Friday, July 8, 2022

Resensie | Louis Krüger – Die verleiding van Eva de Winter | Human & Rousseau, 2022

Louis Krüger – Die verleiding van Eva de WinterHuman & Rousseau, 2022. ISBN: 9780798182720. R 310.00, 192pp

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

Hierdie roman, uitgegee deur Human & Rosseau, word soos volg bemark:

 

Wanneer Josua een middag vir Eva de Winter in ’n Rotterdamse koffiewinkel ontmoet, voel dit vir hom onwerklik dat ’n begaafde regsgeleerde soos sy in ’n verhouding sou belangstel. Maar sy getuienis vroeër in ’n hofsitting interesseer haar – dit lei tot verdere afsprake, en algaande word hulle vriende. Dis eers ná hul huwelik voltrek is dat Josua begin begryp daar is iets onpeilbaars aan Eva. Hoeveel raaisels het sy van hom weerhou, en wat hy slegs d.m.v. obskure soekenjins oor haar kon naspeur?

 

Louis Krüger is ‘n Afrikaanse skrywer woonagtig in Holland. Hy is die skrywer van Gevaarlike land (1990), Herinnering aan Agnes (1995) en Wederkoms: Die lewe en geskiedenis van Jannes Hoop (2009). Met sy jongste roman het hy hierdie leser bekoor. 

 

‘n Beeldskone regsgeleerde, Eva, en Josua, ‘n rekenaarkenner, wat getuienis lewer in ‘n hofsitting oor selfone, is die twee rolspelers. Protagonis en antagonis. Met motto’s uit T.S. Eliot se Four Quartets wat die verskillende afdelings raam. Belangrik die uitspraak dat die mens nie te veel realiteit kan verduur nie, soos Eliot beweer. Beide karakters probeer ontsnap van hul verledes; beide karakters word gekonfronteer met enorme psigiese probleme.

 

Die voorblad (dalk opsetlik?) is van ‘n uitlokkende, beeldskone vrou (ons sien terloops nie haar oë nie) soos ons in liefdesromans vind. Dus ‘n opsetlik verkeerde kode. Die boek is ‘n aweregse liefdesverhaal, met gekneusde, beseerde rolspelers. Josua herstel van ‘n traumatiese ervaring (hierdie leser wil nie ‘n spoiler gee nie) en Eva is ‘n geheimsinnige vrou. Met ‘n vreemde man in die agtergrond.

 

Liefdesverhoudings, trauma, die straf van die gemeenskap, die dood van ‘n kind én ‘n man met die naam Peter Laksman word saamgevoeg. Elemente dus van die spanningsverhaal met skuld en boetedoening. En verder: hoe farmaseutiese maatskappye indiwidue se lewens manipuleer en moontlik siektes skep sodat daar geld gemaak kan word?

 

Die name is gelaai met simboliese betekenisse: Eva, Josua, Laksman, Bert Hartemink, onder andere. 

Josua beteken God is my redding. Hier word die naam dan ironies gebruik.

 

Onder draai die duiwels rond in hierdie uitermate goed geskrewe spanningsverhaal met verwysings na Simon en Garfunkel se The Sound of Silence: “Hello darkness, my old Friend, I’ve come to talk with you again …, 153.

 

Death of a Salesman is eweneens ‘n interteks met die soeke na betekenis.

 

Die roman maak eweneens slim genderanalises oor geslagsloosheid en dalk ‘n gendervrye toekoms. Proefbuisbabas. Die oortolligheid van die huwelik. Evolusie is ‘n verdere tema (147).

 

En moderne identiteitsdiefstalle. En optredes op sosiale media wat die einde van die individu aankondig. 

 

Ook Harari gooi hier ‘n draai.

 

Die outeur ondersoek ook die impak van buite-egtelike verhoudings: “die berou en die lewe in leuens is die grootste wroeging van die owerspelers.” 

 

Die impak van verkragting op ‘n vrou se lewe word ook ondersoek. En die troebel arena van hacking waar ander se geheime ontbloot word, kom ook aan bod.

 

Opwinding, verleiding (op verskillende vlakke) word in hierdie uiters subtiele roman ondersoek.

 

Niks is soos wat dit lyk of voorkom nie. 

 

Die gebruik van kodes uit die liefdesroman vermeng met die spannings- en traumaroman maak van hierdie roman ‘n besondere teks. Dit is uiters subtiel geskryf met rigtingwysers vir verdere speurwerk.

 

II

 

Die inspeel op ander tekste is belangrik met die verwysing na die filmweergawe van Death of a Salesman. Met Dustin Hoffman en John Malkovich.

