Isabel Allende. Ripper.
Jonathan Ball, 2014. ISBN13: 9780062291400
Resensent: Joan
Hambidge
Isabel Allende is ’n legendariese skrywer en haar The House of the Spirits (1982) beklee
’n ereplek op my boekrak.
Haar jongste heet Ripper.
Die hoofkarakter, Amanda Martín, se webwerf werk met die
bekende gegewe van Jack the Ripper.
Die Victoriaanse tyd word in die moderne tyd van die
rekenaar nuwe lewe gegee.
Die werklikheid word egter gemanipuleer deur die
rekenaarspel. Met die werklike dood van Ed Staton, en ander, ruk sake handuit.
Die roman is opgedra aan Allende se eggenoot, William C.
Gordon, “my partner in love and crime” en self ’n bekende speurverhaalskrywer.
Op bladsy 106 laat ’n karakter een van Gordon se romans
agter en ’n karakter tel dit op. Op bladsy 317 lees die karakter waarskynlik
Isabel Allende. Hierdie in-verwysings maak die roman uiters plesierig.
Hugh Grant se avontuur met ’n prostituut word ook
gesatiriseer en Umberto Eco se bekende studies oor die speurverhaal en
fiksionele karakters se ervaring van die werklikheid word eweneens geaktiveer.
Die domein van die speurverhaal is al lankal nie meer ’n
manlike terrein nie. Ons weet dit al sedert Agatha Christie, P.D. James en Ruth
Rendell, en in Afrikaans is daar Karin Brynard. Op die buiteflap word Allende
beskryf as “mistress storyteller”.
Die roman val met die deur in die huis. Ons verneem die
moeder van Amanda, ene Indiana Jackson, gaan om middernag op Goeie Vrydag
vermoor word.
Vyf tieners en ’n ouer man span saam om ’n oplossing te vind.
Op 11 Oktober 2011 om 08:00 word ’n lyk ontdek by ’n skool in San Francisco.
Met besonder noukeurige forensiese presisie word ons vertel
hoe die persoon vermoor is en hoe die toneel daar uitsien.
Ed Staton, toevallig ook ’n veiligheidswag, is die vermoorde.
En tipies van ons tyd is daar grensoorskrydende lekkasies aan die media en
transgressiewe vrae.
In hierdie dae van die Oscar Pistorius-saak weet almal hoe
die media se interpretasies en menings ’n “spin” aan ’n moordsaak kan gee.
Die toespelings op die gay-gemeenskap en wat met Ed se lyk
alles gebeur het, is nogal ontstigtend.
Amanda se pa, Indiana se eks, is boonop die
adjunkpolisiehoof. Op ’n werklike en kubervlak word daar na die moordenaar
gesoek.
Verskillende identiteite word geskep. Een van die spelers is
Sherlock Holmes – die mistige Londen van 1888 geplaas teenoor San Francisco in
2011.
Diegene wat hierdie teks as “minder” of “swak” afgemaak het,
kyk die besondere snelle vertelpas mis, die briljante speurkodes en die
kommentaar op die moderne elektronika.
Allende se karakters is onder meer psigies. Een is ’n
masseuse wat mense se chakras manipuleer.
Die jonge Amanda is op pad na die Massachusetts-instituut
van tegnologie (MIT) en sy is briljant.
Van haar medespelers is haar oupa, ’n parapleeg uit
Nieu-Seeland en ’n Kanadese meisie met ’n eetversteuring. Dus, almal wat so ’n
bietjie buite die “normale” sfeer beweeg.
Speurverhale aktiveer immers die liminaliteit of
grensbestaan. Dit is waarom die moderne Sherlock Holmes-reeks kykers so boei.
Allende betrek ook hipnose en die paranormale by haar roman.
Speurverhale word dikwels afgemaak as “populisties”, maar
Eco se The Name of the Rose (1980) het immers gewys dit hoef nie so te wees
nie.
Kerneels Breytenbach het met sy Piekniek by Hangklip (2011)
self die kodes van populistiese en ernstige literatuur vermeng.
Die roman is goed gekonstrueer en gee vals leidrade wat die
leser volg om dan uiteindelik by die oplossing uit te kom.
Daar is vele “inferential walks”, in Eco se terme – Tosca,
Jeffrey Dahmer, Susanna en die ouderlinge, Woody Allen se flieks, O.J. Simpson,
ensomeer – wat die teks ook vir die letterkundige speurder ’n feesmaal maak.
Daar is soms ook te lang uitgebreide passasies, soos besoeke
aan Alkoholiste Anoniem, wat die verhaalgang vertraag.
As jy Steppenwolf ken en boonop sir Arthur Conan Doyle,
besef jy watter (kuber-) spore jy moet volg . . .
Dis ’n wonderlike boek wat ’n mens opnuut laat besef hoe
goed Agatha Christie is met vals leidrade.
En die vraag bly: Wat sou Samuel Hamilton of Hercule Poirot hiervan gemaak het?
En die vraag bly: Wat sou Samuel Hamilton of Hercule Poirot hiervan gemaak het?
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]