Ingrid Winterbach. Die aanspraak van lewende
wesens. Human en Rousseau, 2012.
H&R ISBN 978 0 7981 5706 3
Resensent: Joan Hambidge
Die aanspraak van lewende wesens van Ingrid Winterbach is bekroon met NB-uitgewers se eerste prys in Die
Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2012. Die roman word tipeer as “komies,
hartroerend, meditatief, verruimend”. En ‘n mens sou kon byvoeg: melancholies.
Die roman is aangrypend geskryf en speel terug op ‘n vroeëre besinning, naamlik
Klaaglied
vir Koos. Winterbach vertel twee stories, te wete die verhaal van
Karl Hofmeyr, wat moet raad vind vir sy broer Iggy se geestesongesteldheid.
Hierteenoor het ons die besinning van Maria Volschenk oor haar lewenslot en
hantering van haar suster se dood. Die karakters se paaie kruis op ‘n plaas,
surrealisties beskryf, in Kaapstad waarin die outeur dus sydelingse en ironiese
kommentaar lewer op die tradisie van die plaasroman in Afrikaans. Ene Josias
Brandt, ‘n soort katalisator in hierdie roman, is in ‘n stryd met Iggy
(Ignatius) gewikkel.
Winterbach se romans interesseer nie hierdie leser om
die verhaallyne nie. Dit intrigeer eerder om die digte verwysingsveld en die
sterk metaforiek. Die jongste roman is ‘n lament en die titel “die aanspraak
van lewende wesens” aktiveer ook die ander kant van die munt, te wete die
aanspraak van gestorwenes. Soos in vele romans, roep die teks ‘n sterk
psigoanalitiese verwysingsisteem op. Hierdie teks vra vir ‘n saamlees met Freud
se “Rou en Melancholie” (1917).
Die “vroeë verwonding en verdriet” (40) van Maria word
ondersoek. Die verteller neem ons terug na die skooljare as ‘n sleutel tot die
intense ervaring van leegheid en die familie is ‘n ruimte van verwonding. Dit
is ‘n verhaal wat psigiese kennis ondersoek en die verwysing na die Id aktiveer
die kelder van die onbewuste. Taboes (soos kinders wat ‘n kaal lyk sien) en ‘n
DVD (waarna Maria en Vera kyk) waarin psigiaters meen skaamte en vrees
lotsbepalend is, neem ons na verdere lae. Soos in vroeëre tekste is die
“dierlike impulse” en die mens se lot verbind aan groter patrone. Dit is ‘n
roman vol selfverwysings: die “frostbite” aktiveer Die benederyk en Klaaglied
vir Koos se ondersoek na evolusie kom aan bod. Dit wat buite die
rasionele lê, word ‘n fokus. Die Sitra Achra, die Sheddim, Stabat Mater, Heavy
Metal, films (soos The Big Lebowski, o.a.) Wagner,
eis ‘n Barthesiaanse benadering op soos beskryf in S/Z (1970) van
kulturele en persoonlike kodes. Met die leser as die waarsêer.
Die verwysings na skaak neem ons terug na Nabokof.
Die suster, Sofie, se ongewone blik word ‘n belangrike
sleutel vir die emosionele ruimte waarin Maria haar begeef. Deur haar
nalatenskap word Maria bewus gemaak van die spirituele domein. Die suster, ‘n
digter, wil haar hande nalaat aan haar suster; ‘n slim troop vir hoe die suster
se lewe uiteindelik Maria se lot bepaal. Karl se pakkie bevat eweneens
inligting oor sy broer wat ‘n deur ‘n spirituele hel gefolter word en glo dat
hy ook fisies transformeer. Twee parallelle verhale dus; ‘n parallaks, in Žižek
se terme. Die roman aktiveer ook die Gnostiek: Maria word deur haar suster
bewus gemaak van die tien hekke van spirituele wysheid (125). Iggy se brief aan
sy broer aktiveer eweneens hierdie gegewe en dit sal die leser loon om die
Ofiet-diagramme en die Boek Esegiël saam te lees. Die voorblad aktiveer immers
sowel die Bybel as die wetenskap. Syfers speel ‘n belangrike rol in die roman:
Maria is ‘n syfermens en Karl is obsessioneel oor getalle. ‘n Sielkundige
torring aan Maria: watter geheim het die moeder van haar weerhou? Hierdie aspek
neem ons weer terug na die moeder in Die benederyk.
(Nes die verwysing na Louise Bourgeois). ‘n Terugkeer
na Stellenbosch word bykans intratekstuele kommentaar op die skrywer se eerste
werke. Daar is min passasies wat so vindingryk geskryf is in enige letterkunde
as die ontmoeting met twee bergies (die vrou ‘n palmleser) in ‘n begraafplaas.
Daar is die optekening van die natuur: sprinkane, spinnekoppe, ensomeer, as ‘n
beswering van depressie.
Daar is vele verwysings na beeldende kunstenaars wat
eweneens die teks (onbewustelik) laat voortstu. Die natuurbeskrywings is
digterlik en ‘n mens kan hier die hand van die beeldende kunstenaar sien in
haar konkrete beskrywings van die ruimte. Psigiese inhoude word nie blote
abstraksies of ‘n intellektuele getjommel nie; die leser beleef dit in die
krisisoomblikke van ‘n karakter wat onverwags geskiet word of ‘n kind wat meen
sy lewe is in gevaar. Die dialoog is vindingryk en snaaks. Die verskillende
hoofstukke impliseer ‘n ouktoriale vertellershand wat te midde van chaos tog
orden. Die oog vir détail imponeer: van ‘n karakter se bo-lip tot ‘n vrou se
oog kan jy sién.
Die roman het ‘n sterk verhaallyn met ingewikkelde
kodes en toespelings: wetenskap teenoor spiritualiteit; vooruitgang teenoor
kataklisme. Weemoed wissel humor en aksie af. Klein tersydes word ‘n kulturele
kode.
Binne ‘n bestek van bykans drie dekades het Winterbach
haar gevestig as een van die belangrikste romanskrywers van ons tyd. Dit is
loflik dat sy telkens binne ‘n kort bestek ‘n nuwe roman skryf sonder om
gehalte in te boet.
Dit is is ‘n briljante roman. Binne die afgelope tyd
het ek dit driemaal gelees. En elke keer iets nuuts raak gelees. Daar is min
slotte in enige roman wat ek ken wat my tot sulke weemoed gedryf het as die
einde van hierdie boek.
Met stilte as die grootste ellende wat ‘n mens kan
tref; nie skaamte en vrees soos die Nederlandse psigiaters
in die roman meen nie. Dit is opgedra aan wyle Paul Cilliers, die filosoof.
[Hierdie resensie het voorheen verskyn in Die Burger & word afgedruk met
vriendelike vergunning van die resensent.]