Sunday, May 29, 2022

Gedigte | Joan Hambidge - Oggendmeditasies | 2022

Oggendmeditasie 6
 
Paul Kruger eers gebalsem
toe in staatsie lê langs
Gezina in die heldeakker.
 
Perde in die ABO se geproes
verklap verkenners glo;
ry eerder fiets as equus.
 
Pegasus nou my perd, my saal,
my toom, my rym-ding so
in ‘n tyd vér van daardie museum:
 
Tom Claridge en Charles Clark,
se ontwerp op 59 Nkomo-straat
paar blokke weg van Kerkplein
 
waar Oom Paul staan waar
hy staan nes Barney Barnato
se leeus op daardie veranda
 
langs die knipmes sonder duim:
vér van die keil in die Rijksmuseum
tot die lyk sonder kram se lange terugreis.
 
 
Oggendmeditasie 7
 
Die meditasies van die hart
‘n spel met prosodie, posodinie
plus ‘n stel notaboeke en verseboeke.
 
Nagteliks besoek jy my in drome
verwonder soggens oor tathata
se onverwoordbaarheid: die skewe hoeke
 
van onthou word voor middernag
‘n kreeftevers: uitgespel en uitgespeel
in ‘n soort retrograde belewenis
 
dat die dag sal breek in voorwete:
onthou duur langer as vergeet,
verdring staan immer tru voor berou. 


Oggendmeditasie 9
 
Ek is ‘n tricoteuse wyl die koppe rol
nou staan my ghremmer eks op hol
 
als is reeds beskryf deur ander aksenawel
in die blouboek van Dirk met sy snawel
 
al die beelde oor die bovenstebeste
het Boerneef reeds geskep van die verste
 
punt tot hede, kyk onse digters meestal dood
selfs ou Mocke wonder oor wraak en nood
 
ja wit was dié wêreld vir W.E.G. Louw
wyl Nicolaas dig oor die wolfdoring se grou
 
nevvermaaind ek brei en rammel beswaard
speel op my ramkietjie met net een snaar
 
was vergifnis ooit ‘n maklike ding of kroes
op Peter Blum se vasteland waarop ons boer?
 
“Die bietjie wat Ek vra” in dié oordryf,
bly maar ou Hambidge se nurkse bedryf.


© Joan Hambidge