bepalende en aktiewe agent maak in hierdie verhaal.

Ook die belydenis van die verteller dat hulle so "opgewonde soos skoolseuns" (134) was, kanselleer enige gevoel van onskuld uit. Wanneer die fopdosser haar verskyning maak, snak hulle na hul asems: 'n stelling wat bewys dat hulle nie net gewoon toeskouers is van die gebeurde nie.

Ironies genoeg word almal medespelers en aandadig aan hierdie treurspel: Tant Das se hare word die bolla; Freddy dra 'n ou rok van Let; die vrouens gee raad oor hoe hy moet optree en dit was die twee ouer mans se idee. Die verteller se verontskuldiging aanvanklik bevestig hierdie interpretasie; vir hom is 'n grap 'n blote grap. Tog nadat die foto's geneem word, sien hy homself as 'n medepligtige en getuie.

Die gebeure verloop vir Toon Lourens as 'n groteske grap. Ook Beimen se verliefdheid is vir hom en oom Frik frappant. Wanneer Beimen die niggie, Genoveva weer wil sien, vertrek "sy" egter die volgende oggend reeds na Kimberley.

Dis weer eens oom Frik wat met die voorstel kom dat hy moet skryf aan haar. Maar sake ontwikkel egter verder wanneer Beimen aandring op 'n foto en Fifi na die plaas moet kom en moet poseer in die klere: so word die hele spel dus weer herhaal of re-enact in Freudiaanse terme. Net soos die vertelling van Toon Lourens die gegewe herhaal of dit weer voorstel.

Die poging van die twee ouer mans om die waarheid aan Beimen te openbaar, word deur Fifi geweier. Hiermee word sy emosionele betrokkenheid bevestig en dat hy nie vir Beimen wil beledig nie. Hy was ook bewus van Beimen se betrokkenheid en dat dit hom sou breek. 

Uiteindelik is dit weer oom Frik wat met 'n noodlottige voorstel kom, naamlik dat die niggie moet sterf. Hy sou selfs sorg vir die telegram; 'n vreemde inmenging gedagtig aan die feit dat Freddy/Fifi by die poskantoor gewerk het en dit self kon versend. Ironies genoeg sterf Freddy: hy pleeg selfmoord in die mondering asof hy hiermee die aandadigheid van die medespelers wil uitwys. 

Die verhaal eindig met 'n onoortuigende verontskuldiging wanneer die verteller die leser wil vra hoe hierdie tragedie sig kon afspeel aangesien hulle almal saam gejag en geswem het. Die leser egter is eerder oortuig van die verteller se gender-bewussyn en latente homoseksualiteit: net 'n ingeligte persoon kan so 'n wrede manipuleerder en medespeler wees.

Aan alles moet 'n einde kom 

Die tweede vertelling word gefokus op Freddy McTavish se waarneming van Die Hoek. Die leser wat alreeds die treurspel se einde meegemaak het, vind dan reeds die titel omineus. Ook skryf hy 'n brief - in Engels - wat sy outsiderskap stilisties beklemtoon. Waar die eerste weergawe in die eerstevertelling plaasvind, word hierdie verhaal vanuit die derdepersoon-perspektief aangebied.

Freddy se aard word goed deur die verteller uitgebeeld. Veral word Freddy as 'n briefskrywer geskets teenoor die aktiewe Beimen. Die ander karakters word ook waargeneem en Toon Lourens word verminderend as 'n "filosoof" beskryf. 

Die foto's wat Freddy van die landskap neem, is egter wit-en-swart en uit fokus wat 'n resultaat van sy melancholiese gemoedstoestand is. Ook die vriend wat aanvanklik beloof het om te kom kuier, daag nooit op nie. Hiermee word dan ook 'n implisiete verduideliking vir Freddy se betrokkenheid by Beimen gegee: omdat hy afgesluit is van kontak met eensgenote, raak hy betrokke by 'n onmoontlike situasie.

Sy aanvanklike kritiese distansie word opgehef wanneer hy nie meer skinder of skryf oor die boeremense nie. Hy word duidelik deel van die klein netwerk soos reeds beskryf deur Toon Lourens in die eerste afdeling. En, Freddy fokus ook op die bloedstollende en grensoorskrydende verhale wat die mense in die gemeenskap vertel, bykans as 'n onbewustelike premonisie van sy eie ondergang. 

