Friday, February 8, 2013

Huldeblyk: Adriaan van Zyl (1957-2006)



In Memoriam: Huldeblyk vir Adriaan van Zyl

Joan Hambidge

I.

Hoe vertroos 'n mens iemand wat sterwend is? Die meeste van ons ken Elizabeth Kübler-Ross, maar moet erken dat ons dikwels wegdeins van iemand wat vertrek weens 'n terminale siekte.

'n Mens neem blomme, jy besoek die geliefde in 'n hospitaal of hospitium. Jy bel altyd vooraf die familie en die hospitaal. En die geliefde vra: jy moet asseblief kom … as dit nie te veel moeite is nie.

Jy is oorrompel deur die persoon se lyding, die wete van eindigheid, mortaliteit. Jy praat oor die blomme op die vensterbank.

En jy bly opbeur, gedagtig aan die Tibettaanse Boek van Lewe en Dood dat 'n mens nie by die sterwendes moet treur nie, omdat dit hulle terughou en ons trane soos haelkorrels op die siel voel.

Tog wil jy iets saamneem.

'n Cadeau. Daar staan reeds soveel plante en blomme in die kamer.

Dan besluit jy: jy sal vir die geliefde, 'n gerekende skilder, 'n gedig neem. 'n Gedig wat jy besig is om te skryf oor Rembrandt.


II.

Ek gaan terug na my bundel Bitterlemoene, waarin my eerste vers oor Rembrandt opgeneem is. En ek begin lees en dink oor "Die Anatomie-les van dr. Tulp". Ek lees en ek begin huiwerig skryf aan my vers.

Ek ry na Adriaan en vertel vir hom oor die konvensies van die tyd. En hóé groepsportrette 'n teken was van sosiale sukses en dat daar slegs een disseksie per jaar toegelaat is. En dit moes gewoonlik 'n veroordeelde wees en alleen tydens die winter – om praktiese redes – mag die liggaam dan gedissekteer word.

"Dit klink so interessant," merk hy, die bewonderaar van Vermeer, op.

En vertel ek hom: hierdie skildery speel in op 'n ander bekende skildery, naamlik Thomas de Keyser se "Die anatomie-les van dr Sebastian Egbertsz". 'n Soort intertekstuele spel waarmee Rembrandt besig was.

En dan stap ek buitentoe, want 'n ander vriendin, 'n konfidante, het opgedaag om hom te besoek. En ek wil hom nie vermoei met te veel woorde nie.

Anet het pas teruggekeer van 'n reisbesoek aan Amsterdam en gee vir hom Rembrandt-afdrukke. Ons gesels oor Rembrandt.

Sy sê: "Jy weet Adriaan, net dr Tulp mag vorentoe kyk ... al die ander moet wegkyk ... en dit is fassinerend as 'n mens hierdie skilderye nou sien. Hulle het video-opnames by "Die Nagwag" sodat dit lewensgetrou is. Jy hoor 'n hond blaf. 'n Kind huil. Wat 'n verstommende kunstenaar!"

"Hy was nogal 'n bruuske man ..." merk ek op.

"O, ek is bly jy waarsku my," sê hy, "want ek gaan hom tog voor julle ontmoet!"

Ons lag.

"Dink jy hy sal my verstaan?" vra Adriaan.

"Ag jong," meen ek, "daar is glo 'n T-opsie in die hemel!"


Die Anatomie-les van dr Tulp (1632)

Ou ydeltuit Tulp
tesourier, burgemeester
versoek 'n groepsportret.
'n Bloedjonge Rembrandt van Rijn
skamel ses-en-twintig
boorling uit Leiden
student van Lastman
– navolger van Caravaggio
se chiaroscuro –
opgemerk deur Huygens
oorgedra aan Uylenburgh
en aanbeveel ...

En só
van mond na
oor tot oog
en hand
aanvaar die jongeling
'n groepsportret:
'n teken van sosiale sukses.

A, die Amsterdammers
wou met praal en prag
graag die lewe in 'n spieël
sien ...

Maar agter die spel met lig
en donker: skadu en son,
sou ons u moes toelig
dat net twee van die toeskouers
geneeshere was; die res staan skouer
aan skouer met dr Tulp se openbaarmakende
anatomie-les

met 'n doktersgilde wat slegs één
disseksie per jaar sou toestaan
(in die winter, bewaring ontwille)
van 'n opgehangde, verskopte skurk,
ene Aris Kindt,
rower
se lyf gedief
vir hierdie simmetriese
skildery perfek
(wie kyk na wie?
wie kyk na wat?)
lewe/dood,
lig/donker,
sukses/mislukking.

Die eintlike punt
– meen ek –
is dat ons kyk
na 'n ánder anatomie-les
van dr Sebastian Egbertsz
deur Thomas de Keyser
waar 'n geraamte
stilswyend hang.

