Monday, May 8, 2023

Resensie | Sven Axelrad - Buried Treasure | Umuzi, 2023

Sven Axelrad - Buried Treasure. Umuzi, 2023. R290.00, 222pp (Sagteband) | ISBN 9781415211083 

Resensent: Joan Hambidge

 

Wat ‘n roman! Buried Treasure van Sven Axlerad smokkel met jou kop. Slim, fantasmagories en briljant is hierdie roman wat meesleur via Bob Dylan (“A Hard Rain’s A-Gonna Fall”) en veral Roberto se The Savage Detectives (1998).

 

Hierdie Chileense skrywer se verhaal vertel die storie van die soektog na die Meksikaanse digter, ene Cesárea Tinajero wat in die 1920’s geleef het. Twee digters uit die sewentigerjare, ene Arturo Belano en die Meksikaan, Ulises Lima soek na hom. Cesárea Tinajero was die stigter van sogenaamde Visceral Realism. Bolaňo is eweneens die skrywer van 2666 (2004), geskryf toe hy ‘n lewersiekte gehad het. Oor 1000 bladsye lank. Waansinnig. Stories-binne-stories. Axelrad is kennelik bekoor met hierdie skrywer se flinke spel met fantasie en werklikheid.

 

In Axelrad se roman is daar ‘n karakter Arturo, die hoofkarakter Mateus se vader. Karakters soos Felip (centre forward for Real Marquez). Alejandro en Mick Jagger en Margaret Thatcher …

 

Agterin vind ons ‘n lys van karakters (lewend en dood) met ‘n skadu (die sogenaamde Stabber). Elke hoofstuk word begelei met hoofstukindelings. ‘n Alwetende verteller wat tong-in-die-kies kommentaar lewer met opmerkings soos “We are a collection of everything thas happened to us, which is to say we are stories” (152). Dus ‘n manipulerende, ouktoriale verteller.

 

Mateus leef in Vivo. Hy het ‘n hond. Hy moet mense begrawe, maar die dooies het ‘n lewe (en bewussyn). Mense beland in verkeerde grafte, omdat Mateus nie meer goed sien nie. Alto heet sy vader. Die hond se naam is …

 

Daar is ‘n Iets (‘n Skadu) wat amok saai en doodmaak …

 

Daar is ‘n professor wat begeester is met boeke en biblioteke.  ‘n Soort huldeblyk aan Umberto Eco se siening van biblioteke en argiewe. ‘n Roman wat as ‘n kussing dien vir Novo, ‘n huislose (en weerlose) persoon.

 

Daar is duiwe wat boodskappe stuur. ‘n Telefoonhokkie wat meer as ‘n hokkie is. Kennelik ‘n verwysing na Umberto Eco se The Role of the Reader (1979) se voorblad. Sherlock Holmes en dr Watson in ‘n telefoonhokkie wat ‘n Superman T-hemp in die hokkie vind.


Eco is ook die skrywer van Die naam van die roos (1980), ‘n briljante speurverhaal. William of Baskerville is die speurder in Die naam van die roos, ‘n toespeling op Middeleeuse filosowe.


Die Rottevanger van Hamelin, St Augustinus, die tarot, Isabel Allende se siening van die dooies en die Apostasie, speel eweneens in op hierdie knap roman wat eweneens Jung se siening van die kollektiewe onbewuste en die skadu oopmaak. Die mite van Sisiphus en Cerberus. Die betekenis van ‘n clairvoyant en die impak van die hangover. Nomenklatuur en hagiografie (die biografie van ‘n heilige) word teenoor mekaar geplaas.  Augustine, die blommeverkoper, word gekanoniseer.

 

Die verlating van die religieuse teenoor die eskatologiese. Lamentasies teenoor guitige humor. ‘n Lesing van wat gebeur wanneer jou liggaam ‘n lyk word. Die impak van wurms op ons lewe. En krieke.

 

Die roman is ‘n besinning oor die metafisika, oor hoe ons stories beleef (en vertel) en ons vrees vir die dood. Kierkegaard is hier as Kierkergoal.

 

Uiteindelik ‘n roman oor die betekenis van die lewe (en dood) waaroor ons maar net kan bespiegel. ‘n Hoofstuktitel lui: “Life, the Ultimate Abbreviation”. 

 

Die titel sinspeel op iets kosbaars wat ontdek word.  En dit staan opgeteken in Mattheus 13 vers 44: “Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand …”, en in vers 52 word daar verwys na die skat waar nuwe en ou dinge te voorskyn gebring word.

 

En toevallig dat die karakter Mateus heet? 

 

Die skrywer is in Nieu-Zeeland gebore. Sy vader is ‘n Franssprekende Brit en sy moeder Suid-Afrikaans. Hy is woonagtig in Durban waar hy werk as ‘n rekenmeester.

 

Bepaald ‘n talent om dop te hou. In hierdie dae waar middelslag romans aangeprys word, kan ‘n mens hierdie een loof vir die tekstuur én uitstekende navorsing. In Eco se terme is hierdie leser waarskynlik die modelleser. 

 

Magiese realisme en metamodernisme.

 

Gewoon net op ‘n storievlak al heuglik. Umuzi moet geluk gewens word met hierdie roman. Kort in omvang, maar lank in implikasie, toespelings en erudisie.

 

Geskryf in sprezzatura, oftewel: bestudeerde nonchalantheid. Dalk kan ook ‘n erkenning aan Gabriel García Márquez se 100 jaar van Eensaamheid (1967)?

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)