Ofskoon hy die ballingskap vrugbaar bestee deur te teken en Dickens te lees, word die volgende uitspraak gemaak: "Maar daar was aande, veral oor die naweke, wat hulle nie laat inbreek het nie; aande waarop die emosie 'n ander fokus wou hê as boeke; aande waarop hy verlate was, en mense wou hê, of beter gesê: een bepaalde mens. Maar dít het hy te laat besef" (1990, 137). Die verteller of stem is dus bewus van die voortstuwende ramp wat die leser alreeds vanuit Toon Lourens se perspektief aantref.

Ook word die tersaaklike gender-aanwysing vir die leser gegee oor Freddy se seksualiteit: "Hy kom mooi uitgevul uit die kamer uit, met rooi lippe en wange, en sy strooigeel hare saamgevat in 'n bolla; 'n effens vulgêre vrou miskien, maar met 'n plus-kwaliteit wat nie te ontken is nie" (138). Die personale verteller is eweneens bewus van die ontluikende homoseksualiteit in Freddy se persoonlikheid en die feit dat die omstanders van hierdie insident 'n grap maak. Die werklike behoefte van Freddy aan Beimen en omgekeerd reduseer hulle tot 'n groteske grap omdat 'n gender-afwyking binne die boere-verwysingsraamwerk onaanvaarbaar en ondenkbaar is. Slegs as dit paradeer as grap of uitgespeel word as 'n sirkus kan dit "hanteer" word.

Beimen se behoefte om verdere kontak in die vorm van briewe met die niggie te hou, word ook hier beklemtoon. Dit is egter Freddy wat die briewe namens Beimen moet skryf aan die niggie - omdat Beimen nie die ware identiteit van Freddy besef nie. In verhale van transvestiete en fopdossers speel die rol van die ware identiteit en ander karakters se blindheid om waarheid van spel te kan onderskei, 'n belangrike rol: vide The crying game in hierdie verband. Die hele verhaal wentel om hierdie blindekol van Beimen.

Die verlange na kontak word aanvanklik deur middel van briewe besweer; later is daar ook 'n behoefte aan foto's: 'n ironie dat die geliefde net deur representasie gevind kan word. Wanneer Freddy dan poseer vir 'n foto is die medespelers onthuts dat die spel nog voortduur - waarskynlik omdat hulle nie verder kon afloer nie, maar ook omdat die grense van die grap sodoende oorskry word: dit mag nou 'n werklike emosionele verbintenis word.

Freddy vrees Beimen se vergeldingsdrif: daarom die voorstel dat die niggie moet verongeluk, trou of buiteland toe gaan. En ironies genoeg is dit presies wat met die niggie gebeur: met sorg asof vir 'n huwelik word Let se rok aangetrek en die selfmoorddaad is dan 'n huwelik en 'n binnetrede van die mees ekstreme buiteland, te wete die dood. So tref Beimen, die "huweliksmaat", sy geliefde aan. 

Die boodskap van die tweede perspektief is dat slegs binne die domein van die dood die liefdesafwyking geduld kan word waarmee klassieke tekste soos Tristan en Isolde geaktiveer word.

En hadde de liefde I 

In die derde vertelling word daar personaal gefokus op Beimen Botes se waarnemings van die insident. Dit blyk dat hy gemeenskap gehad het met Freddy en besef dat hy nie 'n vrou is nie. Hy wil terugkeer om te gaan kyk na wat gebeur het. Hiermee aktiveer Aucamp tekste soos Lot se vrou en Orpheus en Euridice: 'n psigologiese toestand van onmoontlikheid om die geliefde/droom/illusie ooit weer ongeskonde te kan besit.

Hy gaan slaap dan en droom nie van Genoveva nie, maar van die geskonde Let: die soektog na die Volmaakte Geliefde word gefnuik deur die binnetrede van Let wat die onvolmaakte simboliseer. Hierna gaan swem hy, wat as't ware 'n verdere afdaal in die onbewuste simboliseer.