So wie is die grootste dief?

Die gewapende rower
of die skilder?
Of dalk die digter?


III.


Hierdie teks word dan uiteraard 'n anatomie-les van 'n verbintenis wat oor soveel jare gestrek het. Dit is nodig om hier te vermeld dat Swart koring, my send-up van die hygroman, deur Adriaan ingegee is en beide Swart koring (1996) en Die swart sluier (1998) is aan hom opgedra, ofskoon dit speels vermeld dat die boek nie vir hom is nie! Die CD-roman-roman Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het (2001) bring ook hulde aan sy weergalose, droë sin vir humor. Die draairestaurant was sy idee en hy het my aangevuur om die mal karakters verder te ontwikkel.

"Laat hulle tulbande dra!" Toe sou ek in Jung lees dat die verwisseling van tulbande of hoede dui op die "change of mind".

Persoonlike faktore – oa 'n geliefde kollega en vriendin se dood wat my erg getraumatiseer het en ander ongelukkige eksterne faktore – het 'n impak op ons kontak gehad die laaste jaar. Dit is wél opgehef in die laaste paar maande met vele, uitgebreide besoeke aan hom in die hospitaal en tuis.

'n Botteltjie "Hand & Body Lotion" uit die Victoria Falls Hotel, 'n verdere beskeie geskenk, het ek op sy hande en arms ingesmeer en gesorg dat sy voete warm bly in outydse wolsokkies.

"Jou hande voel so sag," het hy gemymer. En gelag toe ek hom vertel het dat ek op 'n olifant se rug gery het.

Ek het selfs een keer aangebied om hom badkamer toe te dra.

Hoe praat 'n mens oor 'n verbintenis van dertig jaar?

Ons het graag telefonies gekuier. Ons rekord was een Saterdagaand met 'n twee uur lange oproep waarin ons alles óm ons gedissekteer het.

Terugskouend lewer sy kunswerk 'n verslag van stilte, die dood, en bly sy begraafplaastonele die aangrypendste periode in sy lewe.

Nie alleen is sy werk elegies van aard nie, maar dit aktiveer veral nostalgie oor 'n verlore tyd en die breekbaarheid van die lewe. Vele kunskritici het alreeds hierop gewys in die analises van sy werk.

Tog behou hy iets van die skuifelende, die verbygegane, soos die engel wat waak
oor die graf.


Na 'n skildery van Adriaan van Zyl
Central-Wasche, Kolmanskop

Die rooi duine skuif
gister se pyn en verlange wég:
daar het baie sand gewaai
oor ons en water uit my oësee.
Die rooi heuwels berg
ons drome gesesvoet, begraaf
onder sand en skuiwende duine.
Die uurglas het uitgeloop;
nog 'n herinnering het geskuif.
Die rooi berge is gister
se pyn en verlange




Aantekeninge

Ek het deur die jare geweldig baie oor Rembrandt gelees. Veral die internet verskaf eindelose kommentare oor "Die anatomie-les van dr Tulp" en ek verwys lesers na die volgende: "Rembrandt's anatomy lesson".

Ek het ook geweldig baat gevind by Mieke Bal: Reading Rembrandt – Beyond the World-Image Opposition. Amsterdam University Press, 2006.

The World of Rembrandt. Time Life Art Books. Amsterdam, 1982 van Robert Wallace is eweneens bestudeer.


Rembrandt
In 'n fiktiewe brief aan Constantijn Huygens
"die meeste ende die natureelste beweechgelickheyt"

Die bemoeienis
met die self
het selde
groot kunswerke
tot gevolg;

wens mens
kon die "ek"
afsweer ('n slang
vervel
die stroping
so verlossend)

en telkens opnuut
begin ...
mense maak my bang om hul
onvoorspelbaarheid – soos 'n skildery
wat ánders verloop
as wat ons bedoel het
en tog en tog
moet ons (ja, ook skrywers soos jy)
inkyk
tot by die spikkel van die self.

So tussen my en jou:
ek vind die maak van portrette
vermoeiend – as oefening
vir die maskers wat mense dra
bitter nodig.

Ook hier
neem my kwas sy loop
skilder ek iets mooier
as die oorspronklike
– die Amsterdamse vroue is só ydel!

Wys jou net
jy was reg: tegniek is alles ...

Het selfs vandag
in 'n oomblik van dronkenskap
my leerjonge se uitdaging aanvaar
om myself as die Verlore Seun
voor te stel.

Die arme sot!
Wat sal hý begryp
van selfbespotting?

Van die spoor van twyfel
wat altoos
bly vreet
aan die hart
van die ekstroverte, flambojante
Rembrandt Harmenszoon van Rijn?

(Uit: Bitterlemoene. Human & Rousseau, Kaapstad. 1986.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]