Tuesday, October 24, 2023

Resensie | Duisend-en-een-nagte. Gekeur en oorvertel deur Kader Abdolah (vert. uit Ndl deur Wium van Zyl) | Hemel en See Boeke, 2023

Duisend-en-een-nagteGekeur en oorvertel deur Kader Abdolah (vert. uit Ndl deur Wium van Zyl). Vermont: Hemel en See Boeke, 2023. ISBN 

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Die Duisend-en-een-nagte ook die Duisend-en-een-nag is ‘n raamvertelling uit die Midde-Ooste. ‘n Storie-binne-in-‘n-storie-binne-in-‘n-storie. Oor die oorsprong is daar verskillende interpretasies: Persië of ander gedeeltes uit die Midde-Ooste? Dalk Indië? Soos oor alle primordiale kennis en tekste heers daar verskillende sieninge. Oor die tarot is daar eweneens verskillende menings. Is dit uit die Verre Ooste “gesteel”? Of het dit in Italië ontstaan?

 

Wium van Zyl, ‘n puik vertaler uit Nederlands,  gee vir ons nou hierdie vertaling van Kader Abdolah. Die lieflike boek is “gekeur en oorvertel” deur Abdolah. Antoine Galland was indertyd die Franse vertaler en Richard F. Burton die Engelse skribeerder.

 

Van Zyl, ‘n gerekende vertaler, het Afrikaans en Nederlands aan die UWK doseer en Kader Abdolah, oftewel Hossein Sadjadi Ghaemmaghami Farahani, skryf in Nederlands, gebore in Iran. In 1988 kry hy politieke asiel in Nederland weens sy kritiek op die Sjah en die Khomeini-regimes.

 

Sy roman Het huis van de moskee het die Hollandse beste verkoperlys gehaal in 2007.

 

Die Afrikaanse vertaling lees vlot en dit is huis toe gebring in Venuti se terme.

 

II

Ons het as jong kinders die verhale van Aladdin en sy towerlamp gehoor en Ali Baba en die veertig rowers. En die storie van Sinbad.

 

Later jare het die werklike wreedhede van die verhale eers tot ons besef gekom. Koning Sjahriaar wat deur sy vrou bedrieg is met ‘n ander man. Uit weerwraak kies hy elke aand ‘n maagd, trou met haar en laat haar onthoof, die volgende dag. Dan ontmoet hy vir Sjeherazade. Sy fnuik sy planne en op die huweliksnag begin sy met ‘n verhaal wat sy nie voltooi nie. Nuuskierigheid en slinksheid red haar lewe. Sy begin die volgende nag weer met die verhaal, maar dit kom eweneens nie tot sluiting nie. Hy gee haar nog ‘n kans en so het sy dan vir ‘n duisend-en-een-nag aangehou. Uiteindelik het sy kinders by hom gehad en word sy lewensmaat. Waarskynlik weens die kinders? Of het hy dalk wérklik bekoor geraak deur haar?


Sjeherazade se vader is die grootvisier, dus die hoof van die regering in ‘n Oriëntale wêreld. Die verhale skep ‘n spanning tussen die patriargie en die vroulike (skoonheid) wat die manlike orde troef.

 

‘n Verhaal sonder closure of ‘n klassieke verteling wat anti-closure illustreer. Nou onlangs het hierdie leser weer die klassieke verhale gelees vir navorsing oor ‘n roman, saam met Boccacio se Decameron (1620).

 

En nou land hierdie dik uitgawe van Abdolah/Van Zyl by my. Hemel en See is die uitgewer van die pragboek wat elke aand vir hierdie leser genot verskaf. Van Zyl rig die leser oor die aard van hierdie tekste wat as “saggekookte kinderverhale opgedien” is. Abdolah kom ook aan die woord as begeleier (‘n moderne toergids of museumbegeleier) van die verhale. Nou – soos Van Zyl dit stel – lees ons ‘n goedgekruide Midde-Oosterse gereg.

 

Verhale oor lotsbestemming (fata), woestyngeeste (djinns), die verhaal van Aladdin wat nie ‘n Oosterse verhaal is nie, maar eerder aan die Franse behoort. Towery, mense wat uit die dood verwek word en die verband tussen toevallighede. ‘n Boek vol sosiaal-kulturele kennis – soos oor die Kaäba (vir hierdie leser).

 

En die gewone mens leer om geduldig te wag en geweld af te keur (134).

 

Die verhale wys op verskillende vertelkonvensies en ook oor die verskille tussen Islam en die Christendom.

 

En lewenslesse wat ingebed is in hierdie verhale. Dit was ‘n ander tyd en die konvensies van storievertelling anders. Geskep in die Islamitiese Goue Eeu.

 

Ons verneem van die poësie in die vertellings en die “prikkelende seksuele gedeeltes” van ou vertellings wat Galland geskrap het (349). Hierna het die Arabiere weer die wetsbepalings ingevoeg.

 

Ons kry dan van hierdie gedigte te lese. Die Persiese samesteller, verneem ons verder, en die poësie soos kleurryke mosaïeke in die verhale gemonteer. Rumi is hier, 800 jaar jonger as die storieverteller.

 

Abdolah vertel ook hoe sy oupa en oupagrootjie hul eie gedigte ingesmokkel het in die Duisend-en-een-nagte. Dadelpalms, die reise na Mekka (en die beproewinge) en die karavanserai word eweneens verduidelik. 

 

Die betekenis van heilige plekke en die Profeet Ghezr se rol word toegelig.

 

III

Primordiale tekste verklap alles wat ‘n mens van stories moet én wil weet. Hierom het  gesiene literatore soos Harold Bloom en Frank Kermode insigryk geskryf oor Bybeltekste. Job is waarskynlik een van die Bybeltekste wat die meeste byval vind by literatuuranalises nes die boek Jona.

 

En Bloom het verder indringend oor die Kabbalah geskryf. 

 

Open sesame soos ons weet uit “Ali Baba en die veertig diewe”. Verhale waar mense mekaar uitoorlê is hier belangrik. En resiteurs wat die Koran ritmies sing.

 

Die voorblad verskaf vele kodes vir die leser wat wil dieper kyk in die boek wat as volwasse leesstof bemark word. Die boek het my weer geneem na A.S. Byatt se The Djinn in the Nightingale’s eye (1994) wat inspeel op hierdie klassieke teks.

 

Lees hierdie boek met stories uitstekend vertaal deur Wium van Zyl. Dit is leesgenot uit die allerboonste rakke.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)