Saturday, December 7, 2019

Resensie | Trevor Sacks – Lucky Packet (2019)

Trevor Sacks – Lucky Packet. Kwela, 2019.  ISBN 978 0 7957 0890 9

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie pragdebuut van Trevor Sacks heet Lucky Packet, daardie speelgoedsakkie waar jy nie weet watter speeldingetjie jy gaan uithaal nie. Soms ‘n plastiekhorlosie, ander kere ‘n karretjie, ‘n snor of ‘n brilletjie.

Boonop was daar een vir meisies en een vir seuns.

In hierdie roman word die jeugervarings van Ben Aronbach, ‘n Joodse seun, ondersoek. Sy vader is oorlede. Die lotgevalle van hom, sy twee broers, hulle moeder, en die swart tuinman word in heerlike aardse dialoog weergegee. Hulle is Jode in ‘n aarts-konserwatiewe noordelike dorp. 

Totdat ene Leo Fein, ‘n aartsbedrieër, sy opwagting maak. Hy het sy oë op die moeder se erfporsie en inkomste uit ‘n besigheid wat soms onseker en wankelend is. Hy gee ook voor hy het die oorlede vader geken en wen so die jong karakter se vertroue.

Dit is die apartheidsjare van die 80’s waar daar neergesien word op Jode, Grieke en Moeslems. Witheid – veral Afrikanerskap – is bo alles gestel; die weermag en wat nog, word in ‘n geskakeerde vertelling weergegee.

Ben is die fokalisator so ons sien alles deur sy oë. Of dit wat hy op hoorsê as die waarheid ervaar het.

Die lang galery van jeugvertellers kom aan bod: Harper Lee se To kill a mockingbird (1960), Truman Capote se The grass harp (1951), ook J.D. Salinger se The catcher in the rye (1951) kom aan bod.

Nader tuis is daar JM Coetzee se herinneringe aan sý jeug en Marita van der Vyver se Die dinge van ‘n kind.

Wat hierdie roman besonders maak, is die humor. My eksemplaar sit vol uitroepe en kanttekeninge. Van Leo Fein wat in sy neus krap om ‘n koekeloerder te laat wegkyk tot ‘n broer wat swastikas teken om te treiter, is vinjette wat my altyd sal bybly. Om nie te praat van die diefstal van drank of die "dooie" Fein nie.

‘n Besoek aan Paul Kruger se huis en die kommentaar hierop is gelaai met ironie. En ‘n benoude knyp van die blaas op ‘n skooltoer na Natal is skreeusnaaks.

Met ‘n ligte hand (aanvanklik) word daar gekyk na die impak van die dood op kinders, na diefstal en die kind wat uitgelewer is aan die dwaashede van grootmense. Uiteraard geskryf vanuit ‘n agterna-perspektief, maar deur die oë van die kind, word die absurditeite en ironieë sterk verpak. Skaterlag-momente is daar baie. Wall-to-wall-humor. Soos seuns op 5 wat gefnuik voel na hulle als gewys het, maar die meisietjie nie.

Ben moet Shul toe gaan, maar sy moeder is agnosties. Joodsheid is ‘n kultuur eerder as ‘n godsdiens.

Die emosies en herinneringe is netjies verpak. Daar word nie afgereken met mense of vooroordele nie, maar eerder ironies-gedistansieerd gewys op hoé hierdie aannames werk. (Ben smul byvoorbeeld aan spek ...)

Hier is geen verbittering of weerwraak nie. Dit is ‘n roman van die drumpel ("threshold"), omdat jong kinders dinge helder sien. Soos dit is.

‘n Mens dink hier aan die antropoloog Arnold van Gennep se sieninge van liminaliteite. Hierom die verwysing na die "rites of passage", hiér die bar mitzvah. In Rites of Passage (1909) is daar drie fases: pre-liminaliteit, liminaliteit en post-liminaliteit. Die jong standerd vyf kind behoort tot die eerste fase; die ontmoeting met Fein vverbeeld die fase van liminaliteit. Die ouer skrywer – wat terugkyk na sy vermoedelik outobiografiese jeug – behoort dan tot die fase van post-liminaliteit. 

En humor? Dit word ‘n wapen om distansie te bewerkstellig, omdat jy jou opponent verminder of verklein deur hom as ‘n grap voor te stel, aldus Freud.

Die tweede gedeelte van die roman heet “1992”. Hier het ons nou ‘n oorgang waar die impak van die jonge Ben se dwase optrede op sy gesin geregistreer word. Die politieke realiteit word erger. Oproepe na die army en die threshold-gedagte word geaktiveer op bladsy 193.

Die roman word in ‘n herkenbare Pietersburg (Polokwane) geplaas met straatname en verwysings na restaurante wat die politieke dimensie sterker na vore bring. Die verhouding van Shadrack met die moeder word besonder goed weergegee.

Die AWB, die Kappiekommando, die nee-stem in Pietersburg en boere se optrede is goed beskryf. Hier word die humor swart. Marieke en haar pa kan jy sien. 

Nes besoeke aan die tattersalls. En wat behels skatafatsa nie? 

Sy siening van Leo Fein is teen die einde anders. Dit het sy jeug verdonker; hoeveel van hierdie man is hý?

Lucky Packet, Liquorice allsorts, Neopolitan roomys, Dinky Toys – alles kragtige simbole uit ons jeug.

Maar die verrassingspakkie – dis waaroor hierdie uitsonderlike debuut, ‘n Bildungsroman, handel.

Rahla Xenopoulos noem dit ‘an exquisite read’ en Imraan Coovadia loof dit as een van die beste en mees leesbare romans van die afgelope tyd. Hierdie leser gaan akkoord.