Beimen Botes se skuldgevoelens en onvermoë om sy eie aard te aanvaar, is die fokus van hierdie vertelling. Hy ervaar konflikterende emosies en die grapmakers moet die blaam ervaar. Tog is dit duidelik dat hy voortgegaan het met die liefdesaksie selfs nadat hy Freddy se ware aard ontdek het. (Sy woede en teleurstelling het hy in die liggaam geledig, maar die leser sou kon byvoeg: teleurstelling met die ontdekking van sy ware aard.)

In sy rekonstruksie van die aand blyk dit dat sy soeke na liefde hom verblind het. In terugskoue besef hy dat hy mislei is deur die grapmakers, die lamplig en die mise-en scène. Ook besef hy dat Freddy sy onbeholpe gevoelens geleerd vertaal het aan die niggie.

Wanneer Freddy hierdie briewe aan die niggie geskryf het, het hy gelukkig gevoel. Hiermee word 'n subtiele aanduiding gegee van Beimen se homoseksualiteit en dat hy dit slegs kon aanvaar wanneer Freddy as vrou poseer het.

Hierom die teenstrydige emosies van homself seksueel wreek op Freddy en begeerte. In die slotparagraaf word hierdie interpretasie bevestig. Hy wil Freddy sien sonder sy vervalsing ("sonder smeersels en vals hare"), maar die onthulling van die werker dat Freddy vermink is, verhoed hom. 

En hadde de liefde II

Die slotvertelling fokus op die Van Onselens, en meer spesifiek, hul verminkte dogter, Let, se perspektief, aangebied vanuit 'n derdepersoon of personale perspektief, 'n vertelwyse wat intiem-onthullend is oor 'n karakter se diepste emosies. 

Let se ironiese aanslag, wat soms tot sinisme versuur, word hier beklemtoon. In bitter oomblikke sal sy dan ook sê dat sy haar as 'n clown kan verkoop. Hierdie uitspraak posisioneer haar reglynig teenoor Freddy: hy kan homself opmaak, terwyl sy reeds deur 'n geboortevlek geskend is. 

Haar medepligtigheid is dan duidelik. Weens 'n gevoel van onvervuldheid wil sy wraak neem op Beimen wat nie in haar belangstel nie en Freddy wat wel kan transformeer in 'n liefdesobjek waarin Beimen sou belangstel. Let daarenteen kan nie transformeer nie. Hierom doen sy mee aan die grap.

Haar wrewel jeens Beimen kom duidelik in hierdie perspektief na vore. Sy is 'n soort diensmaagd of dienende Martha vir hom (wat selfs aan sy klere ruik om iets heimliks van hom te kan besit). In 'n gedagtestroom dink sy: "Laat dit breek. Laat iets gebreek word, iemand of iets" (Wisselstroom, 1990, 145).

Haar teenstrydige emosies (enersyds liefde; andersyds verwyt en verbittering) maak van haar 'n ambivalente karakter binne hierdie drama. (Reeds haar naam Let dui ook op 'n lesbiese aard). Sy is negatief oor oom Frik en Toon Lourens en haar positiewe gevoelens jeens Freddy kom duidelik na vore. Hy is 'n vertroueling en gespreksgenoot. Maar slegs ten dele, omdat hy haar objek van begeerte se aandag trek. In Toon Lourens vind sy ook 'n bondgenoot, omdat hy voor Freddy se koms weer op Beimen se vriendskap kon aanspraak maak.

Let word ook as 'n vrou met manlike eienskappe getipeer in hierdie vertelling wanneer sy Freddy skeer. Hieruit kan ons dan aflei dat sy eweneens bewus is van ander gender-moontlikhede en sodoende die mans teenoor mekaar kan opstel. 

Wanneer Freddy uiteindelik selfmoord pleeg, is Let die praktiese persoon wat help om die lyk uit te lê, maar haar ambivalensie word benadruk deur die versugting dat dit liewers Beimen se lyf moes wees. Nie net die lyf wat sy seksueel begeer nie, maar die persoon wat sy dood wens.