 

Gemaak in 1985 met niemand minder as Schlöndorff as regisseur nie, van Arthur Miller se drama uit 1949.

 

‘n Teks oor selfverloëning en illusies …

 

Wanneer tekste inspeel op ánder tekste, soos die film Gemma Bovery (2014) van Anne Fontaine, roep dit vergelykings op met die oerteks.

 

Flaubert se Madame Bovary skuil in die agtergrond. Die film het ‘n bakker, ene Martin, as ‘n soort regisseur wat kommentaar lewer op liefdesverhoudings. Die verskille tussen moderne en klassieke verhoudings word uitgewerk in hierdie speelse film wat in Normandië afspeel. Rodolphe word Hervé, ‘n jong student wat Gemma verlei, terwyl haar man, ‘n Brit, meubels restoureer.

 

Die verteller waarsku teen die gevare van gif.

 

Die kyker weet wat het met Emma Bovary gebeur.

 

Die verteller meng in stuur ‘n brief aan Gemma en maak asof hy Hermé is. 

 

Lewe boots kuns na en mense is blote argetipes, aldus die bakker as gedistansieerde, ironiese verteller.

 

Die klein vriendekring (die bure een Brit, een Frans) soos, Gemma en haar man, se lewe word verder versteur wanneer Patrick, ‘n eks opdaag. Ook is daar ‘n intrige met ‘n duur beeldjie wat breek en wat Gemma se man moet restoureer. Met die jong lover wie se moeder lont ruik.

 

Die slot: Gemma sterf nie ‘n gifdood nie. Nee, sy stik aan die brood van die bakker en Patrick probeer haar red en helaas kom haar man onverwags daar aan en bliksem hom.

 

So wie was verantwoordelik vir haar dood? 

 

Almal? Of niemand nie?

 

Die bakker het haar gewaarsku teen gif strooi, maar hy het die brood gebak wat haar dood veroorsaak het. Is dit toevallig dat die voormalige geliefde ‘n koskritikus is?

 

Is verveling die rede vir ‘n verhouding? Die verteller meen dat begeerte en dood verbind is.

 

Alles speel af in 'n fiktiewe Normandiese village. Die oorspronklike teks is in Rouen. In die Flaubert-teks trou Charles met Emma ná die dood van sy vrou. In die moderne film was Charlie voorheen getroud en Gemma se voormalige geliefde ontrou aan haar. Hy keer natuurlik later terug as trooster. Hy heet Patrick en is natuurlik Léon, die geliefde na wie Emma terugkeer wanneer Rodolphe haar verlaat.

 

6 maande later is daar ‘n nuwe buurvrou. Glo ene Anna Karenina en die kyker weet wat gaan gebeur.

 

Pastiche of palinode? Parodie? Alles toespelings op die klassieke roman van 1856.

 

III

 

Emma is verlief op Rodolphe, haar tweede minnaar, en skryf indiskrete briewe aan hom. Hy beëindig die verhouding met 'n brief wat hy in 'n appelkoosmandjie laat. 

 

Gemma hou 'n dagboek waarin sy haar emosies uitstort. Die bakker lees hieruit voor ná haar dood.

 

Beide vroue is in die knyp met geldelike skuld. Emma se aankoop van luukses is 'n poging om te herstel van liefdesverraad en ongelukkigheid. Wanneer die skuldeisers kom, is beide minnaars onbetrokke, maar haar eggenoot help haar uit die verknorsing. Gemma is ook in die skuld wanneer Charlie vertrek. 

 

Charles in Madame Bovary sterf aan 'n gebroke hart, maar Charlie keer terug na Gemma.

 

En daar is natuurlik ook die besoek aan die opera in Madame Bovary. En opera, weet ons, simboliseer hewige emosies en drama. 

 

Vir ‘n meer volledige analise: ‘n Moderne Madame Bovary.

 

IV

 

Die film Gemma Bovery parodieer met ‘n ironiese aanslag en lewer kommentaar op moderne liefdesverhoudings. Die roman Die verleiding van Eva de Winter, steek die intertekste weg en met ‘n tweede lees kom die leser af op vele leidrade.

 

En hoekom Eliot, Arthur Miller en Simon and Garfunkel?

 

Illusies, verpletterde drome en daardie opmerking van die bakker-as-verteller: begeerte en dood is immer verbind.

 

Louis Krüger lewer ook kommentaar op moderne lesers se obsessie met krimies en waar lesers tans moet glo dat dit belangrike letterkunde is.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)