Monday, June 1, 2015

Marlise Joubert - Bladspieël (2015)


Marlise Joubert - Bladspieël. Human & Rousseau, 2015. ISBN 978 0 7981 6954 7

Resensent: Joan Hambidge

 Dit is Marlise Joubert se agste bundel en haar mees uitstaande bundel bly vir hierdie leser Passies en passasies (2007), 'n teks waarin die liriese aard in 'n digterlike dansvorm uitgewerk word. In Bladspieël word daar oor verhoudinge besin: die verbintenis met die geliefde, die natuur, kinders en kleinkinders, die liggaam en veral die digkuns, soos die titel reeds aandui. Reisgedigte en politieke verse is eweneens hier te vinde. Die gedig dus as setspieël, as uitleg of voorstelling van die hewige emosies wat die gedigte uitdra. Toespelings op hierdie tema vind ons regdeur in die bundel, o.a. in "snags slaap ek onrustig op" (32). Die titel eis dus "close reading" op van die leser.

Daar is etlike selfkonfrontasies en selfgesprekke: in "(1970)" (65) praat sy met haar vorige bundels en die domus of huis kom telkemale in verskillende gedaantes na vore, te wete die erf, grond en ruimtes (binnelands en buitelands). Hierteenoor is "brief uit die boord" (53) vir die liewe Krismisvader, 'n iets sentimenteel. Bestekopnames is bekend aan die werk van die ouer wordende digter. Wanneer sy oor menslike verhoudinge skryf, steek dit alte dikwels vas in die anekdotiese of die gemeenplasige. Die "biografie van bloed" mis die sterk digterlike en grimmiger aanslag wat die ars poëtiese verse kenmerk.

Waar Joubert egter hier van haar sterkste verse lewer, is dit te siene in die verse wat oor die digkuns of digproses handel. In "Vlug", 'n reisgedig, word die elliptiese spel van die gedig op 'n metavlak uitgewerk. Die leser sien die besinning róndom die skryfproses (92). Hierom dan ook gesprekke met haar digtersman, Louis Esterhuizen, soos in "klein reistog" (91) en "'n dag in die lewe van 'n digter" (20), waar die Estlandse digter, Jaan Kaplinksi aangespreek word. "by die lees van" (16) aktiveer sy haar eggenoot se lang epiese vers. Sy vertaal en herdig Octavio Paz se "tussen gaan en bly" (110), 'n gedig wat al etlike herdigtings in Afrikaans beleef het en bepaald 'n interessante studie kan aanstig.

Daar is twee toonaarde te bespeur in hierdie bundel: melancholies (soms selfs sentimenteel) en 'n skerper, gedistansieerde blik op die self en die skryfproses. Hierdie leser verkies laasgenoemde aanslag; die tussenaard dus. Daar is dikwels 'n belewenis van 'n droom of 'n ervaring van wat die gedig of indruk voorafgaan, op soek na die verhale wat skuilhou in frummels papier (56). Die digterlike bestaan word bedreig deur werklike storms en politieke onrus. Die vrees vir doodgaan en die versugting om meer stents in die hart te hê, wys op die bedreiging van 'n bestaan. In die openingsgedig "herfs" (9) word die behoefte om langer te leef, uitgespreek in die dwingende, herhalende refrein wat sy telkens verander.

Daar is uitstekende beelde van die digter wat eens haar rugsak flenters kon droom teen ruite, maar nou in eko-insulasie haarself moet verweer teen die dood.

Moderne kommunikasie en hoe dit ook die digproses bedreig word knap verwoord in "om te dig" (25):


op 'n selfoon
is nie maklik nie.
dis boonop onromanties.

vingers poot 'n skilpad
letter vir letter voort (...)

Ons vind treursange en die pynlike besef dat 'n vroeër bestaan vir ewig verby is. Daarom het die bloed 'n "roesgeheue". Hierteenoor is die jong kinders 'n beeld van 'n nuwe lewe of toekoms.

Daar is "geslote" gesprekke met ander digters (Sappho, Sylvia Plath, om twee vroulike gespreksgenote uit te sonder) teenoor die "oper" gedigte vir kinders en kleinkinders, by die naam genoem. 'n Aangrypende vers oor die vader word róndom sy lessenaar gebou: "en ek vra dikwels nog of hierdie vlek / gekreukel soos 'n bloeisel op die eikehoutblad / die laaste ink was uit jou pen" ("agter die lessenaar", 81) wat weer al die gesprekke van vrouedigters oor hul vaders aktiveer.                                        

'n Kritiese vraag: waarom word Ocatavio Paz uit die Italiaans aangehaal, maar Salvatore Quasimodo in Engels? Wilhelm Knobel het dit immers puik vertaal in Afrikaans!

'n Handvol gedigte is besonders verwoord, nes die lykdig oor die vader ("agter die lessenaar").

Die bundel beslaan 110 bladsye en ons beleef tans in Afrikaans die opmars van die dikker bundel, veral opvallend die afgelope dekade.

agenda

die gestringde gedig
moet ʼn lang gedig wees
ʼn rankplant teen ʼn wit
ringmuur aan die een kant op
en aan die ander kant soos slingers, asb.
webbe om jou voete af
sodat jy nie kan beweeg nie, vasgevang
om die enkels van begeerde ontroering
so moet die gedig jou mettertyd tot
stilstand bring, tot absolute stilte laat basuin
sodat jy die woorde word, self die klank
en die ritme van ʼn verlore tyd, die afstand
van vrugwater na sloot
en later slegs ʼn hartklop
wat jou opraap ver verby

die stingelende dood

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Rapport geplaas)