Hierdie vernuftige vertelling werk met etlike sleutels ten einde die gender-spel vir die leser uit te werk:

In die eerste afdeling, 'n Grap is 'n grap word die vertelling rondom die raaisel gekonstrueer. In die tweede afdeling, Aan alles moet 'n einde kom, word daar verwys na foto's wat uit fokus is. Die derde afdeling, En hadde de liefde I word veral die onbewuste (die water en drome van Beimen) op die voorgrond geplaas, terwyl in die slotafdeling En hadde de liefde II, daar na die sirkus verwys word as 'n sentrale metafoor. 

Die vier verhale gee dan vier perspektiewe op 'n gebeurtenis wat rondom 'n gender-konstruksie gebou is, naamlik die van die transvestiet of cross-dresser. Die verhaal werk telkemale met die beginsel van uitstel of différance: 'n grap waarin die toehoorder die teiken is; 'n brief waarin emosies nie dadelik die ontvanger bereik nie; 'n foto wat 'n representasie van die werklike persoon is; 'n droom wat 'n begeerte of drang simbolies en dikwels verwronge na vore bring; 'n sirkus waarin mense soos dwerge of ander geskondenes 'n rol vertolk.

Hierdie uitstelproses word gerepresenteer in die vorm van 'n verhaal wat net 'n perspektief op of interpretasie van die gebeurde is.

In Derrideaanse terme, funksioneer hierdie vertelling rondom uitstel of différance: elke verhaal word verklaar in terme van 'n ander verhaal of signifikasie. In Lacaniaanse terme speel hierdie tragedie sig af omdat die wet van die vader oortree word. As die twee hoofrolspelers net voor die toeskouers die spel gespeel het, was die tragedie verhoed. Maar omdat die Wet van die Vader oortree word, loop alles skeef. Beimen is veronderstel om by 'n vrou betrokke te raak. Oom Frik en Tant Das staan vir hierdie orde, maar hulle geskonde dogter is vir hom onaanvaarbaar.

Toon Lourens, met suggesties van 'n implisiete belangstelling in Beimen, is op die reële vlak vir Beimen onaanvaarbaar. Beimen kan egter wel sy homoseksuele natuur erken wanneer 'n man vermom as 'n vrou tot hom toenadering soek. Wanneer die spel-verbintenis as onmoontlik uitgewys word, word die orde versteur. Die verhaal aktiveer ook die idee van die pharmakos of sondebok.

Iemand wat buite die orde bestaan maar wat bekend genoeg met die orde is sodat die offer genesing vir die gemeenskap kan bring. Derrida se herlesing ("Plato's Pharmacy" in Dissemination) van filosofie aktiveer hierdie onsekerhede wat betekenisse meebring. Freddy se selfmoord verlos almal van hul gender-ambivalensies en latente homoseksualiteit. 


*

Aucamp het – in navolging van Austen se Playing the game – nooit kompromieë met die heteronormatiewe wêreld aangegaan nie. Hy het die leefwyse van die homo uitgebeeld soos dit is. En sonder skroom. Koos Prinsloo en Johann de Lange kon dus die gegewe verder ontgin. Veral De Lange het op 'n uitsonderlike wyse in sy briljante Vreemder as fiksie die spanninge tussen Aucamp en Prinsloo kreatief opgelos. Hierom die interessante collage op die voorblad waar die drie gesigte één word. Oor hierdie "versoening" het ek uitgebreid geskryf (Die prosa van Johann de Lange: Die versplintering van die “ek”).

Aucamp se werk as baanbreker binne die gay-diskoers kan nog nie na waarde geskat word nie. En boonop het hy my die waarde van reis geleer: hoe dit 'n mens se lewe verander en verruim.

Bronne:

Hennie Aucamp. 1981. Volmink. Kaapstad: Tafelberg.
Hennie Aucamp. 1990. Wisselstroom. Homoërotiek in die Afrikaanse verhaalkuns - 'n bloemlesing. Kaapstad: Human & Rousseau.

Roger Austen. 1977. Playing the game. The homosexual novel in America. New York: The Bobbs Merrill Company, Inc.

Johann de Lange. 1996. Vreemder as fiksie. Kaapstad: Human & Rousseau.

Joan Hambidge. 2000. Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde: 'n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk. PhD, UK.